Jacolet van den Berg

Hoë hakke met hoogwater


Скачать книгу

weet. Maar Michael glip eerste by die ry sitplekke in en langs hom Andrio. Ané kla toe sy tussen haar ma en pa vasgekeer sit en Andrea ruil met haar. Nog ’n scene kan sy nie vandag deursien nie.

      Sweet loop in dun straaltjies teen haar nek af en sy skuif ongemaklik. ’n Nar begin tussen die toeskouers dans en amok maak en sy kan net hoop hy mors nie sy springmielies op haar of Henko nie. Dit sal dalk ’n onwaarskynlike einde aan sy vertoning beteken.

      Sy is verlig toe die nar verdwyn en die omstrede man met die groot katte sy verskyning maak. Op ’n manier beïndruk die ou haar. Watse invloed sou die betogers op hom hê? Maar krag om werklik daaroor te wonder het sy nie. Sy het genoeg probleme van haar eie. Al waarna sy op die oomblik smag, is vars lug en koeler klere.

      Teen die tyd dat die vrou in ’n bikini met die dik luislang om haar nek ’n rondte in die arena doen, hang Andrea se selfbeheersing aan ’n dun draadjie. Daar is ’n dowwe geklop in haar kop. Sy vryf oor haar slape en maak haar oë toe. Haar hare is klam teen haar vel en daar is ’n spasma in haar rug. Toe die vrou en haar slang weer deur die gordyntjie verdwyn, breek pouse genadiglik aan. Sy klap nie saam hande nie. Hoekom ’n vrou in ’n bikini altyd die slang moet hanteer, sal niemand weet nie.

      Hulle stap saam met die gedrang na buite vir vars lug. Die seuns val saam met Henko in die ry vir koeldranke terwyl sy en Ané eenkant wag.

      “Kan ek my sakgeld gebruik?” begin Ané karring vir een of ander sirkuskakkie wat ’n liggie maak.

      “Wat jy waar kry?”

      “Die wasgoed wat ek nou die dag afgehaal het.”

      “Nè.” Sy sien Henko voor in die koeldrank-ry en gebruik die geleentheid om ’n rukkie langer te ontsnap. “Nou kom. Dan is ons kiets.”

      Ané se glimlag verbreed. Hulle gaan staan saam in die ry by die tafel vol Chinese gemorsspeelgoed.

      “Ons gaan solank in,” beduie Henko met ’n koeldrank in elke hand en sy knik net.

      Haar kop pla en die bedompige beknoptheid daarbinne het haar uithouvermoë op ’n laagtepunt.

      By die hek staan steeds ’n klompie betogers wat blykbaar nie van plan is om hulle plakkate voor die einde van die vertoning te laat sak nie. Die kombi oorkant die groepie val haar op. Sy het so een gehad pas toe sy en Henko getroud is. Die hoeke van haar oë begin brand en sy snuif minagtend. Sal sy nou wragtig nostalgie ervaar oor ’n stuk blik wat sy verpes het? Miskien moet sy sommer net huis toe loop. Sy het mos ’n hoofpyn. Dis verskoning genoeg en die sirkus is darem al halfpad.

      Sy betaal en vat die kleingeld. “Sal jy asseblief vir Pappa sê ek gaan huis toe stap? Ek het hoofpyn en die geraas en bedompigheid daarbinne maak dit erger.”

      “Nou?” Ané kyk ongelowig na haar.

      “Ja, dis erg.”

      Ané lyk vir ’n oomblik asof sy wil kapsie maak, maar toe knik sy. “Oukei.”

      “Jy weet mos waar ons gesit het?”

      “Ja.”

      “Nou goed, sien julle by die huis.” Sy wag om te kyk dat Ané by die sirkustent inloop voor sy omdraai en hek se kant toe sukkel. Die verdomde hakke steek ook in elke gaatjie en graspol vas. Haar hoofpyn voel klaar beter. Dis seker van verligting. Sy het nie ’n huissleutel by haar nie, maar sy kan langs die swembad op een van die tuinstoele sit en wag tot hulle by die huis kom. Henko gaan kwaad wees, maar hy verdien om alleen verder deur die sirkus te worstel.

      Die betogers staan aan die ander kant van die pad en twee vroue naaste aan haar draai hulle plakkate in haar rigting toe hulle haar sien naderkom. Andrea kyk voor haar en maak asof sy hulle nie raaksien nie.

      Vies trap sy ’n gat mis. Pleks sy ’n ander broek en skoene aangetrek het. Maar hoe moes sy nou weet sy gaan in dié hitte die bult op sukkel met ’n broek wat haar kniehalter en skoene wat haar enkels laat swik?

      “Ja, ja. Ek loop mos nou. Was in elk geval ’n mors van tyd.” Sy is dankbaar vir die sonverbleikte turkoois kombi tussen haar en die aktiviste toe sy deur die hek loop. Dit staan aan die verkeerde kant van die pad geparkeer.

      “Soek jy ’n lift?”

      Nie seker of die jong vrou agter die stuurwiel met haar praat nie, kyk Andrea versigtig oor haar skouer, maar daar is niemand nie.

      “Ekskuus?” Sy sien nou eers die blondine se pofferige rooi oë.

      Wantrouig soek Andrea se oë oor die ander sitplekke, maar daar is niemand anders in die kombi nie. Is dit ’n slinkse plan om haar te ontvoer?

      “Ek vra of ek jou iewers kan aflaai? Lyk of jy sukkel.”

      “Jammer. Ek het sommer met myself gepraat, was bedoel vir die klomp oorkant die pad.”

      “Ek weet. Ek het jou dopgehou terwyl jy met daai polvye so sukkel-sukkel aangestap gekom het. My ouma bly net hier teen die berg en ek kan jou iewers aflaai as jy wil.” Sy beduie in watter rigting.

      “Oukei.” As iemand plat lê op die agterste sitplek is dit seker tickets met haar, maar sy sien nie kans vir die bult huis toe nie. “Dankie, ek bly ook daardie kant toe.” Andrea weet nie wat haar besiel om in te stem om in ’n wildvreemde se voertuig te klim nie, maar die blondekop lyk onskadelik en op hierdie stadium nogal broos.

      “Klim in.”

      Sy loop om na die passasiersdeur. Ignoreer die spul betogers. Sukkel om trapplek te kry omdat sy haar been nie hoog genoeg gelig kry nie. Eindelik skuif sy tog met redelike finesse op die ligte kunsleersitplek in. Sy loer onderlangs of die blondekop dalk ’n mes of pistool byderhand het, maar sy sien niks nie.

      “My naam is Simoné. Hallo.”

      “Andrea.”

      “Goed, Andrea, waarheen vat ek jou?” Simoné skakel die kombi aan.

      Die dreuning klink verdag protesterend. Henko sou seker aangebied het om te kyk wat die probleem is. Hy is mos met ’n spanner in die hand gebore. “Eerste een links uit die hoofstraat en dan die tweede een regs.”

      Hulle gaan draai aan die onderpunt van die straat en kom weer by die betogers verbygery. Dié lig weer hulle plakkate asof sy nie reeds gesien het wat daarop staan nie.

      Andrea bekyk die blondekop onderlangs. Mooi, selfs so met die spore van trane op haar gesig.

      Simoné kom blykbaar agter dat sy haar dophou. “Ek lyk seker verskriklik.”

      “Nee, jammer. Ek het nie só gekyk nie, ek kan net sien iets is fout.”

      “Ja. Ek kan nie so by my ouma aankom nie.” Simoné haal haar skouers verslae op sonder om haar hande van die stuurwiel te lig.

      Andrea sê niks. Wat weet sy nou van die girl en haar ouma?

      “Mans.”

      Daarmee kan sy haar vereenselwig! Simoné het seker ook ’n slegte ervaring gehad.

      “’n Man is ’n bok en ’n bok is ’n bliksem. My ma se gunstelingsêding gewees. Holrug gery, maar vandag glo ek haar wragtig.” Andrea draai die venster oop en voel verlig die bries deur haar hare.

      Simoné knik ingedagte. “Dis seker waar.”

      “Ek het nie ’n sleutel om by my huis in te kom nie, anders het ek aangebied dat jy jou gesig kan kom was.”

      “Dis oukei. Ek is nie haastig nie, my ouma verwag my nie. Ek sal nog bietjie draai voor ek soontoe gaan.” Simoné kyk skuins na haar. “Hoekom is jy so driftig by die sirkus weg? Was dit so sleg?”

      Hulle draai op uit die hoofstraat en Simoné moet ratte wissel om die kombi in beweging te hou.

      “Dit ook, ja. Die bedompigheid en geraas het my hoofpyn gegee.”

      Simoné glimlag tegemoetkomend. “Maak vir my heeltemal sin. Ek sou ook een gekry het.”

      Maggie