meer kans sien nie. Genade, dis nou wat mens ’n moerse boggherop noem. Sy lê met haar kop teen die stut terug en sluit haar oë. As die see maar al haar probleme kon wegspoel, dan het sy nou soos Ingrid Jonker gemaak en die waters ingevaar.
Simoné sit nog ’n oomblik so, loer toe onderlangs na die vrou langs haar. Sy vermoed Andrea is eintlik aangenamer as wat mens met die eerste oogopslag sou dink. Noudat sy regtig vir die vrou kyk, kan sy die tekens van wroeging om haar oë sien. Dit was dalk die rede vir haar belaglikheid om die vrou ’n geleentheid aan te bied. Daar is iets weerloos aan die rooikop al steek sy dit goed agter die stywe broek en paar stiletto’s weg. Lyk of Andrea ’n blaaskans nodig het van wat dit ook al is wat haar opkeil. Moontlik ook hoekom sy so maklik ingestem het om saam te ry.
“Sal ons uitklim en ’n bietjie ons voete in die sand gaan steek?” Sy vra dit met valse opgewektheid. Dalk laat dit die ander twee se gemoedere bedaar.
“Ek is nie juis gedress vir die strand nie.” Andrea beduie geïrriteerd na haar klere.
“As jy só sirkus toe kon gaan, kan jy seker daarmee op die strand sit ook. Ons gaan nie tan of swem nie. Jy sal dit oorleef.”
“Nou goed. Ons is nou hier.” Andrea maak haar deur met ’n sug oop, klim uit en klap dit agter haar toe.
Simoné draai vraend na Maggie wat steeds doodstil sit. As die vrou nie reeds ’n paar sinvolle opmerkings gemaak het nie, sou sy kon dink daar is niemand tuis agter die verskrikte blou kykers nie. Sy bekyk Maggie skaamteloos. Effe te skraal, maar daar is tog tekens van goeie versorging. Welaf, in ag genome haar huis en motor.
“Kom jy? Trek net jou sandale uit.” Onwillekeurig praat sy sagter met die vrou. Daar is iets breekbaars in haar oë.
Maggie knik en skuif die deur oop. Sy glip haar voete uit die sandale en klim uit. Haar rok wapper om haar bene toe sy langs Andrea gaan staan.
Simoné skop ook haar plakkies uit voor sy die bussie sluit.
“Gaan jy met jou stiletto’s op die sand?” Simoné kyk na die stelte waarop Andrea staan.
Andrea volg haar blik. “Seker nie.” Sy buk en al laat haar jeans nie veel beweegruimte toe nie, kry sy die stilettobandjies op wonderbaarlike wyse los. Sy is ’n hele kop korter toe sy kaalvoet langs hulle staan.
Ineens lyk Andrea meer mens vir Simoné. Dis asof sy op ’n manier wie sy is met die stiletto’s wegsteek, maar kaalvoet haar skanse laat sak.
Skoene in die hand begin Andrea strand toe loop. Maggie huiwer, volg haar toe skoorvoetend. Simoné meet hulle onwillekeurig. Maggie is ’n statige, skraal vrou. Daar is elegansie in haar bewegings al lyk sy platgeslaan. Andrea, daarenteen, is die teenoorgestelde van statig, tog handhaaf sy haar op ’n ander manier.
Hulle gaan staan ’n ent weg van waar die branders breek. Die wind pla, maar is darem trotseerbaar. Vir Simoné in elk geval, sy is gewoond aan wind op die strand. Die sand stort sy later vinnig weer uit haar hare.
“Wat nou?” Andrea kyk na haar asof sy ’n plan moet hê. Met die een hand vang sy haar rooi krulle, dit gaan binnekort ’n gekoekte bos wees. “Ek wil nie lank bly nie, dis onplesierig.”
“Kom ons stap ’n entjie langs die water af, dan kom ons terug.” Die ander twee lyk nie beïndruk met die idee nie. “Ons kan eers net hier op die rots sit ook,” keer sy toe dit lyk of Andrea gaan omdraai. Sy beduie na die rotse links van hulle wat verdwaal in die sand staan.
“Beter plan.” Andrea knik instemmend.
Maggie volg gedwee en hulle gaan sit in ’n ry op die rots. Simoné maak haar oë toe en haal ’n paar keer diep asem. Die klam lug wat teen haar gesig waai, bring in ’n mate verligting en sy wag dat die sout geur van die brekende water en die sand tussen haar tone haar met die gevoel vul dat sy behoort, die seer in haar hart salf sodat sy kan dink wat haar te doen staan. Maar natuurlik sal dit nie so maklik wees nie. Die see kan nie teleurstelling en pyn wegspoel nie. Gefrustreerd maak sy haar oë oop.
Sy kom agter Andrea en Maggie hou haar dop.
“As ek ’n psigopaat is, is julle doppies nou geklink.”
Die ander twee lag nie, glimlag nie eens nie. Andrea lyk eerder asof sy die moontlikheid ernstig oorweeg en die leë uitdrukking in Maggie se oë val haar weer op. Dié vrou is deur diep water of die kluts behoorlik kwyt en sy vermoed dis nie laasgenoemde nie. Iets aan Maggie is te gesofistikeerd, te ordentlik.
“Is jy?” Andrea se mondhoeke pluk baie effens opwaarts.
“Is ek wat?”
“’n Psigopaat.” Sy kan nie agterkom of Andrea ’n grap maak nie.
“Ek is ’n idioot, ontnugter en my hart is flenters, maar ’n psigopaat is darem een ding wat ek met eerlikheid kan sê ek nie is nie. In elk geval nie tot dusver nie.”
“Jy het gesê dis ’n man?” Andrea se blik laat haar ongemaklik voel.
“Mans.”
“Laat ek jou nou een ding sê, hulle is nie jou trane werd nie. Ons almal trap in dieselfde gat. Jou opgehewe oë en rooigesnuifde neus is vermors, want dit raak hulle net mooi niks nie. Hou jou trane vir wanneer een van hulle die emmer geskop het. Mans is bliksems. Hulle soek jou lyf terwyl dit mooi is en dan is dit sommer gerieflik dat jy hulle gemors agter hulle skoonmaak ook.”
Langs haar kriewel Maggie onrustig.
Simoné kyk ietwat geskok na Andrea, sy eien nou die bitter trek om die rooikop se mond. Sy het darem bietjie meer simpatie van Andrea verwag. Nie ’n skrobbering omdat sy ’n gebroke hart het nie.
“My man is dood.”
Die woorde val soos klippies in ’n waterpoel tussen hulle. Dit breek die oppervlak, sak weg, maar los rimpelings agter.
Andrea en Simoné kyk gelyk na Maggie, maar dié sien hulle skaars raak. Sy kyk ver oor die branders terwyl die wind haar hare verby haar wange pluk. Die punte raak-raak aan haar geboë skouers.
Verskrik slaan Simoné haar hand oor haar hart. “Wanneer?” Is dit hoekom Maggie so uit die huis gestorm het? En hier bring sy die vrou Blouberg toe. Hoe verskriklik gaan dit nie wees om nou na ’n lyk toe terug te jaag nie. Pleks Maggie eerder gesê het sy het hulp nodig.
“Drie maande gelede.”
“O.” Verligting is so duidelik in die enkele woord dat Simoné skaam kry en skuldig wegkyk. “Ek is jammer.”
Maggie verskuif weer langs haar. “Jy hoef nie te wees nie. Jy ken ons nie.”
Die kort stilte tussen hulle is gelaai met ongemak omdat hulle mekaar nie kan troos nie.
“Ons het nou ’n dop nodig,” verbreek Andrea die stilte onsimpatiek.
“Dit sal help.” Simoné knik instemmend en kyk om na die restaurant ’n ent weg, aan die oorkant van die pad. Die plek is altyd bedrywig op ’n Saterdag. “Ek sal by die restaurant vir ons gaan koop. Julle kan hier wag.” Sy staan sommer op en voel in haar sak vir die bussie se sleutel.
“Ek wil niks hê nie, dankie. Ek het in elk geval nie geld by my nie,” maak Maggie flouerig kapsie. “Ook nie ’n bestuurderslisensie om julle terug Paarl toe te ry nie.”
“Ek sal koop. Ek het genoeg geld by my.” Simoné voel skuldig om Maggie so te stoomroller; die vrou lyk of sy gaan omval as sy teen haar nies.
“Ek het ook geld by my. Moet ek saamkom en jou help dra?” Andrea staan op, lyk desperaat om nie agtergelaat te word nie.
“Nee, ek sal regkom. Jy kan die volgende ronde koop as ons nog wil hê. Wat drink julle?”
“Enigiets. Solank dit genoeg is.” Andrea vang weer haar verwaaide bos hare vas en draai dit in ’n knoop agter haar kop. Die weggebinde hare laat haar heelwat jonger lyk. Middel dertigs, dalk effe jonger.
“Moenie worry nie. Dis een ding waarvan ek seker sal maak.”