Anita du Preez

Marlene en die macho man


Скачать книгу

lewe. Die meeste mans doen dit in elk geval: Stop gereeld na werk iewers by ’n pub en gaan beloon eers vir arme Skattie tuis met ’n drankasem wanneer dit hulle pas.

      Sy het dié fenomeen weer eerstehands ervaar toe Renée haar nou die middag vyfuur by Barristers in Nuweland ingesleep het. Wall-to-wall testosteroon. Geen vrouens in sig nie. Asof dit letterlik mans gereën het, soos paddas in die Karoo. En Renée was in haar element. Veral toe die twee luidrugtigstes met werkbroeke en opgevoude dasse in hul sweterige kantoorhemde se sakke gillend bo die donderende manstemme uit wou weet of hulle drankies wou hê. Sy was naar, want die een het net te veel soos Steven geruik en geklink. Sy kon nie gou genoeg daar wegkom nie.

      En nou gaan Tom tien teen een met sy hand op die kraan langs die bad sit en wag vir haar. Soos Liefie wat die kossies maar lateraan in die louoond moet sit. Oh well. Miskien sal dit hom goed doen. Sy sug. Waarom wil sy hom laat boet vir gister se mislukte poging? Dit was mos nie net sy skuld nie.

      Sy laat die ruit toegly, maar bly nog eers sit. Sy’t nodig om net te dink. Al is dit nou hier langs die straat. Gewoonlik rol die lewe sommerso voort. Tom sal vir haar wag, dit weet sy. Die man het immers meer as twintig jaar lank vir haar gewag. Tom glo: As jy iemand liefhet, laat hulle gaan. En hy hét. En het sy nie gegáán nie. Soos ’n halsstarrige perd het sy hier galop en daar gaan draai.

      Om sommer net af te haak met jou hoërskool-sweatheart klink dalk romanties, maar dit was nie vir haar nie. Hopeloos te voorspelbaar. Nee! Sy’t die wêreld platgereis. Foute gemaak. En Tom het maar bly wag. Asem opgehou, het hy die ander dag tot haar verbasing met ’n wrang laggie erken. Eers toe sy die grootste van al haar foute begaan het deur met Steven te trou, het Tom moed opgegee en met Celeste afgehaak. Celeste wat hom van kleintyd af al vir haarself gebrandmerk het.

      Maar daar was nog maar altyd daardie iets tussen haar en Tom. Hulle kon spot en speel en ontspan in mekaar se geselskap. Oor dieselfde goed lag. Geheime uitruil. Soos ware pelle. Maar daar was altyd daardie iéts. Nie Steven of Celeste kon of wou dit ooit verstaan nie.

      Aan die begin het hulle hulself soms wysgemaak dat hulle soos opgevoede, intelligente mense as viermanskap saam kon uiteet of kuier. Dan kon sy en Tom nie ophou om mekaar se oog te vang oor hul wynglase as hulle saamstem oor iets nie. Amper asof hulle ’n geheime kode gedeel het wat niks met woorde te make het nie. Dit het almal om hulle grensloos irriteer, maar hulle kon nie daarmee ophou nie. Dit was te opwindend. Soos vrugte steel. Veral voor die ander. Sy onthou die kere dat hulle selfs, as die ander twee uit die vertrek was, mekaar probeer oortref het deur lysies te vergelyk en te lag oor hul onderskeie wederhelftes se irriterende gewoontetjies.

      Onvergeeflik. Dit kon natuurlik nooit uitwerk nie. En heeltyd het Tom nie moed opgegee nie. En nou? Nou wil nie sy óf hy die fyn ekwilibrium wat hulle skynbaar bymekaar hou, versteur nie. “If it aint broken,” is Tom se ander motto, “you don’t fix it!” Maar ai, weke en weke sonder toenadering? En nou dié vreemde reaksie van hom? Nee, vaderland, sy dink fix-it is nou presies wat nodig is.

      As Tom tog net ’n slag wil kwaad word en haar aanvat, sal dit beter wees, maar nee. Tom lyk soos ’n pure volbloed-macho man, maar sy optrede teenoor haar wat Marlene is, was nog altyd so sag soos pienk marshmallows. Hoflik. Versigtig. Beskermend. Asof sy sal breek. Sou die ruheid van polisiewerk haar dan so afgestomp het dat net geweld en aggressiewe gedrag ’n effek op haar kan hê? Is dit waarom sy Tom se fisiese voorkoms en veral sy byna uitdagende manier van stap so eroties vind dat dit haar asem wegslaan – en dan altyd agterna effens verneuk voel? Asof Tom se uiterlike en sy innerlike nie op dieselfde bladsy is nie? As hy haar net sal vasdruk en … en … wild en woes ravish soos wat sy wil hê!

      Ag, sy is net verspot en ondankbaar en heel moontlik premenstrueel! En veral honger. Sy raak nogal irrasioneel en befoeterd as sy honger is. Tom Lourens is hard aan die buitekant en sag in die middel, presies soos die lekkerste soort sjokolade, en sy wat Marlene is, is ’n lucky, lucky fish. Dinge sal regkom met tyd, besluit sy toe sy uiteindelik uitklim.

      Sy luister weer. Ja-nee, ’n kakofonie van epidermiese proporsies, sou oom Oubaas van 7de Laan dit noem! Sy kry eintlik lag vir die oorverdowende gemengde koor. Beethoven sou in sy graf omdraai. Behalwe as Beethoven actually ’n sin vir humor gehad het.

      Voor die huis se toringhoë gietyster-dubbelhekke staan sy eers en huiwer. Daar’s geen klokkie nie. Sou mens net instap? En die honde? Met haar nuuskierigheid oor die ou huis het sy so half en half uit die oog verloor dat die moontlikheid groot is dat sy hulle sal teëkom. En sy het nogal ’n ding oor vreemde honde. Wapens, misdadigers, moordtonele en selfs bloed skrik haar nie meer af nie, maar honde … jis! Van haar vroegste dae as polisievrou het sy hierdie vrees – nee, respék – vir honde. En as die lot só kan sing, kan hulle seker byt ook?

      Sy is bly dat dit ophou reën het sodat sy haar nat jas in die kar kan los en sy vat-vat aan die Z88 9 mm-pistool onder haar arm, want dié is skielik nie bloot ’n burgerlike kuiertjie nie. Daar was immers ’n klag en sy is nie nét hier om haar nuuskierigheid te bevredig nie. “Solank jy in uniform is, my kind, is dit nie speletjies nie,” hoor sy weer haar pa se waarskuwing.

      Sy bespied die tuin deur die gekrulde tralies. Die grasperk is wyd met ’n klippaadjie wat kunstig tussen blombeddinkies tot by die swaar voordeur kronkel. Geen honde nie. Weerskante van die huis is hoë heinings met trosse pienk rankrose en nog gegote hekke wat sekerlik na die agterplaas lei. Hoog genoeg om selfs die mees entoesiastiese hond te keer, dink sy en stoot aan die swaar hek. Dit swaai onverwags oop.

      Komaan, Marlene! Jy wat groot kêrels kan laat bewe, kan nie nou hier staan en bang wees vir ’n huilerige ou hondjie nie, sê sy vir haarself en trek instinktief haar rug hol en haar skouerblaaie agteroor. Maar die paadjie lyk skielik baie lank en die grasperk baie oop en sy voel baie blootgestel. Sy loer benoud na die syhekke. Hoe hoog kan ’n hond wat so hard blaf actually spring? En dit klink na ’n klomp honde. Who are you kidding, Marlene Burger, vra sy vir haarself terwyl sy tree vir huiwerige tree oor die ongelyke klipplaveisel neem. Sy praat nooit daaroor nie, al sit die merke steeds, maar sedert oom Marthinus se onbeskofte bulterriër haar aan die boud beetgekry het toe sy sewe jaar oud was, is sy so bang vir ’n kwaai hond soos ’n flippen bok vir ’n skoot hael.

      Sy maak dit tot by die gekerfde donkerhoutvoordeur en klop. Sy wag. Die honde weet van haar, dit kan sy hoor aan die stygende desibels van die geblaf, maar niemand reageer nie. Sy loer weer ’n slag benouderig sykante toe en toe niks roer nie, klop sy weer.

      Wag.

      Vaderland. Sy mors nou net haar tyd hier en al waaraan sy kan dink, is ’n vet steak … nee … sout-en-asyn-slaptjips … Liewe genade, maar sy is honger! En nie vir slaai nie. Al sê Tom ook wát van die voordele van verdomde gestoomde vissies en vaal hoenderborsies met Brusselse spruitjies. En ja, sy kan voel haar uniform se broek sit deesdae bietjie stywer, maar as sy honger is, is sy honger. Sy moet nou óf omdraai en loop óf iets moet nou hier gebeur. Geduld is nie haar forte nie. Was nog nooit. Sy draai ergerlik aan die groot koperdeurknop.

      Soos die hek, swaai die voordeur geluidloos oop. Sy tree liewer binnetoe en trek die deur agter haar op knip. Nou is sy darem buite die bloeddorstige dierasies se bereik. Maar sy sal hierdie mense moet aanspreek! Verstaan hulle nie dat Kaapstad nie Slaapstad is as dit by misdaad kom nie? Honde of nie honde nie, weet hulle nie van sekuriteit nie? Onverskillig! En dan as die papaja die waaier tref, moet sy en haar span agterna die spatsels kom opvee. As mense dit net wil verstaan, maar nee, almal dink mos net die bure kan besteel of vermoor word. Tot dit met hulle gebeur en dit die polisie se saak word. Háár saak.

      Marlene is so besig om haarself op te werk dat sy nie eens regtig die Bataafse teëltjies van die yslike voorportaal of die manjifieke stel trappe na bo inneem nie. Iewers kraak ’n deur oop en Marlene se liggaam gaan onmiddellik na aanvalsposisie oor met haar hand op haar wapen.

      Wie die grootste skrik, weet sy nie.

      Die klein grys vroutjie wat skielik by ’n sydeur verskyn, gil, en onwillekeurig glip daar ’n skreeugeluid uit Marlene se keel. Want saam met die pieperige vroutjie bars daar drie yslike swart honde by die deur in. Marlene sien net grynsende tande en kwylende bekke terwyl die honde reguit op haar afpyl. Sy weet onmiddellik haar enigste uitweg is die swierige trap knap regs van haar.