gestudeer om hierdie pragtige halssnoer en oorbelle te verdien,” verduidelik Lerina.
“My ma se juwele … Sy het dit gedra, daaraan geraak,” mymer Wiandri sag en streel met ligte vingerpunte oor die glinsterende halssnoer. Sy kyk op na Lerina en vervolg gretig: “Ek wed sy was net so bly en verras soos wat ek nou voel toe my pa dit vir haar gegee het. Ek sal dit nooit verloor nie, tannie. Baie, baie dankie. Dit bring hulle nader aan my – asof ek my pa en ma werklik geken het.”
“Ek hoop heimlik dat ek daar sal wees as jy die juwele op jóú troudag dra, Wiandri,” sê Lerina huiwerig, sien Wiandri frons en gaan haastig voort: “Maar moenie jou aan my praatjies steur nie, kind. Ons oumense is dol op troues en begrafnisse en enige ander funksie waar koek en tee bedien word. Ek verwag werklik nie van jou om met ons liewe Floorsie te trou nie – nie nadat hy jou twee maal ’n onverwagte bad gegee het nie.”
Wiandri frons onthuts. “Hoe weet tannie daarvan? Het die simpel Floors stories aangedra?” vra sy vies.
“O nee! Floors is veels te besig om al jou tasse aan te dra huis toe en langs jou deur op te stapel om sy asem op stories te mors. Jy ken die langasem Wessie: stuur vir my ’n boodskap op die selfoon en vra ek moet haar bel, en ek het nie die hart om haar te ignoreer nie.” ’n Onkeerbare laggie glip oor Lerina se lippe. Sy byt spytig op haar onderlip en lag weer. “Vergewe my, kindjie, maar Wessie het so tekere gegaan oor Floorsie wat jou in jou nat kleertjies beloer het en die bose, onkundige Grietjie wat niks van mans weet nie, dat ek nie anders kan as om te lag nie.”
“Ek was te kwaad en te nat om my oor my voorkoms te bekommer, totdat tant Wessie daarvan melding gemaak het. Floors is in elk geval te dom om na enige meisie te loer.” Wiandri swyg en vervolg onseker: “Ek bedoel, Floors is nie werklik dom nie, maar hy het beslis nie na my gekyk nie.”
“O nee, liefie. Floors het gekyk, want net ’n baie dom man sal nie na jou kyk nie, en Floors is beslis intelligent,” verklaar Lerina met sekerheid.
“Is hy, tant Lerina? Wat doen hy as hy nie Floors is nie?” vra Wiandri skepties.
“Die werk waarvoor hy opgelei is,” antwoord Lerina sonder om ’n oog te knip en draai weg na die deur. “Versteek jou juwele in die geheime laaitjie van jou lessenaar, my kindlief, en trek ’n borsel deur jou hare. Dis etenstyd.”
“Liewe land, hoekom is Floors se werk ’n staatsgeheim, tant Lerina? Hoekom is sy náám ’n staatsgeheim?” roep Wiandri vieserig terwyl sy stap na haar lessenaar en die laai uittrek. “Al die onnodige geheimsinnigheid! ’n Mens sou sweer Floors is die hertog Florentius van Venterikius wat deur sluipmoordenaars agtervolg word en vir sy lewe vrees!” roep sy hard toe Lerina nie reageer nie.
Wiandri stamp die lessenaarlaai toe, draai ergerlik na haar kamerdeur en sien Floors met ’n tas in elke hand in die oop deur staan.
“Jammer, Floors,” kom dit spytig van Lerina, wat die deur vir hom oopgemaak het. “Jou geheim is nog veilig, kind, want ons personeel is almal in die kombuis besig of na hul eie huise toe vir middagete.”
“Tannie het my laat verstaan sy is ’n bedagsame, liewe meisie,” verwyt Floors haar bitter, “maar sy is ’n sarkastiese, snipperige, astrante klein pes met ’n blikstemmetjie wat tant Wessie soos ’n siek kuikentjie laat klink. Sal tannie omgee as ek haar in die visdam verdrink?”
Lerina byt ’n glimlag op haar onderlip weg en antwoord redelik: “Dis ’n bietjie drasties, Floors. Ek het tog begrip vir Wiandri se frustrasie. Dit moet irriterend wees om omring te wees deur soveel geheimsinnigheid. Sal jy haar nie in jou vertroue neem nie, kind?”
“Nooit nie, tannie!” antwoord hy met grimmige finaliteit en kyk met smeulende, donker oë na Wiandri. “Verwys nog net een maal na my as Florentius, meisiekind, en ek … ek …”
“Ja, Floorsie?” vra Wiandri met ’n sonnige glimlaggie.
Floors lig sy hande op asof hy haar met haar eie tasse wil gooi, plak die tasse haastig naas die spieëltafel neer, en sê bruusk: “Jy kan self die res van jou tasse indra, meisiemens. Juffrou Lerina, ek sal voortaan in my eie woonstel eet.”
“Ek verstaan, Floorsie,” antwoord Lerina met ’n suggie en druk die deur agter hom toe voordat sy na Wiandri draai. “Dis so ’n netelige situasie, my liefie.”
“Ek wil net weet wie Floors werklik is en wat sy werk is. Op die oomblik wonder ek of hy ’n voortvlugtende terroris is, want niemand wil eerlik wees met my nie,” antwoord Wiandri, borsel haar hare voor haar spieëltafel en draai vraend na Lerina. “Ek is al mondig, tannie. Ek glo nie meer aan Kersvader en die Paashasie nie. Hoekom moet ek nou aan Floors glo?”
“Floors het reg op sy privaatheid, kindjie. Ek het beloof om sy identiteit tot tyd en wyl geheim te hou, en dis presies wat ek gaan doen. Ek het so gehoop jy en Floors kan vriende wees, goeie vriende, maar nou ja …”
“Hoekom?” vra Wiandri skerp. “Het tannie besluit hy is die man met wie ek moet trou?”
“Genade toggie! Ek is skuldig aan baie sondes, kind, maar ek is nie so voortvarend nie. Dalk hoop ek jy sal met Morné Greeff trou, bloot omdat julle saam grootgeword het, maar ek het nie vir Floors genooi vir ’n kuiertjie omdat ek glo hy is die regte man vir jou nie. Hy hoop om ’n goeie werk te kry en ek help hom, bloot omdat ek jare gelede sy mense geken het. Kom ons gaan eet.”
En nou is tant Lerina vies vir haar en dis alles die geheimsinnige Floors se skuld. Nee, dis haar eie skuld. Sy was kinderagtig om soos ’n nuuskierige agie op te tree, speel sy oop kaarte met haarself en vat tant Lerina aan die arm terwyl hulle in die gang af stap na die trap. “Ek is jammer, tannie. Ek sal ophou karring oor Floors. Ek sal vanmiddag by matrone Le Roux gaan inloer en hoor of sy nie my hulp in die hospitaal nodig het nie.”
“Dan is jou peetma nou matrone Le Roux, in plaas van net Christelle?” vra Lerina met ’n tergende glimlaggie.
“As ek in ons hospitaal werk, sal ek haar as matrone moet aanspreek. Ek oefen net solank.” Wiandri glimlag ingenome. “Dit sal pret wees om ná die groot stadshospitaal in ’n privaat hospitaal te werk – ás ek werk kan kry. Het sy niks vir tannie gesê nie?”
“Christelle weet jy kom vandag huis toe. Sy sal wel kom inloer. Maar hoekom is jy so haastig om te begin werk, kindjie? Jy het ’n behoorlike vakansie nodig ná al jou studie – al is dit net om my geselskap te hou.”
“Ja, seker, tannie,” antwoord Wiandri afgetrokke, onrustig oor die ware rede vir haar gretigheid om te begin werk. Floors. Floors is hoekom sy nie in haar eie huis kan ontspan nie, want hy het ’n vreemde uitwerking op haar sintuie. Sy glo nie aan ’n chemiese reaksie tussen mans en meisies nie; sy glo nog minder dat sy aangetrokke voel tot Floors, selfs al geniet sy dit so om met hom rusie te maak en in sy enigmatiese diepbruin oë te kyk. As hy haar net met sy donker geheime wil vertrou … Dis tóg jammer Floors kan nie eens ’n klein bietjie van haar hou nie, dink sy, en sug sielsongelukkig.
Wiandri steek later die middag in die deur van Lerina se privaat sitkamer vas en sien Grietjie en Lerina by ’n tafeltjie sit, besig om ’n legkaart te bou, terwyl Floors op die breë, gestoffeerde vensterbank sit en voorlees.
“Tannie het altyd tot vieruur smiddae gerus,” sê sy afgehaal en verkwalik Lerina met haar oë.
“Rus?” vra Grietjie skepties. “Die oumens – ek bedoel, juffrou Lerina – het smiddae meer as twee uur lank op haar bed gelê en haar bekommer oor haar bloeddruk, haar hart en haar liddorings. Floors het besluit sy kan tot drieuur rus en daarna lees hy vir ons al ons geliefkoosde liefdesverhale voor terwyl ons legkaarte bou of brei of hekel.”
“Jy het nog nooit ’n steek in jou lewe gebrei nie, Grietjie, en jy weet nie hoe om ’n hekelnaald vas te hou nie. Ék bou die legkaart en jy verslind jou malvalekkers en steel my pepermente,” sê Lerina beskuldigend.
“Konsentreer op jou legkaart en hou op om kort-kort jou pepermente te tel, juffrou Lerina. Dis sonde om suinig te wees,” sê Grietjie betigtigend en draai met ’n ingenome glimlaggie na Wiandri. “Floors is wonderlik