Terwyl hulle aandete eet, kan sy oor niks anders as die wonderlike Madame Olga praat nie – oor hoe bly sy is om uiteindelik ’n regte vriendin as ’n buurvrou te hê. Haar lofsange kry net nie end nie en Otto voel al so geirriteerd dat hy nie meer honger is nie. En dit nogal terwyl hulle pizza eet; sy gunstelingkos.
Tannie Sharon het ’n lang lys vrae en boodskappe wat vir haar man bedoel is, vir die spookafspraak opgestel.
“Ek dink jy kan ook as ’n fortuinverteller begin werk,” kraai Vincent in Otto se oor, toe tannie Sharon die vuil borde in die skottelgoedwasmasjien pak. “Jy moet net vir jou ’n ou rolbal-bal kry en ’n tent in die tuin opslaan. Sir Tony, Bert en Molly kan vir die spokerasie sorg, sodat dit eg lyk.”
Otto is moeg en maak Vincent stil. Die laaste ding waarvoor hy kans sien, is om mense se aandag te trek en hulle van sy buitengewone talent te vertel.
“Dink net hoeveel geld ons daarmee kan maak,” sê Vincent droomverlore. “Miljoene. Miljarde! Ons kan na ’n ander land toe trek. Ons sal net die beste klere dra en jy kan die lekkerste kos eet; nie iets so vervelig soos pizza nie. En ek kan my eie meelwurm-plaas kry.”
Hy maak ’n harde smakgeluid met sy lippe. “Ag toe, ’seblief, Otto. Toe, word ook ’n fortuinverteller. ’Seblief, ’seblief, groot asseblief! Ek het kontakte. Ek sal jou beroemd maak!”
Otto tik met sy vinger op sy voorkop. Die vlermuis het sowaar al sy varkies verloor.
“Weet jy, Otto,” hoor hy tannie Sharon se stem uit die kombuis. “Ek het aan nog ’n vraag vir oom Archibald gedink. Ek het hom nooit gevra van watter horlosie in my versameling hy die meeste hou nie. Dis ’n uitstekende vraag vir die afspraak, nie waar nie? Is daar dalk iets wat jy vir oom Archibald wil vra?”
“Tannie Sharon, ek het hom nie eens geken nie,” jok Otto en kruis sy vingers agter sy rug. Hy hoop en bid net tannie Sharon kom nie agter hoe sy stem bewe nie. Otto ken oom Archibald maar alte goed. ’n Paar weke gelede het hy vir hom aan die Oorkant gaan kuier; Harry, Emily en Vincent was saam met hom. Hulle het ’n groot geheim aan die Oorkant ontdek: Oom Archibald is nie dood nie, maar kan nie na Otto se wêreld terugkom nie, omdat hy al té lank aan die Oorkant is. Otto het dit nooit vir tannie Sharon vertel nie.
Otto weet wel dat tannie Sharon nog steeds ’n bietjie oor oom Archibald se dood twyfel. Sy kry immers nog gereeld boodskappe wat in kode geskryf is van haar man af.
Hy stuur dit deur die staanhorlosie.
Tannie Sharon weet net nie dat die staanhorlosie ’n ingang na die Oorkant het nie.
Miskien is sy ook van plan om met die afspraak seker te maak haar man is wel dood. Sy sal dit nooit erken nie. Met tannie Sharon weet ’n mens nooit nie. Otto kry baie keer die gevoel dat sy iets vir hom wegsteek.
Sal sy hom aanvat as Madame Olga haar vandag vertel dat Otto spoke kan sien? Of dat hy nou die dag aan die Oorkant was en met sy oom gepraat het? Tannie Sharon sal dan weet dat hy vir haar gejok het … Otto voel al hoe ongemakliker. Hy weet hy sal nie sy tannie kan ompraat om van haar plan af te sien nie. Maar miskien kan hy saam met haar gaan?
“Tannie Sharon, dink jy nie ek moet saam met jou na die spookafspraak toe gaan nie?” vra hy toe sy tannie haar jas in die gang aantrek. “Ek weet dit sal seker grillerig wees, maar ek is mos al oud genoeg daarvoor. Ek stel ook baie belang in alles wat bonatuurlik is, jy weet mos. Toe … wat dink jy?”
Otto kan aan beter dinge dink as om weer na die simpel fortuinverteller toe te gaan. Aan die ander kant is dit dalk ’n manier om uit te vind wat Madame Olga regtig kan doen en hoekom sy so eienaardig optree. Wie weet, dalk kry hy nog self kans om oom Archibald iets te vra.
Tannie Sharon oorweeg dit vir ’n oomblikkie, maar dan skud sy haar kop. “Ek dink nie dis ’n goeie idee nie. Ek is bang dit sal jou daarna nagmerries gee.” Sy vryf oor sy hare. “Ek belowe ek sal alles vir jou vertel, oukei?”
Otto wil nog stry, maar tannie Sharon het al klaar haar handsak gegryp en by die huis uitgestorm. Hy kyk vies na die toe voordeur. Hy, slapeloos oor ’n paar spookstemme? Tannie Sharon maak ’n groot fout as sy so dink.
***
Slaap is heeltemal buite die kwessie. Dit voel soos ’n ewigheid tot tannie Sharon terug is. Otto kyk ’n bietjie TV en lees ’n paar hoofstukke van ’n boek wat hy vir Kersfees gekry het, maar hy weet nie eintlik eers wat hy lees nie.
Net ná middernag, toe Otto vir die hoeveelste keer opstaan, hoor hy hoe die voordeur oopgesluit word. Sonder om te dink, hol hy die trap af ondertoe. Hy kan onmoontlik nie tot die volgende oggend wag om te hoor wat tannie Sharon te sê het nie.
“Liewe genade, Otto!” Tannie Sharon skrik toe sy Otto holderstebolder die trap hoor afstorm. “Jy moes lankal in die bed gewees het.”
“Ek weet.” Otto kyk verleë na sy voete. “Ek wil net baie graag weet hoe die afspraak was.” Hy byt sy lip. “Het die fortuinverteller dalk iets oor my gesê?”
Nadat hy die vraag gevra het, hou hy skoon asem op en bid stilletjies dat Madame Olga nie sy geheime uitgelap het nie.
“Oor jou?” Tannie Sharon begin lag. “Nee, ons het skaars oor jou gepraat, Otto. Jammer, hoor. Ons het eers ure lank geskinder, kaaskoek geëet, kersiesap gedrink en toe met die sessie begin. Dit was nogal vreemd. Die gegeurde kers het geflikker en die lampskerm wat oor die eettafel hang, begin toe so snaaks heen en weer swaai. En toe kry Madame Olga sowaar vir oom Archibald aan die Oorkant.”
Otto luister gespanne. Hy hoop tannie Sharon gaan nog meer vertel.
“Toe word dit baie spookagtig.” Tannie Sharon maak keelskoon. “Archibald het regtig met my gepraat. Hy het my gevra of ek nog steeds horlosies versamel.”
Otto rol sy oë. Madame Olga weet tannie Sharon is mal oor horlosies, sy hoef nie iemand wat dood is te vra nie. Miskien is sy tog niks anders as ’n bedrieër nie.
“Dis nie al nie.” Tannie Sharon is baie opgewonde. “Oom Archibald kan nog onthou dat ek hom kort voor ons troue ’n baie spesiale sakhorlosie uit my versameling gegee het. Hy wil hê ek moet dit terugvat, noudat hy nie meer by my kan wees nie. Hy sê dis in die kelder agter die wasmasjien; hy het dit agter ’n los baksteen weggesteek. Die derde een links, omtrent ooghoogte.” Sy aarsel voor sy aangaan. “En toe sê hy dis wonderlik dat ek sy boodskappe kry wat hy vir my deur die staanhorlosie stuur.”
Otto ruk soos hy skrik. Dis moontlik dat Madame Olga iets agtergekom het van die plek in die kelder waar die sakhorlosie weggesteek was, maar niemand anders weet van die geheime boodskappe wat uit die staanhorlosie kom nie. Tannie Sharon het net vir Otto daarvan vertel.
Otto kyk asof gehipnotiseerd na sy tannie. Hy kan nie glo wat sy hom vertel nie. Madame Olga het nie sy geheime uitgelap nie, maar sy het so wraggies met oom Archibald gepraat! Of fop sy mense net op ’n slim …
Op dié oomblik stap tannie Sharon kombuis toe en sit die ketel aan. Sy lyk skielik baie moeg. Sy kyk ingedagte na die yskas, waaruit Otto Bert se lekkerkry-geetery kan hoor.
“Weet jy, Otto, ek het eintlik nog nooit regtig aan die bonatuurlike geglo nie, maar ná my kuiertjie by Madame Olga voel ek anders daaroor. Het jy nie ook al gewonder of dit in ons huis … spook nie? Dit is immers ’n ou gebou met ’n lang verlede. Madame Olga dink die aura, die gevoel, van die huis is donker en kommerwekkend.”
Watse nonsens is dit! Otto voel lus om uit te bars van die lag, maar hou hom in. “Ag, tannie Sharon, moenie jou te veel aan daai vrou steur nie,” sê hy. “Hier is niks donkers nie. Ek hou van ons huis.” By Radysstraat nommer agt is daar rêrig niks waarvoor mens bang hoef te wees nie. Nie eens vir Sir Tony se patetiese skrikmakery nie. “Jy ken haar skaars,” stel hy haar gerus.
Tannie