handperd.”
“Handperd?” frons hy.
“Ja. Totdat jy weet of jy by die ander een vorder.”
“Watter ander een?”
“Ek het klaar uitgevind. Jy loseer mos alte lekker.”
“O, sy? Ek loseer by haar ma, Reinet. Nou is jy sommer giftig. So asof ek agter elke rok aandraf.”
“Nee, nie elke rok nie. Maar ek verstaan sy is nie sommer enige rok nie.”
“Jy luister in,” beskuldig hy. “Pasop, jy gaan uitgeskop word.”
“Jy skop my ook maar uit, ek is gewoond daaraan.”
“Nonsens. En wat Nida Thirion betref, ek is nie van plan om by haar betrokke te raak nie. Ek was maar te bly om losies te kry vir die volgende paar maande. Ek was haweloos toe ek hier aankom.”
“En dit terwyl ek gewillig was om saam met jou te gaan, al was dit na die uithoek van die wêreld.”
“En jou ouers sou jou toelaat, ha-ha. Ek het jou gesê ek het tyd nodig. Dat ek deur ’n insinking gaan.”
“Vertel my van die insinking. Twee koppe is beter as een.”
“Doen jou werk,” ontwyk hy toe daar weer ’n liggie of twee flikker.
Dis tog goed dat Reinet gekom het. Dit besef Nelis die Saterdag van die spontane piekniek.
Hy het haar op die dorp gaan haal en hulle twee sou na die tot dusver verskuilde rivier gaan kyk, bo in die vlak rotskloof. Nelis was die prooi van passievolle opwinding maar ook van rasionele kwelling oor die reisdeken, romantiese simbool, wat sy in die motor laai. Mooi loop, herinner hy hom deurentyd, veral noudat haar ouers so ontstoke is. Hulle reken waarskynlik hy het hulle oogappel aangehits.
Weens ’n sonderlinge sameloop van omstandighede kom Boel vir ’n laatoggendkuier daar aan, te voet al langs die grootvoor. Nelis het al uitgevind dat hy benewens die rooi lorrie ook sy oorlede pa se motor het, maar dit selde gebruik. Tot sy eie verbasing nooi Nelis almal, ook vir Boel, saam kloof toe. “Julle ken die pad en alles,” is sy verweer teen Reinet se teleurgestelde blik.
Op die ou end is almal in Arno se bakkie. Die groot oomblik is toe Leen swig en in een beweging die voorskoot van haar lyf en die kappie van die kapstok afhaal. Hulle ry met die grondpad op kloof se koers toe, draai dan af om met die stamperige paadjie af te sak tot onder die rosyntjie- en wilgerbome. Dis die plek waar die grootvoor se sluise geleë is. Destyds is die voor deur pioniers met primitiewe gereedskap hier uitgegrawe. In tye van vloed, vertel Boel, maak die waterfiskaal die sluise toe, want dan is die grootvoor vanself onder water.
Die reisdeken word op die sagte spoelsand van vorige vloedwater oopgesprei en aangevul met ’n stukkie bokseil wat Arno altyd saamry, want “mens weet nooit”. Hy is nooit sonder bokseil en tang en ’n stukkie presdraad nie, spot sy suster.
Almal word vrolik, byna laf. Soos kinders wat op die rand van ’n krans dans, dink Nelis. Want die rivier vorm maar ’n smal stroompie en die helder geworde water wat oor die rotsklippe moet stort, is byna net ’n sypeling, nie volkome helder nie maar eerder die kleur van gemmerbier. Sandbanke steek soos verbleekte gebeentes uit, met die stildiep kuile tussenin. Die geruis van die stroom het aansienlik verflou, so het hy reeds in die nagte agtergekom.
“Die ou man is stanerig,” frons Boel, maak aldus van die rivier ’n wispelturige persoon. Dis juis weer tyd vir die volgende lusernoes. Sal hulle die oes aan die lewe kan hou tot dit reg is om gesny, gehark en gepars te word? Die oestyd van harde werk, as selfs Arno wat verkieslik alleen swoeg, werkshande byhuur. Of mekaar oor en weer help met arbeid of uitry of wegry.
En ek, wonder Nelis, wat het ek gehoop om vandag hier by die rivier te vind? Daar is geen angs of opwinding nie, net verligting oor die koelheid, die skaduweeparadys. Dis wat water aan ’n mens doen. Dis wat water, ten spyte van alles, nog steeds aan hóm doen. Dit voel of hy ’n verlore geliefde teruggevind het. Maar na regte moet hy die bruin nuwe vloedwater kan sien, wanneer dit ook al kom. Soos dit daardie dag in die veel kleiner dorpspruit was toe Banie … Hy druk sy gedagtes dood, probeer ontspan.
Hy en Reinet word onderrig in die name van bome en van voëls, groot en klein, wat wemel hier waar water, riet en bome is. Met lemoenkwas in erdebekertjies en twee pakke winkelkoekies hou hulle piekniek, loop met kaal voete oor die skoonwit sandbanke, spring van klip tot gladde klip. Boel skep ’n paddavissie in sy bak hande op en dreig om dit op die gillende Reinet te gooi. Dan laat hy die dingetjie vry met ’n goedige: “Toe maar, oubaas, toe maar, jy kan grootword en nog baie nuwe kikvorsies maak.”
Nelis het nie geweet dat die man so snaaks kan wees nie. Sy ruwerige weerbarstigheid in die begin was dalk net voorgee. Dis immers nie elke dag dat hy met ’n vreemdeling te doen kry, boonop een wat dalk sy meisie sal wil probeer afvat nie.
’n Baber word deur Leen aan hulle uitgewys en op Nelis se vraag of dit eetbaar is, antwoord sy: “As jy dan moet, net in maande sonder ’n ‘r’ in”.
“Darem te lelik,” besluit Reinet rillend, met Nelis wat antwoord: “Nie leliker as kreef nie.”
Arno het ’n uitgewaste kortbroek aan wat tot by sy knieë kom. Dalk is dit ’n langbroek wat sy ma afgesny en omgesoom het. Origens dra die volwasse mans hier rond langbroek, waarskynlik beter teen sonbrand, steke, skrape en dorings. Arno gebruik dit sommer as swembroek toe hy die naaste kuil binneduik en soos ’n otter wegraak en opkom, wegraak en opkom. Nie ’n wafferse swemstyl nie, maar geoefen genoeg.
Boel en Nelis het broekspype opgerol. “Al het ek ’n swembroek gehad, ek is te skaam om my tweekleurlyf te wys,” erken Boel pront.
“En ek my geenkleurlyf,” stem Nelis saam. Maar die waarheid is dat hy die afgelope weke tog sonbruin begin word het. Nog ’n rede hoekom hy nie ook induik nie, is dat dit kan blyk dat hy ’n beter swemmer as Arno is.
“Wat my betref, kan ons almal kaal swem,” kondig Reinet roekeloos aan.
Boel klap kastig hande. “Doen dit, ek sal graag kyk. Net een probleem, waar kyk ek solank jy uittrek?” Dis weer eens nogal snaaks, en almal lag, ook Arno wat klaar geswem het en druipnat oor die klippe aangehop kom.
Ingetoë vertel Leen Thirion dat sy in haar jong dae ’n goeie swemmer was, en word van alle kante geterg: “Wys ons, Ma.” En Boel voeg by: “Toe, ta’ Leen, swem bietjie vir ons brakkie.”
“Maar Nelis, jy het mos ook …” begin Reinet, maar hy praat bo-oor: “Volgende keer bring ek en jy wors uit die slaghuis saam, dan braai ons.”
Dit kos nie veel om haar aandag te verplaas nie, en sy wend haar opgetoë tot die wal veelkleurige spoelklippies wat ’n ent verder opgehoop lê. Sy leen Arno se sweetgevlekte hoed en in die bol versamel sy wat, volgens haar, egte tieroë en agate is. “Nou-nou sommer edelstene ook,” spot Boel terwyl hy vir haar ’n ekstra hol ding soek, want “’n man se hoed is sy hoed”.
Hy mik na Nida se strooihoed wat eenkant lê. Sy soek kastig rond na ’n klip om hom mee te gooi, maar hy gryp haar pols vas. “Toe, kyk of jy kan loskom.” Sy sit haar nie teë nie en dit word ’n bykans teer oomblik, wat Nelis laat wegkyk. Die groot, bruin hand wat haar fyner, bleker gewrig vashou, is op ’n manier aangrypend.
Reinet, met kapsel en grimering op die afdraande pad sodat daar sproetjies en vlekkies op haar vel wys, word nietemin met haar opgewektheid die katalisator wat bestaande vetes en onsekerhede verlig. Ja, veral ook oor die laagwater wat dreig om staanwater te word. Wat raak dit haar? Sy kom uit ’n ander agtergrond, waar daar ’n maandelikse inkomste is. Nelis kan nie anders nie as om te dink: Nida is die stil kuil, Reinet die watervalletjie.
Almal is versadig van vars lug, hoewel versigtig vir die son. Nelis wonder terloops hoekom “ou Bella”, die moeder vir wie Boel dan glo so lief is, nie ook opgepik is nie. Hulle het by die Meyers se afdraaipaadjie naby die huis verbygery en sy sou hulle deur ’n venster kon dophou. Hy is nogal nuuskierig oor haar. Maar hy ag dit die beste om nie uit te vra nie.
Dis dan