nie ongehoord na aan die aantreklike blondekop nie, maar iets in die samesyn raak haar tog. Gerhard is aan die ander kant van die spektrum. Die oudste vennoot. Hy glimlag ook effens, hou sy glas op. Daar is ’n wysheid in hom, weet sy. Iets te danke aan die ervaringe van sy vyf-en-sestig jaar. Hy is naby aftree, dalk in die volgende jaar of drie. Met Jannie nou weg, is daar seker wanorde in die kantoor. Dis nogal snaaks dat die drie vennote amper drie generasies verteenwoordig het. Dalk was dit met opset so deur hulle beplan. Slim, sou sy dink.
Sy maak haar oë toe. Haar keel trek styf en droog saam teen die fisieke pyn in haar hart omdat sy Jannie se naam aan verlede tyd moet koppel.
Sy skuif aan na die volgende foto’s. Jannie was lief daarvoor om die kinders af te neem. Dis ’n goeie ding, besef sy nou. Want nou het sy foto’s van byna elke moontlike geleentheid van hulle as gesin. Dis iets waaroor die dogters later bly sal wees.
Haar oë begin brand en sy knip dit ’n paar keer. Dit was al middagete en sy het nog nie van die stoel voor die rekenaar opgestaan nie. Miskien is dit genoeg herinneringe vir een dag. Sy maak die foto’s toe en staan op. Al het sy nie juis ’n aptyt nie, sal ’n koppie koffie nou lekker smaak.
Sy loop ’n draai deur die stil huis. Nie man, kind of dier nie. Dis hartseer dat so ’n mooi ruimte nou so leeg is. Maar haar ouers bring die kinders môreaand terug, want Maandagoggend is skool. Mita, die huishulp, het darem die skooluniforms Vrydagmiddag, voor sy huis toe is, reeds netjies in die kaste gehang. Nog iets waaroor sy haar nie hoef te bekommer nie. Sy weet nie wat sy sonder die vrou sou doen nie. Mita is vyf dae per week haar regterhand en hou agter die skerms dinge aan die gang.
Toe sy weer agter die rekenaar inskuif, maak sy die e-posse oop. Sy begin sommer heel bo. Daar is bitter min sakeverwante e-posse. Om die waarheid te sê, dit lyk asof dit reeds in die week ná Jannie se hartaanval opgedroog het. Familie en vriende het natuurlik ook nie meer e-posse gestuur nie. Die pos wat daar is, is ouer en reeds oopgemaak. Dit wat wel nog deurkom, lyk vir haar na ’n klomp gemorspos. Sy sif redelik vinnig daardeur. Eintlik doen sy dit net om nog ’n rukkie langer op Jannie se rekenaar te werk. Wynand het reeds soveel gehelp dat daar werklik nie baie vir haar oorbly om te doen nie. Eers toe sy by die ouer pos kom, begin sy met meer aandag lees.
Karen Loock. Sy lees die naam in die naamboksie. In die onderwerpboksie is daar ’n enkele sin, maar daar is geen brief onderaan nie. Wat doen jy? Dis al. Vreemd. Maggie kyk na die datum van die e-pos. Dis ongeveer vyf weke voor Jannie se hartaanval gestuur, agtuur die aand. Sy soek by dieselfde datum na Jannie se antwoord, maar daar is niks. Lyk nie of hy ooit geantwoord het nie. Dit moet spam wees. Sy glimlag strammerig. ’n Vrou is ’n nuuskierige ding. Al is dit nou in die naskok van die dood.
Sy lees verder. Daar is ’n onoopgemaakte e-pos van die mediese fonds, maar dit lyk nie belangrik nie. Sy stoor ’n e-pos van ’n beleggingsmaatskappy om later meer aandagtig te lees. Wynand sal haar beslis raad moet gee oor hoe sy in die toekoms met die persoonlike beleggings te werk moet gaan. Met die finansiële sake tas sy in die donker. Dit was Jannie se afdeling. Hare was die huis en die kinders. Nou besef sy hoe dom sy was, sy moes aangedring het om meer te weet, maar tot drie maande gelede was dit onnodig. Gelukkig het hy haar redelik onlangs herinner aan die lys in die kluis met die beleggingsbesonderhede. Sy is dus nie net met los drade gelos nie. Jannie het voorsien.
Die hare in haar nek kriewel liggies toe sy weer ’n e-pos van Karen Loock raaklees. Dankie xxx, in die onderwerpboksie. Net dit. Weer kyk sy na die datum. Net twee dae ná die eerste een.
Toe registreer sy wat haar dié keer pla. Dis die drie x’e. Doen mens nie die kruisie-ding as jy soentjies en drukkies stuur nie? Nogal drie. Sy sou dink een x is vir erkenning, dalk ’n dankie. Twee miskien vir toegeneentheid, ’n “ek like jou”. Drie vir “ek soek jou”.
As sy nie so depressief was nie sou sy nou gelag het. Genade, maar mens se kop kan raas as daar soveel stilte om jou is. Te veel tyd vir dink is nie goed vir haar nie. Sy was nog nooit iemand wat stil kon sit nie.
“Jammer, Jannie.” Haar stem is hees en krakerig omdat sy heeldag nog geen woord geuiter het nie. Sy kyk op haar horlosie. Skuins voor drie en sy het nog nie boe of ba gesê nie.
Sy lees verder. Daar is name wat sy herken, heelwat van wie sy nog nooit gehoor het nie. Nog ’n e-pos van Karen Loock. Sy kyk eerste na die datum. Dis bietjie meer as drie maande gelede. Waar kry ek jou? Net dit in die onderwerpboks. Maggie gaan na die soekfunksie en druk Karen Loock se naam in die soekboksie sodat al die e-posse wat sy al gestuur het op die skerm verskyn. ’n Hele bladsy daarvan. Die laaste skaars ’n week voor Jannie se hartaanval. Nie een van die e-posse het meer as ’n enkele sin in die onderwerpboksie nie. Dis duidelik dat Jannie vir Karen Loock geken het. Meer as een keer vra sy: Waar, my of jou? En nêrens is daar ’n antwoord van Jannie nie. Dit op sigself maak die hele eenrigtingboodskapstuurdery vreemd.
Sy trek haar selfoon nader, soek Wynand se naam, huiwer net ’n oomblik voor sy tik. Wie is Karen Loock???
Vir die eerste keer moet sy wag vir Wynand om te antwoord. Ongeduld wel in haar op soos ’n verstopte drein, dit wel op en daar is geen manier om dit te keer nie. Sy bly staar net na die foon. Dié gevoel is so intens, dit betrap haar onkant. Dan is daar tog meer in haar oor as hierdie doodsheid wat so swaar in haar kom lê het.
’n Koue gevoel vat haar hart in ’n stywe greep vas. Dis ’n ander kilheid as die pyn en verlatenheid wat sy tot dusver met Jannie se dood ervaar het, dis eerder soos vrees. As dit enigsins stiller in haar kan word, het dit nou terwyl sy vir Wynand se antwoord wag.
Sy is op die punt om Wynand se nommer te bel toe die foon ’n geluid maak en sy wip van die skrik. Haar vingers bewe toe sy die boodskap oopmaak.
Die bemarkingskonsultant wat ons in Johannesburg gebruik het.
Net dit. Geen verduideliking of die natuurlike vraag van hoekom vra jy nie. So asof hy weet hoekom sy vra en terughoudend is.
???? Sy kyk na die vraagtekens wat sy getik het. Dit behoort hom te laat weet sy is nie tevrede met sy antwoord nie.
?? Kom sy antwoord ná enkele oomblikke terug. Die foon val uit haar vingers. Wynand antwoord nie haar boodskappe só nie. Hy het die afgelope weke uit sy pad gegaan om ’n absolute gentleman teenoor haar te wees. Was nog altyd sedert hy sewe jaar gelede, ná die dood van sy oom, by Mirc Investments aangesluit het. Nou het hy skielik nie woorde nie. Eintlik het sy en Wynand in al die jare nog net oppervlakkig gesels. Hy was die vennoot en sy die vrou. Meer as besigheidspraatjies was daar nooit nie. Hulle was selde alleen, want Jannie was altyd daar. Tog het sy die afgelope maande gevoel Wynand is haar kameraad. Skielik was hy haar bekende in die onbekende.
Sy loop uit op die stoep. Die wind het opgekom en die briesie lig haar hare. Waai teen haar warm gesig. Sy haal diep asem. Nog ’n keer. Daar moet êrens ’n antwoord van Jannie wees op die vrou se boodskappe, veral as sy hulle bemarkingskonsultant was. Wynand hoef haar nie te help nie, sy sal dit kry. Sy swaai om en stap doelgerig terug na die rekenaar. Eerste keer in drie maande dat sy iets doelgerigs doen, net jammer dat dit nou hiervoor moet wees.
Recycle bin. Daar is al menigmaal iemand so uitgevang, dan nie? Sy sif deur die dokumente wat uitgevee is, maar daar is niks nie. So asof alle spore uitgewis is. Sy sit so lank doodstil voor die skerm dat dit begin voel sy kyk dubbel. Hoekom sou Jannie Karen Loock se boodskappe op sy rekenaar los? ’n Logiese antwoord sou wees omdat dit niks beteken het nie. Of was hy gerus omdat sy nooit op sy rekenaar gekyk het nie?
Die gedagte tref haar soos ’n weerligstraal – Jannie se selfoon.
Sy val byna oor haar voete so vinnig spring sy op. Sy foon lê in sy kas. Maar in die slaapkamer huiwer sy voor die kasdeur. Dié deur het sy nie weer oopgemaak sedert sy Jannie se trouring, horlosie en selfoon gebêre het nie. Sy wou alles hou net soos dit is. Te bang iets van Jannie gaan verlore. Maar nou? Sy pluk die kasdeur oop.
Die verdomde foon is morsdood. Die ironie dwing ’n droë lag oor haar lippe. Dis ’n aaklige klank. Asemrig en rou, maar dit bring effense verligting in haar gespanne kake. Dis darem te wagte dat die battery pap sal wees ná drie maande, maar sy is nie lus om redelik te wees nie. Sonder sukses grawe sy in Jannie se bedkassielaai vir ’n laaier. Hy