strukture wat nie gewoonlik van hierdie dansvorm verwag sou word nie. Die twee bekendste polonaises is op 40 no 1 in A, die “Militêre”, en op 53 in A-mol, die “heroïese”.
Préludes op 28 (45 min) Die 24 Préludes is as ’n groep gepubliseer, hoewel hulle nie as sodanig gekomponeer is nie, maar hulle word dikwels so uitgevoer. Die Préludes omvat die hele reeks toonsoorte in die majeur en die mineur. So staan dit in die tradisie van Bach se 48 Preludes en Fugas (’n werk wat Chopin intiem geken het), maar daar is geen fuga nie. Dit is ’n boeiende versameling in die afwisseling nie net van toonaard nie, maar ook van stemming en vorm, die lengte en die gebruik van elke denkbare stylmiddel. Dit is byna onmoontlik om spesiales uit te sonder, want elk van die 24 stukke is ’n pragwerk in eie reg en saam vorm hulle ’n hoogtepunt in Chopin se kuns. No 1 in C is ’n direkte toespeling op die eerste van Bach se “48”, no 2 en no 4 is albei aangrypende studies in die tragiese, die kort no 7 sou die voorspel tot Les Sylphides word en no 15 is die bekende “Reëndruppel”prelude met sy dreigende eentonige kloptoon dwarsdeur die werk.
Scherzo’s Die vier scherzo’s is gebou op die basiese patroon van ’n lewendige, dramatiese hooftema en ’n meer liriese middeldeel (trio) gevolg deur ’n herhaling van die hooftema. Chopin gebruik hierdie patroon natuurlik veel meer vindingryk en geskakeerd, en die komponis se kombinasie van vrye verbeeldingsvlug met ’n skynbaar onuitputlike bron van melodieë aan die een kant en streng vormtug aan die ander gee ’n aangrypende spanning aan die werke. No 1 in B min op 20 (10 min) Twee magtige akkoorde begin die werk en dan is daar ’n sterk patroon van nerveuse oplopende frases wat telkens met ’n forse akkoord eindig. Die liriese middeldeel is gebaseer op ’n ou Poolse kerslied. No 2 in B-mol min op 31 (9 min) Twee misterieuse trioolfigure word gevolg deur ’n dramatiese akkoord-passasie wat lei tot ’n liriese hooftema. Die middeldeel is eenvoudig sonder veel ontwikkeling. No 3 in C-kruis min op 39 (7 min) Na ’n geheimsinnige openingsfrase word die hooftema in forse oktawe in albei hande aangekondig. Die middeldeel het ’n koraalvorm. No 4 in E op 54 (10 min) is die minste van die vier, hoewel sommige kommentators probeer om ’n dieper betekenis daarin te vind en beweer dat meer intieme kennismaking nodig is om die werk na waarde te skat.
Sonate no 2 in B-mol min op 35 (24 min) I. Grave Na die eerste vier mate word daar in die aanwysings slegs gesê dat die snelheid verdubbel moet word. Dit is ’n nerveuse allegro, byna beangstigend, maar met ’n merkwaardige vormgewing. II. Scherzo Hierdie beweging staan nader aan Beethoven se scherzo’s as aan Chopin se eie. Ook hierdie musiek, met die herinnering aan ’n dodedans, wys soos die eerste beweging na III. Marche funêbre Dit is die bekende dodemars, wat twee jaar voor die res van die sonate gekomponeer is. (Dit verklaar seker waarom die hele werk as ’t ware in die skadu van die dood is.) Sombere, kragtige akkoorde kenmerk hierdie mars, afgewissel deur ’n lieflike vertroostende liriese melodie. IV. Presto ’n Byna angsaanjaende beweging wat baie vernuwings in pianistiese komposisie verteenwoordig. Dit is al beskryf as die wind wat waai oor die kerkhof.
Sonate no 3 in B min op 58 (27 min) I. Allegro maestoso Na vier afgaande note volg ’n aantal akkoorde wat inderdaad majestueus is. Daar is ’n verstommende rykdom aan tematiese materiaal. II. Scherzo: Molto vivace Soos dié vir die Sonate no 2 moet ook hierdie scherzo nie naas een van die selfstandige scherzo’s beoordeel word nie. Die vorm is verstommend eenvoudig. III. Largo ’n Koraalagtige nokturne, berustend en pragtig melodieus, totaal anders as die dramatiese dodemars van die Sonate no 2. IV. Finale: Presto, ma non tanto Sestien kragtige akkoorde lei tot ’n uitgebreide rondo wat plek-plek selfs aan ’n polonaise herinner. Die sonate eindig met ’n kragtige coda.
Walse Chopin het veertien walse geskryf waarin hy die verfynde sosiale elegansie van die Franse salon volmaak herskep het. Schumann het die walse aristokraties genoem. Dit is nouliks moontlik om enige enkele uit te sonder: hul stemmings wissel van opgewek tot melancholies en hul ritmiese karakter van meevoerend tot somber, van lig-skarrelend tot hoofs. Dit is ’n verbasende skat, alleen geëwenaar deur Brahms se walse wat eintlik ’n sekere bestudeerdheid toon in vergelyking met Chopin.
Choreografie Die beskrywing of uiteensetting van die danse in ’n ballet volgens ’n stelsel van simbole wat die passies aandui.
Chromaties In teenstelling tot die *diatoniese toonleer, bevat die chromatiese toonleer ook intervalle van halftone. Die chromatiese toonleer omvat 12 intervalle. As mens op ’n klavier die toonleer van C majeur speel met al die swart toetse ingesluit, is dit ’n chromatiese toonleer: ook E-F en B-C is halftoon-intervalle.
CILEA, FRANCESCO (26 Jul 1866–20 Nov 1950) Italiaanse komponis. Sy eerste opera het hy geskryf terwyl hy nog student in Napels was. Sy derde opera, L’Arlesiana, was matig suksesvol; die hoofrol hiervan was een van Caruso se vroeë optredes. Slegs Adriana Lecouvreur, ook met Caruso as skepper van die tenoorrol, was in Italië matig suksesvol maar nie juis buite die land nie. Sy volgende opera het net twee aanbiedings beleef en sy laaste is glad nie opgevoer nie. Adriana Lecouvreur is ’n *veristiese opera wat handel oor ’n beroemde agtiende-eeuse Paryse aktrise en afspeel agter die verhoog van die Comédie Française.
CIMAROSA, DOMENICO (17 Des 1749–11 Jan 1801) Italiaanse komponis. Hy het aan die Konservatorium van Napels gestudeer. Sy eerste opera is met groot sukses opgevoer toe hy 23 was. Die volgende agt jaar het hy beurtelings in Rome en Napels gewoon en vyftien operas geskryf wat byna oral in Europa opgevoer is. In 1787 word hy kamerkomponis vir Katherina die Grote van Rusland en in St Petersburg komponeer hy operas, kantates en instrumentale werke. Vervolgens nooi Leopold II hom om Salieri op te volg as hofkomponis in Wenen en hier skryf hy in 1792 sy bekendste opera, *Il matrimonio segreto. Die volgende jaar keer hy terug na Napels, waar hy vorstelik ontvang en aangestel word as hofkomponis. Hy was die revolusionêre republikeinse gedagte goedgesind en het die Franse gesteun toe hulle Napels inneem. Hy is in die tronk gesit, maar deur invloedryke bemiddeling weer vrygelaat. Op pad terug na St Petersburg is hy oorlede.
Cimarosa het 62 operas gekomponeer waarvan net Il matrimonio segreto vandag nog gehoor word. In sy tyd is hy met Mozart vergelyk. Hy was op sy beste in komedies en was een van die vindingrykste beoefenaars van die *opera buffa.
OPERA
Il matrimonio segreto (Die geheime huwelik) Opera in twee bedrywe (165 min) Bedryf I. Carolina (sop) is sonder die medewete van haar pa, Geronimo (bas), getroud met sy klerk, Paolino (ten). Graaf Robinson (bas) word deur Paolino huis toe gebring met die oog op ’n huwelik met Carolina se suster Elisetta (sop), maar die graaf raak verlief op Carolina en van die groot bruidskat aan Geronimo is daar nie meer sprake nie. Bedryf II. Carolina en Paolino besluit om te vlug, maar hulle word in dieselfde kamer betrap en moet erken dat hulle getroud is. Die graaf oorreed Geronimo om dit te aanvaar en hy besluit om tog met Elisetta te trou.
CLEMENTI, MUZIO (23 Jan 1752–10 Mrt 1832) Italiaanse komponis wat van sy veertiende jaar in Engeland gewoon het. Hy was in sy tyd ’n beroemde pianis en komponis, en word vandag hoofsaaklik onthou vir sy groot aantal sonates.
CLOETE, JOHAN (17 Nov 1957) Suid-Afrikaanse komponis. Cloete is op Moorreesburg gebore en het in 1976 by die Universiteit van die Vrystaat begin studeer, maar besluit om eerder na Kaapstad oor te skakel waar hy aan die Musiekkollege onder Peter Klatzow en Arnold van Wyk gewerk het. Hy het ’n aansienlike aantal werke gekomponeer waarin sy persoonlike wêreldbeskouing meermale ’n belangrike rol speel. Sedert 1982 het hy skerp bewus geword van Afrika-invloede en toon sy werk tekens daarvan.
ORKES
Celebration (8 min) Dit is aanvanklik vir klavesimbel geskryf met die titel Township 1. In 1986 het hy dit georkestreer. Na ’n forse, byna baldadige begin, klink ’n meesleurende “penniefluitjie”-wysie, in die woorde van Wilma Stockenström, “mal en uitgelate . . . met ’n dun, uittartende kleur”, en hierna is die werk ’n fees van ritme en melodie, soms ragfyn, dan weer onstuimig.
Coda Slot.
Col legno Met die houtrug van die strykstok gespeel.
Colla parte Saam met die hoofparty.
Colla voce Saam met die stem, volg die stem.
Con, col, coll’, colla, colle Met.
Con arco Met die strykstok gespeel, in teenstelling met *pizzicato.
Concertante