Anna M. Louw

Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort


Скачать книгу

van die water; hom nooit verwerdig om ’n paar woorde te wissel met diegene wat soms ure lank langs hulle ryperde gehurk het om te kyk nie, net ’n knik van ’n afstand wanneer jy sy oog gevang het. Aanbiedinge van hulp is hoflik geweier. Koos Nek wou nooit ’n guns aanvaar nie. Eenkeer, jare later by ’n vergadering wat belê is om die distrik se belange te handhaaf, het hy ’n snaakse ding gesê: “Net in ’n toestand van oorlog aanvaar ’n mens gawes: swaardpunt teen swaardpunt.”

      Min kon dit begryp, maar ou Gert se oorlede vader hét: “Só hovaardig,” was sy mening oor Koos Nek, “sal eerder vrek van die dors as om ’n koppie koue water verniet uit ’n ander se hand te ontvang.”

      Die werksvolk wat Saterdae dorp toe gekom het om te drink, het vertel: “Die mishandeling is goed – werk van sonop tot sononder, maar die betaling is daar en die baas regverdig. Gee mens nooit die geld in die hand nie, sit op ’n staanding neer.” Die Slamse het hulle gepes. “Steek hulle op ’n stok; spring daar rond met ’n handvol pampiere en praat met jou of jy vuilgoed is.”

      Die bouery het gevorder en ná ses maande het die gewelhuis aan die voet van een van die westelike koppe voor in die poort gestaan en die buitegeboue ook so te sê kant en klaar. En die pad was gebou, beter as dié van die distriksraad. Dit was herfstyd, tyd vir lande maak, maar weer het Koos Lotriet soos ’n groot speld verdwyn, net ’n Bolandse jong laat bly om op te pas, en uit dié kon jy ook niks kry nie.

      Dit was weer voorjaar toe hy terugkom, ’n hele stoet het dié keer deur die dorp getrek: heel voor die stinkhoutkoets met Koos Lotriet en sy bruid en agter hulle vier of vyf transportwaens met vragte onder bokseile. Dit was nie moeilik om te raai wát nie, maar eers later moes die distrik hulle verstom oor die prag en praal.

      Daardie keer hét die huwelikspaar ’n oomblik by die hotel vertoef. Levin se oorlede vader het ’n buiging diep onder uit die kis gehaal en daarna vertel: “Die vrou is vriendeliker.” Kennis is daarvan geneem dat sy geset was vir so ’n jong mens, maar ’n mooi vel en helderblou oë by die donkerbruin hare. Koos Lotriet self was vos en ook blouoog. Miskien was dit net haar postuur, maar mettertyd was dit of sy ook die houding by Koos Lotriet aangesteek het.

      Aanvanklik het baie gewonder of Koos Lotriet vir geld getrou het. Na buite was die indruk egter altyd van eensgesindheid, die vrou was hom, wie weet, onderdanig. Wie kon tog teen hóm opstaan? Dat sy knap was, is seker. Dis onder haar hand dat die blomtuin sy beslag gekry het: ’n blomtuin soos die distrik nooit gesien het nie. Binnekant die ringmuur was daar die blombeddings in die vorm van snoere, vierkante en sirkels en tussendeur kweek met voëlbaddens en krullerige ysterbankies, selfs ’n marmerbeeldjie. Bougainvillea, rankrose en bloureën, met oorleg gelei, het die wit van die mure versag, en rondom was daar die bome: dombeya, magnolias, japonikas. Tot vandag sien jy die oprylaan van steeneike en die piesangbos waar die wilde kanaries aangemoedig was.

      So het hulle gekom en gebly en tog deel van die gemeenskap geword. Sondae altyd in hulle kerkbank, tweede van voor, links, ’n kaartjie met die naam in goue drukletters in die gleuf. En hulle woning was die aangewese ontvangplek vir vername amptelike besoekers. Een keer selfs die Goewerneur-generaal. Die vroue kon nie daaroor uitgepraat raak dat die Prinses se lippe rooi gesmeer was nie. Byna almal het stilletjies lipstiffe laat kom.

      Verder het Koos Lotriet boerebyeenkomste trou bygewoon, was voorsitter van dit of dat en die een wat afgevaardig is wanneer die distrik se belange dit geverg het. Maar populêr was hy nooit. Mense wat Sondae gaan kuier het, het ongemaklik op die rand van die deftige stoele gesit met die kosbare koppies in die hande en sku gekyk na die Lotriets se weelde: die vertoonkaste vol kosbaarhede, die satynbekleedsels, die skilderye. Later het hulle verwonderd (en nydig ook) gekyk na die rye silwer trofeë op die wandrakke van die sitkamer wat Koos Lotriet se stoetperde op skoue en ruiterbyeenkomste verower het.

      Want ’n paar jaar ná sy aankoms (weer sonder om die distrik in te lig) op ’n dag deur die dorp die twee waens met die hoë, groen geskilderde houtstalletjies. Dié wat deur die luike geloer het, het verslag gelewer van wat later bevestig is: ’n ingevoerde Arabiese hings – ’n rasegte Kehilan – en ’n skimmel merrie van Vlaamse afkoms. (Dit was ná die koms van die perde dat die bynaam ontstaan het.) Dit was, om redes wat nie geweeg kan word nie, ná die koms van die perde dat die nederiges nie meer by PERDEPOORT gaan kuier het nie.

      “Tot vandag toe,” het ou Gert vasgestel, “kuier mense nie graag by PERDEPOORT nie.” Waarom? Omdat die afstammelinge waterlote is? Nie juis nie! Want ’n Christengemeenskap moenie oordeel nie.

      “Dis omdat – ja, dis nou snaaks dat ek dit sê – dis omdat elkeen van die afstammelinge nog iets van ou Koos se hovaardigheid in hulle het. Tot ou Jan, jy sal dit nie dink nie.”

      Hemel bewaar! Jy kan ook nie help om kop te skud en te lag nie wanneer vertel word hoe ou Koos die dag met Jan se geboorte eers een en toe ses vreugdeskote die lug in geskiet het. Hy en sy vrou wou glo ses hê, maar ses was daar nie, net vyf. En met Chris, die laatlam, se geboorte het hy nie ’n skoot afgevuur nie. Want iets het toe al in hom geknak. Hy was klaar met die wêreld, hy’t sy begraafplaas al gereed gehad: dalk sy laaste daad van trots. Treurwilkers rivier se kant, spitsdenne om die ander drie kante en in die middel die praalgraf met ’n wit marmerkopsteen ingelê met goue letters:

      TER GEDACHTENIS AAN

      HENDRIK JACOBUS LOTRIET /

      JUDITH DORA LOTRIET née DU BOIS

      GEBOREN 31 JANUARI 1880 / GEBOREN 25 JANUARI 1879

      MAAR DAT TYD EN TOEVAL

      ALLEN DESEN WEDERVAART –

      PRED. 9:11

      Die vertel het ou Gert ver teruggevat: die verlede het deesdae ’n manier om hom sooibrand te gee. En die ouderdomsvlekke op die agterkante van sy hande help ook nie.

      “Ja’k!” sluk ou Gert. “Dis soos die gesangvers sê: dagen, maanden, jaren vliegen als een schaduw heen …”

      5

      Toe sy pa se ou krok van ’n Chevvy ten laaste vat, het sy ma gewonder of hulle nie eers gou by die dokter of die landdros moet aanry nie – net om te groet. Jaco het minagtend geweier: “Sit hulle ooit hulle voete by julle?”

      Ná al die gesukkel laat Jaco nou die ou kar les opsê. By die tweede draai van die gruispad óm die voetheuwels op pad plaas toe, haal hy vir Attie Hardehand in en moet spoed verminder. Sy oom Attie ry altyd of hy vir donkies leisel hou.

      “Stadig maar, Jaco,” maan sy pa, wat agter sit, “anders bly ons in hulle stof.” En hoes om die bewys te lewer.

      Maar Jaco bly teen Attie Hardehand se buffer, hy wil verbý.

      Voor langs Jaco het sy ma pennetjie-orent gekom. Terwyl Kolie Jaco sit en dophou deur die agterruit van Attie Hardehand se ou sedên. By die derde draai steek Kolie vir Jaco tong uit. Dis toe dat Jaco toeter druk en met ’n gesuis van bande en ’n woedende enjingedreun verbysteek.

      Eers verby, sê sy ma kortasem: “Vir wat steur jy jou aan ’n malmens?” Sy sak verlig terug en skik die bolla op haar linkeroor, wat losgekom het.

      “Die dag sal kom dat jy weer ongeluk maak, Jaco,” sê sy pa klaend agter.

      Dis te betwyfel of Jaco gehoor het, want hy gee nog vet.

      “En waarom het jy nie stilgehou en vir tant Annie Klaas opgelaai nie? Dit lyk sleg.” Sy pa weer. Maar hulle is lankal verby en van omdraai is nie sprake nie. Die duiwel sit nou agter Jaco.

      Attie Hardehand hét spoed verminder toe hy agterkom Jaco wil verby. Hy spreek Kolie skerp aan, hy’t gesien in die truspieël. “Vir wat is jy tog so onnosel, kêrel? En vanoggend in die kerk ook …”

      “Los hom uit, Attie,” berispe sy dogter, Adriana, wat agter langs Kolie sit. Geheimsinnige trane rys in Kolie se blou oë, hy vroetel na Adriana se hand.

      En Attie sê niks nie – ry net ’n titseltjie vinniger. Dit bring Miemie, sy vrou, se droë lippe in beweging, want sy hou nie van wat sy maar te goed begryp nie.

      “Adriana,”