Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 14


Скачать книгу

tant Lerina op ses-en-tagtig sien, tant Grietjie? Sy sal nie tussen ’n egte en ’n vals dokument kan onderskei nie,” kom dit skepties van Christelle.

      “Nou raak jy ’n bietjie persoonlik, Christelle,” sê Grietjie geraak. “Juffrou Lerina het ’n leesbril, maar sy kan nog sonder ’n bril televisie kyk. Sy is nie ’n hulpelose, seniele ou tannie nie, kind, sy sal nie ’n onbetroubare man in diens neem nie.”

      “Ek weet, tannie, maar ek is nogtans bekommerd. Ek is oortuig hierdie man wat hom voordoen as Floors Venter is iemand anders. As tannie die wesvleuel sal oopsluit, sal ek tannie wys waarom ek so sê,” hou Christelle vol.

      Grietjie frons ongelukkig. “Hoe kan ek, Christelle? Die wesvleuel is nog al die jare verbode terrein.”

      “Om liefdeswil!” Christelle maak ’n moedelose handgebaar. “Ek het jare lank in Huis Groeneweide gewoon terwyl my ouers oorsee gewerk het, tant Grietjie. Ek het tannie dikwels gehelp om die wesvleuel skoon te maak. Ek wil nie in laaie krap of in hangkaste loer nie. Daar is iets in die gang wat ek vir tannie wil wys, dis al.”

      Grietjie kyk Christelle oomblikke lank oorwegend aan, klik haar tong ongeduldig en haal haar bos huissleutels uit haar groot roksak. “Nou kom dan, hartjie, kom. Jou siel sal nie tot ruste kom voordat jy jou nuuskierigheid bevredig het nie.”

      “Mag ek saamkom, tant Grietjie?” vra Wiandri hoopvol.

      “Ja, kom, kind, maar jy bly by my. Ek sal nie ’n gesnuffel in juffrou Lerina se spesiale plek toelaat nie,” antwoord Grietjie kwasterig en stap vooruit.

      Wiandri volg Grietjie en Christelle die wesvleuel binne en kyk teleurgesteld om haar rond. Dis net ’n breë gang soos in die res van die huis, met stokou foto’s in stokou rame teen die mure – portrette van oorlede mense. Sy kyk vraend na Christelle wat gretig vooruit stap en skielik in haar spore tot stilstand skok.

      “En nou, Christelle, hartjie? Waar is die ding wat jy ons wil wys?” vra Grietjie nuuskierig.

      Christelle beweeg stadig af in die gang, keer terug en loop van portret tot portret, ’n frons kepend tussen haar wenkbroue. “Dis nie hier nie, tant Grietjie. Ek kan nie onthou presies waar die portret gehang het nie, maar ek weet dit was hier êrens,” antwoord sy met sekerheid.

      “Jy praat van meer as dertig jaar gelede, my liewe kind. Vertel my wat jy soek en dalk kan ek jou help,” bied Grietjie aan.

      “Die portret van oom Fanie toe hy ’n jongman was. Onthou tannie nie? Hy het witblonde hare en donker oë en wenkbroue gehad, en hy was een van die aantreklikste mans wat ek nog ooit gesien het. Ek bedoel, toe hy jonk was.”

      Grietjie vat haar hande op haar maag saam en lag Christelle goedig uit. “Goeistetjie, liefie, Fanie was ’n stokou man met spierwit hare, nie witblonde hare nie. Hoe sou jy in elk geval die verskil geken het? Die portrette is almal wit-en-swart, nie kleurfoto’s nie.”

      Christelle ignoreer haar, haar neus byna teen die muur. “Hier! Kom kyk, tant Grietjie. Daar is ’n lang reghoek op die muur wat witter is as die res. Dis hier waar oom Fanie se portret gehang het. Waar is die portret nou, tannie?”

      Wiandri beweeg saam met Grietjie nader, sien die witter deel en kyk vraend na Grietjie. “Wie is oom Fanie, tant Grietjie?” vra sy nuuskierig.

      Grietjie ignoreer haar vraag, knip haar oë aanhoudend asof sy moeite ondervind om te sien en glimlag onverwags. “A, nou onthou ek. Dit was die portret van Emily Thornton! Dit het al die jare hier gehang, Christelle, maar met al die afstof en werk, het ek die portret op ’n dag laat val. Die glas het gebreek en die portret is so beskadig dat ek dit in een van die solderkamers weggepak het. Maar ek verstaan nie, hartjie. Wat het onse Floorsie met ou Emily Thornton te doen?”

      Wiandri sien hoe Christelle aanhoudend sluk, haar lippe hard saamgepers asof sy haarself moet dwing om nie uiting aan haar ergernis te gee nie. “Christelle, ek sal jou help om na die foto te soek,” bied sy aan, jammer vir Christelle, maar terselfdertyd oneindig verlig dat sy niks teen Floors kan bewys nie.

      “Nee … nee, vergeet dit, Wiandri. Ek het my seker misgis. Dankie vir jou moeite, tant Grietjie,” sê Christelle gesmoord en stap vinnig weg in die gang.

      “Christelle gaan nie só maklik tou opgooi nie, Wiandri,” praat Grietjie sag langs haar. “Dis ’n groot jammerte dat sy Floorsie vandag gesien het, want sy gaan aanhou karring om agter die waarheid te kom. Ons moes die seun gevra het om sy hare swart te kleur.”

      “Lyk Floors soos iemand wat lank gelede in die wesvleuel gewoon het, tant Grietjie?”

      “Net toevallig, ja, hartjie. Ons moes seker geweet het Christelle sal nooit vergeet nie en nog minder vergewe. Wiandri, jy is na aan Christelle. Jy sal haar moet oortuig dat Floors ’n liewe, goeie man is wat net probeer om sy brood op ’n eerlike manier te verdien. Sal jy so maak, my engeltjie?” pleit Grietjie.

      “Ja, tannie,” antwoord sy en stap tobbend saam met Grietjie in die gang af. Tant Grietjie wil nie haar vrae beantwoord nie, maar noudat sy wat Wiandri is van dié oom Fanie weet, sal Floors dalk bereid wees om te praat. Of sal Christelle gewillig wees om haar meer oor Emily Thornton en oom Fanie te vertel? wonder sy hoopvol, en loop onwillekeurig vinniger.

      Wiandri stap vroegoggend die perdestalle binne, steek haar hand uit om die daklig aan te skakel en skrik haar asem weg toe Floors gedemp langs haar beveel: “Moenie!”

      “Floors! Ek sal jou met die hooivurk aanrand as jy my ooit weer so groot laat skrik!” dreig sy op fluistertoon, besef dat dit moeilik is om rusie te maak as ’n mens fluister, en vra vies: “Hoekom fluister ons?”

      “Omdat Christelle hier was,” antwoord hy sag, die warmte van sy asem soos ’n intieme liefkosing in haar oor. “Ek gaan in die boothuis wegkruip. Ek het Rakker klaar opgesaal vir jou. As jy oor ’n halfuur na die boothuis toe kan kom, bring asseblief vir my kos saam. Ons sal daar praat.”

      Sy kan nie sy gelaatstrekke duidelik onderskei in die skemering van die stal nie, maar dis asof sy die fisieke krag van sy breë skouers en gespierde liggaam, die hitte en besonderse manlike geur van sy vel, die essensiële hy, kan aanvoel asof sy aan hom raak. Voel hy dit ook? wonder sy, raak bewus van haar gebroke asemhaling en kug saggies.

      “Sal jy kom, Wiandri, of het sy jou oortuig ek is ’n skurk?”

      “Ek kom sodra ek kan,” beloof sy.

      “Wag ’n paar minute voordat jy die stallig aanskakel,” sê hy en glip geluidloos by die staldeur uit.

      Wiandri volg hom met haar oë totdat hy in die skadu van die ou waenhuis verdwyn, draai terug om die lig aan te skakel en versteen waar sy staan toe sy naderende voetstappe op die kegelstene hoor. Dit kan net een van die werkers wees, dink sy dan, onthuts oor haar onnodige vrees, en skakel die stallig aan.

      Sy bly voor Rakker se staldeur staan, streel oor haar nek en hou ’n appel op haar handpalm na die merrie uit, die klank van die naderende voetstappe nog in haar ore.

      “Floors? Ek wil …” begin Christelle, sien Wiandri en glimlag met haar gebruiklike warmte. “Goeiemôre, my poplap. Het jy lekker geslaap?”

      “Te lekker,” antwoord Wiandri laggend, en wens hartstogtelik dat Christelle nie so agterdogtig was oor Floors nie. Sy is baie lief vir Christelle, maar sy moet skielik kies tussen haar lojaliteit teenoor haar peetma en ’n onbekende man wat sy in ’n oogknip liefgekry het, dink sy spytig, en vervolg met gedwonge lighartigheid: “Ek kon gisteraand aan tafel omtrent nie my oë oophou nie, so ek het vroeg gaan inkruip. Het julle tot laat gesels?”

      “Nee, die tannies is ook vroeg bed toe. Ek dink die opwinding van om jou tuis te hê het almal uitgeput.” Christelle kyk soekend om haar rond. “Ek sien jou perd is reeds opgesaal. Waar is Floors?”

      “Ek het hom gistermiddag gevra om Rakker vroeg op te saal, want ek geniet dit om voor ontbyt te gaan perdry, maar ek het hom nie vanoggend gesien nie,” antwoord Wiandri en weet dis amper die waarheid, want sy kon Floors nouliks in die skemerdonker stal sien. “Ek sal Prinses opsaal as jy saam met