het die dominee deemoedig gemurmel, voortgegaan om te verduidelik dat niemand volmaak is nie, dat die stryd tussen goed en kwaad voortwoed tot aan die einde.
Dit het die ou man laat lag kry, maar nie aanstootlik nie: “Goed en kwaad? Hulle is maar net twee kante van die stok waarmee ons onsself hel gee.”
Op ’n manier het dit bekend geklink, die dominee sou eers weer moes naslaan. Op die oomblik kon hy skaars dink.
“Nie dat jy nie moet probeer verdien wat nooit verdien kan word nie,” het Koos Nek daardie namiddag op die wingerdbeskutte systoep van sy huis gesê. Toe opgestaan en ’n jong trossie onder een van die geil lote ondersoek, so aandagtig dat die jong dominee onrustig geword het.
Koos Nek het weer gepraat: “Die dag kom wanneer jy weet jy’t verloor, en alles word makliker, want Hy vat die leisels. Dan begin leef jy ligvoets en dink nie meer so swaar nie. Die dae is nou my vriendjies, ons speel met mekaar. Dis die moeite werd om gebore te word net om dit te ontdek.” Hy’t die druiwetrossie steeds tussen sy deurskynende oumansvingers gehou, dit het die dominee al hoe meer verleë laat voel. Wat sê en doen jy onder sulke omstandighede?
Dalk het Koos Nek geraai: hy’t die druiwetros laat los en byna guitig gekyk: “Sien jy waarom ek alles het? Soms word ek verniet opgeneem – so lyk dit.”
Die gesprek het, wat die dominee betref, handuit geruk. Hy’t gevoel dis sy plig om te keer: “Ons leef darem nie net vir ons eie saligheid nie; u het seuns.” En half bevrees gewag, terwyl Koos Nek woorde soek en verwerp.
“My seuns was nie altyd só nie,” het die ou man eindelik gesê, “om dié rede sal hulle nie altyd só bly nie. Daar sal ander swangerskappe en geboortes wees. Ja, op ’n manier is dit waar wat jy gesê het: die stryd duur wel op ’n manier voort, die pad eindig nooit nie, dit sou onregverdig wees.” Weer het daar die ondeunde trek om die mond en oë gekom: “Weet jy, daar is nog altyd dae wanneer ek die afgodsbeelde wéér moet vernietig?”
Die dominee had geen keuse nie – hy moes vra, die byna onnutsige oë was op hom. “Beeld-van-die-bedroefde-vader, beeld-van-die-bidder, beeld-van-die-kinds-ou-man …” die oë vol ingehoue lag het op die dominee gevestig gebly. Of hy vra dat daar gelag moet word oor ’n grappie wat dalk te eenvoudig kon wees. Die dominee het begin voel hy moet wegkom uit ’n situasie waarin hy vasgespin kon raak. Hy’t opgestaan.
“Moenie moed verloor nie,” het die ou man met skielike deernis gesê. “Ek self het nooit ’n stem hoor roep nie: kan maar sê ek is van agter ingestamp.”
Op pad huis toe het die jong dominee besluit dat kindsheid, soos die mense gesê het, ’n aanneemlike uitleg was. Sestien jaar later, daardie Saterdagnag ná die herbegrafnis, moes hy twyfel. Was Koos Nek een van dié wat op water leer loop het? Een van dié wat leer balanseer het op die meslem waar God die siel ontmoet wat deur die smeltkroes gegaan het? Was Koos Nek een van daardie soort akrobate?
En hoe om dit in woorde te stel – hý wat aangewys is op woorde?
“Ag, Here,” het die dominee gekreun, “gee my dan woorde.” Maar met min oortuiging. Hy self het al begin insien: jy kry dalk wat jy later nie meer wil hê nie.
2
Opmerkenswaardig die Sondag ná die herbegrafnis was dat Attie Hardehand en Jan Pampoen met hulle gesinne soos gewoonlik die diens bygewoon het – Jan, natuurlik, in die ouderlingsbank van waar hy fel blikke gewerp het uit daardie bruin effens uitpeuloë van hom. Daar was heelwat gedraai van koppe en vroue het hulle mans skelm met die elmboog aangeraak; onderdrukte glimlagge ook, omdat Letta Jan ’n hoed met ’n veer vir die kerk opgesit het. Verwagtings was daar wel, maar die gemeente kon skaars glo dat die dominee dit sou waag om toewysings te maak. Nietemin was alle oë op die dominee gevestig toe hy, lank en rysig in sy swart toga, voor die kerkraad uit die konsistorie kom en buitengewoon lank aan die voet van die kanseltreetjies talm om te bid voor hy begin opklim. Sy gesig was bleek en ernstig met skaduwees onder die diepgekaste oë, of hy heelnag met die waarheid geworstel het. Ná die afkondigings het hy, sy groot, benerige hande leunend op die preekstoel, sy gesig opgehef en oë toegeknyp of ’n visioen hom sou kon ontsnap, inniglik gebid. Hand omhoog het hy met nadruk die seëngroet uitgespreek: “Vrede vir julle!”
Die eerste voorlesing was uit Matthéüs 7, verse 1 tot 5. Die versoeking was groot om dadelik in jou eie gedagtes te keer, dié van die balk in die eie oog is alte uitgedien. Die tweede voorlesing het egter die gemeente se aandag vasgegryp: die dominee het voorgelees uit Spreuke 16:5, 18, 19 en 32.
Die dominee het sy preek op ’n wakkere stemtoon aangehef: “As ons teksvers vandag kies ons die 18de vers van Spreuke 16: Trotsheid kom voor die verbreking en hoogmoed kom voor die val.”
Intense afwagting het opgelaai: Die voorlesing was so gruwelik toepaslik. Die intrek van asems, die voorbereidende regskuif, die beweeg van koppe het ’n hoorbare geruis deur die kerk laat vaar. Kolie, Attie Hardehand se ongelukkige seun, het opgestaan onder die indruk dat die kerk aan die uitgaan was. Die dominee het effens bleker geword, ’n oomblik geswyg, en, sy blik stip op die horlosie teen die galeryreling oorkant die kansel, gewag tot twee hulpeloos giggelende skoolmeisies uit is onder die voorwendsel dat hulle neuse aan bloei geraak het in die hitte. Toe het hy voortgegaan met sy preek.
Die eerste om te begin rondskuif, was die dogtertjies in hul fyn kerkrokkies, wit hoedjies, armbandjies en halskettinkies; en die seuntjies in hulle pakkies klere net soos Pa s’n. Jong moeders had hulle hande vol om die kleingoed te berispe en kon skaars self luister. Aanvanklike belangstelling het gekwyn, weer opgeflikker en weer gekwyn. Uiteindelik verdamp toe dit blyk dat die dominee dit tog nie oor die Lotriets had nie – eerder besig was om een van sy geleerde preke te ontvou.
Die dominee was besig om sy uitgangspunt te konstateer – hoe die opbloei van die wetenskap en die kollektiewe trots die afgelope eeu hand aan hand gegaan het; hoe die Nemesis van die sonde besig is om hierdie ongeëwenaarde hubris in te haal – en mense het gevind dat hulle kort-kort moes hoes. In die ouderlingsbank het die oë wat pligshalwe op die dominee gevestig gebly het, stokstyf van die verveling geword; ou Gert Garing het opentlik gedut: sy amp gee hom reg daartoe.
Net een van die diakens het manmoedig geluister: ’n jong onderwyser met ’n meer verligte standpunt en ’n hartstog vir kennis. Hy het ’n manier om so vurig te luister na kennis dat hy beurtelings by die een oog, dan die ander van sy mededeler inkyk, maar selfs hý het ongemaklik begin voel toe dit begin lyk asof die dominee net vir hom preek. Die dominee het die proses van die sonde aan die hand van Augustinus en Thomas Aquinas se geskrifte ontleed en gesê dat die mens van ons tyd die laaste bitter vrug aan die pluk was – die traagheid van gees, die acedia: ’n sondige toestand van die siel waarin alles sonder betekenis word, wanneer God vir die mens dood is en hy alleen op aarde gelaat is.
Die jong diaken se ore het al hoe rooier geword, hy’t sy oë laat sak, hy’t sy ontluikende lewensbeskouing vinnig begin hersien. Toe hy weer opkyk, was hy verlig om te vind dat die dominee se aandag intussen afgetrek is na die ouderlingsbank waar ou Gert Garing met ’n baie ligte snorkie wakker geskrik het.
Ou Gert was streng na die dominee aan die kyk, ’n ernstige uitdrukking op sy ou breë kaasgesig; een of twee keer het hy gesteurd verskuif of sy broek se naat hom knel. Die dominee het so pas iets kwytgeraak wat as ou Gert nie abuis het nie, onortodoks kon wees: Is dit nie beter wanneer die duiwel onrustig is nie? het die dominee gevra. Is dit nie beter nie wanneer jy hom dreigend in die lug sien sweef nie, sy kantige vlerke uitgestrek, honend aan die grom en lag nie? Want dié wat op die draad sit, sal weggeveeg word wanneer die storm losbars. “Vlieg dan op, geliefdes, vlieg op! Al vlieg julle tydelik – God verhoed dit! – verkéérde kant toe …”
Of die dominee die uitdrukking op ou Gert se gesig opgemerk het? Sekerlik het hy byna dadelik oorgegaan na enkele gedagtes uit die eerste voorlesing: hoe dit ons betaam om in alle nederigheid gedurig die hand in eie boesem te steek.
Niks besonders hieraan nie: elke Sondag word dié vermaning van honderde kansels verkondig. Dit was die heel laaste paar sinne van die preek wat die gemeente weer te denke gegee het; die dominee het hulle met soveel hartstogtelike erns uitgespreek,