verwagting en verydeling. Hy is die Here vir die bywoners en vreemdelinge, vir dié wat sukkel met die lewe en met hulleself. Hy weet hoe om trane af te vee.
Hy is ons God, omdat Hy ontwrigte en ontheemde mense soos ons by Hom laat tuis kom. Omdat Hy ons behandel asof ons buitengewoon is.
Dit is soos Hy is. Hy maak oorwinnaars van hulle wat nog nooit enigiets gewen het nie. Hy gee vryelik aan dié wat nooit gedink het hulle sal ooit iets ontvang nie. Hy vul dié wat nog net smagting geken het met sy goedheid. Hy weet hoe om oorvloedig uit te deel.
Hy is ons God, omdat Hy bevlekte en verskrikte mense soos ons vat soos ons is. Omdat Hy ons teen Hom vasdruk en ons nooit weer los nie.
Hy eis nie van ons om onberispelik koers te hou nie; Hy sal ons self lei tot waar Hy wil hê ons moet wees. Hy verwag nie van ons om kop omhoog alles en almal in die oë te kyk nie; Hy sal ons self aan die hand neem en ons leer om ons vrese te oorkom. Hy weet hoe om onvoorwaardelik lief te hê.
Hy is ons God, omdat Hy struikelende, dwalende mense soos ons leer om onbevange te dans.
____________________
Here, ons Here, ons het by U tuisgekom.
U het ons kom haal, U het ons diep uitgehaal.
U het van niets iéts gemaak. Ons loof U!
Maandag 8 JANUARIE 2018 Lees Psalm 147:12-14
Die buitengewone God
Loof die Here, Jerusalem, prys jou God, Sion! (v. 12).
Is dit nie elke gewone mens se begeerte nie – om in vrede en veiligheid te lewe, om geseën en gevoed te word? En as dít dan alles God se werk is – loof en prys Hom!
Die probleem is net dat min van ons tevrede is om gewoon te wees en bloot gewone dinge te ontvang. Daarom eis ons buitengewoon baie van God en van mekaar. Ons vereis waarborge en onwankelbare sekerhede. Ons verwag ruim seëninge. Ons bid vir oorvloed, niks minder nie.
Ons vra meer as wat ons ooit kan gebruik. Ons is jaloers op ons naaste, veral as ons sien – of bloot vermoed – dat hulle meer as ons het. Ons gun ander mense, juis ook buitestanders en vreemdelinge, so min moontlik. En gee hulle omtrent niks.
Nee, ons is nie die Here se tevrede kinders nie. Inteendeel, ons word meermale gesien en gehoor en beskryf as dikmond, swaarmoedig, immerneulend. Ons is geen advertensie vir God se koninkryk nie.
Intussen gaan Hy ongestoord voort om ons te beskerm en te bewaar, te voed en te seën. Hy is nie afhanklik van ons instemming, tevredenheid of selfs ons blote dankbaarheid nie. Hy is God, en ons Vader.
Net soms, as ons dit oor ons ontevrede hart kan kry, kan ons ons sy teleurstelling verbeel. Oor die bedorwe brokkies vir wie Hy soveel moeite doen. Wat eenvoudig nie leer om asseblief en dankie te sê nie. Wat so sukkel om groot te word.
____________________
O Here, God en Vader, ek is jammer oor my kinderagtigheid. Laat my grootword tot u eer!
Dinsdag 9 JANUARIE 2018 Lees Psalm 147:15-20
’n Helder woord
Hy maak sy woord aan Jakob bekend … (v. 19).
As die seisoene aan die Here behoort, soos hierdie psalmdigter sing, is dit tog vanselfsprekend dat Hy enigiets kan doen. Soos en wanneer Hy wil. Dit is dus Hy wat die stad bewaar, wat die vrede gee, wat seën en voed. Daarom: Loof die Here, prys Hom!
Daar kan geen verwarring hieroor wees nie; sy woord is ’n erewoord en sy dade pas naatloos by daardie woord.
Sy kinders kan dus gaan slaap in die wete dat Hy beskerm, vér bo hul verwagting. En wanneer hulle soggens opstaan, kan hulle weet dat Hy voorsien, vér bo hul gebede. Daarom: Loof die Here, prys Hom!
Ons, die Godskinders, sal nooit kan sê ons het nie geweet nie; Hy het ons dan self gesê. Ons het voorregte wat niemand anders het nie. Ons bluf niemand met ons siende blindheid en horende doofheid nie, allermins vir Hom.
Hy word ook nie gyselaar gehou deur ons “hoekom?” en “waarom?” wanneer ons dit bloot gebruik om sy wil vir ons lewe te ontduik nie. Wanneer ons, kamma verward, sulke vroom vragies gebruik om weg te kom van sy duidelike voorskrifte en bepalings nie.
Ons, die bevoorregtes, se reaksie op sy helder woord het beslissende betekenis vir ons medemens, juis ook vir dié wat Hom nie so goed ken en nie soveel troos en seën en vrede soos ons beleef nie. Ons word geroep om hulle te leer sê: Loof die Here, prys Hom! En om dit dan met ons dade te bevestig.
____________________
Liewe Here, leer my om hande en voete te gee aan my lof vir U.
Woensdag 10 JANUARIE 2018 Lees Efesiërs 1:3-6
Al die seëninge
So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies … (v. 4).
Sommer hier reg aan die begin van sy brief aan die Efesiërs plaas Paulus al sy kaarte op die tafel, gesig boontoe, onbeskaamd en jubelend: Aan God kom al die lof toe; Hy het ons geseën met al die seëninge; Hy het ons uitverkies; sy liefde, sy genadige beskikking; ons is sy kinders.
Sjoe! Wat is daar dan nóg wat mense soos ons kan begeer? Al hierdie kaarte is troefkaarte.
Boonop word daar keer op keer, minstens vyf maal, bevestig dat alles “in” en “deur” Christus geskied, die geliefde Seun van die Vader. Ja, Hý, ons Vriend, ons oudste Broer.
Hier in die tweede week van die nuwe jaar is dit goed om só deel van ’n bestekopname te wees. Om herinner te word aan wie ons “in” en “deur” Christus is, waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is. En, dalk die belangrikste, wat ons in hierdie dae te doen staan, ons wat met al die seëninge van die Gees geseën is.
Is daar vir ons, die geseëndes, ’n beter keuse as om te speel met die kaarte wat so roekeloos-mildelik aan ons uitgedeel is? Om ons nou reeds voor te neem om die res van die jaar, dag ná dag, “in” en “deur” die vrede en vrolikheid, die sagtheid en sekerheid van ons Here te leef en te laat leef? Is daar enige ander moontlikheid?
____________________
Here, ek juig sonder ophou oor u verstommende goedheid.
En ek is aan die ontvangkant daarvan. Prys die Here!
Donderdag 11 JANUARIE 2018 Lees Efesiërs 1:7-14
Glo jy aan geskenke?
Deur Christus het ons deel geword van die volk van God … (v. 11).
Ons behoort aan die Here. Punt.
Dit sê Paulus op allerhande maniere in hierdie klompie verse. Dit is byna asof hy dié heerlike feit van alle moontlike kante benader sodat sy lesers dit tog net sal snap. Soos ’n simpatieke onderwyser wat wil doodseker maak sy leerders verstaan hierdie lewenswaarheid, herhaal hy dit, sê hy dit weer en weer.
Natuurlik is dit van lewensbelang, dié feit, ja, maar ook dat ons dit sal begryp. Dat dit op ’n manier deur ons sinisme en skeptisisme sal dring en ons aangebore en oorgelewerde en nuutverworwe kleingeloof te bowe sal gaan.
Ons verstaan mos moeilik dat ons “kragtens die ryke genade van God” (v. 7) deel van sy volk geword het. Dat daar nie éérs optel- en aftreksommetjies in die hemel gemaak moet word om vas te stel of ons die “toets” geslaag het of nie. Ons sluk swaar aan ons onvermoë om enigiets tot ons saligheid by te dra.
Ai, sal ons vra, is daar dan nie iéts wat ons moet doen nie?
Inderdaad, sê Paulus: Ons moet God se grootheid prys. En dan herhaal hy dit. Sodat ons dit nie sal misverstaan nie.
O, en ons moet uitsien na alles wat ons nóg sal ontvang, voeg hy by. Die Gees waarborg dit. En wie sal waag om dit te betwyfel?
Verstaan jy dit steeds nie?
Toemaar,