by die Boere. Alle volwassenes wat nie van oorsee af gekom het en nie wit was nie, is “boys” en “girls” genoem. Die Engelse het bruinmense “Cape-boys” en partykeer “Coloureds” genoem – vir die Boere was hulle basters of hotnots. Die woord kleurling is toe nog nie gebruik nie. ’n Swartman uit Afrika was ’n kaffir, en ’n Indiër was ’n koelie. Soms is die woorde aspris gebruik om ’n persoon se gevoelens seer te maak, maar die meeste van die tyd het nie een van die twee – nie die een wat die woord gebruik het en ook nie die een wat so genoem is – van beter geweet nie.
Dit was die gewoonte om ’n Engelsman Mister en sy vrou Madam te noem en ’n Boer Baas en sy vrou Miesies wanneer mense onder mekaar gepraat het. Deftige bruinmense was Mineer en Mevrou. Ons het die grootmense Oupa en Ouma en Oom en Tante genoem, en hulle het mekaar Sus en Siesie en Neef genoem.
As ek Vatmaar se storie vertel, gebruik ek al hierdie woorde soos hulle destyds gebruik is – in alle liefde en met respek, sonder om iemand te wil seermaak.
Party mense het gesê Vatmaar het sy naam van Ta Vuurmaak gekry. Hy het in ’n groot treinwatertenk gebly. Dit was bo-op toegepak met takke en gras om te keer dat die sink in die somer te warm raak en in die winter te koud.
Die tenk was naby die vlei, nie in die nedersetting nie. So Ta Vuurmaak het nie jaargeld betaal nie. Hy het Kimberley-stene gemaak van die vlei se klei en dryfsand wat hy bymekaargemaak het met sy kruiwa. So ’n steen was twaalf duim by nege duim by vier duim, en hy het hulle teen twee pennies stuk verkoop. Al Vatmaar se huise was van Ta Vuurmaak se Kimberleys gebou.
Oom Flip het die stene met sy trollie gekarwei, en hy is in Kimberleys betaal, of dit nou ’n vrag van twintig of vyftig stene was. Arbeid was nie ingereken nie – jy moes self die stene op- en aflaai.
Ta Vuurmaak was die oudste oupa in Vatmaar en hy het altyd gesê die ander oupas is jonk genoeg om sy kinders te wees. Vatmaar het hom Ta – pa – Vuurmaak genoem.
Hy was nie groot nie maar hy het groot gelyk. Hy het altyd ’n langbroek met afgesnyde pype gedra. Sy bene was krom en die mense het gesê: Hy kan nie ’n vark vang nie. Sy lyf was vol lang, lelike kwesmerke, elkeen met sy eie storie. Hy het velriemskoene gedra wat hy by Tant Wonnie gekoop het. Teen die tyd van die Runderpes (1896), het hy gesê, het hy al sy tweede vrou na haar ma-goed teruggestuur oor sy nie vir hom kinders kon gee nie. Wat hy nie kon verstaan nie, het hy altyd gesê en gelag, is dat altwee die vroumense ander mans gevat het en vir húlle kinders gegee het.
Ta Vuurmaak het altyd ’n keps gedra. Wanneer hy dit afgehaal het, het jy die mooiste bleskop gesien wat jy jou kan voorstel. Met sy tandelose mond kon hy die taaiste vleis eet. Sy oë was altyd halftoe. Dit was net twee skrefies en jy kon nooit die kleur sien nie. Sy gesig, nek, hande en knieë was ’n bondel inmekaargedrukte plooie wat ’n mens laat dink het hy is ver oor die honderd. Sy stem was fyn maar krakerig.
Hy vergeet nooit wat hy gesien het nie, het die mense gesê.
Ta Vuurmaak vertel van die Queen se Cape-boys
Op die Sondag ná die dag waarop die oumense hulle se pensioen gekry het, het ons jongetjies altyd vir Ta Vuurmaak by sy “cabin” gaan kuier. Dis hoe Tommy Lewis die treinwatertenk genoem het en almal het die naam gebruik. Dan het Ta Vuurmaak vir ons ou stories van Vatmaar vertel. Hy het altyd ’n bottel sjerrie vir die okkasie gebêre.
Hoekom witmense mekaar doodmaak, kon ek nog nooit verstaan nie, het Ta Vuurmaak gesê. Die Engelse het doei tyd gesê hulle gee hulle se lewens vir ’n ou vrou wat hulle Queen noem, en al het hulle speel-speel geveg, het die Boere, wat niks verkeerd gedoen het nie, hierdie Queen se mense soos wild platgetrek.
Ek het daar by die square by die stasie gesit waar almal gesit het wat werk soek en waarnatoe mense gekom het as hulle werksvolk nodig het. Toe kom dié man met die naam Chai daar aan om vyf Cape-boys te huur wat vir die Queen kon werk. Daar was net drie van ons en ek weet nie waar hy die ander twee gekry het nie.
Hy vat ons toe na ’n Engelsman toe wat gesê het hy is Lance-Corporal Lewis. Hulle sou sikspens ’n dag betaal en ons ook nog resoen gee – ’n blik bully-beef en biscuits. Ons moes onse bevele vat van hierdie boy – en die Engelsman het na Chai gewys.
Daai dae was daar nie ander werk nie, net oorlogswerk. Die Rooinekke het hom Corporal genoem omdat hy een streep op sy arm gedra het. Hy en vier manskappe was te perd. En ons vyf boys en die resoene was op ’n wa met ag osse.
Ons het nie geweet wat onse werk was nie en ons was bang vir die Boere want hulle het nooit mis geskiet met daai mausers nie. Op die tweede dag het Chai vir ons gesê ons is nou in die Transvaal en ons moet lig slaap.
Kort daarna het ons uitgevind wat ons moes doen:
Twee van ons moes die plaashuis dophou. Intussen het die wa met die Queen se manne gewag waar hulle nie gesien kan word nie. Ons moes kyk of daar nie mans in die rondte is nie, so ons het gewoontlik na die huis toe gegaan en gevra of ons water by die put kon skep. Maar ons moes baie lig loop vir die Boerevrou. Sy is baie sterk en bang vir niks. Julle sien dié kwesplek?
Ta Vuurmaak het na ’n lang merk op sy kuit gewys.
Hiervoor het ’n ou ouma gesorg wat ons dopgehou het.
As ons geen mans gewaar het nie, het ons so gaan sê. Dan het die vier manskappe en die Corporal die plaashuis omsingel en die ander het die wa nader gebring. Dit was dan onse werk om te sorg dat die huismense se kos en ander goed op die wa gelaai word. Dan moes een van ons boys hulle saam met ’n man van die Queen na die konsentrasiekamp toe vat. Dit is wat hulle ’n tronk vir vroumense en kinders genoem het. En voor die wa vertrek het, moes ons, die boys, die plaashuis aan die brand steek. Dit was om die Boere te laat sien wat gebeur as hulle teen die Queen wil veg.
Vertel ons nog, Ta, het ons hom aangespoor.
Ek en ’n Kapenaar het die dag verby die plaastuin geloop en die lekker groot geelwortels gesien. Dit was baie stil, nie ’n hond wat blaf nie. Ek het bo-op die klipmuur geklim wat om die tuin was en ek was net reg om af te spring en ’n paar wortels uit te trek toe – kwa! Dit het gevoel of iets teen my been stamp. Ek het afgespring en gehardloop. So in die hardloop het ek gedink: Vuurmaak, jy kan nie dood is nie want ek voel jy hardloop.
Toe ek by die Queen se wa kom, het die Kapenaar al daar vir my gewag. Sy naam was Gamat. Hy het my aangekyk met ongelowige oë.
Gamat, het ek vir hom gesê, het jy dan gevlie?
Nei, Oem, het hy gesê, Oem wiet hulle skietie mis nie.
Die Corporal het gesê dis net ’n vleiswond.
My kinders, het Ta Vuurmaak vir ons gesê, ek is mos nie dom nie, die plek was al lank gesond toe dra ek nog altyd die linnebande om my been. Wanneer ons iets moes doen waarvoor ek nie lus was nie, het ek gemaak of ek nie op die been kon trap nie. En ek het net te lekker gevoel as Chai sê: Laat staan die kruppelgat.
Terwyl hy die ou kwesmerk streel, het hy met sy glimlag sonder tande gesê: Dié is my eie waarheid.
Ons het Ta Vuurmaak aangekyk en elkeen sy eie ding gedink.
By die eerste plaashuis was daar net ’n ou ouma, ’n swanger vrou en twee klein dogtertjies, het Ta Vuurmaak vertel. Nie een van hulle het ooit gehuil of vir genade gesoebat nie. En toe het die ouma onthou dat die Bybel nog in die kombuis was. Sy het deur die vlamme teruggeloop.
Ek sê wat ek gesien het, my kinders, het Ta Vuurmaak in ’n gebroke stem gesê terwyl hy ons een vir een aankyk. Sy het uit die huis uit gekom, haar klere in vlamme, maar met die Boek so heel bokant haar kop. Die jong vrou het gehardloop en die Boek uit haar hande gevat.
Wat het toe gebeur, Ta Vuurmaak? wou een van ons weet.
Toe het die ouma in een groot vlam verander, haar rok was uitgebrand, en haar kappie was die laaste om aan die brand te raak, en ons het na daai ou gesig gekyk. Daar het nie ’n traan uit haar oë of ’n geluid uit haar mond gekom nie. Tot vandag toe, my kinders, sien ek daai gesig asof alles gister gebeur het.
Dit het alles so vinnig gegaan. Skierlik het die ouma op die grond