sendingkerk kan wees. Omdat daar geen betaling aan die ouderlingskap verbonde is nie, het almal ingestem tot sy barmhartigheid.
Die volgende Saterdag het dit gereën. Vatmaar se mense het nooit gewerk as dit reën nie, want, het hulle gesê: Wie gaan die dokter betaal? Oom Chai is nogtans na die domanie toe om te vra of hy Mineer Hans du Plooy kan ontmoet.
Ek sal jou na hom toe neem, het die domanie beloof: En hierna sal hy my verteenwoordiger wees, verstaan jy? – asof Oom Chai ’n oorlas is.
Ja, Domanie, het Oom Chai gesê.
Oubaas Hans du Plooy en sy vrou het in die elite-deel van die Pan gewoon. Die domanie het sy ouderling aan Oom Chai, wat nooit vir ’n witmens bang was nie, voorgestel as die man wat die kerkraad aangewys het om die mense van die nedersetting tot hulp te wees. Op die stoep was daar ’n tafel en stoele en die domanie het gesê: Ons sit sommer hier.
Miesies du Plooy het twee koppies tee op ’n skinkbord gebring en ’n bediende het ’n beker tee met die hand aangedra. Mevrou du Plooy het die domanie met die hand gegroet en vir Oom Chai, wat bly staan het, met ’n kopknik. (Oom Chai het sy werksklere aangehad.)
Hy is die man waarvan ek jou vertel het, Gertie, sê Mineer du Plooy vir sy vrou. Sy het na Oom Chai gekyk en haar gesig so getrek dat dit soos ’n glimlag moes lyk. Oom Chai het dadelik geweet waar hy met haar staan.
Charlie, sê die domanie, jy en Oom Hans sal saamwerk en by die volgende kerkraadsvergadering sal ons jou naam aanteken as ouderling van die Sendingkerk Vatmaar.
Dankie, Domanie, het Oom Chai gesê.
Die domanie het toe opgestaan en vertrek.
Hierdie Hans du Plooy en sy vrou het uit Stellenbosch gekom waar hy met huise gespekuleer het, het die mense gesê. Deur die jare het hy huise goedkoop gekoop, hulle laat regmaak en daarna teen ’n wins verkoop. Party het hy gehou en teen ’n aansienlike bedrag verhuur. Sy enigste dogter het in Stellenbosch agtergebly. Hy kon in die sestig wees, ’n skraal man met hol wange en ’n hoes – eintlik drie hoese: Hoe, hê, hê! Hy het bicycle gery om fluks te bly en altyd gesê: Die kar is in die waenhuis. Hy het Du Toitspan toe gekom op doktersbevele want hy het aan asma gely en moes in ’n droë klimaat woon. Hy het gesnuif en het die blikkie vir enigeen wat naby hom staan, aangebied. En hy het dit geniet om te sien hoe die mense hoes en nies terwyl die trane uit hulle oë loop. Hy was ’n goeie man, net die teenoorgestelde van sy vrou, en omdat hulle nie ’n beter woord geken het nie, het Vatmaar se mense van hom gesê: Hy is ’n darling. Hy het Vatmaar die “Onse Vader” en “Nader my God by U” geleer.
Toe het Oom Chai gesê: Dit is nou genoeg, ons het net een gesang en een gebed nodig.
Vatmaar se mense het as span aan hulle sendingkerk gewerk. Die afbrekers is Saterdae na werk reguit na die kerksaal in die Pan toe. Oom Flip en Ou Swaai het die boumateriaal aangery na die kliperf toe. Hy het gewoontlik drie trips op ’n Saterdagmiddag gemaak – twee om die materiaal aan te karwei, en een om die manne wat moeg was en gewerk het tot dit amper donker was, huis toe te vat.
Skierlik het ons kinders uitgesien na Saterdaemiddae, al moes ons saam met die hele Vatmaar hand bysit. Ons het ons verluister aan die grootmense se geskinder oor wat nou weer dié week by hulle werkplekke in die Pan gebeur het. Partykeer het die een vir die ander geknipoog om te wys ons mag dit nie hoor nie. Ons het gemaak of ons nie luister nie en ook nie belang stel in wat hulle vertel nie, maar ons was die ene ore, reg om alles oor te vertel as ons kinders later op ons eie huis toe loop. Ons was baie trots om te kon sê: Het julle gehoor?
Al Vatmaar se mense het boumateriaal help aflaai en saal opsit. Mineer du Plooy het ons gewys hoe om die hout en yster met nommers te merk voordat ons dit uitmekaarhaal. Só was dit baie makliker om dit later weer aanmekaar te sit. Ons het nie vakmanne uit die boubedryf gehad nie, net hulle arbeiders, maar dié het geweet wat om te doen. En met Mineer du Plooy se ondervinding met die regmaak van huise kon niemand dit beter doen nie. Die vloer was van Vatmaar-leiklip. Die gebou het ’n staandak gehad en daar was vier vensters aan elke kant.
Toe die saal klaar was, was daar geverfde nommers oral oor, en ons kinders, en party grootmense ook, het rondgeloop en: Een-een, twee-twee, drie-drie, en so aan op die mure loop en lees. Mineer du Plooy het gesê: Nee, julle werk op my senuwees! – en vir Oom Flip gevra om ’n paar blikke rooi verf vir die dak, groen vir die buitemure en wit vir die deure en vensters te gaan haal. Daar was geen plafon of binne-afwerking nie, en Mineer du Plooy het gesê daar is geen vuil nommermerke aan die binnekant nie, die Vatmaar-gemeente kan dit maar self verf. Ons het toe self verf vir binne gekoop en die mure tot op deurhoogte wit geskilder.
Toe die verwery klaar was, het ons van Vatmaar onse kerksaal met trots aanskou en in onse harte was dit ’n blom wat so pas oopgegaan het. Toe begin ons regmaak vir die inwyding.
Mineer du Plooy het tien stoele geskenk vir die grootkoppe van die gemeente en die tafel en tafeldoek vir die Bybel, en ’n glas en kruik vir water. Maar die gemeente het self ’n duur kom gekoop vir die doopwater wat die domanie sou seën.
Daardie Saterdag het almal die kerkgrond, soos die kliperf nou genoem is, help skoonmaak en die klippe uit die pad uit gehaal en weggevat. Uiteindelik het Oom Chai gesê: Mense, môre net na die aguur-fluitjie moet julle almal hier wees, die grootmense met hulle stoele en bankies.
Die inwyding van onse sendingkerk
Net na die aguur-fluitjie die volgende oggend geblaas het, het die mense met hulle se stoele en bankies begin aankom, almal in hulle beste klere. Die kinders was skoongeskrop. Daar was net ’n paar mans en seuns wie se klere nie gelap was nie. Gelap maar skoon, het hulle met trots gesê. Die ouer vrouens het hulle Sondagrokke aangehad. Die meeste het net twee rokke gehad – ’n Sondagrok en ’n huisrok.
Toe Oom Chai seker gemaak het almal is daar, maak hy die twee deure oop, ’n hele vier voet wyd. Die kinders moes almal voor kom sit en as ’n kind ’n stoel of bankie gehad het, moes hy dit aan ’n grootmens afgee. Agter die kinders het die grootmense op die stoele en bankies gesit, en die seuns en mans wat niks gehad het om op te sit nie, het agter hulle gestaan. Tevrede met die reëling, het Oom Chai gesê: Onthou julle plekke. Ons gaan nou uit om twee rye by die deur te vorm – die kinders eerste, dan die bankiemense en dan die ander. Dan kom ons weer in.
Op die voorpunt van die twee rye het Oom Flip en Oom Chai gestaan, wat sy snorpunte met twee vingers van elke hand aan die draai was.
’n Swaar spoorwegsif het op vier klippe gereed gelê. Die witgathout was reg om aangesteek te word wanneer Oom Chai die teken gee sodra die grootkoppe in die deur verskyn.
Daar was drie bokkietafels (wat vroeër aan die army behoort het) met handgemaakte tafeldoeke oor. Op een het die vleis gelê, netjies gesny en gesout. Die lewer was op ’n ander tafel in ’n bak saam met die beste stukke van die tollie wat Mineer Piet de Bruin van die plaas wat aan Vatmaar grens, geskenk het. Daar was tien glase van verskillende vorms en groottes op ’n skinkbord, en ’n beker tuisgemaakte gemmerbier, ook ’n leë skinkbord vir die roosterkoek. Die deeg vir die roosterkoek het op die derde tafel klaar gestaan. En daar het die drie grand ou ladies van Vatmaar, Ouma Lewies, Sus Bet en Tant Wonnie, gestaan met hulle se wit voorskote aan en beste kopdoeke op.
Mineer de Bruin en Miesies de Bruin het aangery gekom met hulle Ford en naby die kerk sit en wag vir die domanie en die ouderlinge van die Pan om aan te kom. Hulle het opgedaag – vier mans en vier vrouens, die mans het swart pakke gedra en die vroue hulle beste hoede. Toe hulle uit hulle twee karre klim, het Mineer de Bruin hulle met die hand gaan groet. Hulle het stilgestaan en ’n paar woorde gewissel. Toe het die domanie voor hulle uitgeloop na waar Oom Chai en Oom Flip op hulle gewag het, Oom Chai met sy familiebybel (wat hy gesê het ouer is as hyself en in die eerste Afrikaans geskryf – waarmee hy Hoog-Hollands bedoel het) in ’n syslopie.
Die gezoem van die mense het opgehou.
Die domanie het Oom Chai en Oom Flip gegroet en hulle hande gevat. Hy het ’n paar woorde gesê en toe verder geloop. Die ander gaste het agterna gekom en die twee grootmanne gegroet. Daarop het Oom Chai sy hand gelig as ’n teken dat die vuur aangesteek kan word.
Voor