maak die besem teen die muur staan, spyt oor haar opvlieëndheid. Die tong is ’n nat ding wat maklik gly, dis waar, maar háár tong gly soms haar verstand skoon verby. As Sussie Anna nou hier was, sou sy haar herinner het dat die winkel altyd op Dingaansdag toe bly, want Mr Cristal weet goed hy is afhanklik van die boere se goedgesindheid.
Ai tog. Was sy maar verstandig soos Sussie Anna … Haar ousus is knap met alles, ’n vrou wat kan raakvat. Sy kan die Underwood-tikmasjien se toetse slaan dat dit blink strepe deur die muwwe kantoorlug kerf; sy kan klere maak en koek bak, koeke wat rys en nie in die pan vassit nie.
Poppie gaan kry ’n bak water, gooi ’n bietjie spiritus in, maak ’n lap nat en begin die toonbank se glasblad opvryf. Eendag as Sussie Anna haar eie huis het, sal sy ’n uitstekende gasvrou wees. Sy sal Poppie vir ete nooi en die tafel dek met ’n spierwit tafeldoek van Irish linen. Daar sal blomme op die tafel wees, keurig gerangskik. Die stoele en banke in die sitkamer sal antimakassars op die rugleunings hê om dit teen die mans se koppe vol haarolie te beskerm.
Poppie is nie handig of verstandig nie. Maar sy kan jaartse lint, sis, sy en popelien sekuur afmeet teen die metaalmaatband wat op die lang houttoonbank vasgeskroef is. En sy kan goed skat: ’n jaart is van jou neuspunt tot by die punt van jou langste vinger, en ’n el is van jou vingerpunte tot by jou rok se skouernaat.
“Maar in die winkel vra niemand gelukkig ooit elle van enigiets nie,” het sy die afmetery eenkeer vir Faan verduidelik. Nou noem hy haar ’n elleridder, die stuitige man.
Partykeer het sy sommer lus en bedank haar werk, doen iets nuuts of trek na ’n ander dorp. Die Segals het ’n winkel op Senekal. Moet sy nie hoor of Mr Segal vir haar werk het nie? Corrie en Lukas van Zyl, Sussie Anna se vriende, sê lankal sy moet Senekal toe kom en by hulle loseer. Hulle het ’n leë kamer en soek nog ’n loseerder.
Wie weet, miskien kan sy nog in Segal’s se klere- of skoeneafdeling werk. Sal dit nie ’n wonderwerk wees nie? Maar alleen Senekal toe? Sal sy ooit sonder haar ousus regkom?
Dié aand in die losieshuis lê die susters ná ete op hul katels. Die vensters is oop sodat die wind lafenis teen die soel hitte kan bring. Poppie moet nog ’n paar stukkies onderklere uitspoel en Sussie Anna het strykwerk, maar hulle is oorversadig ná die aand se onverwagte bederf van pampoenkoekies en lamskenkel.
Poppie vertel van haar onderonsie met Mr Cristal. Soos sy verwag het, kapittel Sussie Anna haar.
“Ja, maar, Ousus, Jannie het lankal gevra ek moet Dingaansdag saam met hom na die Geloftediens in die Moederkerk gaan. Daarna is daar ’n piekniek en toesprake in Pretoriuskloof. Ek was bang hy sal teleurgesteld wees as ons nie kan gaan nie.”
“Jannie stel nie in die politiek belang nie, en jy weet dit.”
“Maar ék stel belang. Jy weet mos ek hou daarvan as die sprekers mekaar met eiers en vrot tamaties bestook. Hoe vuriger, hoe beter!”
“Ai, Poppie, dis oor julle mekaar in die weeshuis altyd so aangehits het. Mr Cristal bly jou werkgewer, en werk is nie volop nie. Jy moet mooi dink hoe jy met hom praat. Ek hoor party winkels maak al toe. Die boere trek noustrop met die droogte en daarom kry die Jode ook swaar. Dit gaan al van die Depressiejare af so sleg. Ek sien elke dag die ellende. ’n Man sal daar vir die prokureur sit en wag, kop onderstebo, kyk niemand in die oë nie. En as hy uit die kantoor kom, is sy oë troewel. Dis pal likwidasiesake en vendusie.”
“Ek’s al ’n jaar lank mondig en kan doen wat ek wil,” sê Poppie ligweg om haar suster te terg.
Sussie Anna steek haar hand uit en druk Poppie s’n. “Ek weet. Maar vir my sal jy altyd die klein Vlooi bly vir wie ek in die kinderhuis moes opkom.”
Sy draai op haar sy en kyk na haar kleinsus. So sag en moederlik lyk sy in die flou lig van die leeslamp. Dan tik sy Poppie liggies op die kop. “Kom, luiaard. Ons lê hier vir kwaadgeld.”
Sussie Anna
Net toe is daar ’n klop aan die deur. Poppie spring soos blits uit die bed en gaan maak oop.
“Naand, Jannie!” Sy soengroet haar broer en staan opsy.
Sussie Anna is ook vinnig op haar voete. “Naand, broer,” sê sy en soen hom ook. “Staan net so, ek bring vir jou ’n stoel.”
“Dankie.” Hy stut sy kierie teen die klerekas, gaan sit en strek sy kreupel been voor hom uit.
“Ek het vir julle appels gebring,” sê hy en hou ’n kardoes na Poppie uit. “Weldoeners kom laai darem nog soms vrugte en groente by die weeshuis af. Die Vader se genade is groot.”
“Hulle sit seker maar met ’n oorskot. Die varsproduktemark is ook in duie,” sê Sussie Anna nugter.
Jannie
Broer Jannie sal hom nie laat oortuig nie. Elke oggend as hy wakker word, bulder hy met ’n groot stem: “O, Gods liefde is wonderbaar!” Maak nie saak waar hy is en wie hom hoor nie. Sy susters noem die vals geskree ’n marteling; hy noem dit sing.
“O, dankie!” Poppie haal ’n appel uit, vryf dit teen haar rok blink en byt ’n groot hap daaruit.
“ ’n Dame gebruik ’n kleinbordjie en ’n vrugtemes, Vlooi,” vermaan Sussie Anna, maar met ’n vonkel in die oog. “Verskoon my, ek gaan gou die strykplank haal.”
Poppie ignoreer die vermaning. “Jy glo absoluut aan wonderwerke, nè, Jannie?”
Die hele weeshuis weet dit. Almal glo dis “oom Jannie” wat taks hulle groente en vrugte persoonlik van die Here afbid. Sê nou haar broer kan vir haar ook ’n wonderwerk afbid … ’n werk op Senekal?
Poppie bedink haar. Blikslaer, Jannie sal haar só uittrap as hy moet weet wat sy dink. Hy duld nie ydele praatjies nie.
Sy is natuurlik ook ’n Kristen, dis hoe hulle grootgemaak is. En sy’s altyd bly om haar broer te sien. Maar hy kan haar tog so roerig maak. Hulle kom hoogstens vir ’n uur oor die weg, tot hy vir haar begin preek. Dan spat die vonke.
Hy noem haar gereeld ’n prullebol, en dit net omdat sy daarvan hou om mooi aan te trek. Hy kry dié woord uit ’n navy-blou verjaarsdagboekie geskryf deur dominee Boshoff, met ’n spreuk of rym by elke datum, en hy is lief daarvoor om mense met die predikant se spreuke te looi.
Maar Poppie is nie ’n uilskuiken nie. Wanneer sy vir hom in die weeshuis gaan kuier, sorg sy dat sy elke keer ’n spreuk of twee uit die boekie memoriseer. Dis die enigste manier om hom te uitoorlê. Want as daar een ding is wat sy nie kan verdra nie, is dit dat mense vir haar preek. Net haar ousus mag dit doen, want haar bedoelings is altyd goed.
Terwyl Sussie Anna haar rok vir die volgende dag stryk, gesels sy en Jannie land en sand. Dié twee sit nooit vas nie. Miskien is sy meer verdraagsaam met hom, maar hy preek ook nooit vir haar nie.
Poppie maak haar wasgoed bymekaar. Die onderklere sit sy, soos Sussie Anna haar geleer het, in ’n lapsak wat met ’n koord toeknoop – sou sy perdalks op pad badkamer toe iemand met nuuskierige oë teëkom wat haar bloemers wil beloer.
Heerlike Sion! Soveel reëls van samelewing, kerk en staat. Soveel voorskrifte van mense soos Mr Cristal, Jannie, Sussie Anna en ant Nelie, die losieshuis se hospita. Oweral is daar mense wat glo dis net hulle wat weet wat die regte ding is om te doen, en hoe dit gedoen moet word, en dat hulle die reg het om ander te kapittel.
Haar hand is al op die deurknop toe Jannie met ’n temerige predikantstem sy spreuk van die dag aanhaal: “Brood deur eerlik sweet verkregen, is de beste lekkerny. Wat ons ryk maak, is Gods segen, en Hy voeg geen smart daarby.”
Poppie vervies haar liederlik. Die ellendeling! Behalwe Sussie Anna en Nic en miskien ook Faan kan almal gaan bars, met permissie gesê. Veral Jannie.
Sy