Jacolet van den Berg

Hoë hakke met hoogwater


Скачать книгу

      

      Hoë

      hakke

      met

      hoogwater

      Jacolet van den Berg

      Kwela Boeke

      Vir Ernst, Josua, Esra en Miga

      omdat ons genoeg is vir ons Maker.

      She is clothed with strength and dignity, and she laughs without fear of the future.

      Proverbs 31:25

      Strong women wear their pain like stilettos. No matter how much it hurts, all you see is the beauty of it. – Harriet Morgan

      Simoné

      Hoofstuk 1

      “Ek gaan nou baie eerlik met jou wees, Simoné.” Haar pa sukkel om kalm te bly. Sy kan dit sien aan die aartjie wat langs sy slaap bult. Onder die kalm uiterlike pomp die bloed warm. As klein dogtertjie het sy dit al raakgesien. Wanneer dinge nie gebeur soos hy wil hê nie, begin die aar bult. Dié aar. Dis hoe sy altyd daaraan gedink het. Maar hy ontplof nooit soos mens sou verwag nie. Daarvoor is Anton Stander te gekultiveerd. Hulle werk mekaar net goed op, tot op die rand van die afgrond, en dan gee hulle pad. Dalk is hulle albei te bang om oor die afgrond te tuimel.

      Dis net dat almal na haar pa se pype dans, haar ma inkluis. Die personeel by die praktyk, selfs die matrone by die hospitaal. Hy kry eenvoudig altyd sy sin. En dit maak haar mal.

      Daar was ’n tyd wat sy hom toegelaat het om vir haar voor te skryf, maar dis lankal verby. Op universiteit het sy teen die prikkels begin skop, sy was vry en sy was wild en toe het sy uitgebreek. Eenvoudig gesê genoeg is genoeg. Weliswaar het sy die geneeskundekursus waaraan hy sy hart gehang het, voltooi maar sy het nooit as dokter gepraktiseer nie en beplan ook nie om dit in die toekoms te doen nie.

      “Jy het baie bek. Jy het baie binnegoed maar jy het bitter min verstand.”

      Sy woorde ruk haar terug na die hede. Haar pa praat nie sommer van iemand se bek nie.

      Anton Stander loop ’n draai deur sy studeerkamer. Soos ’n roofvoël wat om sy prooi sirkel. Die rye boeke agter hom so indrukwekkend soos die man met die grysblonde hare, die skerp blou oë en die reguit neus. Gelaatstrekke wat sy by haarself ook kan eien. Sy volg hom met haar oë van waar sy op die leunstoel voor sy lessenaar sit. Kastig ontspanne. Maar sy bewe aan die binnekant.

      Dis frieken malligheid. ’n Pa behoort nie só met sy enigste te praat nie. Hy behoort te ondersteun en raad te gee.

      Woede en teleurstelling vreet aan haar. Dis soos suur in haar en sy wens sy kon dit net uitspoeg. Hy ken haar nie, het nog nooit moeite gedoen om meer van haar te verstaan as dit wat hy wou hê sy moet wees nie. Nou sit sy met ’n hengse dilemma en sy weet nie wat om te doen nie.

      Eerder nie haar posisie verander nie. Net soos Lot se vrou bly sit onder sy valkoë, anders gaan hy die bewing in haar hande sien.

      “Miskien het ons genoeg hieroor gepraat, Pa. Ons praat tog net in sirkels.”

      Arms gevou leun hy teen die boekrak naaste aan haar. As student het sy versameling mediese boeke haar menigmaal handig te pas gekom, nou wens sy sy het elke vak gedruip. Net sodat sy hom kon wys sy gaan nie spring wanneer hy sê sy moet nie.

      “Hoekom is jy so hardkoppig? Jy weier om te praktiseer net om my ’n punt te wys. Bid jou aan: ’n surfwinkel! Ek het gedink die snaaksigheid gaan ná ’n paar maande oor wees, maar dis nou al twee jaar wat jy rondslons soos … soos wat noem hulle dit? ’n Beach bum.”

      “Ek was nog nooit ’n beach bum nie, Pa. Ek bedryf ’n suksesvolle surf shop wat my baie besig hou. Die winkel doen goed en ek is daagliks byna volbespreek vir lesse. Oud en jonk. Selfs groepe. Ek is lief vir die buitelewe.”

      Haar pa snork verontwaardig. “Waar kom hierdie skielike liefde vandaan? Op skool was jy tevrede agter jou boeke en jy wou altyd saam met my hospitaal toe gaan.”

      “Dis nie ’n skielike liefde nie, ek was nog altyd ’n buitelewemens, maar het eers op universiteit ontdek hoe om uiting daaraan te gee. Ek het besef dis waar my passie lê.”

      “En nou het die takhaarvent teen wie ek jou gewaarsku het jou rot en kaal besteel.”

      “Hy is nie ’n takhaar nie. Pa weet wat sy naam is.” Sy haat dit om Zane teen haar pa te verdedig. Hulle ken mekaar skaars. “Hy is ’n surfer soos ek. Ek weet ons lyk anders as die mense aan wie Pa gewoond is, maar ons is skoon en suksesvol.”

      “Dis nou nie nodig om my woorde uit verband te ruk nie.”

      “Die punt is, dis sy winkel soveel as wat dit myne is. En ek het nie gesê dat hy die winkel rot en kaal besteel het nie. Ek vermoed net iets is nie pluis nie. Dalk swak bestuur of nalatigheid, ek weet nie. Dis hoekom ek Pa se raad kom vra het. Ek weet nie hoe om uit te vind presies wat aan die gang is en hoe ek dinge moet regruk nie.” Sy sal swyg oor die kontant wat sy in Zane se motor gekry het. Dit sal in haar pa se oë verdoemend wees.

      Haar pa se blik is gevoelloos toe hy weer agter die donker embuialessenaar gaan sit. Die lig deur die groot vensters agter hom skep die illusie dat die kontoere van sy gesig ietwat versag, maar sy stem weerspreek enige wanindruk wat daar kan wees. “Meng jou met die semels en die varke vreet jou op. Bel die polisie as jy ongerymdheid vermoed. Ek wil niks met jou winkel, of wat dit ook al is, te doen hê nie. Kom spreek my wanneer jy gereed is om ’n regte werk te doen, dan sal ek jou help.”

      Koue klamp haar hart. Haar lip begin saam met haar hande te bewe. Sy haat dit as haar pa só is. So onaantasbaar en altyd seker hy is die enigste een wat reg is.

      Daar is ’n ligte klop aan die deur. Dit word oopgestoot en haar ma loer na binne. Simpatie en moedeloosheid lê vlak in haar oë. Simoné weet haar ma is maar te bewus van die onderstrominge wat tussen die vier mure van hierdie studeerkamer woed. “Dante is hier.” Haar ma sê dit vir haar pa asof Simoné ook veronderstel is om te weet wie Dante is.

      “Dankie, Esmé.” Haar pa is duidelik klaar gepraat met haar wat Simoné is.

      Sy staan op. Lig haar ken. Glimlag effens. “Ek is in elk geval op pad.” Toe sy haar pa in die oë kyk, hoop sy haar blik is vreesloos, maar waarskynlik sal sy nie daarmee ’n rol in ’n rolprent losslaan nie, nie eens in ’n Omo-advertensie nie. Sy kon nog nooit fake wees nie. “Dan maak ek self ’n plan. En nee, ek sal Pa nie kom spreek vir hulp indien ek om een of ander mal rede wil begin praktiseer nie.”

      Haar pa knik net. Doen nie eens die moeite om regop te kom om haar te groet nie. Daardie aar teen sy slaap klop nog en dit gaan ’n rukkie vat voor die hitte in hom genoeg afgekoel het. Dan sal hy haar bel om te hoor of sy ’n plan gemaak het, sy weet.

      By die deur vat haar ma haar hand. “Het jy tyd om gou ’n koppie tee te drink?” Daar is hoop in haar stem en Simoné voel soos ’n luis toe sy haar kop skud.

      “Ek moet ry, Ma, daar is ’n paar dinge wat ek moet doen en ek moet Zane dringend sien.”

      “Nou goed. Miskien môre? Dis Sondag en noudat jy nie meer in die huis is om saam met ons kerk toe te gaan nie, mis ek dit.”

      “Miskien. Ek sal Ma sms as ek kan kom.” Kerk toe? Sy het so lanklaas gegaan. Nie omdat sy nie wil nie. Dis net nie iets wat Zane doen nie en veral naweke, Saterdae én Sondae, is sy besig met surflesse. Dis nou maar een van daardie dinge waaroor sy ’n toegewing gemaak het, al weet sy dit kan nie vir altyd so wees nie.

      In die deur van die leefvertrek links van die voordeur staan ’n man. Sy sien hom al toe sy aan die bopunt van die gang is. Hy kyk na hulle toe hulle gangaf kom. Sommer net so terloops asof sy die skoonmaker is.

      Te oordeel na die ontwerpersjeans en goed gesnyde langmouhemp, is hy die tipe wat haar pa se goedkeuring wegdra. Sy ken dié soort. Hulle meng nie met haar soort nie. Daarvoor is sy te sonbruin, haar hare te wild, die plakkies aan haar voete te goedkoop en haar kortbroek te kort.

      Haar ma kom staan langs haar. “Dis Dante de la Harpe, Simoné. Jou pa se nuwe vennoot. En Dante, dis Simoné. Ons enigste kind.”

      ’n