Paar hiënas is reeds by die fees. Versigtig het die paar onder die wind genader; dog toe hulle die gespuis om die buit sien, loop hulle storm met woedende gebrom. Onder die aakligste gehuil en getjank spat die hiënas uitmekaar. Die leeus snuffel ’n paar keer om die gemsbok rond; toe gee die mannetjie ’n diepe kreun van tevredenheid en begin die bloed oplek wat uit ’n koeëlwond op die blad gevloei het, onderwyl die wyfie haastig die buik oopskeur, waar die hiënas haar reeds voorgegaan het.
’n Smaaklike gekou en die gekraak van bene toon weldra aan dat die twee goed op weg is met hul maaltyd. En vérlangs, in ’n wye halfsirkel neergehurk, of plat op die vier pote neerleggend, wag die verjaagde en teleurgestelde hiënas; ’n paar van die hongerigstes waag dit af en toe om ’n bietjie nader te kom, dog hulle word onmiddellik deur ’n dreigende geknor verdryf. ’n Jakkalsie, vir wie die teenwoordigheid van die leeus ’n soort van beskerming teen die hiënas is, het stilletjies nader gekom en begin versigtig op ’n breë sleepsel, binne tien tree van die leeus, verstyfde stukkies bloed op te tel. Die gemsbok was blykbaar hierheen gesleep. Deur die hiënas? Die twee leeus is vereers te besig om aan dié vraag te dink.
Hoe het intussen ons ander leeus gevaar? Die ou maanhaar het nie gewag op die jong paar nie, maar vinnig die spore opgevolg wat oorkant die laagte weer regs geswaai het tot by die sandsloot. ’n Entjie volg hulle die donker kronkelinge van die sloot; toe merk die ou leier met tevredenheid dat die spore weer links draai. Hy het hom nie bedrieg nie; die wildebeeste was voor sononder by die water en het dadelik daarvandaan koers gevat na hul geliefkoosde plekkie – ’n lang smal laagte, wat in die reëntyd ’n deel van die water uit die sandsloot wegvoer en daarom byna altyd groen gras het. Daar sou hulle ongetwyfeld ook nou wees.
Toe hulle die bultjie oor is en afgaan na die laagte, aanskou hulle met die uiterste verbasing, reg voor hulle onder ’n groot boom, nie die wildebeeste nie, maar – die kampvuur van die mense! Duidelik verneem hulle van hier die menslike geluide en onderskei daartussen nou en dan die gestamp en gebulk van beeste. Dat die mens met mak diere saamleef, het hulle lankal van die rondtrekkende Masais geleer; ook weet hulle dat so ’n bees goed smaak, selfs beter as ’n sebra; want nie baie weke gelede nie het ons twee ou pare hier langs die sloot van so ’n nomadiese familie op een aand, toe die wagters ’n bietjie laat in die veld vertoef het, vier vet beeste neergetrek. By dié geleentheid het hulle die Masais, wat met asgaaie en gifpyle gewapen was, eenvoudig verjaag; en die paar honderd verskrikte beeste het ’n paar oomblikke ná hul wagters in ’n wolk van stof die krale ingestorm.
Die plan om die kamp van die mense te omsingel kom dus dadelik by almal op. In hul avontuurlike lewensloop het die twee ou mannetjies al dikwels opgemerk dat die mens hulle in die nag nie so maklik kan seermaak nie en soms heel ná aan hulle verbyloop sonder om hulle te gewaar. Hulle nader dus onbevrees tot by ’n miershoop, minder as ’n honderd tree van die vuur af. Dog in die helder maanlig durf hulle nie verder nie; die veld is kaal, en die mense nog wakker. ’n Groot vuur aan die onderkant gooi ’n rooi skynsel op die doringtakke waarvan die klein kraaltjie gemaak is, en op ’n aantal swartmans wat rondom sit en vleis braai onderwyl hulle ’n deuntjie kreun. By ’n kleiner vuurtjie, aan die bokant, sit twee wit jagters, op wie die leeus hul aandag nou vestig. Dat hulle goed onderskeid kan maak tussen die witman en die swarte, is nie te betwyfel nie; ’n gewonde leeu storm soms ’n swartman verby om die Europese jagter anderkant hom by te kom.
Watter gedagtes daar ook intussen deur die ou leier se kop gaan, en hoe erg sy mond ook al water as hy die gebraaide vleis ruik, hy voel dat dit noodsaaklik is om geduld te gebruik. Witmense is nie swartes nie – dit weet hy. Met persone van die laasgenoemde soort kom hy dikwels in aanraking, selfs hier in die wêreldverlore wildernis, en altyd gee hulle vir hom liewer pad; of as hulle in so groot getalle is dat hulle dit waag om met blinkende asgaaie dreigend op hom aan te kom, dan kon hy hom nog altyd gemaklik en sonder verlies aan waardigheid in die ruigtes terugtrek. Die gevreesde knal, wat soveel skrik en verwarring kon sprei, ook onder die ander wild van die vlakte, het hom nooit by die swartes laat hoor nie. By die witmens was afstand geen waarborg van veiligheid nie. Dra hy nie nog aan sy nek ’n litteken as ’n herinnering aan die laaste ontmoeting nie?
Met ’n steun vly die ou leeu hom teen die miershoop neer, sodat hy net oor die rand kan sien. Nou spyt dit hom eers reg dat dit nie vanaand donkermaan is nie. Die ander leeus strek hulle in verskillende houdinge op die grond uit. Almal is waaksaam en wag ongeduldig op die gebieder se wenke. Alleen die kleintjies bly regop sit; drie paar ogies, tot hul uiterste wydte gerek, bly pal op die vuur gerig. Vandat hulle die vreemde verskynsel gewaar het, kan hulle die gesig vir geen oomblik daarvan afwend nie; hul speelsheid en die gewone stoeiery is onder die erns van hierdie wonderbare nuwe ontdekking geheel vergeet. Die wyfie het geen moeite om hulle nou stil te hou nie: hulle is totaal verstom.
Die maanhaar het sy posisie ingeneem met die vaste hoop dat dit teen middernag in die kamp van die mense sou stil word; en in sy verwagting word hy nie teleurgestel nie. Die stemme is langsamerhand verstom, die vure uitgebrand, tot net die gloeiende kole nog oorbly. Die trekosse in die kraaltjie is ook tot rus gekom; meer as ’n sug of steun van tevredenheid af en toe word nie gehoor nie. Alles skyn te slaap; die enigste beweging kom van ’n paar honde, wat om die kraaltjie verspreid lê en hoorbaar kou aan die oorblyfsels van ’n stuk wild.
Die oomblik waarop hulle met soveel ongeduld gewag het, is eindelik aangebreek. Die tyd om te handel is daar. Aan die twee ou mannetjies het dit intussen duidelik geword dat hier net een weg oop is: hulle moet die beeste laat deurbreek en eers kans gee om onder die beskerming van die jagters uit te vlug. Hierin handel hulle al weer volgens ondervindinge met die natuurwild opgedoen; is ’n plek nie geskik vir handeling nie, dan moet die wild na ’n gunstiger een verdryf word. Het hulle maar eers die onnosele osse oor die veld versprei, die res is maklik genoeg!
Met dié doel stap die ou voorloper, gevolg deur die kraagmannetjie, wat sy ongeduld nie langer kan bedwing nie, wyd om die kraal, ten einde bokant die wind te kom. Dit is die eerste stap; hulle weet dat hul reuk alleen in die meeste gevalle reeds genoeg is om die diere op loop te jaag. Geluk dit nie, dan moet hulle sterker dreigemente gebruik, ook op gevaar af van deur die jagters gesien te word.
Die ander leeus bly by die miershoop lê; omtrent die aandeel wat hulle weldra te neem het, bestaan daar by hulle nie die minste onsekerheid nie.
Die maneuver sou ook ongetwyfeld geluk het; want op dieselfde oomblik toe hulle die leeureuk kry, spring die osse almal skielik orent en begin onder angstige gesnuif en geblaas onrustig rond te trap; maar, ongelukkig vir die leeus, hulle is nie die enigstes wat die gevreesde teenwoordigheid gewaar word nie: die klomp honde spring gelyktydig op en hardloop met ’n vreeslike lawaai na mekaar toe. Hierop het die twee nie gereken nie; hulle staan ’n oomblik besluiteloos, onderwyl die honde, aangemoedig deur mekaar se luidrugtigheid, beurtelings nader kom en retireer. Woede behou egter die oorhand; die tergende geblaf is vir hulle te veel; daarby is dit nou so ver dat alleen dadelike aksie die toestand kan red. Met ’n brul skud die ou maanhaar alle vrees vir die mense van hom af, en met boosaardige, wilde gebrom loop hulle al twee die honde storm.
Hulle is byna by die kraal; en werklik skyn dit of die beeste, in doodsangs nou, gaan deurbreek … Daar blits dit! Die ontsettende knal in die stilte van die nag skyn ’n towerkrag uit te oefen: die osse, vir seker nou weer van die mag van hul beskermers, bedaar meteens; die leeus verdwyn soos skaduwees en begin ná ’n paar minute op ’n klein afstand uit volle bors te brul.
Die eerste plan het misluk; hulle sou nou ’n ander een probeer. Die geweerskoot en die daaropvolgende gebrul van die twee oues was genoeg om die ander leeus te laat begryp dat die berekeninge misgeloop het, en om hulle dadelik weer by die leiers te laat aansluit. Nader en nader kom hulle nou, onderwyl hul magtige stemme die lug rondom laat tril, die honde op ’n hoop onder die waentjie injaag, en die benoude osse andermaal tot die uiterste radeloosheid dryf.
Daar spat weer twee vuurstrale; ’n koeël fluit langs die maanhaar se oor verby en raak byna een van die kleintjies, wat deur die wyfie agter in veiligheid gehou word. In plaas van te skrik, begin die drie nuuskierig rond te snuffel op die plek waar die koeël die grond oopgesny het. Hier was eindelik iets tasbaars, en hulle sou nou ook hul aandeel