waar hy lui en half aan die slaap rondsit.
“Dink jy Madame Olga het weer haar boek begin lees?” vra Emily heelwat later en gly stadig van die vensterbank af. “Is dit nie al tyd vir haar om te gaan slaap nie? Dis al amper tienuur …” Emily hou op praat en haal diep asem. “O, gonna! Otto, Vincent, kom hier, julle moet dit sien. Maar sorg dat sy julle nie sien nie!”
Otto frons, dan kruip hy tot langs Emily en loer versigtig by die venster uit. Hy is so verbaas, hy kry nie ’n woord uit nie. Hy hoef nie ’n verkyker te gebruik om te sien dat Madame Olga by haar venster staan en stip deur ’n verkyker na tannie Sharon se huis kyk nie.
“Die ou glasbal-tannie … hou julle huis dop,” fluister Vincent verskrik, terwyl hy tot op Otto se skouer vlieg. “Dink julle sy het ons gesien?’
“Ek’s seker sy het nie. Die lig in ons kamer is al ure lank af. Sy kan ons glad nie sien nie.” Otto trek sy oë op skrefies. “Ek wonder waarna sy kyk?”
Emily trek haar skouers op. “Miskien hou sy net van julle huis. Onthou jy hoe baie sy van julle villa gehou het toe ons nou die dag die horlosie vir haar teruggevat het?”
Otto dink nie dis die rede nie. Wat voer Madame Olga in die mou? Hoekom tree sy so snaaks op? En hoekom spioeneer sy so laat in die nag op haar bure? En dit met ’n verkyker?
“Ek sal graag wil weet wat die ou draak vir my en tannie Sharon wegsteek. Ons moet weer probeer om die sneeuglasbal te skud. Oom Archibald weet altyd wat om te doen,” stel Otto voor en gee by die venster pad. “Miskien is dit nou makliker om kontak te maak.”
Emily knik en laat Otto dié keer die glasbal skud. Ongelukkig word die sneeustorm in die glasbal binne sekondes al hoe erger. Die boomtoppe swiep heen en weer in die wind en daar is selfs ’n paar takke wat deur die lug geslinger word. Arme oom Archibald. Hopelik sal sy houthut die vreeslike storm oorleef.
“Ek het mos gesê dis goedkoop gemors,” laat Vincent weer van hom hoor en gaan staan vlerk-op-die-heup. “Dit sal beter wees as jy maar liewer van die Oorkant-sonbrandroom meng en reguit na jou oom toe gaan. Jy kan my saamvat. Ek moet nog daar … ’n bietjie besigheid gaan afhandel …”
Vincent se woorde is nog skaars koud, toe Otto se kamerdeur so woes oopgeruk word dat hy amper ’n hartaanval kry.
Dis Harry.
“Grieselgryper!” sê Vincent hygend en snak na asem. “Ga! Eers het hy altyd hoflik geklop, maar deesdae hol hy hier in en uit soos hy wil. Otto, jy moet hierdie geraamte beter maniere leer.”
“Ek is amper seshonderd jaar oud, so dit sal nie meer help nie, jou vlieënde rot,” antwoord Harry en maak die deur baie sagter toe as wat hy dit oopgemaak het. “Wat ’n uitstappie na die Oorkant toe aanbetref … vergeet dit! Ek gaan dit nie weer doen nie. Oor my dooie liggaam!”
Emily en Otto glimlag floutjies vir mekaar.
“En wat jou betref, Vincent, ek kan my net indink watse besigheid jy aan die Oorkant wil afhandel. Smokkelary met lekkergoed. Om gekleurde soetigheidjies na die Oorkant toe te vat is nie ’n klein oortreding nie, my liewe vriend. Ek weier volstrek om jou medepligtige te word.”
Vincent brom onderlangs: “Aag, man, wat het oor jou lewer geloop? Dit was net ’n voorstel, dis nie nodig om dadelik op jou perdjie te klim nie.” Hy stoot sy ken uit. “Wie het nogal gesê ek gaan weer bont lekkergoed soontoe smokkel, hè?”
“My voorgevoel,” mompel Harry en kyk dan na Otto en Emily. Hy gaan sit langs hulle op die vloer, sodat sy benerige geraamte ’n paar lelike kraakgeluide maak. “O, ek sien julle gebruik my geskenk. Hoe gaan dit met oom Archibald?”
“Harry, die ding werk nie meer nie,” sê Otto en sit die glasbal in Harry se benerige hand neer. “Elke keer as ek dit skud, begin ’n woeste sneeustorm woed en onderbreek die kontak soontoe. Dink jy die ding is stukkend?”
“Net twee keer gebruik en dis poegaai,” tart Vincent. “Jou goedkoop gemors is net goed genoeg vir ’n papiergewig.”
Harry kyk na die glasbal, draai dit ’n paar keer in sy hande om en sug diep. “Dit kan nie die frekwensie wees nie, dit word aan die Oorkant ingestel. Dis iets anders wat die ontvangs versteur, dit weet ek vir ’n feit.”
Otto staan en wonder. “Wat kan dit wees?”
Harry vryf oor sy voorkop. “O, daar’s ’n lang lys van redes hoekom die ding foutief kan raak. Byvoorbeeld, as die glaskoepel beskadig word wanneer iemand dit laat val, of deur water. Het julle dit dalk laat val of per ongeluk in die toilet gedompel?”
“Natuurlik nie,” antwoord Otto omgekrap.
“Dit het eenkeer met my sielklikker gebeur. Moenie vra hoe ek die ding weer uit die toilet gekry het nie. H’m, dan moet dit iets anders wees,” sê Harry.
Otto kan nie help om te glimlag nie. Wat het Harry by die toilet gesoek? Maar voordat Otto verder daaroor kan wonder, praat die Grieselgryper weer.
“Deksels! Ek moes nie die gebruiksaanwysing weggegooi het nie. Ek gaan gou in die vullisblik kyk of dit nog daar is. Miskien kan ek die ding weer aan die werk kry. Waarvoor het julle dit so dringend nodig?”
“Madame Olga het blykbaar gister met oom Archibald gepraat,” antwoord Emily. “Ons wil net seker maak of oom Archibald ook van die gesprek weet. Dalk ken hy Madame Olga en kan hy ons ’n bietjie meer oor haar vertel.”
“Ag, natuurlik, Madame Olga.” Harry skud sy kop. “Ek was laas nag in haar huis en het so ’n bietjie daar rondgesnuffel.”
“En jy sê ons nou eers?” Emily is lelik omgekrap. “Kon jy iets uitvind?”
Harry sug. “Die hele storie is baie vreemd. Alhoewel die ou heks diep en vas geslaap het en mens haar tot in haar tuin kon hoor snork, het ek die hele tyd die gevoel gehad iemand hou my dop. Maar dit was nie die snaaksste van my klein spioenasie-uitstappie nie. Ek het iets op haar lessenaar wat voor die venster staan gekry.”
“Toe, uit daarmee, Harry,” por Otto hom aan.
Harry grawe in sy mantel se sak rond, haal ’n klomp foto’s uit en gee dit vir Otto. Otto se mond raak kurkdroog. Dis almal foto’s van tannie Sharon se huis. Een is van die voorkant geneem, die volgende een van die kant van die huis, die derde een gedurende die dag en nog een gedurende die nag. Die tuin is ook op al die foto’s. Daar is selfs ’n paar satellietfoto’s van die villa.
Otto sluk swaar. “Wat … wat wil die snaakse vrou van ons hê?” Sy gedagtes maal al in die rondte en hy gee die foto’s vir Emily. “Dink julle sy wil ons goed kom steel? Probeer sy dalk verskillende maniere uitwerk om by ons in te breek? Die hele storie word al hoe geheimsinniger.”
Emily staan op en begin heen en weer loop in Otto se kamer. “Sy het vanaand ook weer op ons gespioeneer. Ons het haar netnou op heterdaad betrap,” sê sy vir Harry. “Daar is so baie vrae wat ons nie kan beantwoord nie, ek weet nie eens waar om te begin nie. Ek sal baie graag wil weet wat rêrig gister by die spookafspraak gebeur het. Deksels, ek wens ek was daar!”
Otto kry skielik ’n blink idee. “Miskien moet ons self ’n afspraak vir ’n sessie met Madame Olga maak,” stel hy voor. “ ’n Bonatuurlike afspraak net vir ons twee; vir my en vir jou, Emily.”
“Dis ’n fantastiese idee.” Emily klap van pure opgewondenheid hande.
Otto glimlag van lekkerkry. Hy het geweet Emily sal vuur en vlam wees … Die plan is opwindend en dalk net gevaarlik genoeg vir haar.
Harry is egter skepties oor die plan. “Dink julle