Sangiro

Uit oerwoud en vlakte


Скачать книгу

maak hom angstig. Sy drie gedempte brulle – die gewone teken – het hy reeds tevergeefs probeer. Nou brul hy effe harder; en waarlik, ’n entjie verder hoor hulle eers ’n trop wild met donderende hoefslae oor die vlakte heenstorm, en kort daarop kom die kraagmannetjie aan. Sodra hy hulle bemerk, draf hy nader, brom-brom, en met al die tekens van ontsteltenis.

      Ná hy van die ander leeus weg is, het hy ál in die sandsloot afgedraf, met die doel om die ongeluksplek van die môre weer te soek. Laat ons hom op die spoor volg. Toe hy op die plek kom waar die renoster gestaan het, bespeur hy bloed; en hoewel hy nie juis erg honger het nie, volg hy onwillekeurig die spore – dit lê nou eenmaal in die leeunatuur. ’n Entjie in die sloot af hou die spoor aan, toe draai dit links teen die wal uit, en bo onder ’n groot akasia kry hy die renoster – dood. Dog vanaand het hy nie tyd vir eet nie; hy moet verder en aan die kwellende onsekerheid ’n einde maak. Ná hy die bloed wat afloop op die neus waar die mense die horing afgesny het, opgelek het, draf hy verder en bereik eindelik die gelykte waar sy wyfie geval het.

      Dog hier begroet net die treurige geraamte sy blikke; die bene is reeds deur aasvoëls en jakkalse skoongemaak en oor die veld gestrooi. ’n Langgerekte “aaaaôôuu” ontsnap sy bors by die gesig en bewys dat leeus ook smart gevoel. Vol haat hef hy sy oë op in die rigting van die mense se kamp en … ontdek die naderende gedaantes van die twee jagters! Oor die helder verligte vlakte kom hulle sorgeloos aan, reguit na hom toe.

      ’n Vreeslike besluit kom by die ou leeu op. Onder die indrukke wat hy daar so-ewe opgedoen het, vergeet hy vir ’n oomblik sy vrees vir die mens, die feit dat die maanlig hom maar ’n onsekere beskerming bied en alles – behalwe dat hy sy doodsvyande hier voor hom het. In ’n oogwink duik hy tussen ’n paar klein bossies weg en berei hom voor om te spring. Ongetwyfeld sou hy vanaand sy wraaklus bevredig sien.

      Die jagters kom nader; die leeu lê sigbaar oop; dog daar hy van die bossies nie te onderskei is nie, bly hy onopgemerk. Sy ore, tevore platgetrek, beweeg skielik onrustig heen en weer nou: hulle het ’n ander geluid, behalwe die naderende voetstappe van die twee persone, gewaar. Die voorste jagter het intussen tot op tien tree genader; die leeu krimp ineen. Dog terselfdertyd agter hom, duidelik nou, voetstappe en mensstemme! Dis ’n aantal draers en honde van die jagters wat uit ’n ander rigting aankom. ’n Snelle wending van die kop en ’n enkele blik op die oormag agter hom is genoeg vir die kraagmannetjie. Geen leeu kan die denkbeeld van omsingel te word verdra nie. In ’n oogwink spring hy op; en eer die verbaasde jagters kan skiet, is hy reeds in die maanlig weggesmelt. – ’n Weinig later herken hy die roepstem van die maanhaar in die rigting van die drinkplek.

      Die ander leeus laat onwillekeurig hul hare rys toe hulle die opgewonde houding van die kraagmannetjie sien. Grommend stap hy tussen hulle deur na die water toe. Met verbasing en nuuskierigheid kyk hulle hom agterna; almal bly staan tot hy klaar gedrink het, nuuskierig afwagtend wat hy nou sal aanvang.

      ’n Steun van voldoening: toe kom die ou op ’n stappie terug, kyk die ander leeus een vir een vraend aan, rig ’n veelbetekenende blik in die rigting waar hy die mense ontmoet het, en begin sonder meer omslag aan te stryk. Hy vermoed die mense nog altyd by die geraamte van sy wyfie en gaan dus vérlangs verby, op na die renoster toe nou. Daar dit volkome strook met die planne van die maanhaar, laat hy die leiding bereidwillig aan die kraagmannetjie oor. Die ander leeus volg op ’n streep.

      ’n Paar minute later is hulle weer by die sandsloot, sonder dat hulle weer iets van die mense gewaar het.

      Op ’n vlak plek gaan die leeus die wal af en onder die donker geboomte in. Hier en daar dring die maanlig deur die welige lower wat oor hulle strek, en teken fantastiese skaduweefigure op die wit dryfsand onder. Geruisloos gly die buigsame leeuvorme oor die sand – so stil dat hulle moeilik te onderskei is van die maanligvlekke wat saggies heen en weer skuiwe as die wind die blare bo laat roer. Op ’n oop kol vind hulle skielik tekens wat dui op die aanwesigheid van ’n renoster – vars tekens hierdie, want die reuk is nog sterk, en die sand wat die dier met sy horing omgekeer en met sy pote in alle rigtinge gestrooi het, is nog heeltemal nat. Vermoedelik het hy ’n stormagtige bui gehad; want ’n renoster wat na water grawe in die sand, weet wel beter as om so doelloos rond te krap. En dan sou dit wel die gevalle een se maat wees; dié het goeie rede om so te kere te gaan! Weldra neem die leeus die lug skielik snuiwend op; hulle het die dooie dier se reuk gekry. Die kraagmannetjie stap egter rustig verder: hy weet al.

      Naby die akasia gaan hy nietemin versigtiger; en ook die ander leeus sprei instinkmatig, om seker te maak dat daar geen hinderlaag om die buit skuil nie. Geen leeu gaan sommer blindelings op iets aan wat hy nie self gevang het nie – behalwe dan wanneer hy deur die teenwoordigheid van ander roofdiere vooraf gerusgestel is. Die drie kleintjies het dadelik begin knor toe hulle die donker massa onder die boom sien lê. Hulle, ten minste, verstaan niks van die bangerigheid nie; en die wyfie het groot moeite om hulle terug te hou. Ná die buitengewone ondervinding van verlede nag, toe hulle feitlik op hul eerste regte jagtog uitgegaan het, is hulle nie van plan om langer ’n stilswyende aandeel in sake te neem nie; en die vooruitsig op ’n herhaling van die vrolikheid maak hulle opgewonde.

      ’n Paar aasvoëls verlaat met luidkloppende vlerke hul rusplaas in die akasia toe die growwe stem van die ou maanhaar skielik hier reg onder hulle ’n dieptrillende “grrrr” van tevredenheid laat hoor – so diep dat selfs ’n geoefende oor moeilik sou kan besluit of die dreuning van ’n afstand van vyf, dan wel vyfhonderd tree kom. Die ou leier het gevrees dat hulle vanaand niks aan die renoster sou kan doen nie en verplig sou wees om te wag tot die dik vel ná ’n paar dae deur verval meer handelbaar geword is. Met groot verbasing sien hy dus dat ’n stuk van die vel op die boud uitgesny is, asof iemand met opset dit vir hom en sy gevolg gerieflik wou maak. Hoewel dit hom nou ook ’n bietjie verdag voorkom, dit bly ’n aangename verrassing, want die reuk van vars vleis het sy eetlus geweldig aangewakker.

      Die kraagmannetjie het intussen sy ondersoek ten einde gebring en uitgevind dat hier vanaand in elk geval geen mense by die dooie dier is nie. Anders sou hy miskien wel daartoe gekom het om aan die nagtelike bedrywigheid van die mense ’n beter verklaring te gee.

      Hoe kon hulle weet dat die jagters die plekkie daar inderdaad vir hulle uitgesny het – juis groot genoeg om hulle almal van die vleis te laat proef, maar nie so groot dat hulle versadig kon wees en weggaan voor dagbreek nie? Nog veel minder kon hulle dink dat op dieselfde oomblik toe hulle aan die renoster begin te smul, die twee jagters in die nabyheid onder ’n bos hul komberse oopsprei en wag op die aanbreking van die dag, om dan hul fees op ’n tragiese wyse te sluit.

      Hoofstuk 4

      Onderwyl die twee ou mannetjies broederlik uit die klein openinkie saam eet, het die ander leeus tevergeefs probeer om ’n toeganklike plekkie in die taai vel van die renoster te kry. Die moederleeuin dring haar eindelik ongeduldig by die maanhaar in en herinner hom knorrend aan sy plig. Die twee wyfies kry nou kans; dog toe die jong mannetjie hom ook daar wil indring, loop die maanhaar skielik dreigend op hom toe. Dadelik gaan die jongere leeu lê; hy trek sy ore plat en knor binnensmonds, maar waag dit nie om aan die gebieder weerstand te bied nie.

      Geen leeu verneder homself ooit so ver as om die rug aan ’n sterkere toe te keer nie; sien hy nie kans om homself met sukses te verweer nie, dan gaan hy eenvoudig plat lê en erken daarmee die meerderheid van sy teenstander, wat dan ook gewoonlik die saak nie verder dryf nie as om hom miskien vir ’n oomblik in dreigende houding oor sy mindere te verhef. Of ’n geveg intussen wel tot ’n oorwinning vir die maanhaar sou gelei het, is twyfelagtig: hoewel swaarder en sterker gebou, besit hy nie meer die volmaakte en glansende slagtande van die jong mannetjie nie.

      Die wyfie het eindelik ’n stukkie vleis uitgeskeur en aan die kleintjies oorgelaat om aan hul ongeduld en lastigheid ’n einde te maak. Hiermee het hulle opsy gegaan, onderwyl hulle komieke poginge aanwend om die groot leeus ná te doen en mekaar bang te maak. Die sterkste een, wie se fris voorlyfie en oneweredig groot voorpootjies hom reeds as die opvolger van die ou maanhaar bestempel, het eindelik die vleis bemagtig en daarmee om die boomstam gehardloop. Hier keer die ander twee hom vas; en vir ’n tydjie duur die luidrugtigheid voort. Veel vleis het