– die geestelike hoogmoed. Die groot geloofshelde onder mense het dit nog altyd geweet en hulleself daaroor verag. Waak dan gedurig – eers dan kan ons hoop om gereken te word by die weinige wie se regverdigheid groter was as dié van die Fariseërs en die Skrifgeleerdes: die weinige wat hulle laat lei het deur die raadgewings van die volmaaktheid. Amen.”
3
Ná die diens, soos dit die goeie gebruik is, het daar groepies buite rondom die kerkdeure versamel om ’n paar woorde te wissel, veral boere van die distrik, te kenne aan hulle bruinrooi gesigte, fleurige hemde en dasse. Kinders het, ná die kwellende stilsit, om die kerk gekattemaai, sodat mammas moes waarsku teen die verniel van die fyn kerkrokkies en die pakkies klere net soos Pa s’n. Eerbiedige stilte het gedaal wanneer een van die Lotriets verbykom. Mans het manlik na vore getree en hand geskud met ’n gemompelde: “Jammer van gister!” Eers op pad uit plase toe, of aan die etenstafels op die dorp, kon jy luister na die onbevange opvattings.
Ou Birnbaum, eienaar van die Royal Hotel (onlangs vernoem tot President Hotel) het met sy ou rasgenoot, Levin, eienaar van Dames Uitrusters en Algemene Winkel (onlangs van twee yslike toonvensters voorsien) verveeld op die hotelstoep sit en kyk hoe die Christene uit die kerk kom. Hulle is lankal uitgespog oor hulle seuns wat ’n “merk” in die stad in beroepe aan die maak is; hulle is uitgekla oor die verdwyning van die dorp se sinagoge weens gebrek aan ondersteuning; Birnbaum lag nie meer vir Levin, wat ’n boerse sin vir humor opgedoen het, se grappe nie; Levin is heimlik buikvol vir Birnbaum se gekla oor sy vrou se swak hart en dat hy in Seepunt wil gaan aftree, maar sy hotel nie verkoop kan kry nie. Eintlik is ras ál gemene deler, want Levin se oorlede vader het al in 1910 (datum op vooraansig) hier kom winkel open, terwyl Birnbaum eers in 1938 deur die Nazi’s verjaag is. Met sy donker gelaatskleur en haakneus, is Levin ’n troue afgietsel, terwyl Birnbaum blond is en met sy krullerige grys hare wat hy agteroor kam, effe na ’n leeu lyk. Hulle praat liewers Afrikaans (aangeklam met Engels) omdat Birnbaum minagtend deur sy growwe neus snuif wanneer Levin Jiddisj probeer. Dis net wanneer Birnbaum – seldsaam – glimlag dat sy grysblou oë Semities skeef trek. “Niemaars ’n dag vry,” het Birnbaum weer die oggend gekla, “immer op diens, die staf word by die dag meer ongetoë: die meer geld, die minder arbeid. ’n Jeder is jou baas en myne vrou word elke dag korter van asem.”
“Noem jou prys,” het Levin lusteloos gesê, “kan wees ek koop.”
“Man noem nie nommers nie,” het Birnbaum aangevoer, wel wetende Levin gaan nie koop nie, “maar zum voorbeelde: die verbeterings het my R20 000 gekostet. En van die bar in die lokasie geopen is, is myn drankwinkel ook na syne moer.”
Só: konstant bly net die trekke van die lotgeval, die mense wat verduur, is toevallig. Verslind en uitbraak, verslind en uitbraak …
Van die kerkgangers doen aan om verversings te geniet, party in die private loungie waar Birnbaum tegemoetkomend iets sterkers skink; party bestel skinkborde met tee op die stoep. En Levin, die Joodse nar, word gevra om weer sy staaltjies oor Attie Hardehand te vertel: snaaks, maar nie so dánig snaaks nie; dit het egter ’n manier om raaiselagtige dimensies te open. Dit blyk dat Attie Hardehand se dogter ’n jaar of twee gelede by Levin op rekening begin koop het: langbroeke en truie, halskettings en allerlei byderwetse goed. Ses maande verby en Attie Hardehand betaal nie. Toe Levin takvol in dié rigting praat, moet hy dan hoor jy gee nie aan ’n minderjarige sonder die pa se skriftelike verlof nie.
“Wat kon ek doen?” Levin – skouers opgetrek, handpalms hulpeloos na bowe. “Ek het gesê ek sal nie weer gee nie.”
Dan volg die ontknoping wat Levin altyd laat lag dat hy stik: “Die man het bleek geword, ek dog die man gaat faint: Jy moet aangaan gee, Levin!”
Levin het kop geskud. “Asseblief, Levin!” Die man was amper op sy knieë.
“Mr. Lotriet, dis nie my dogter nie, ek moet ook lewe!”
“Jy moet gee, Levin.”
Levin het kop geskud: “Nooit weer nie! Ek het my lesson geleer.”
Toe haal Attie Hardehand sy tjekboek uit en hy teken ook dat die dogter kan koop.
Die Le Granges, wat ook ’n halfuurtjie by die hotel aangegaan het, het dit op pad uit plaas toe steeds oor die Lotriets. Piet is Jan en Attie se tydgenoot en sy twee dogters is al uitgetroud. Nou het hy en Esther net nog die ouerpaartjie by hulle in die huis. Dié sit agter in die kar – het sommer in die motor onder ’n skaduweeboom ’n koeldrankie gekry – wonderlike ou mense, al oor die neëntig en nog gereeld in die kerk Sondagoggende.
Die Le Granges is vir meer as een tot voorbeeld; jy kan byna sê die ou mannetjie en vroutjie – ewe doof, ewe goedaardig, ewe kinds – is die stokperdjie van Piet le Grange en sy vrou. Esther trek hulle soggens self aan, byna soos twee poppe waarmee sy speel. Mettertyd het hulle so op mekaar begin lyk, jy ken hulle skaars uitmekaar: dieselfde fyn, gelerige vel waaruit selfs die rimpels padgegee het, dieselfde trippelpassie, dieselfde kraakstemmetjies, want die een het hoër, die ander laer geword. “Is hulle nie wonderlik nie?” vra Esther altyd vir besoekers en sy wys die tweetjies waar hulle langs mekaar op die rusbank sit.
“Ek sê nog dis lelik van die Lotriets om hulle oorlede ouers se grafte te ontstig,” sê Esther nou. “Die ding van gister was ’n teken. Draai tog op die venster, ou man, die stof kom in.”
“Ons sal versmoor van die warmte,” protesteer Piet, met ’n uitdrukking om te wys hoe Esther se lollery oor karvensters hom altyd irriteer. Uit wraak verdedig hy die Lotriets: goeie landbougrond word skaars, daar’s nie meer plek vir die yslike begraafplase nie. En wát vir ou Koos Nek destyds moet besiel het?
“Pa!” skree hy agtertoe. “Pa onthou mos nog vir ou Koos Lotriet? Ou Koos Nek!” herhaal hy ongeduldig vir die hand agter die oor. “Hulle word nou so doof soos kwartels,” kla hy teenoor Esther.
“Hy was ’n jintelman,” sê die ou mannetjie, “nie die soort wat eers vir ’n Hotnot gebid het voor hy laat ooptrek het om te slaan nie.” Soos ’n draaiorrel elke keer wanneer daar na Koos Nek gevra word: “Nie die soort man wat ’n dier of ’n meisiemens mishandel het nie. Lief vir sy perde. Die mense het altyd gaan staan om te kyk: daar kom Koos Nek op Appolus aan …” En hy lag, nugter weet waaroor.
“Dit was ’n aardigheid,” kraak die ou vroutjie op haar beurt, “hoe hy die seuntjies van kleins af voor hom op die perd gevat het. Ek het partykeers met die naaldwerk gaan help.”
“Stil, Ma, ek praat,” sê die ou mannetjie, maar so goedaardig, dis net nog ’n weerklankie uit die verre verlede.
“Die mense het altyd gesê, die koning en sy kroonprings,” volhard die ou vroutjie. “Ek het my partykeers gevies …”
Piet en Esther luister nie meer nie.
“Ek hoor,” sê Piet, “dat Attie Hardehand ou Jan se verband gaan opsê. Hy moet maar lig loop vir daardie klein Jaco, dié is so reg uit ou Koos Nek se kluitjiepot.”
“Die mense praat, hulle praat,” sug Esther, gedagtig aan die laaste deel van die preek, “maar dis nie vir my ’n mooi ding om die dooies se rus te verstoor nie. Draai die venster weer effens af jou kant, Piet, dis warm …”
Die dominee, wat sterk voel oor bewaring, het ná “ogies toe” gesê hoe jammer dit tog is van die mooi ou begraafplase wat die een ná die ander aan die verdwyn is. Ou Koos Lotriet het destyds ’n mode laat ontstaan: ’n paar morge moet dit beslaan, alles met inheemse struike beplant. Dit was nog ’n lushof sestien jaar gelede: besoekers van die stad het kom kyk. Nou kom dit ook onder die trekker.
“Ek wil gaan rus,” onderbreek sy vrou sy bepeinsing. Sy’t met opset vroeër laat eet.
“Ek sal die mense seker moet gaan besoek,” sê hy.
“Ek sal seker moet saam,” sê sy met ’n tikkie rebellie en lê ’n hand op haar buik.
“Onder die omstandighede …” gee hy toe, “as …” Hy bly stil; die oudste seun het ’n ongemaklike ouderdom bereik. “Gaan julle seuns