Jacolet van den Berg

Hoë hakke met hoogwater


Скачать книгу

nooit geskeel nie. Henko sal maar sy gat van die bank moet lig, want donnerse sirkus toe sal hulle vandag gaan. Sy het hom nie verniet gisteraand en vanoggend blink gelek nie. Self is sy nie meer daarvoor lus nie, maar hulle het vroeër die week ingestem toe die kinders gevra het. Sy is baie dinge, maar sy is nie een vir teruggaan op haar woord nie en beslis nie teenoor die kinders nie. In elk geval, sy het gedink Henko gaan kleinkoppie trek of doodeenvoudig nie betyds van die gholf af terugkom nie, maar toe laat sy vriende hom vanoggend in die steek. Dis hoekom Henko vandag ekstra moerig is – geen gholf nie en boonop met ’n sirkus as vooruitsig. Mens sou sweer hy is verslaaf aan gholf. Hy lê en bejammer homself al die hele flippen oggend op die bank voor die televisie. Haal sy frustrasies op haar uit.

      Kalm bly, Andrea. Dink Zen. Sy haal nog ’n paar keer diep asem. Dink vrede. Kalmte. Selfbeheersing. Ag, flip, dit werk nie. Geïrriteerd blaas sy die lug uit haar longe. As sy só aanhou stoom, lê haar hare nou-nou klam teen haar kop. Sy is ’n eerlike mens. Daar is min dinge wat sy vir haarself – en ander – wegsteek. Sy weet al lank, dié ding tussen haar en Henko dreig onder die oppervlak. Hulle het in ’n patroon verval van werk, kinders, slaap. Werk, kinders, slaap. Werk, kinders, slaap, seks. Dan begin die patroon weer van voor af. Teen hierdie tyd ken hulle mekaar te goed. Speel hulle op mekaar se gevoel en senuwees. Maar vanoggend was die eerste keer dat hy kop verloor het. Regtig kop verloor het. En haar teen die kasdeur vasgedruk het met sy vingers om haar nek. Sy het geskrik, haar as af, omdat sy diep in haar weet dat dit nie in Henko se aard is om so te ontplof en gewelddadig op te tree nie, hy is nie daardie soort nie. Miskien is sy moermeter net so oorstuur soos hare. Daarom dat hy beheer verloor het. Sy het hom te ver gedryf. Hy het haar te ver gedryf. Gelukkig was die kinders in die tuin en het hulle niks gesien of gehoor nie. Sy huiwer in die deur van die sitkamer.

      “Is jy reg om te ry?” Haar stem is koud, gevoelloos. Sy kyk hom nie in die oë nie. Hy sit-lê, bier in die hand, op die bank. ’n Pak skyfies lê oop op die koffietafel met krummels rondom gemors. Haar bloed begin borrel, maar sy hou haar mond toe en haar oë weggedraai.

      Dit verbaas haar dat hy nogal vinnig opstaan. Hy skakel die televisie af, los die verdomde pak skyfies en bierblik net so en kom nader. Gelukkig handhaaf hy ’n veilige afstand. Ook lekker wit geskrik gewees vroeër, hy het sy reaksie seker self nie verwag nie. Dis nie dat sy verskoning soek vir hom nie, of hom gou gaan vergewe nie, dis net dat sy Henko ken. Hulle is al lank saam. Min hoërskoolkyse kan sestien getroude jare agter hulle naam skryf. Sy behoort seker te voel sy is een van die gelukkiges. ’n Bevoorregte. Nou is sy net gatvol. Vir vloerlap wees, seksmaat wees, eentonigheid. Vir haarself prysgee en almal se stront opvreet. Henko en die kinders s’n. Sy is moeg daarvoor om niks te wees nie. Net die een sonder opleiding wat maar te dankbaar is om met haar gat in die botter te sit en te bly is om alles vir almal te doen. Dag-in, dag-uit. Sy het al daaraan gedink om haar goed te vat en te loop. Maar hoe doen sy dit? Die kinders is steeds hare en hulle sal sy nie los nie. Henko is ook hare al is sy nie aldag seker of sy hom wil hê nie. Hoe maak jy jou uit ’n lewe, ’n tapisserie los waar almal al so lank so noukeurig saam verweef is?

      Dis in elk geval ook nie waar dat sy niks is nie. Sy is iets. Sy is ’n donnerse afhanklike, ’n vasgekeerde! Haar opsies is: Vreet die nonsens op in weelde of krepeer elders in armoede.

      “Andrea …” Henko lyk of hy iets wil sê, maar hy kom nie verder nie. Seker omdat sy hard probeer om na hom te kyk asof hy ’n vrot muis of ’n ding is wat die kat van buite af ingedra het. “Ons kan ry. Waar is die kinders?”

      “Buite.”

      “Ek kry die sleutels.”

      “Ek sluit die deure.”

      Hulle kon netsowel twee derderangse akteurs in ’n swak drama gewees het. Waarskynlik sal die kykers die televisie sommer gou afskakel, want dis so ontstellend voorspelbaar, mens kan gaan slaap en jy sal môre steeds presies weet waar die twee met mekaar staan.

      Sy stap agterna motorhuis toe. Die elektroniese deure gly oop en sy gaan wag buite. Die kinders kom om die hoek. Michael eerste, soos gewoonlik. Hy is immers die oudste. Andrio is kort op sy hakke. Michael klim in die Fortuner sonder om links of regs te kyk.

      Andrio huiwer voor haar, lyk effens verleë. “Ma lyk mooi.”

      Sy glimlag vir hom voor hy by die deur in woerts.

      Ané is ’n ander saak. Al is sy net tien, is sy vol dinge. ’n Dametjie wat deesdae nie sonder handskoene aangepak kan word nie. Veral nie deur haar ma nie. Henko kry partykeer nog iets uitgerig, maar nie genoeg om betekenisvol te wees nie. Hulle het maar aanvaar hul dogter het in ’n wispelturige tiener verander nog voor sy behoorlik haar tienderjare bereik het. Wat sy oor ’n paar jaar, wanneer die kind werklik ’n tiener is, gaan doen, wil sy eerder nie nou dink nie. Miskien is sy weg teen daai tyd of heeltemal mal in haar kop sodat niks haar meer pla nie.

      “Ma se top is nogal styf,” snip die helsempie voor sy op die agterste sitplek inskuif.

      Andrea verwerdig haar nie ’n antwoord nie. Klim net op haar plek in en pers haar lippe saam.

      Dis nie ver sirkus toe nie. Hulle kon geloop het as hulle regtig wou, maar gelukkig het niemand dit van haar verwag met dié paar spykerhakke nie.

      Sy hou haar oë op die pad. As sy kon, sou sy eerder in die kattebak gesit het as om so naby Henko te wees. Tog is dit seker beter as die kinders nie vermoed daar is ’n storm tussen hulle ouers nie. Of is dit? Dis mos goed vir kinders om bewus te wees van die verskille tussen die ouers sodat hulle kan leer hoe volwassenes konflik hanteer. Ha! Wat ’n grap. Sy en Henko het allermins ’n verskilletjie en kinders behoort seker nie te sien hoe hulle pa hul ma aan die keel gryp nie. Al was albei van hulle wit geskrik. As die drie nie hier was nie, het sy nie vandag in hierdie kar geklim nie. Haar hartsbegeerte op die oomblik? Om so ver moontlik van die man langs haar af weg te kom sodat sy eers die vlae woede en teleurstelling onder beheer kan bring.

      Hulle is skaars om die eerste draai toe die kinders aan haar selfbeheersing begin karring. Sy byt op haar tande en ignoreer die gekla en gestamp op die agterste sitplek. As sy ’n vloermoer veroorloof was, het sy nou gegil en met haar spykerhakke in die voorste paneel vasgeskop. Haar jeans sal waarskynlik protesteer teen so ’n move, heel moontlik heeltemal opgee en skeur, maar dit sal haar nie keer nie. Sy is hoeka lus om dié paar hakke êrens in te kap.

      “Wil julle sirkus toe gaan of bly?” vra Henko met ’n moerige stem. Klink of hy ook lus het om iets êrens in te kap.

      Die drie op die agterste sitplek hoor dit blykbaar ook, want hulle bly wonder bo wonder stil.

      “Hoekom sê Ma niks?” vra Ané toe hulle by die hek van die terrein waar die sirkus gehou word, indraai.

      Daar staan ’n groep diereaktiviste met hulle plakkate omhoog by die hek. Andrea rek haar nek ingedagte om die opskrifte te lees. Stop animal cruelty! ’n Ongemaklikheid glip deur haar, sy haat dit wanneer mense so op jou gevoel speel. Dis ’n tweederangse sirkus, for goodness sake. Hoeveel diere kan hier nou wees?

      “Wat moet ek sê, Ané?” reageer sy uiteindelik.

      Henko parkeer langs ’n ander motor op die oop stuk grond wat as parkeerarea aangewys word.

      “Ek weet nie.” Ané wip uit en agter haar broers aan sonder om vir ’n antwoord te wag.

      Andrea kyk die meisiekind agterna. Is sy slim genoeg om agter te kom daar is vonke tussen haar en Henko? Of is dit blote snipperigheid?

      Henko gee haar ’n bemoedigende kyk toe hulle begin aanstap om in die lang ry by die deur in te val en sy is lus om hardop te lag. Werklik? Sy moet haar keer om hom nie iets sarkasties toe te snou nie.

      Hier tussen die mense sal sy haar inhou. Sy het miskien met minder geld, in ’n minder ordentlike huis en met minder geleerdheid as Henko grootgeword, maar sy was nie haar wasgoed voor ander nie. Onder hierdie paar boobs en boude skuil trots ook.

      Die hakke van haar stiletto’s sak weg in die sagte grond toe sy begin aanstap en sy vererg haar van voor af. Hoe moet sy nou die modder van die turkoois hakke afkry? Toegegee, die skoene is seker nie ’n praktiese keuse vir die sirkus nie, sy sien hoe sommige mense in haar