AHM Scholtz

Vatmaar


Скачать книгу

was donker. Ons het tot bo-op die koppie geklim en op twee klippe gaan sit. Ons het lank so doodstil gesit. Omdat ek niks gehad het om te sê nie, het ek stilgebly. Ek kon sy hart hoor klop want die nag was baie stil.

      My Ruth, by God, I really love you. God, please do not let anybody raise a finger on her. I love you, Ruth, Ruth, Ruth, het die Corporal skierlik gesê. Sy oë was toe en hy het hulle oopgemaak. Dit het my gelyk hy het vergeet ek was by.

      Ons het weer doodstil gesit. Toe sit hy sy hand op my knie en sê: Charlie, you are the only friend I have.

      Ons het weer ’n hele tydjie doodstil gesit. Toe dink ek as ek die man se swak plek agterkom, kan ek hom gebruik. Ek het aan die volgende plaashuis gedink wat ons Cape-boys môre aan die brand moes steek terwyl hy en sy manne sit en kyk. Ek het vir hom gesê: Corporal, wat sou jy gedoen het as ons Cape-boys op die perde gesit het en jy en jou manne moes jou Ruth se huis afbrand?

      Hy het nie geantwoord nie, net stil gesit. Toe het hy met ’n stuurs army-stem gesê: You, Charlie, must never think like that.

      Ek het gesê ek is jammer, maar ek is baie bly om sy vriend te wees en vriende vergeef mekaar.

      Ek het opgestaan om te gaan pis, met die idee dat hy ook sal opstaan en dat ons sou gaan slaap. Maar hy het bly sit, met sy elmboë op sy knieë en sy gesig in sy hande en net bly sê: Ruth, my Ruth.

      Hy het my Charlie begin noem toe hy my as sy vriend aangeneem het. Charlie, sê hy toe, I don’t see her blackness, you know.

      O, het ek gedink, dan was ek reg dat sy ’n swart meisie is.

      When we are together alone, she sits on my knee, with her hand in my hand. And we are one – I am not me and she is not she. Our heart beat is one beat, and we take breath inbetween beats together. There is no time for thinking, for time stands still. It is love, true love, Charlie. Our souls are united with God. How could I ever forget it? I say, thank you, God.

      Hy het opgestaan en gaan pis.

      Ek het weer op die klip gaan sit en dink aan ’n manier om nie die plaashuis hier anderkant af te brand nie, ’n huis wat ook liefde huisves. Die Boere sê tog ook: Ons dank U, God. En die plek het so onskuldig en huislik gelyk.

      Die Corporal het teruggekom en weer op sy klip gaan sit. Thank God, het hy gesê, that I have not taken advantage of her. Which I could have and sometimes wish I had.

      Corporal, het ek gesê, noudat ek dink ek weet wat in jou hart omgaan, sal ek vir jou vertel wat ek in gedagte het.

      Vuurmaak, het Oom Chai gesê, jy weet wat het by die ander vier plaashuise gebeur en hoe jy hier met jou gesteelde treinwatertenk beland het. So ek sal dit nie herhaal nie. Maar ek sal jou vertel wat ná Vereeniging gebeur het.

      Oom Chai vertel hoe hulle ná Vereeniging werk gekry het

      Ek wou nie teruggaan na ons huis in die Vrystaat nie, het Chai gesê, omdat ek gehoor het Steven, my ouer broer, veg saam met Generaal Joubert en dat die burgers almal ’n goeie woord vir hom het. En dan was daar nog jy, Vuurmaak, met ons goed hier naby die vlei. En hierdie Engelsman wat gesê het ek is sy vriend, ek kon ook nie van hom ontslae raak nie.

      Toe ons by die plek kom wat hulle noem die Military Headquarters, is die Cape-boys afbetaal en al ons name en adresse is opgeskryf sodat hulle ons oorlogsmedaljes kon aanstuur. Ons het almal ons adresse opgegee as C/o Du Toitspan Post Office. Ek het jou naam ook opgegee, want ek het gedink miskien het jy ook “next of kin”, soos hulle ’n mens se familie noem. Vir jou betaling, Vuurmaak, het ek ook geteken. Ek het gesê jy is dood en dat ek jou familie ken.

      Laat ons Ta se oorlogsmedalje sien, het ons kinders vir Ta Vuurmaak een Sondag na pensioendag gevra. Een wou weet: Hoeveel Boere het Ta doodgeskiet?

      Die ou man het net gelag, sonder om sy mond oop te maak. Chai het vir my my geld gebring. Die medalje het ek geruil vir ’n bottel sjerrie, het hy gesê.

      Die Corporal, het Oom Chai verder vir Ta Vuurmaak vertel, het gesorg dat ek drie maande langer betaal word as wat ek gewerk het omdat ek sy enigste vriend was. Die Corporal het ook uit die army bedank omdat hy gesê het dat hy nou gewoond is aan die son en hy nie meer sou aanpas in die plek waar hy vandaan kom nie. Die army-captain het gesê: Corporal, you have fought for the Queen, and South Africa is now part of the British Empire.

      Die Corporal het nie soos ons geld gekry nie maar wat hy genoem het ’n Barclay-tjekboek.

      Now, het hy vir my gesê, not a day longer. En weg is ons met die trein na sy Ruth toe.

      Terwyl ons van die stasie af loop met ons hold-alls met al ons besittings in, het hierdie Ruth vir George sien aankom – hy het op die trein gevra dat ek hom George Lewis moet noem, nie meer Corporal nie.

      Hy het van my af begin weghardloop en ek het iemand na hom toe sien hardloop. Hy het hierdie hollende ding gevang, dit in die lug gegooi en weer gevang. Toe staan hy stil en hou dit vas soos ’n ma ’n pasgebore baba vashou. Ek het nader gegaan, maar hy het my nie gesien nie, toe loop ek maar verby.

      Ek het onder ’n boom gaan sit en gesien hoe dra hy hierdie Ruth van hom na waar ’n klomp mense staan en hande klap en oeloeloe-sing. En ek het ’n ou man hoor sê: Hy is een van ons.

      Hy het haar neergesit. Van waar ek gesit het, het sy nes enige ander swart meisie gelyk wat by witmense in die huis werk. Toe ek nader gaan, het ek gesien sy is kaalvoet, met net ’n dun, skoongewaste wit rok aan. Dit was ’n koue dag maar sy het nie die koue gevoel nie. George, soos Corporal Lewis gevra het ek moet hom noem, het my aan al die mense voorgestel as sy vriend Charlie.

      Toe kon ek vir Ruth sien soos sy is. Haar swaaistap was lewendagger as dié van ’n gewone vrou. Sy het meer een-vir-jou-en-een-vir-my gegee. Haar borste was vol en het twee punte onder haar rok gestaan. Haar nek was lank en dun. Haar gesig was van Afrika – perfekte tande en skoon wit oogballe. En sy het ook iets van haar eie gehad, iets bokant mooi.

      Hulle het vir ons ’n skoon hut gegee met ’n kom en beker water en twee grasmatte. En hulle het gesê: Dit is julle s’n solank julle by ons oorbly.

      Die mense was arm want hulle het baie in die oorlog verloor. Brit en Boer het hulle vee gevat. Die meeste van hulle het nikswerd kwitansie-papiere gehad vir beeste of skape wat in die naam van die Queen van hulle gesteel is. En die Boere het gevat net wat hulle wou en gesê: Julle kaffirs kan bly wees dat ons julle nie eers geskiet het nie.

      Ons is toe na die ngosi, die hoofman. George het ’n bottel brandewyn saamgebring vir die mans in Ruth se familie, maar hy moes dit met die hoofman deel. Dit was ook maar goed, want so het ons sy guns gewen. Hy het vir ons alles vertel wat ons wou weet oor die trougebruike van sy mense. Hy was een van die min wat kon Engels praat. Hy het gesê hy sou die volgende oggend iemand na ons toe stuur wat die troue sal reël en ’n plek sal aanwys waar George sy hut kon bou en ’n veekraal en ’n ploegland kon begin. Natuurlik ná hy die bogadie betaal het.

      Na ’n paar keer se “e Ra, e Ra” (ja, Mineer, ja, Mineer) is ons weer weg by die hoofman. Maar George wou eers vir sy Ruth gaan nagsê.

      Die volgende dag het ’n ouma en ’n jong man ons kom sien. Die ngosi het hulle gestuur om die troue aanmekaar te sit. Die man het gekom om te tolk. Die ouma wou nie hê dat Ruth enigiets met die reëlings te doen het nie.

      George het eers ’n lys gemaak van alles wat nodig was. Daarna het hy die goeters vir die bogadie in sy sakboekie opgeskryf. Ruth se mense wou tot ’n ekstra driebeenpot, brandewyn en twak hê. Toe het die jong man vir George die prys van elke ding gegee.

      Ek weet nie meer presies hoeveel nie, maar dit was na aan die honderd pond. Hy moes dit die volgende oggend by die bank in Vryburg gaan trek. Na hy die aand by Ruth was, het hy kom sê sy gaan een van haar rra mogolo, grootooms, vra om saam met ons en die twee trou-aanmekaarsitters na die ngosi te gaan om die geld te oorhandig.

      Die volgende oggend het ons in Vryburg sit en wag vir die Barclays Bank se deure om oop te gaan. Die deure was net oop toe skreeu iemand: Hey, Corporal Lewis, I want to see you!

      George het