toe Otto vir sy tannie nag gesê het en met die trap ophol kamer toe, dink hy aan ’n oplossing om meer oor die gesprek met oom Archibald uit te vind.
Die sneeuglasbal! Natuurlik! Hy kan sy Oorkant-sneeuglasbal gebruik om met oom Archibald te praat.
Otto het die sneeuglasbal onlangs vir sy verjaardag by Harry as geskenk gekry. Hy het eers gedink dis net ’n gewone, mooi sneeuglasbal. Eers toe Harry hom gevra het om dit te skud, het hy agtergekom dat die binnekant van die bal skielik lewe kry.
Om presies te wees, mens kan ’n klein stukkie van die Oorkant sien … ’n stukkie van ’n woud en ’n houthut. Oom Archibald se houthut. Sodra die sneeu in die glasbal begin val en sy towerwerk begin, duur dit nie lank voordat oom Archibald voor die hut staan en self met Otto praat nie. Die glasbal werk amper soos ’n soort hipermoderne videotelefoon, al is dit ook net vir ’n paar sekondes tot die sneeu weer gaan lê. En dit kos niks nie!
Hy wil liewer nie nou sy oom wakker maak nie. Otto besluit om dadelik die volgende oggend vir Emily van die snaakse séance te vertel en ná skool saam met haar die sneeuglasbal te gebruik. Oom Archibald sal definitief vir hulle raad kan gee. Hy is mos ’n regte egte spookkenner!
’n Sneeustorm in die sneeuglasbal
“Ek glo dit nie.” Emily is verstom toe sy en Otto Satermiddag met die trap opstap na sy kamer toe. “Tannie Sharon het sowaar gister met oom Archibald gepraat? Dankie tog hy het niks oor ons gesê nie. Anders sou ek nes jy lekker in die moeilikheid wees.” Sy glimlag. “Otto, ek moet sê dit was briljant van jou om dadelik aan Harry se sneeuglasbal te dink. Miskien gaan dit ons help om meer oor Madame Olga en haar kontakte aan die Oorkant uit te vind.”
Dis presies waaraan Otto ook dink ná die snaakse goed wat gisteraand gebeur het. Hy kon die hele oggend op niks anders konsentreer nie. Hy het vroeg vanoggend dadelik vir Emily ’n boodskap op sy selfoon gestuur. Sy kuier Saterdagoggende altyd by haar ouma wat ook in Radysstraat bly, en het Otto belowe om dadelik daarna by hom ’n draai te maak.
“Ek hoop so.” Otto maak die deur oop en laat Emily voor loop na sy kamer toe. “Dis in elk geval makliker om oom Archibald deur middel van die glasbal te vra, as om nuwe sonbrandroom te meng en self na hom toe te gaan. En dis nie so gevaarlik nie.”
Die Oorkant-sonbrandroom is ’n unieke room wat deur oom Archibald gemaak is om lewende mense soos Otto en Emily in swart-grys-figure te verander. Op dié manier kan ’n mens na die kleurlose Oorkant toe glip, sonder om uitgevang te word. Die probleem is dat die room ná ’n sekere tyd ophou werk en jy dan as ’n lewende persoon uitgeken kan word.
Nee wat, om die toweragtige sneeuglasbal te gebruik is beslis baie veiliger.
“Hier is dit.” Otto gee die swaar glasbal versigtig vir Emily aan.
“Dit lyk nie vir my na iets spesiaals nie,” sê Emily. “Dit lyk soos ’n gewone glasbal. Met ’n bos en ’n klein hutjie daarin. Mag ek dit ’n bietjie skud?”
Otto maak eers seker dat sy kamer se deur gesluit is, voordat hy sy duim in die lug hou en knik. Hulle kan maar begin.
Die twee hurk op Otto se kamervloer en loer senuweeagtig in die glasbal.
Hulle hoef die glasbal net ’n paar keer te skud voordat die sneeu om die houthut begin dwarrel. Terselfdertyd hoor hulle die wind deur die dennebome huil en sien hoe dit die boomtoppe woes heen en weer laat swaai. Otto verbeel hom hy kan selfs die houtplanke van die hut hoor kraak.
Emily staan verskrik eenkant toe. “Dit lyk amper soos ’n baie erge sneeustorm,” sê sy saggies. “En asof dit verwoesting saai daar binne!”
Otto stem saam. Dis omtrent vreemd. Hy kan amper nie meer die buitelyne van die hut deur die sneeu sien nie, en nog minder vir oom Archibald wat dit seker nie sal waag om buitentoe te gaan in so ’n storm nie.
“Hallo? Archibald?” probeer Emily hom roep en staan nader aan die glasbal. “Aarde na Oorkant! Kan jy my hoor? Dis ons, Emily en Otto. Is alles oukei daar in die spookwêreld?”
“Sjuut! Moenie so hard praat nie, Em. Tannie Sharon is aan die stofsuig, maar as jy so skree gaan sy jou nogtans hoor.”
“Sorrie.”
Harry het verduidelik ’n mens kan op ’n gewone afstand met oom Archibald praat; jy hoef nie te skree asof jy ’n tweerigtingradio vir oumense gebruik nie. Oom Archibald is in elk geval nie hardhorend nie en die ontvangs is gewoonlik glashelder.
Ongelukkig is daar vandag nie ’n teken van oom Archibald nie. Die enigste bewys dat hy wel in die hut is, is die rook wat by die skoorsteen uittrek.
“Miskien is dit te erg vir hom buite?” wonder Emily hardop. “Of dalk is die sneeubal stukkend?”
“Ek stem vir die tweede rede,” meng Vincent in en glip deur ’n gleufie in die eikehoutkas in Otto se kamer. Hy lyk ’n bietjie deur die wind, so asof hy ’n klein slapie gevang het. “Ek is seker die gierige Grieselgryper het vir jou die goedkoopste Oorkantkontrepsie gegee.” Vincent skarrel oor die vloer en loer na die kant van die bal. “Dit kom seker van die Verre Ooste af.”
Emily probeer sien waarna hy kyk. “Daar staan Aan die Oorkant vervaardig. Is dit nie cool nie?”
“Wat ook al.” Vincent vou sy vlerke. “Dit beteken niks nie. Ek sou die Grieselgryper ’n taai klap met die stukkende gemors gee en die waarborg onder sy neus vryf. Die Oorkant se goed het ’n lewenslange waarborg. Alhoewel … ha-ha, vir die Oorkant se inwoners is dit eintlik niks anders as ’n simpel grap nie.”
Emily begin giggel. “Otto leef nog, jong. Miskien kan Harry die bal omruil, as dit regtig die gees gegee het.” Sy trek haar skouers op. “Of ons kan later weer probeer kontak maak.”
***
Otto en Emily wag tot laat die aand voordat hulle weer aan Madame Olga se storie begin dink. Dit werk perfek uit, want Emily se ouers is stad toe vir ’n besonderse eretoekenning van die regskommissie. Emily se ma was baie bly toe Emily haar gevra het of sy dié aand by tannie Sharon se villa kan bly. Tannie Sharon het meer as genoeg plek in haar villa. Die huis het ’n paar leë gastekamers, maar Otto en Emily sleep altyd ’n paar matrasse in sy kamer in, sodat sy lekker gemaklik op die vloer kan slaap.
Vanaand sukkel hulle nog meer as gewoonlik om aan die slaap te raak. Emily en Otto sit op die vensterbank en hou al ’n hele rukkie lank Madame Olga se huis deur ’n verkyker dop.
Natuurlik is dit nie so effektief om die huis van ver af dop te hou nie. Dit sal makliker wees om in die huis in te sluip en van daar af te spioeneer. Maar daarvoor moet ’n mens onsigbaar wees. Ongelukkig is nóg Sir Tony, nóg Bert of Molly bereid om hulle te help.
“Julle is ’n klomp bangbroeke,” sê Emily verwytend vir Otto se huisspoke en gluur hulle deur die spookbril aan. “Net omdat Madame Olga spoke kan sien, beteken dit nie sy kan iets aan julle doen nie. Julle is mos al klaar dood.”
Maar al Emily se argumente val op dowe ore. Veral wat Sir Tony betref.
“W … wat as sy aluminiumfoelie in haar huis het?” wil hy weet. Aluminiumfoelie is spoke se kryptonite. Dis die enigste ding waarmee mens hulle kan beheer. “Ek verkies om onsigbaar te bly. Dis natuurlik nie vir my ’n probleem met jou en Emily nie, dis vanselfsprekend,” sê hy so ewe toegeeflik. “Ek is buitendien baie skaam van geaardheid. So jammer, maar ek sal nie kan gaan nie.”
Emily en Otto gee uiteindelik moed op en besluit om die vensterbank as hulle uitkykpunt te gebruik. Hulle hoop net Harry sal sy woord hou en Madame Olga van nou af fyn dophou. Tot sover kon die kinders