staan.
Devi was hulle geliefde enigste dogter. Sy was kort soos haar ma, sag van die baie vertroeteling, maar sy was soos haar pa gebou. Haar gesig het op haar ma én haar pa getrek, maar sy het klein Morolong-ore gehad.
Devi was die enigste slim kind in onse skool op Vatmaar. Teacher Elsa het gereeld toegelaat dat sy ’n dag uit die skool uit bly om saam met Oom Flip en die pensioentrekkers na die Pan toe te gaan om hulle pensioengeld te gaan haal. Sy het dan sommer die geld wat hulle haar pa geskuld het en wat in ’n skryfboek opgeskryf was, afgetrek. Die boek is saam met die geld in ’n sakkie gehou. Die oumense het nooit met haar gestry nie want hulle kon niks uit die winkel kry voor sy nie uit die skool uit kom nie. Dan het sy hulle skuld in die boek opgeskryf, dit vir hulle gewys en gesê: Teken. Wat hulle met ’n kruisie gedoen het.
Haar ma se eintlike naam was Matemba maar Ou Chetty het haar Free-da genoem. Ons het haar vol deernis Ma Koelie genoem. Sy is dood in die Groot Griep en Ou Chetty was daarna nooit weer dieselfde nie.
As iemand in die nood was, het hy altyd gehelp en hy het baie goeie dinge gedoen vir Vatmaar se mense. As hulle hom bedank, het hy sy vinger gelig en gesê: Nie my bedank nie, bedank Free-da se Moediem. Sy liefde vir Ma Koelie het nooit oud geword nie en Vatmaar het dit geweet.
Dit was Ou Chetty wat vir Vatmaar sy eerste sokkerbal gegee het.
Oom Chai vertel waar die sendingkerk vandaan kom
Oom Chai het baie van sy werk by die dorpsraad se landmeter gehou want dit was nie so gevaarlik soos die ambag van hoefsmid wat hy as seun geleer het nie. Die loon was laer, maar hy was elke maand daarvan seker. Hy moes agter die werk se bicycle kyk.
Op ’n gelukkige dag, soos hy self vertel het, het Mister Keely, die landmeter, hom aangesê om die instrumente met die spesiale bicycle met die groot mandjie voor na ’n sekere oop erf in die nuwe aanleg te vat.
Terwyl hy daar vir Mister Keely wag, staan daar ook ’n jong man in ’n swart manel op iemand en wag. Hy kon sommer aan die man sien hy is ’n Nederduits Gereformeerde domanie, sê Oom Chai. Hy het nie van die man notisie gevat nie want hy het geleer as jy vir die dorpsraad werk, moet jy op jou plek bly en jou by jou eie sake hou.
Na ’n ruk kom die welgeklede jong man na Oom Chai toe waar hy op ’n klip sit.
Ek het opgestaan, my keps afgehaal en gesê: Môre, Mineer, het Oom Chai gesê.
Hy het my sy hand gegee en gesê: Dominee Louis Pienaar.
Ek het gesê: Charlie, Chai vir kort.
Hy het gelag. Toe het hy na die instrumente gewys en gesê: Landmeter?
Ja, Domanie, het ek gesê.
Die eerste ding wat hierdie kerkvaders vir iemand vra wat hulle vir die eerste keer ontmoet, is: Aan watter kerk behoort jy? Oom Chai het daarvoor gewag. Hy het gesê: Die Sendingkerk.
Die domanie was so verbaas dat hy Oom Chai weer handgee en sê: Ons is broers, dis ons susterkerk.
Toe vra hy waar Oom Chai se sendingkerk is want alle kerke wat hy hier in Du Toitspan ken, gebruik Engels as hulle taal, of die mense dit kan verstaan of nie.
Dit is van 1857 af dat ons Nederduits Gereformeerde Kerk met aparte dienste vir swartes en bruines begin het, sê die domanie.
Oom Chai knik sy kop.
Toe kry die domanie ’n tweede verrassing. Oom Chai sê: In die Vrystaat, Domanie. Maar ek bly nou in Vatmaar. Domanie, sê Oom Chai, ons in Vatmaar het ’n sendingkerk nodig. Ek werk saam met mense wat almal aan die Engelse kerke behoort.
En die domanie sê: Alles sal regkom, Chai.
Oom Chai dink toe: Miskien het God hierdie domanie gestuur sodat ek vir hom ’n sendingkerk vir Vatmaar kan vra.
Domanie, sê Oom Chai, ons in Vatmaar het rêrigwaar ’n sendingkerk nodig want daar is bybies en jong kinders wat nie gedoop is nie.
Toe daag Mister Keely met ’n opgerolde plan op sy bicycle op. Good morning, Father, sê hy.
Goeiedag aan jou, Broer, antwoord die domanie. Hulle het oor die erf begin praat en Mister Keely het gesê die kerk is gelukkig om die laaste hoekerf te kry. Die domanie het na die plan gekyk en gesê die kerk sal die twee aangrensende erwe ook neem aangesien die hoekerf vir ’n huis bedoel is. Die pastorie moet langs die kerk wees.
I suppose it will be all right. We don’t want to have a town council sitting for every small thing, sê Mister Keely.
Goed, sê die domanie. Dan sal ek hulle nommers afskryf en vir hulle by die dorpsklerk se kantoor gaan betaal.
Mister Keely het geglimlag en gesê: As you wish, Father.
Dan bedank ek u, het die domanie gesê. Hy het vinnig na die instrumentkas met die naam N. Keely daarop gekyk, en bygelas: Mister Keely. En toe sy hand gevat.
Charlie, skree Mister Keely skierlik, take these things back to the office!
Ek het naby hom gestaan en ek het gewonder vir wat hy altyd op my skree as daar ander witmense by is, het Oom Chai gesê.
Die domanie het gesê: Wag, Charlie – en hy het sy sakboekie uitgehaal en sy naam en adres vir my neergeskryf. Kom sien my. Ek sal kyk wat ek kan doen, sê hy toe.
Oom Chai was ’n bruinman met ’n ligbruin gesig en hande. Maar as hy sy hemp uitgetrek het om hom te was, was sy bolyf die kleur van ’n goedgewasde kakiehemp. Hy was die enigste bruinman met ’n weglêsnor wat ek ooit geken het. Hy het aanmekaar aan die snorpunte gedraai, veral as hy gedink het. Sy hare was gitswart en reguit, die soort wat ons in Vatmaar nat hare genoem het. Sy neus was nie plat nie en sy hare het by sy ore opgehou waar hy sy baard begin skeer het.
Die mense het gesê: Hy is te lui om sy oë oop te maak.
Hy was ’n groot man. Om oor ander te wees, was iets wat altyd na hom toe aangekom het sonder dat hy daarvoor gesoek het. Hy het vroue gerespekteer en die mans het gesê hulle weet hoekom – ’n mal perd het hom tussen die bene geskop. Ander het bygelas dat dit ’n perd was wat hy te sleg was om te beslaan. Die skop het hom ’n snaakse manier van stap besorg.
Die nag na hy die domanie ontmoet het, kon Oom Chai nie slaap nie want hy het lê en dink wat om te sê en hoe hy die man moes benader. Toe sê hy in die vroeë oggendure vir homself: Ek sal hom Saterdagmiddag gaan sien want ons val twaalfuur uit. Saterdag sal ek met my beste klere gaan werk.
Toe Mister Keely die Saterdag vir Oom Chai in die pak klere sien wat hy vir Oupa Lewies se troue laat maak het en wat hy net vir spesiale okkasies bewaar het, sê hy: Charlie, you may have the day off, seeing that you are all dressed up. I don’t know why, but people will think that I am the boy. Off you go, my boy.
Oom Chai het by homself gedink verrassings kom vir hom altyd in pare so hy sal maar reguit na die domanie toe gaan. Hy het na die papiertjie gekyk om seker te maak van die adres.
Toe hy daar aankom, sien hy daar is ’n voorhek, ’n agterhek en ’n syhek, want dit was op ’n straathoek. Deur die syhek sien hy die huis se voorstoep en ’n oop deur. Die hek was van plat ysterstroke en vasgemaak met ’n stukkie draad.
Terwyl hy nog rondkyk, kom vra ’n lang swart vrou hom of hy die domanie kom sien het. Sy kon dit aan sy netjiese kleredrag sien en sy het hom van kop tot tone bekyk.
Ja, het Oom Chai gesê. Toe was dit weer sy beurt om haar van kop tot tone te bekyk. Sy het ’n Voortrekkerkappie opgehad waarvan die voorkant weggesny was. Haar rok het haar tot by haar enkels toegemaak, net die tone van haar kaal voete het uitgesteek. Sy het ’n groot haakspeld onder haar ken gedra en haar hande was die enigste ander liggaamsdele wat te sien was. Dit was somer en baie warm.
Stap maar voor my uit, Baas, het sy gesê.
Toe Oom Chai deur die voorhek loop, kom die domanie by die voordeur uit. Terwyl hy Oom Chai ook van kop tot tone bekyk, gee hy hom sy hand en sê: Kom binne, Charlie.
Die domanie was van gemiddelde lengte,