Jacolet van den Berg

Hoë hakke met hoogwater


Скачать книгу

aan geïrriteerd.

      Maggie antwoord nie. Bloot omdat sy te tam is. As sy beter gevoel het, het sy Andrea dalk op haar onvriendelike gedrag attent gemaak. Sy is gesteld op etiket en reëls.

      “My naam is Maggie.”

      “Waarheen vat ek jou, Maggie? Ek is nie haastig om by my bestemming uit te kom nie.” Die ligte toon in Simoné se stem klink geforseerd.

      Snaaks dat dié nuanses haar opval. Al is sy buite haarself op die oomblik, is sy baie bewus van die ander twee se emosies.

      Simoné kyk afwagtend na Andrea. Dié skud net haar kop.

      “Oukei, ek is seker ook nie haastig nie,” antwoord Andrea toe tog.

      “Ek het eintlik nie ’n plan nie.” Maggie voel pateties toe sy dit sê. “Ek wou sommer net ’n ent ry.”

      Andrea sug, maar Maggie ignoreer dit.

      Hulle sit ’n rukkie. Dit wil voorkom asof sy nie die enigste een sonder ’n plan is nie.

      Toe draai Simoné na haar en ’n glimlag verlig haar gesig. Die skoonheid in die jonger vrou se mond val haar op. “Is julle lus vir ’n joyride?”

      “Nee,” keer Maggie flouerig.

      Simoné draai na Andrea en dié haal haar skouers op. “Oukei, ek sal saamgaan. Ek het nou niks om by die huis te gaan doen nie.”

      Toe Maggie haar kom kry, maak die bussie ’n U-draai en is hulle na wie weet waar op pad. Die stukkende kunsleersitplek sny in haar boud deur die dun materiaal van haar rok, maar sy skuif nie, staar net lusteloos na buite.

      Dis warm in die bussie. Daar is nie lugreëling nie. Toe hulle weer om ’n draai gaan en die sitplek haar krap, skuif sy effens na links.

      Soos sy, sit Andrea ook net woordeloos en staar by die venster uit.

      Niemand sê iets nie en ongemak roer in haar terwyl hulle in die eienaardige bussie na die noordekant van die dorp ry.

      Dis bisar. Sy hou die mense by die winkel links van haar dop toe hulle by die rooi lig stop. Inkopies, so ’n normale ding om op ’n Saterdagmiddag te doen. Sy wens sy was een van hulle. Hoe verlang sy nie nou na ’n tyd toe sy ook gou winkel toe moes jaag om ’n slaaikop of ’n blikkie room te kry vir hulle Saterdagmiddagbraai nie.

      Hulle ry by die dorp uit en sy wonder of sy die plek weer lewend sal binnery, sy weet niks van die twee voor haar nie. Paniek wel in haar op, maar sy onderdruk dit met mening. Andrea kyk steeds by haar ruit uit en die bos hare verbloem haar gesig. Simoné lyk bietjie meer ontspanne, hoewel die vingers wat om die stuurwiel klem ’n ander storie vertel.

      Hulle is op die Agter-Paarl-pad. Haar hart klop vinniger, maar sy maak nie haar mond oop nie. Sy het net een begeerte en dit is om van Jannie en sy houvrou, of wat Karen Loock ook al was, te vergeet.

      By die groter pad sit Simoné die flikkerlig aan en hulle draai links. Toe hulle regs afdraai Durbanville se kant toe, begin Maggie in die bussie rondkyk vir ontsnaproetes. Sy het in die afgelope paar minute haar posisie oordink en kan nou nie glo sy het haar in die twee se hande begewe nie.

      Die pad is bekend vir haar. Herinneringe spoel oor haar en sy is lus om in ’n hopie op die sitplek op te krul sodat sy haar oë kan toemaak en probeer vergeet. Nie lank gelede nie het hulle na hierdie einste kanolavelde kom kyk. Jannie het foto’s van die dogters tussen die massas geel blomme geneem. Bianca het steen en been gekla, maar uiteindelik tog geposeer asof sy ’n model is.

      Maggie kyk eerder af na haar hande. Haar trouring lê fyn teen die vel van haar ringvinger. Sy het gedink Jannie is gelukkig, soos sy en die dogters. Nooit het sy die indruk gekry dat hy ontevrede was en meer as vir haar wou hê nie. Dalk het sy ook maar net gesien wat sy wou.

      “Ontvoer julle my?” Haar oorlewingsdrang verbaas haar. As hulle van plan is om by een van die verlate gehuggies in te draai en haar aan een of ander rampokker te verkwansel in ruil vir dwelms of iets in dié lyn, sal sy verkieslik eerder gouer as later wil weet. Sy het niks by haar nie, nie ’n selfoon of ’n beursie nie. Roof is dus nie ’n opsie nie. Sy sidder om aan ander moontlikhede te dink. In haar lewe het sy nog nooit so ’n onbesonne ding aangevang nie. Maar die lewe het haar ’n onverwagse dwarshou toegedien. Sal sy ooit weer rasioneel kan dink en optree? Hoe sê Bianca wanneer sy kwaad is? See if I care. Sy wens sy kan dieselfde van haar lewe op die oomblik sê.

      Simoné en Andrea kyk vir mekaar. Toe begin Simoné lag.

      Simoné hou nie op lag nie. Eers gooi sy haar kop agteroor teen die kopstuk, toe skud haar lyf al hoe meer en die klank wat oor haar lippe ontsnap, klink eerder na histerie as vreugde. Maggie bly doodstil sit, haar vraag was darem nie so snaaks nie. Die vrou moet versteur wees.

      “Trek af.” Andrea se stem is gebiedend. Haar oë flikker agtertoe en dan terug na Simoné. “Jy gaan ons verongeluk. Ek het ingestem vir ’n joyride, nie ’n ambulansrit nie.”

      Andrea se woorde is soos olie op vuur, want ’n nuwe lagbui oorval Simoné. Dié hou darem stil sodat sy oor die stuurwiel kan lê. Met haar kop tussen haar arms bedaar die gelag geleidelik.

      “Het sy dalk gedrink?” vra Maggie vir Andrea. Sy weet nog steeds nie of sy ontvoer is en of die twee werklik sommer net ’n vreemdeling opgelaai het omdat hulle vandag lus was om iemand in nood te help nie.

      Andrea skud haar kop heen en weer. “Ek weet nie. Ek ken die girl tien minute langer as jy. Sy speel moeder Teresa vandag.”

      Simoné het ophou lag en sy leun weer terug teen die sitplek terwyl sy die trane uit haar oë vee. Maggie is nie seker of sy lag of huil nie.

      Goed, lyk darem nie of hulle haar ontvoer nie, maar of dit iets positiefs in haar situasie is, weet sy nie. “Miskien moet ons ry. Nou-nou oorval iemand ons hier langs die pad.” Weer verbaas Maggie haarself. Dat sy juis nou haar verantwoordelikheidsin terugkry, is eintlik lagwekkend.

      Simoné kry die bussie weer in beweging. “En hier sit ek heelpad op my hoede omdat ek bang is Maggie slaan my van agter oor die kop of doen ’n Hollywood move en spring uit.” Sy lag weer, maar hierdie keer meer beheers.

      “Waarheen is ons op pad?” Maggie voel simpel om te vra.

      Tot haar verbasing kyk Andrea ook vraend na Simoné.

      “Bloubergstrand toe. Ek het gedink julle vra nooit nie.”

      Maggie dink ’n oomblik daaroor. “Wat gaan ons daar maak?”

      Simoné haal haar skouers op, kyk in die truspieëltjie na Maggie. “Jy wou wegkom. Andrea wou wegkom. Ek het die uitkomkans gebruik.”

      Simoné

      Hoofstuk 4

      Die wind roer oor die veld toe hulle by Blouberg indraai, vlaggies wapper verwoed, voetgangers moet aan hulle hoede en rokke vashou. Sy draai strand se kant toe. Die parkeerarea is dolleeg, daar is net ’n paar gesoute seeliefhebbers wat kans sien vir die wind op die strand. Skuimperdjies hardloop wit oor die water en nostalgie nestel in haar. As kind het sy dit so geniet wanneer hulle hierheen gekom het. Haar ma het Blouberg verkies omdat Tafelberg so mooi lyk van hier af.

      Die see was nog altyd haar troosplek. Dis waar sy tuis voel. Skuldig kyk sy na die ander twee. Waarskynlik koester hulle nie dieselfde sentimente nie.

      Sy parkeer die bussie reg voor die strand. Of die stilte van die ander twee ’n teken van protes of bloot net aanvaarding is, weet sy nie.

      Toe sy waag om na haarself in die truspieëltjie te kyk skrik sy vir die gesig wat na haar staar. Wat het die twee besiel om by haar in te klim? Sy lyk soos ’n ontsnapte onder spreiligte. Vuil, verskrik, verwaaid en betraand. Maar hulle is ordentlik genoeg om niks te sê nie. Waaroor sy natuurlik dankbaar is, want haar toekomsplanne is in die weegskaal, eintlik heeltemal in hulle dinges en om nou te hoor hoe sleg sy daar uitsien, is die laaste ding wat sy nodig het. Hoe gaan sy haar kop regkry sodat sy rasionele besluite kan neem? Haar perfekte wêreldjie het soos ’n kaartehuis ineengetuimel, duidelik