mense al op die trollie sit. En voor hy wegtrek, het hy dan gesê: Dit is nie regverdig teenoor Ou Swaai nie. Sy kyk heeltyd of ek nie oorlaai is nie.
Oom Flip het altyd gesê hy het Ou Swaai, sy merrie met die een oog, gekoop omdat niemand haar wou hê nie en dat sy dit weet. Niemand het Oom Flip ooit ’n harde woord vir Ou Swaai hoor sê nie en hy het ook nooit ’n sweep by hom gehad nie. Sy is een van die familie, my oudste dogter, het hy gesê as hy niks anders gehad het om te sê nie.
Ou Swaai het gewoontlik haar kop gedraai voordat sy wegtrek. Die mense het gesê sy móét haar kop draai want dis al hoe sy met die een oog die ander kant kan sien.
Oom Flip het vertel hy het nooit op die transportpad of op die delwerye geld van sy baas, Mineer Swartz, gekry nie. Net partykeer het hy hom ’n paar oulap gegee en gesê: Dit is jou sakgeld, jy is my vrywillige kaffir.
Hy het al ’n volbaard begin word en gevoelens vir ’n vrou begin kry toe Mineer Swartz alles verkoop wat hy gehad het, het Oom Flip vertel. Die orige goed het hy op die wa gelaai, saam met sy vrou, die Ounooi, en sy twee dogters, Grieta en Mollie. Dié tyd is Oom Neels en Oom Paul ook weg. Hulle het by hulle se vrouens op Baas Delpoort se plaas naby Klerksdorp gaan bly. Die twee nuwe werksvolk was baie lui en het gemaak of hy, Filippus, onnosel is. Om die vrede te bewaar, het Oom Flip maar die meeste van die werk gedoen.
Die Oubaas, soos hy teen dié tyd genoem is, het gesê hy trek na die delwerye naby Lichtenburg toe.
Toe ons op Bakerville aankom, moes ons ’n pandokkie vir die witmense maak. Filippus Swartz moes onder die wa slaap, het Oom Flip vertel. Dit was my werk om water met die skotskar aan te ry en vir ’n sikspens ’n viergelling-paraffienblik aan die delwers te verkoop. Dit was toe dat ek ’n baie gawe meisie ontmoet het. Ek sal julle later sê wat haar naam was.
Sus Bet
Sus Bet was in Vatmaar bekend as ’n Griekwa-vrou. In die sonlig was haar vel ligbruin, en in die skade het dit dofgeel geword. Sy was heelwat langer as haar man, Oom Flip, met ’n regop rug en twee goed gegeede stêre. Sy het hoë wangbene en ’n skerp ken gehad en haar oë was nooit heeltemal oop nie, maar twee reguit skrefies. Haar rokke was regaf gesny en met die hand gemaak. Op Sondae het jy haar aan haar rok geken, ’n Sondagrok met groot geel blomme op ’n blou agtergrond. Sy was een van die gelukkige vrouens wat ook nog ’n weekse rok en ’n huisrok gehad het, want die meeste vrouens het net twee rokke gehad. Sy het altyd ’n kopdoek gedra en op Sondae was dit ’n gele, ’n krismisboks van Oom Flip.
Sus Bet was baie jonger as haar man. Hy het haar Bok genoem en sy vir hom: my Ouman. As hulle met iemand anders oor mekaar gepraat het, was dit: my Bet, en: my Flip. Haar enigste kind, Klein-Neels, was haar ewebeeld en sy het altyd gesê: Hy is meer ma as pa.
Sus Bet en Oom Flip was van die voorste mense van Vatmaar, hy met sy transportbesigheid en sy met haar khadie – ’n drank wat lekker dronkmaak – van heuning en ’n veldwortel wat net sy geweet het waar om te grou en wat sy altyd vingeralleen gaan haal het. Sy het die drank teen ’n sikspens ’n canfruit-blik verkoop. Die blik is die “skaal” genoem. As die khadie sterk was, het die grootmense gesê: Vandag is dit lekker. En dan weer: Vandag is dit swak. Sus Bet het weer gewoontlik gesê: Vat of laat staan, en dit was altyd uitverkoop voor sononder.
Hulle was baie trots op Klein-Neels. Waarom? Omdat hy ’n geboortedag gehad het. Oom Flip en Sus Bet het nie een hulle eie geboortedag geken nie. Toe vier hulle maar al hulle se verjaarsdae op Klein-Neels s’n. ’n Ding wat hulle so deeglik gedoen het dat die hele Vatmaar hulle altyd gevra het: Nou wanneer is die groot dag dan weer?
In die kerk het die twee altyd seker gemaak dat hulle elkeen ’n tiekie vir die bord het. Na kerk het Sus Bet haar skoene uitgetrek sodra hulle by die paaitjie kom en hulle dan in haar hand huis toe gedra.
Bok! het Oom Flip eenkeer gesê toe hulle na ’n diens in die paaitjie loop. Het jy gehoor wat die prediker gesê het oor gee en jy sal ontvang?
Toe hulle naby hulle huis kom, het Klein-Neels skierlik uitgeroep: Ma, kyk daar!
Waar? het sy pa gevra en ’n klip opgetel want hy het gedink dis ’n slang.
By die bossies, Pa – en Klein-Neels het met sy vinger gewys.
My kind! het sy ma gesê en hom ’n druk gegee en toe heeltemal van die grond af opgetel. Dit is onse twee tiekies wat ons in die kollektebord gesit het en wat onse Here dubbeld teruggegee het!
Ek tel twaalf hoenderkuikens, het Oom Flip gesê.
Oom Flip kon nie altyd tel nie. Toe hy by die delwerye begin water verkoop, was dit die eerste keer dat hy met geld gewerk het. Partykeer het hy te veel kleingeld gegee en partykeer weer te min. Maar hy het gou geleer want Mineer Swartz het sy dogter Mollie aangesê om saam met hom te ry en met die geld te werk totdat hy kon geld tel. Oom Flip was goed bekend onder die delwers en hulle het van hom gehou want hy het gereeld hier en daar ’n blik water verniet weggegee.
Mollie Swartz was jonk en soos alle jong meisies ook mooi, al was sy ook hoe vuil daar in die delwerskamp. Sy het gou ’n kêrel gehad, Filemon, die seun van Mineer Steenkamp by wie se kleim die waterkar die meeste van die tyd gestaan het.
En soos Oom Flip altyd gesê het: God werk in twees. Baas Steenkamp het ’n meid gehad wat gereeld na hom toe gekom het met haar emmer en vir hom gesê het: Ta, hierdie mense gee my nie water om myself te was nie. Hulle sê dit is te duur om weg te gee. Hulle sê ek moet wag tot dit reën en dan kan ek my vuilgat was.
En so, wanneer Mies Mollie en Baas Filemon om die pandok verdwyn het (want die skaduwee was aan die agterkant en dit was baie warm) het hy haar emmer volgemaak. Soms het Oom Flip Mies Mollie by die Steenkamps se pandok agtergelos en dan het hierdie meisie vir Mies Mollie gevra of sy saam met hom kan ry as hy die blikke gaan volmaak, want haar werk was klaar.
Mies Mollie het dan gesê: As jou baas tevrede is.
Baas Steenkamp het altyd gesê: Gaan maar.
Die witmense het die meisie Bet genoem en hy het haar ook gou-gou so genoem. Maar hy het dit skaamagtig en van die hart af gesê. (Bok het eers later gekom.)
Dit was nie lank voor hy sommer enige geld wat daarin was uit die geldsak gehaal en vir Bet gegee het nie, want vir hom was alle geld dieselfde. Sy het dan vir hulle bruinsuiker gekoop en soms ’n blikkie kondensmelk waarin hulle twee gaatjies gemaak het, en elkeen dan die helfte uitgesuig het.
Dit was Bet wat gesê het: Ons moet so steel dat hulle nie agterkom nie. En die witmense hét ook nooit agtergekom nie. Soms het Mies Mollie vir Oom Flip ’n tiekie gegee en gesê: Gaan koop vir jou iets.
Eendag het Mies Mollie weer by die Steenkamps se pandok agtergebly. Bet het op die kar geklim sonder om te vra of sy kon saamry. Sy het haar hand oor haar oor gehou. Toe hy vra wat makeer, wou sy nie praat nie. Toe Oom Flip haar hand wegtrek, sien hy haar oor is geswel.
Het die perdeby jou gesteek? vra hy.
Ja, sê sy.
Bana! Manne! het Oom Flip gesê, haar hand van haar oor af getrek en dit liggies vasgehou, want dit het gevoel soos iets anders wat hy eenmaal in sy hand gevoel het. Toe onthou hy – die Ounooi se sysakdoek wat hy op ’n keer van agter af moes inhardloop oor die wind dit weggewaai het.
Dit was die eerste keer dat hy so na aan Bet gekom het.
Die volgende keer toe sy weer op die waterkar klim toe hy die blikke moes gaan volmaak, was haar lippe geswel en sy kon skaars praat. Hy het haar gevra wat gebeur het.
Ek het geval, het sy net gesê, nie waar en hoe nie, en hy het haar nie verder uitgevra nie. Toe hy haar later by die Steenkamps se pandok aflaai, het sy omgeloop na sy kant van die kar toe. Sy het haar hand op syne gesit en hom in die gesig gekyk, haar oë blink van die trane. Toe draai sy om en loop weg.
Daardie regop rug het in sy kop bly steek totdat hy haar weer gesien het.
Vrydae was wasdag. Dan is die diamantgruis gewas. Oom Flip moes vooraf sorg dat die delwers wat hulle water by hom gekoop het, genoeg het tot Maandag toe, want Vrydae moes