huiwer. Demmit, Zane. Hoekom het hy nou hulle lewe so kom opneuk? Sy vou ’n vuis om die note. Ná wat die afgelope tyd verlore geraak het, is dit broodnodige geld. Sy kan nie bekostig om dit weg te drink nie. Maar sy gooi die gedagte van haar af asof dit ’n spinnekop is wat op haar skouer geval het. Verantwoordelik se dinges. Niemand anders is nie, hoekom sal sy wees? Vanaand is sy kwaad genoeg vir Zane en jammer genoeg vir haarself om die onverantwoordelike ding te doen en môre se probleme vir môre te los. Sy moet net in die oomblik leef. Dan is die teleurstellings minder. Sy het mos ’n ryk pa. Nie dat hy ooit bereid was om haar onverdiend vol te stop nie en nog minder was sy bereid om te vra. Suffer in silence. Sy is goed daarmee. Maar daar was nie veel suffering die afgelope twee jaar nie. Sy en Zane was op hulle eie planeet. Hoekom sou hy dan so vreemd begin optree het die afgelope twee maande? Dalk dwelms? Dit kan sy nie glo nie. Miskien ’n ander duister geheim waarvan sy niks weet nie. Genade, sy sal moet uitvind hoeveel meisies hy die afgelope twee jaar op die strand vasgedruk het. In naam is sy immers ’n dokter. Sy weet watse impak sy losbandigheid op haar kan hê.
Maggie en Andrea sit steeds net waar sy hulle gelos het toe sy oor die parkeerarea draf. Ineens voel sy simpel om dinge so vooruit te loop. Sy is nou soos iemand wie se kop jeuk as hy hoor van iemand in ’n ander dorp met kopluise. Om nou slapende honde wakker te maak is dom. Sy sal net so gou moontlik seker maak sy is so gesond soos sy dink sy is.
Die restaurant is aan die oorkant van die pad en sy draf vinnig oor toe daar ’n gaping in die verkeer is. Die plek krioel en sy druk haar hare selfbewus agter haar ore in voor sy in die paadjie na die ingang op loop. Miskien moes Andrea eerder gekom het. Soos sy nou lyk, sal sy nie verbaas wees as hulle haar drank weier nie.
“Kan ek ’n drankspyskaart kry, asseblief?” vra sy vir die eerste kelner wat sy teëkom.
“E …” Hy lyk onseker. “Waar sit julle?”
“Net hier buite.” Sy beduie vaagweg oor haar skouer. Nie seker of sy drank sommerso kan koop nie. Dis immers ’n restaurant, nie ’n drankwinkel nie. Sy sit haar hartseerste puppy dog-gesig op. Glimlag so ’n bietjie pateties soos iemand wat haar laaste kragte vir die aksie gebruik.
Hy staar ’n oomblik na haar, knik toe sonder om verder uit te vra en draai weg om een te kry.
Toe hy die spyskaart terugbring, bestudeer sy die inhoud daarvan aandagtig. Maggie lyk nie na die soort wat bier drink nie. Boonop gaan ’n bier op die strand nou te veel herinneringe in haar loswoel. Sy wil nie onthou hoe sy en Zane soms ná ’n heerlike middag in die water op die sand gesit en saam na die sonsondergang gekyk het nie. Sy met haar rug teen sy bors gestut. Haar kop teen sy skouer terwyl sy nou en dan ’n slukkie van sy bier vat. Die knop in haar keel kom vinnig. Sy beduie na die eerste bottel wyn wat sy sien en hou drie vingers vir die kelner op.
Sy wenkbroue skiet dak toe, sy kan die rook uit sy ore sien draai, maar aan sy houding lyk dit of hy haar gaan oorsien en niks sê oor die feit dat sy nie by een van die tafels sit nie. Hy vat die spyskaart by haar en verdwyn na binne.
So half en half verwag sy dat die bestuurder haar onder vier oë gaan kom spreek.
Maar die kelner kom met die drie bottels terug. Hy gee dit nie dadelik vir haar nie. “Ek dra dit vir jou.”
Buite hou hy dit en die strokie na haar toe uit en sy gee die note vir hom.
“Hou die kleingeld.” Dit beteken ’n stewige fooitjie, maar hy bly so diplomaties stil dat sy voel sy skuld hom. “Kan ek ’n kurktrekker by jou leen, asseblief? Ek bring dit nou-nou weer vir jou terug.”
Die kelner lyk onseker. Dalk is dit haar desperate gesig wat hom oorreed, want weer knik hy en haal ’n kurktrekker uit sy voorskootsak. “Ek het twee.”
Sy probeer dankbaar glimlag. Met die bottels stap sy terug na waar die ander twee wag. Selfbewus maak sy asof sy nie die verbykomende motoriste en voetgangers sien nie. Op ’n manier kry sy die trane teruggesluk voor sy weer by Andrea en Maggie aansluit en sy is bly sy hoef nie nog ’n tranedal te verduidelik nie.
Sy hou die bottels op toe sy voor hulle gaan staan. Dis makliker om dapperheid te wys as pyn. “Ek hoop julle hou van rooiwyn. Shooters was te moeilik om te dra.” Sy kyk na Maggie. “En ek het aangeneem jy is nie ’n bierdrinker nie.” Haar glimlag voel aangeplak, maar ten minste snik sy nie.
“Hoe gaan ons dit drink?” Maggie kyk onseker na die bottel wat Simoné na haar toe uithou, maar uiteindelik vat sy dit tog.
“Uit die bottel. Dis hoekom ek drie gevat het. Ons het nie glase om te deel nie.”
Andrea vat die bottel sonder aarseling by haar. Bestudeer so ewe die etiket asof dit vanaand saak maak wat hulle drink.
Sy gaan sit weer tussen Andrea en Maggie. Plant die bottel in die sand langs haar voete en bring die kurktrekker te voorskyn. “Gawe kelner gewees.”
Met ’n geoefende hand maak sy eers Maggie se bottel oop, toe Andrea s’n. Nou kom die tydjie wat sy as student haar lyf kelner gehou het handig te pas. Met die fooitjies het sy haar eerste branderplank gekoop. En dis waar sy geleer het van wynbottels oopmaak. Als te danke aan haar pa wat haar nooit sou toelaat om haar maandelikse toelaag op surftoerusting te bestee nie.
Die eerste sluk wyn wat sy vat, is te groot en die vrankerige smaak laat haar keelspiere saamtrek. Hierdie wyn is van die soort waaraan heelaand lank geteug behoort te word en nie met ’n paar gulsige slukke weggeslaan moet word nie.
Maggie bekyk haar bottel skepties voor sy ’n versigtige teugie vat. “Nie te sleg nie.” Maar dit lyk nie of sy kans sien vir nog nie, want sy sit die bottel dadelik in die sand langs haar voete neer. Effens agter haar rok, maar Simoné maak asof sy dit nie sien nie.
“Jy moenie mors nie, ek het huurgeld gebruik om dit mee te koop.”
Maggie kyk geskok na haar. “Jy moes nie. Ek sal jou terugbetaal.”
Simoné lag skeefweg. “Dis nie nodig nie, geniet dit net.”
Langs haar ontsnap ’n sug oor Andrea se lippe. “Ek wou nog altyd onder ’n sambreel op ’n strand in die Franse Riviera gelê het met ’n tequila waaraan ek sulke fyn teugies vat, maar merlot op ’n winderige Kaapse strand is seker die beste wat ooit op my pad sal kom. Ek sal beslis nie gou in my lewe by die Franse Riviera uitkom nie. Nie met drie kinders en ’n man wat dink ’n uitstappie mall toe om onderbroeke en sokkies vir hom te gaan koop, is kwaliteit-Andrea-tyd nie.”
“Tequila is ’n Meksikaanse drankie. Op ’n Franse strand wil jy dalk eerder ’n glasie sjampanje drink.” Simoné vat nog ’n sluk wyn.
Andrea gee haar ’n vuil kyk voor sy ook ’n sluk wyn vat en suurderig strandaf tuur.
Simoné is nie seker of dit oor haar flou grappie of die wyn is nie.
“Maggie, hoe is jou man oorlede?” Hoekom sy dit nou vra, sal sy nie weet nie, miskien omdat dit ongeskik is om niks te sê nadat die vrou so ’n bom tussen hulle laat val het nie. Of dalk oor haar opvoeding.
Dis so lank stil dat sy besluit Maggie wil nie oor haar man praat nie, maar voor sy ’n sug van verligting kan slaak, tel Maggie die bottel op en vat ’n sluk. Nie weer ’n teugie nie. ’n Behoorlike sluk. Hierdie keer sit sy nie die bottel dadelik neer nie, sy hou dit op haar knieë en kry dit steeds reg om ordentlik te lyk.
“Hy het ’n hartaanval by die werk gehad.”
“Het hy cholesterol of bloeddrukprobleme gehad?” Sy voel simpel om dit te vra, die man se mediese geskiedenis het niks met haar te make nie. Haar mediese agtergrond is so deel van haar, sy is lus en vlug iewers heen.
“Hy was een-en-vyftig, tien jaar ouer as ek. Te jonk. Ek dink daar was besonder baie druk op hom.” Dit lyk of Maggie nog iets wil sê, maar daarteen besluit. Sy vat eerder nog ’n sluk wyn. Ineens sien Simoné die patetiese trek in die skraal skouers. Dis asof die gewig op Maggie se skouers so swaar is dat dit haar fisiek afrem.
“Het jy kinders, Maggie?” Andrea lyk die eerste keer geïnteresseerd.
“Twee dogters. Annemarie is