tog?
Wiandri hou op hardop voorlees toe Christelle, geklee in haar rydrag en met ’n onweersuitdrukking op haar gesig, laatmiddag Lerina se sitkamer binnekom en op ’n gemakstoel neersak.
“Kry ons sambrele, Grietjie,” sê Lerina aan Grietjie wat oorkant haar by ’n klein tafeltjie sit, besig om saam met haar ’n legkaart te bou. “Die storm gaan nou enige oomblik oor ons uitbars.”
“Blaas af, Christelle, en eet een van juffrou Lerina se pepermente. My malvalekkers is ’n bietjie min, so ek deel hulle met niemand nie,” sê Grietjie en trek die bakkie malvalekkers besitlik nader aan haar.
“Waar is hy, tant Lerina?” vra Christelle met bytende ongeduld.
“Ben is seker saam met Truia in hulle tuinhuis. Saterdagmiddae …” begin Lerina rustig.
“Ek praat van Floors Venter – of wie hy ook al is!” val Christelle haar ontstoke in die rede.
“My liewe kind, hoe sal ek weet?” vra Lerina verwonderd. “Huis Groeneweide staan op ses hektaar grond en dis onmoontlik om te raai waar die seun hom op die oomblik bevind.”
“Ek het Groeneweide vanoggend reeds platgery, maar nie een van die werkers het hom gewaar nie. Daarna het ek op die dorp en op al die naburige plase navraag gedoen, maar julle Floorsie het soos ’n groot speld verdwyn.” Christelle wend haar tot Grietjie en vra nydig: “Het jy hom gewaarsku dat ek weet wie hy werklik is, tant Grietjie? Is dit waarom hy die pad gevat het?”
“As ek nie so ’n lui vrou was nie, ou kintatjie, het ek nou opgestaan en jou ’n taai klap gegee,” antwoord Grietjie sonder om werklik vies te klink. “Dis naweek, Christelle, en Floors kan kom en gaan soos hy wil. Wag tot Maandagoggend as jy so gretig is om agter die seun aan te draf.” ’n Onnutsige laggie glip oor haar lippe en sy vervolg uittartend: “Maar hy is ’n bietjie jonk vir jou, Christelle. Dalk sal onse Wiandri beter by hom pas.”
“Stil nou, Grietjie,” beveel Lerina en kyk vraend na Christelle. “Waarom dink jy Floors het ’n ander naam, Christelle? Het hy ’n ander naam gehad toe jy hom vroeër ontmoet het?”
“Ek het hom gister vir die eerste maal gesien, tannie, maar ek weier om te glo dat hy net toevallig die ewebeeld van Fanie de Nyschsen is en net toevallig onder ’n vals naam op Groeneweide werk. Ek vertrou hom nie en dit sal uiters dwaas wees as tannie hom vertrou,” waarsku Christelle.
“Jy praat in raaisels, Christelle. Floors is in my diens en ek weet wie hy is. Ek vertrou hom volkome,” antwoord Lerina met oortuiging.
“Maar hy lyk net soos die De Nyschsens, tant Lerina! Ly tannie net soos tant Grietjie skielik aan geheueverlies? Het tannie skielik van oom Fanie vergeet?” vra Christelle driftig.
Lerina sit roerloos stil, staar oomblikke lank na die legkaart en kyk eindelik op na Christelle. “Die ouderdom het my ’n waardevolle les geleer, Christelle: Die verlede is nie belangrik nie. Ek leef in die oomblik, loop elke dag die paar treë wat ek kan sien, maar kyk nie terug na die lang pad agter my of die onbekende pad voor my nie. Ek stem saam: Floors trek op wyle Fanie, maar hy is nie Fanie se tweelingbroer nie. Waarom sal Floors voorgee dat hy ’n De Nyschsen is, bloot omdat hy blond is met donker oë?”
“Christelle, hartjie, ek raak nou kriewelrig van die ergernis,” kom dit vies van Grietjie. “Wat pla jou nou eintlik, my engeltjie? Is jy kwaad omdat Floors nie ’n De Nyschsen is nie, of hoop jy hy ís ’n De Nyschsen sodat jy hom kan vra om met jou te trou?”
“Ek wil weet wat ’n De Nyschsen op Groeneweide kom soek as hy nie wil erken dat hy ’n De Nyschsen is nie!” antwoord Christelle, hees van ergernis.
“Ek kan nog nie sien hoe die situasie jou raak nie, Christelle,” sê Lerina ongesteurd. “Floors is in my diens, nie joune nie. Selfs al was Floors ’n De Nyschsen, sou hy net so welkom in my huis en op my grond gewees het. Jy het erken jy het Floors gister vir die eerste maal ontmoet, my kind. Het hy jou enige rede gegee om hom te haat?”
“Nee, maar ek wantrou hom, want ek …” Christelle breek haar sin stomp af, maak ’n afwerende gebaar met haar regterhand en staan op. “Ek gaan stort en anders aantrek. Dis duidelik dat tannie-hulle nie die erns van die situasie wil insien nie.”
“Ek kom saam met jou, Christelle,” sê Wiandri en volg Christelle vinnig die sitkamer uit.
“Moenie na my kyk asof ek drie oë en ’n groen baard het nie, Wiandri,” versoek Christelle met ’n halfhartige glimlaggie toe Wiandri in die gang by haar aansluit.
“Ek probeer net verstaan waarom jy Floors en die De Nyschsens haat, Christelle,” antwoord Wiandri onbegrypend.
Christelle bly staan en sê met kille nadruk: “Tant Lerina is nooit getroud nie, maar sy het Fanie de Nyschsen met haar hele hart liefgehad. Ek is seker Floors is Fanie de Nyschsen se kleinseun en speel hy sy kaarte reg, erf hy Huis Groeneweide en alles wat tant Lerina besit!”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.