Anita du Preez

Marlene en die macho man


Скачать книгу

met hul eie gedagtes. Marlene kan letterlik voel hoe ’n vreemde soort skaamte oor wat hulle probeer aanvang het, weer tussen hulle kom lê, presies soos op die spons-springmat in die stoorkamer vir gimnastiekapparaat van Hoërskool Sonnekus, sewentien jaar gelede.

      “Dis beter so,” hoor sy Tom sê en sy voel hoe hy sy hand in ’n troosgebaar swaar tot op haar heup laat sak. “Blessing in disguise. Ek voel ons eerste keer weer saam moet darem iets spesiaal wees. Nie sommerso terloops as ons albei moeg is nie – en veral nie met dáárdie byklanke daar buite nie. Oukei?”

      “Oukei,” fluister Marlene gesmoord. Maar sy is glad nie seker of sy saamstem nie. Ook nie of sy hom glo nie. Blessing in disguise se flippen voet, dink sy, ons is grootmense! Iets voel glad nie reg nie. Ons behoort nou hieroor te praat, selfs te lag, dink sy wanhopig in die groeiende stilte. Dis tog nie die einde van die wêreld nie. Shit happens. Hulle kan ’n grappie maak, opstaan en gaan koffie maak of iets. Die lug suiwer. Hy kan sê dis nie so ’n big deal nie. Dis maar hul eerste probeerslag na soveel jaar. Dat dit sal regkom.

      Hou my vas, Tom, dink sy. Maar hy lê net daar. Sy ook. En dit voel vir haar nou darem baie soos verwerping. Vernedering. Hy kan haar tog seker nie nou nog kwalik neem vir iets wat gebeur het toe hulle albei kinders was nie? Tom met sy romantiese idees oor hoe die eerste keer nou eintlik moet wees.

      En toe Tom se asem na ’n ruk langs haar rustig raak, voel sy lus en huil saam met die onaardse gekerm van die masjien buite haar kamervenster. Hy kan darem slááp met die gedruis, al kan hy blykbaar nie doen wat sy graag wou nie. Met ’n nare hol kol op haar maag rol sy tot op die verste puntjie van haar kant van die matras terwyl sy voel-voel na haar iPod langs die bed. Gelate oorweeg sy haar slaap-opsies. Dolfyngeluide? Nee. Voëlgeluide? Huh-uh. Branders wat suis? Asseblief nie. Haar vinger gly af oor die lysie. Eintlik soek sy geen geluide ná wat so pas gebeur het nie.

      Sy klik geïrriteerd op Mozart en draai die klank baie laag en sit haar foon half onder haar skouer sodat sy die vibrasie sal voel as dit lui. Maar toe sy na wat soos ure voel, nog steeds nie kan slaap nie, reik haar hand oudergewoonte na haar bedkas se laaitjie en haar vingers krabbel vieserig om die pakkie Zopivanes raak te vat. Want face it: As sy eerlik is, is dit nie die gedagte aan die ontydige weed eater of die onopgeloste misstap van hul kinderdae wat die meeste in haar kop lol nie. Nee, die ding wat haar slaap wegjaag, is die blote feit dat Tom basies nee dankie gesê het toe sy haarself so pas feitlik op ’n skinkbord vir hom aangebied het. Dís die ding wat sy nie afgesluk kan kry nie, dink sy toe sy die bitter slaappilletjie met nog ’n sluk water in haar keel probeer afspoel.

      Toe sy wakker word, is die leegheid om haar oorverdowend. Marlene weet onmiddellik dat Tom weg is. Haar hand vind die oop spasie op die bed langs haar om seker te maak. Al wat sy voel, is die los oorfone wat sy in haar slaap moes uitgewoel het. Sy soek haar selfoon. Dis halfvier. Sy het byna veertien uur lank vas geslaap, besef sy toe sy dronkerig opstaan om vir haar oggendkoffie te gaan maak.

      3

      Marlene laat die enjin van haar voertuig ’n rukkie voor die Rondebosch-aanklagkantoor luier. Vir een oomblik wens sy inniglik dat niks van die dramas daar binne haar probleem hoef te wees nie. Haar gemoed is nie reg vir hierdie dag nie. Nie na wat tussen haar en Tom gebeur het nie. Sy wens sommer dat sy liewer hairdressing gaan swot het, soos haar ma so graag wou hê. Of arbeidsterapie, wat sy self graag sou wou studeer het as daar geld was vir vier jaar op universiteit. Maar nee, omdat Petrus Burger so graag iemand wou hê om in sy luisterryke voetspore as polisieman te volg, en sy wat Marlene is altyd “daddy’s girl” was, is sy mos polisiekollege toe. En haar slimkop broer Hardus het die gaping gesien en nou is hý ’n hairdresser. Met geweldige attitude en hordes aanbiddende vrouekliënte wat hom “Hardy” noem. Met sy eie bitter fênsie salon, ’n silwer Porsche Cayenne, plus ’n sexy vroutjie en twee oulike kindertjies. En sy? Een flop van ’n huwelik, een halwe boyfriend, ’n half gerestoureerde huisie en ’n maatskappyvoertuig.

      Maar luitenant-kolonel Marlene Burger laat niks hiervan blyk toe sy by die aanklagkantoor instap nie. Sy rig haar tot haar volle lengte op en sit haar ek-is-totaal-in-beheer-uitdrukking op haar gesig toe sy almal groet en verbyloop na haar kantoor. Toe sy haar skootrekenaar op die vol lessenaar neersit en alles rondom haar sien en ruik, weet sy sy is waar sy hoort. Waar sý in beheer is. Hier, waar elke uur ’n werklik splinternuwe lewensdrama afspeel. Nee wat, in ’n haarsalon sou sy happe in mense se hare geknip het van frustrasie. Of sy sou reënboog-zigzags in tannies se hare gekleur het uit pure doodse verveling na sy nóg een se kapsel moes perm en set, mymer sy toe sy haar jas aan die kapstok ophang.

      Kaptein Buzani steek sy kop om die deur. “Môre, kolonel, lekker gerus?”

      “Ja, dankie, kaptein,” lieg Marlene gladweg. Sy is nie seker of alles wat sy die afgelope vier-en-twintig uur aangevang het as rús bestempel kan word en of dit vir haar lekker was nie.

      “Dis goed,” knik hy. “Ons is gereed vir inspeksie, u kan maar kom.”

      “Alles goed verloop hier?”

      “Alles mooi onder beheer, kolonel. Niks buitengewoon nie!”

      “Dankie, kaptein. Ons praat later in detail.”

      Marlene trek vinnig haar uniform presies reg en prop ’n paar weerbarstige haarstringe in die rekkie agter haar kop. Sy kyk na haar silwer manshorlosie wat los om haar pols pas. Nee wat, laat Hardus maar gerus middeljarige kugels se onmoontlike verjongingsfantasieë van tydskrifprentjies af probeer naboots. Hier, hiér klop haar hart vinniger en kan sy reken op haar daaglikse dosis adrenalien, besluit sy toe sy om presies 05:45 voor haar groep staan vir skofruilingsinspeksie, almal perfek op aandag in volle uniform met hul oë op haar gerig. Party dankbaar om van diens af te gaan en die res paraat en, na ’n kort briefing, operasioneel gereed vir wat die dag mag oplewer.

      Na boeke-inspeksie stap sy deur na die selle om seker te maak dat alles daar nog reg is.

      Dis toe dat sewe soorte hel losbars.

      Marlene haas haar na haar kantoor, van waar sy ’n goeie uitsig het op die omheining voor die aanklagkantoor. Haar moed sak in haar skoene, want sy hoor al weer hordes en hordes gillende, dansende studente ’n ent weg op in die straatjie voor die aanklagkantoor. Terwyl sy die situasie staan en opsom, skakel sy die dienskonstabel om die voorste hekke toe te maak. Gelukkig is daar op daardie oomblik geen lede van die publiek in die aanklagkantoor nie. Sy skakel die Publieke Orde Polisiëringsafdeling. Sy kan nie bekostig om die voorste hek oop te los na die afgelope vlaag betogings nie. Konstabels Mzizi en Nyanda is gelukkig nog nie weg op patrollie nie. Sy roep hulle nader en vra hulle om buite stelling in te neem, net ingeval iemand iets probeer.

      Haar selfoon lui. Dis Tom.

      “Ek het gehoor die betogers is op pad daar na julle toe. Cope julle? Is jy oukei?”

      “Ons cope. POP’s is op pad. Baai.”

      Zondwa storm in. Sy lyk opgewonde. “They are heading for Main Road, kolonel,” sê sy uitasem.

      Die gedreun intensifiseer en Marlene kan hoor hoe die gejil en voetestampery al harder word. Sy stuur haastig die boodskap deur dat alle vergaderings vir eers uitgestel is tot verdere kennisgewing. Toe gryp sy die luidspreker en beweeg buitentoe. Miskien kan sy onderhandel en hoor wat hul griewe is totdat die Publieke Orde Polisie opdaag. Die betogings het die polisie se beeld in die media geskaad. Hulle moet probeer om alles volgens die boek te doen, hulle kant skoon te hou.

      Dis duidelik dat die voorste vlaag protesteerders ernstig probeer om die hek uit sy skarniere te wikkel. Hulle klouter tot op die heining en ander ruk en pluk die hek in die verbygaan, presies soos die vorige keer. Mzizi en Nyanda staan albei met hul hande langs hul sye en met voete uitmekaar geplant net onder die trappe, met R5’s wat dwars oor die bors hang. Marlene gaan staan ’n entjie hoër en lig die luidspreker na haar mond.

      “I am lieutenant colonel Marlene Burger, station commander. If we all calm down, perhaps we can talk about your grievances.”

      Die gejou en gegil word wilder in antwoord op haar versoek. Voorwerpe begin deur die lug trek. Blikke en ander rommel vlieg oor die heining.

      “We