soos ek gedink het, het dit deur Bet se kop gegaan. Ek is al byna die hele middag by haar en sy het nog nie een keer na my Flippus gevra nie, die man wat gedoen het wat ek hom gevra het. Dis die eerste keer lat ek ’n man gevra het om iets vir my te doen, en hy het dit gedoen en om te dink dis so gevaarlik, as hulle hom gevang het, het hulle hom vir altyd toegesluit. Ek kan wen of verloor, maar dit sal met die diamante in my hand wees.
Bet het die naald, met die garedraad klaar deur die oog gesteek, uit die garetolletjie getrek en die draad met haar tande afgebreek. Sy het ’n knoop gemaak en die naald aan haar rok vasgesteek. Die rok, wat hier en daar gelap was, het eens op ’n tyd ’n kleur gehad maar nou was dit net vuilwit.
Haar siesie het voor haar op die grond gesit soos ’n ou vrou sit: op haar sy met haar bene langsuit na die kant toe. Bet het haar rok opgelig en die rooi sysakdoek uitgehaal.
Waar sy daai rooi sakdoek kry, weet ek nie, het Siesie gedink.
Bet het die twee diamante gevat en in die sysakdoek gesit en dit in ’n blokkie van een en ’n half duim by een en ’n half duim gevou en vasgewerk. Toe vra sy vir Siesie Lena om die klip weer op te lig. Sy het haar hand om die rooi pakkie toegevou sodat haar Siesie dit duidelik kon sien en toe die toe hand onder die klip ingesteek. Toe trek sy haar hand terug en maak dit oop sodat Siesie Lena kan sien sy het dit onder die klip gelos. Maar intussen het sy die rooi pakkie in haar ander hand vasgehou.
Hulle het altwee gelag en Siesie Lena het gesê: Kom ons loop, ons wil nie hê hulle moet ons hier sien nie.
Sonder om verder te praat is hulle daar weg. Waar die paaitjie vurk en hulle uitmekaar moes gaan, gaan hulle staan en Bet sê: Net ek en Siesie weet.
Jy’s ’n goeie kind, sê Siesie Lena. Die volgende dag na werk het sy vir Janman gaan sien. Ons het dit reggekry! het sy vir hom gesê.
Hoe groot en hoe lyk hulle?
So – en sy wys hom haar duimnael. En so – en sy wys die helfte van die nael. ’n Gele en ’n witte.
Wys weer, my Ma, het hy gesê. Dan móét ek vir Ma glo.
Sy het haar voorvinger in haar mond gesit en dit só uitgetrek dat dit ’n suiggeluid maak. Sowaar, het sy op die Griekwa-manier gesweer en haar twee wysvingers gekruis, wat beteken: Ons lieg nooit.
Ons het ’n klomp dinkwerk, my kind, het sy gesê. Maar ons los dit vir Sondag. Jy weet waar.
Sê my, my Ma, waar is die klippe? Het Ma hulle?
Sy het nie geantwoord nie. Sy het net haar hand op sy skouer gesit en gesê: Naand, Janman.
Daardie week het Oom Flip ’n paar diamante bo-op die diamantgruis sien lê. Hy het hulle vir die baas gaan gee. Maar dit was klein diamantjies.
Jy is die beste kaffir in die land, het Oubaas Swartz gesê.
Ek kon hulle ook gevat het, het Oom Flip by homself gedink, maar my Bet het gesê ek moet dit nie weer doen nie.
Daardie Sondagmiddag was Bet weer voor Oom Flip onder die boom. Sy was verbaas om te sien dat iemand die klip omgekeer het en vergeet het om dit weer regop te sit.
Ek weet wie dit is, van nou af sal ek nog versigtiger met haar wees, het sy vir haarself gesê.
Oom Flip het gekom en die skaduwee was vol van hulle twee se saamwees. Hulle het min gepraat en net oor wat hulle al in hulle se lewens oorgekom het – nie oor diamante nie want hulle het maar min van diamante geweet, net dat dit gevaarlike goed is. En ons wil nie hê die gevaar moet ons bang maak nie, het Sus Bet gesê.
Hulle het albei van ander plekke af hierheen gekom en hulle het geweet daar is beter plekke as die diamantdelwerye. Plekke waar jy ’n kossie kan plant en oes, waar jy iets in die grond kan sit en seker wees wat daar sal opkom.
Hulle het baie gepraat van weggaan van hierdie godverlore plek en sy mense af. Vandat hy sy Bet ontmoet het, het Oom Flip ’n ander soort lewe leer ken en hy wou nou vry wees om vir homself te kan werk. Maar hoe en waarheen om te gaan het hulle nie geweet nie, daarom het hulle maar tot groettyd toe hande sit en vashou. Dit het darem ’n bietjie getroos. Nie een van die twee was geleerd in godsdienstige sake nie en hulle God was nie dieselfde in hulle gedagtes nie. Elkeen het sy eie prentjie gehad van ’n Groot Gewer van dit wat goed is, maar hulle gebede was dieselfde: Help my, Vader. En die meeste van die tyd het hulle Vader hulle gehelp.
Sonder om te groet maar met haar hand styf in syne, het Flippus gesê: Ons gaan die Here vra.
Hy het haar hand gelos en weggeloop.
Onder die ander boom het ’n ma en seun gesit. Die seun was baie opgewonde want hy het een van hulle se mense wat van Du Toitspan af kom, ontmoet. Die man het by die Barkly-Wes-delwerye gewerk en daar, het hy vertel, is ’n diamantkoper wat al twee keer by hom diamante gekoop het. Met die laaste diamant se geld is hy terug Du Toitspan toe om sy huis reg te kry, want hy het ’n vrou en twee kinders. Hy kon alles koop wat hulle nodig gehad het en toe ook nog ’n klompie bokke en ’n melkkoei om hulle aan die gang te hou. Nou was hy weer terug. Klippe, het hy gesê, is baie skaars op Barkly-Wes. Daarom het hy nou hier in Bakerville kom werk soek.
Wat is sy naam? het Siesie Lena gevra.
Jakob Kierie.
Ek ken nie daai naam nie, het sy gesê.
Siesie Lena was stil en baie bekommerd want sy het net een gedagte gehad: Waar’s daai rooi sakkie? Sy het al die praatwerk aan Janman oorgelaat. Toe vra sy hom: Het hy jou die naam gegee van die diamantkoper?
Ja, my Ma. Mister Hall-Stone.
Ja, het sy gesê. Ek het Mister Goodall al vir sy vrou hoor sê Hall-Stone in Barkly-Wes betaal beter vir diamante as hierdie velskoen-diamantkopers van Bakerville.
Nou het ons die koper en nie ’n diamant nie, het Siesie Lena gedink en gesug.
Ek hoop Jakob Kierie kry werk. Ek het hom vertel Ma is ook hier op die delwerye. Hy’t gesê hy sal Ma graag wil ontmoet.
Skierlik staan Janman op en sê: Ma, ek loop nou.
Siesie Lena het op die klip bly sit totdat dit byna donker was. Sy het vir haarself gesê: Die gedagte vreet my op. Ek moet môre vir Bet gaan sien.
Maandagmiddag het Siesie Lena ’n ou handdoek vir Bet gevat. Sy het dit los gedra sodat almal kon sien daar’s niks in nie. Bet was besig om saam met haar ounooi komberse uit te skud omdat die September-winde die pandok so vol stof waai.
Marag, Ounooi, die stof maak ons klaar, my Ounooi, het Siesie Lena gesê.
Ja, my Oumeid, dis die laaste kombers, dan kan jy en Bet sit en kekkel.
Siesie Lena en Bet het gelag. Ek het vir jou ’n handdoek gebring, my kind, het Siesie Lena gesê. Dis oud, maar ’n mens kan dit nog goed gebruik.
Sy het dit in Bet se krot gaan sit en die kans gebruik om vinnig rond te kyk en te soek. Daar was nie veel nie. Sy het die ou vel op die grond en die kombers op die bed opgelig en in die grond gekrap met haar vingernaels, maar dit was te hard. Sy wou net die kombers uitskud toe Bet by die deuropening inkyk.
Ja? het sy gelag.
Siesie Lena skrik so groot sy kan nie ’n woord uitkry nie.
Bet het buite staan en wag dat haar siesie uitkom. Die ouer vrou het hande-viervoet uitgekruip want die deur was maar so hoog soos ’n tafel. Bet het haar hand gevat en haar opgehelp. Toe sy regop staan, sê haar siesie: Wat ’n nare slaapplek. Maar jy ken nie beter nie.
Eendag sal ek wel, sê Bet. My werk is nou klaar. Kom ons gaan na jou plek toe waar ons deur die deur kan loop.
Siesie Lena het Bet se hand gevat asof dit ’n kind s’n was. Kom, my kind, het sy gesê. En Bet het na haar gekyk met oë wat sê: Ek vertrou jou nie.
Hulle het stadig geloop, albei ingedagte.
Het jy nog die rooi sakkie?
Ja, het Bet gesê, Sondag toe ek by onse boom kom, was die klip omgegooi en daar lê die sakkie in die gras.