SONJA KAIBLINGER
Die Spookmeesters
Met illustrasies deur Fréderic Bertrand
Afrikaans deur Irma Badenhorst
Human & Rousseau
’n Torero word verban
Dis nooit rustig en stil in Radysstraat nommer agt, waar Otto bly nie. Nie eens in die nag nie. Dis omdat Otto nie alleen daar bly nie, want ’n hele klomp buitengewone inwoners bly saam met hom daar. Tannie Sharon, wie se huis dit is, versamel horlosies en ly aan ’n skoonmaakgier. Sy is mal daaroor om soveel lawaai as moontlik met die stofsuier te maak, en die getik van al die horlosies kan lelik op ’n mens se senuwees werk. Maar Otto se huisspoke is nog meer buitengewoon … dis nou Sir Tony, Bert en Molly, ’n klomp kamma-kwaai spoke wat glad nie grieselrig is nie. Laaste, maar definitief nie die minste nie, is daar Vincent, Otto se troetelvlermuis wat nie net kan praat nie, maar ook verskriklik stout is.
Maar op hierdie spesifieke middag is dit amper spookagtig stil in die sitkamer. Só stil dat Otto dadelik ongemaklik begin voel. Geen stofsuierlawaai en geen Sir Tony wat kla hy kan nie met die lawaai in sy ore slaap nie. Net tannie Sharon se horlosies tik-tak soos gewoonlik. Daar is ook nie ’n spoor van die ander spoke nie en wat nog vreemder is, is dat tannie Sharon blykbaar ook nie by die huis is nie. Sy het nie eens ’n boodskap gelos nie. Dis ook nie hoe sy gewoonlik is nie.
Otto besef hy is honger en gaan kombuis toe, waar hy vir Bert raakloop.
“Man, Otto, ek is dood van die honger,” sê die huisspook steunend toe Otto die yskas oopmaak. Omdat Bert in die yskas bly, kan ’n mens hom gewoonlik daar kry. “Het jy miskien iets om te eet saamgebring? Kyk net hier.” Hy wys na die rakke en sug. “Dis net ’n lugleegte.”
“Jy kan nie van honger doodgaan nie, jy is mos al klaar dood, Bert,” sê Otto met ’n glimlag en kyk in die kombuis rond. “Waar is tannie Sharon?’
Bert trek sy skouers op. “As ek maar geweet het. Sy is vanoggend hier weg en is nou nog nie terug nie,” mompel hy moedeloos. “Ek het gehoop sy het gaan inkopies doen.” Hy haal ’n jogurthouer uit die agterste hoek van die yskas en kyk wantrouig daarna. “Die vervaldatum is laas jaar s’n. Sies! Ek gaan dit nie eet nie. En hierdie verskrompelde kiwi kan jy ook maar vir jou hou. Ek hoop daar gaan binnekort iets eetbaars in hierdie huis wees, anders vreet ek van pure honger jou vlermuis op.”
“Jy is seker nie lekker in jou kop nie, jou vraat!” kom dit van Vincent se kant af. Otto se troetelvlermuis het seker nou net wakker geword, nadat hy die hele middag in Otto se skooltas geslaap het. Soos gewoonlik het Vincent saam met Otto skool toe gegaan sonder dat Otto daarvan geweet het. En soos gewoonlik het Vincent vir ’n klomp opwinding in die skool gesorg.
Alhoewel Otto hom van die begin af verbied het om saam met hom skool toe te gaan, ignoreer Vincent hom altyd. Nadat hulle vanoggend opgestaan het, het hy skelmpies in Otto se penhouer geglip en tot ná liggaamsoefeninge se dubbelperiode vas lê en slaap in die houer. Toe het hy natuurlik fiks en honger gevoel, uit die skooltas geklim en in die geheim op ’n ontdekkingstog deur die Sybrand Swaelkop Skool gegaan.
Hy het by ’n paar plekke gekuier – een daarvan was die oogholte van die menslike geraamte in die biologieklas. En toe het hy amper vir Ritteltit, die skool se hamster, gebyt en op die ou end ’n stuk kryt opgevreet, wat vir hom soos ’n vet wit maaier gelyk het.
Otto kan sy sterre dank dat niemand dit kon regkry om Vincent te vang nie.
Moeg, poegaai en al spoegend dat die wit krytwolke so waai, het die vlermuis toe weer in die tas geklim en besluit hy het genoeg gedoen vir die dag.
Tot dusver is Otto se dag nie maklik nie en sy maag knor behoorlik van die honger. Hy hoop tannie Sharon kom gou huis toe en dat sy kos gekoop het – vir hom en vir Bert, wat nog nooit kon verstaan dat spoke nie veronderstel is om te eet of te drink nie.
“Toemaar, Vincent, dit was net ’n grappie.” Bert vryf oor sy maag. “Ek vind dit net onaanvaarbaar dat Otto se tannie nie na my fisieke behoeftes omsien nie en net sommerso verdwyn.”
Otto knik sy kop ingedagte. Tannie Sharon weet natuurlik niks van Bert en sy fisieke behoeftes af nie, maar die feit dat sy ook nie vir hom kos gelos het om te eet nie, laat hom nogal ’n bietjie wonder. Waar op aarde kan sy wees?
“Miskien het sy geëmigreer?” stel Sir Tony voor toe Otto hom ná ’n lang gesoek uiteindelik in die geheime boekekamer, onder sy slaapkamer, raakloop. Dié moontlikheid sal die oudste huisspook natuurlik soos ’n handskoen pas. “Die ou heks het uiteindelik besef die villa is my huis en sy het niks hier verloor nie. Ek wonder net hoekom sy nie haar irriterende horlosies saamgevat het nie,” brom Sir Tony voort.
Otto krap bietjie kop. Hy is taamlik seker tannie Sharon het nie geëmigreer nie. Sy sal hom nie sommer net so alleen los nie. Of sal sy?
“Sy het ook nie die wasgoed gewas nie,” kla Molly, wat op die aardbol sit en al in die rondte draai. “Daar is nog ’n hele stapel wasgoed in die wasgoedmandjie. Miskien het sy iets oorgekom? Dalk is sy ontvoer!” Een van Molly se haarkrullers val van pure ontsteltenis uit haar hare. “Dalk word sy as gyselaar aangehou … Deur misdadigers, skelms of ander boewe wat ’n oog op haar waardevolle horlosieversameling gehad het.”
“Op haar horlosieversameling? Jy’s seker getik, Molly!” sê Sir Tony verontwaardig. “Hoekom sal misdadigers die lelike goed wil vat? Niemand sal die goed koop nie.” Hy dink skielik aan nog iets. “Maar miskien … wil hulle … die nuwe stofsuier gaps! Dis beslis baie werd.” Hy gee ’n moedelose gil. “Wat gaan ek sonder my stofsuier doen? Die stofsuier is my huis!”
Otto ignoreer Tony se gekerm en klim met die leer op na sy kamer toe. Hy voel ’n yslike knop op sy maag toe hy by die dakvenster uitkyk om te sien of tannie Sharon nie dalk op pad is huis toe nie. Al kan ’n mens nie Molly en Sir Tony se stories te ernstig opneem nie, kan hy nie help om te wonder of tannie Sharon nie tog iets oorgekom het nie.
Dit sal nie die eerste tragedie in Otto se lewe wees nie. Nadat sy ouers meer as twee jaar gelede nie van ’n argeologiese uitgrawingsekspedisie af teruggekom het nie, is tannie Sharon die enigste naasbestaande persoon in sy lewe. Wat gaan gebeur as sy rêrig iets oorgekom het? Wat as Otto stoksielalleen agterbly?
Op dié oomblik hoor hy hoe die voordeur onder toegemaak word. “Hallo, Otto,” koer ’n stem kort daarna van onder af. Tannie Sharon se stem! Otto se hart sing behoorlik van pure verligting. Hy hol soos ’n mal ding ondertoe, waar tannie Sharon besig is om haar jas op te hang. “O, daar is jy,” sê sy. “Ek is jammer ek het nog nie vir jou kos gekook nie.”
Otto kan sy oë nie glo nie. Blykbaar makeer sy niks – inteendeel, sy lyk gelukkig en ontspanne en hoegenaamd nie asof haar lewe in gevaar was nie. Afgesien daarvan, het sy ’n massiewe muurhorlosie saamgebring, een wat soos die groot horlosie in die stasie se aankomssaal lyk.
“Tannie Sharon! Ek is so bly om jou te sien! Waar was jy?” wil hy ongeduldig weet.
Tannie Sharon glimlag. “Oe, Otto, jy sal my nie glo nie, maar ons het nuwe bure. Om presies te wees, ’n nuwe buurvrou, en haar naam is Madame Olga. Sy bly oorkant ons in meneer Olsen se ou huis.”
Otto wonder. In meneer Olsen se ou huis? Fernando bly eintlik daar … die Spaanse spook wat hy nou die dag ontmoet het.
“Madame Olga is die