hê! Hy herken haar nog, daarvan is sy seker, want kyk net die wakker ogies en breë glimlag toe hy haar sien. Hoe kon haar vader hom weggee? Van al die mense op die hele aardbol deel nét hulle twee dieselfde bloed.
’n Paar keer gaan kuier Nicolaas en Anna nog vir Gertjie, maar dis moeilik om ongesiens weg te glip. Tjaartina is so vrugbaar dat sy pal in die ander tyd is of ’n nuwe baba soog, en dan het sy Anna se hulp nodig.
Lang tye gaan verby sonder dat hulle by die Coetzees uitkom. Hester en Hendrik bly ook maar weg van Nicolaas se kwaai nuwe vrou af. Toe Gertjie ses word, pleit die elfjarige Anna weer by haar pa dat hulle tog vir Gertjie moet gaan kuier.
Die twee kinders wat mekaar vasgryp, die trane wanneer Nicolaas moet ry, ontstig hom elke keer.
Op pad terug vra Anna uit die bloute: “Dink Vader Gertjie was ’n goeie ruiling?”
“Hoe bedoel jy nou, my kind?”
“Soos Vader soms ’n slagskaap ruil vir tien pond wors of twaalf hoenders, sodat ons ’n verandering van spyse kan hê?”
Nicolaas se aandag is nie by haar vraag nie. Sy is dit al gewoond.
“Ek wonder net … was dit darem vir oom Hendrik en tant Hester ’n goeie ruiling? ’n Lewendige Gertjie vir ’n dooie tweeling?”
Dít het hy gehoor. Maar hy antwoord nie, staan net op en lê die karwats in oor die karperde se rûe.
Anna sien haar boetie nooit weer nie. Nicolaas weier om haar soontoe te neem en maak nooit weer met sy seun kontak nie. Twee jaar later trek die Coetzees na die Wes-Transvaal, vir alle praktiese doeleindes vir Anna so ver en onbereikbaar soos die maan.
Anna met van haar halfbroers en -susters
Die Here neem en die Here gee – of in omgekeerde volgorde. Nicolaas het allengs elf kinders by Tjaartina. (Net soveel kinders as wat sy verlore seun, Gertjie, uiteindelik op Sannieshof sou hê.)
Net een foto van Anna het behoue gebly. Sy was sestien jaar oud. ’n Hele norring kinders staan sedig langs haar – vyf van haar halfboeties en -sussies. Haar taak is om hulle die Trap der Jeugd te leer sodat hulle kan lees en skryf. Sy moet ook sorg dat hulle hul boerematriek slaag, naamlik om te katkiseer in die kerk.
HOOFSTUK 2
’n Elleridder
Desember 1935
Die winkel is vandag buitengewoon stil.
As daar vrouens kom wat wil materiaal koop, moet Poppie teen die leer opklim om rolle tabberdstowwe van die boonste rakke af te haal. Sy hoef nie oë in haar agterkop te hê om te weet die klante bekyk en bespreek haar nie. Sy gee nie om nie; dis die mans wat skelm onder haar rok probeer inloer vir wie sy lugtig is.
Niemand kan fout vind met wat sy aantrek nie. Haar kousnate streep pylreguit teen haar slanke bene op. Omdat sy in die winkel werk, kry sy ’n bietjie afslag. Toe die nuwe onkreukelbare tabberds van Tootal-linne onlangs uitgepak is, het sy geweet sy gaan begin spaar om een te koop. Nou dra sy dit, ’n rok van liggroen linne wat haar figuur mooi pas.
Vandag pak sy net reg. Sy skuif die rolle materiaal mooi haaks en streel oor ’n rol royal-blue fluweel. Dankie tog, Mr Cristal het haar onlangs uit Groceries na Haberdashery geskuif. Hy mag sy foute hê, maar hy het darem besef sy sou in haar element wees hier tussen die opmaakgoed vir kleremakers, die rickrack en ander haberdashery.
Waar sy eintlik die heel graagste wil werk, is die klereafdeling waar kouse, hoede en stukgoed verkoop word. Graag sal sy een van die winkelpoppe will dress in ’n Lystar-gesponne rayon-tabberd of vertoonkamer-onderklere aan hulle porseleinlywe wil pas. Die meisie wat daar werk, het juis kom vertel dat hulle so pas van die nuutste verslankingsgordels met bypassende buustelyfies ingekry het. Maar, sê sy met ’n knipoog, sy gaan nie die winkelpoppe daarmee dress en hulle meisies se geheime verklap nie.
Nietemin, om in die materiaalafdeling te werk is vir Poppie naasbeste. Kleremakers kom vra dikwels vir materiaalmonsters en dan knoop sy geselsies met hulle aan oor die modes. Sy en Sussie Anna het albei ’n voorliefde vir mooi, dienlike klere in die nuutste style. Het hulle dié neiging by hul ma geërf? Watse werk het hulle ma ooit gedoen?
Gelukkig het hulle vier Nienaberkinders darem almal werk gekry. Sussie Anna het ná matriek ’n goeie pos gekry by meneer De Witt, ’n prokureur op Bethlehem. Jannie werk in die weeshuis se kantoor. Nic, wat nog altyd wou boer, is ná standerd agt Brits toe, waar hy nou bywoner op ’n plaas is.
Poppie het ná standerd agt dadelik in Mr Cristal se winkel begin werk. As haar versorgster het Sussie Anna spesiale magtiging gekry dat haar kleinsus by haar in die losieshuis mog inwoon totdat sy mondig word. Nou is Poppie al twee-en-twintig, en Sussie Anna kan gerus ophou om soos ’n moederhen oor haar te waak.
Sy klim af en skuif die leer ’n entjie aan, klim weer op. Dis nie net dat Sussie Anna haar so oppas nie, maar haar ousus is so blerrie geheimsinnig oor alles. Veral oor hulle kinderdae. Wat sy nie weet nie, is dat Poppie ’n paar jaar gelede een middag vir Jannie in die weeshuiskantoor gaan kuier het. Die kantoor was leeg. Sy het haar kans waargeneem en in die liasseerkabinet gesoek tot sy hulle Nienabers se opnamevorms gekry het, een vir elke kind.
Dit was soos ’n goudmyn! Sy het skelm al die besonderhede afgeskryf. Nou weet sy darem haar ouers was wettig getroud. Een seuntjie, Hennie, net mooi in die middel tussen Jannie en Nic, is dood aan kroep. Hulle gesin se gemiddelde inkomste was £1-10s die maand.
Haar pa was reeds sewe jaar dood toe hulle weeshuis toe is. Haar ma het goed na hulle gekyk en hulle van God geleer – so het dit daar gestaan. Haar ras Europees, nasionaliteit Dutch en geleerdheid st. 2. Albei ouers was lidmate van die NG Kerk. Dokter Cornelis van Niekerk van Steynsrust het ’n brief geskryf waarin hy gesweer het die Nienaberkinders is almal blakend gesond – gesond genoeg om weeshuis toe te gaan. Konstabel J.H. Nel van Posbus 9, Steynsrust, wat beide ouers geken het, het dié feite bevestig.
Alles heeltemal beskaafd en bokant die belt, so watse geheimdoenery is dit met Sussie Anna?
Poppie skrik toe Mr Cristal iewers agter in die winkel hoes. Netnou sien hy sy staan hier en niksdoen. Sy stut haarself teen die rak om ’n rol pikee onder die stapel materiale uit te trek. Die blou blommetjies, verhewe bo die wit agtergrond, laat die lapgoed so koel en vars lyk. Dit sal ideaal wees vir ’n bloese. Sy rol ’n stuk van die materiaal af en hou dit voor haar terwyl sy heen en weer draai sodat die lig van die daklamp dit kan vang.
Só betrap Mr Cristal haar.
“Nei, dit sal nie deug nie, Miss Nienaber!” raas hy dadelik. “Dis nie die tyd en plek vir ’n fashion parade nie, veral nie bo-op ’n leer nie. Het jy nie ander werk nie?”
“Ja, Mr Cristal,” sê sy en klim vinnig van die leer af.
Hulle het juis vanoggend woorde gehad, en hy bly maklik ’n dag lank nukkerig as sy dit waag om teë te praat. Eintlik behoort sy hom al te ken: sy blaf is erger as sy byt. Maar sy val elke keer daarvoor. Vanoggend sê hy uit die bloute die winkel gaan Dingaansdag oop bly, want hy sien nie hoekom hy die winkel moet sluit vir die Boere se vakansiedag nie. Die Gelofte het niks met hom te make nie, hy is ’n Jood uit Litaue.
Sulke opruiende praatjies! Sy het haar onmiddellik so vervies dat sy die wag voor haar mond weggeneem het. “Maar op Rosh Hashana en Yom Kippur is al die Joodse winkels gesluit. Lank voor die tyd vra Mister my al om ’n kennisgewing op die deur te plak dat ons gaan toemaak.”
Waar het sy die koerasie vandaan gekry om teë te praat? Gewoonlik is sy te verskimmeld.
“Dis mý biesagheid en ek kan maak soes ek wil. Julle kry ekstra vakansiedae op ons heilige dae,” het hy ongevoelig gesê.
Van toe af was hy suur, asof hy nie die beste daarvan afgekom het nie. En nou sukkel hy sowaar weer met haar.
Maar sy kry dit reg om haar lippe opmekaar te pers en haar mond te hou. Sy gryp