onder die ruisende vervoerband. Dis nie baie wat uitmors nie, maar dis belangrik. Goud het die eienaardige manier om vanweë sy groter soortlike gewig sy pad deur ander materiaal te vind, ondertoe. As jy dit lank genoeg los, sal dit in die vaste aarde self in verdwyn.
Dis hierdie eienskap van goud wat deels verantwoordelik is daarvoor dat Joseph M’Kati so ingenome voel. Hy het tot by die einde van die vervoerband gevorder, heelpad langs gewas en gevee, en nou kom hy orent, sit sy besem eenkant neer, vryf met albei hande aan sy niere en kyk gemaak doodluiters rond om seker te maak dat daar niemand anders in die vervoerweg is nie.
Langs hom is die opslagbak waarin die vervoerband sy vrag stort. Die bak kan duisende ton vat.
Sodra hy seker is dat hy alleen is, sak Joseph hande-viervoet af en kruip onder die opslagbak in, ondanks die geweldige geraas van die vallende klip bokant hom, en kruip dieper totdat hy die gate bereik.
Dit het hom baie maande gevat om die koppe van vier klinknaels af te beitel wat die naat in die bak se bodem bymekaarhou. Só het hy daarin geslaag om ’n eenvoudige, maar hoogs doeltreffende swaarmedia-afskeier te bou.
Vry goud in die erts wat in die opslagbak gestort word, begin dadelik en vinnig sy pad deur die klip daaronder soek, aangedryf deur die vibrasie van die vervoerband en die bak as die erts daarin val, en dit vind Joseph se vier klinknaelgaatjies, waaronder hy ’n stuk plastiek uitgesprei het.
Die goudryke stof maak vier keëlvormige hopies op die plastiek, en lyk net soos swart roet.
So hande-viervoet plaas Joseph die swart poeier versigtig oor in sy tabaksak, sit die plastiek terug om die volgende filtrering op te vang, sit sy tabaksak in sy broeksak en skarrel onder die opslagbak uit.
Hy begin ’n tradisionele deuntjie fluit toe hy sy besem optel en weer met die eindelose taak van vee en afspuit begin.
17
Johnny de Lange merk sy skietgate uit. Hy lê op sy sy in die lae werkgang van seksie 27 en bereken met die blote oog die hoek en diepte van sy ontploffings om ’n effense bult in die sywand gelyk te maak.
In Sonderkloof het hulle net een afskieting per dag. Een plofreeks per dag, sentraal afgevuur. Johnny se betaling hang af van die vaammaat, die volume klip wat gebreek en uit sy werkgang gehaal word. Hy moet daarom sy skietgate só stel dat hy die maksimum ontwrigting en verbrokkeling in die rotswand bewerkstellig.
“Hier,” prewel hy, en merk die gat se posisie met rooi verf. “En hier.” Met een sterk kwashaal dui hy die hoek aan waarteen die masjienbediener moet boor.
“Shaya, ndoda!” Johnny klop die swart man langs hom op die skouer. “Laat waai, ouboet.”
Masjienbedieners word gekies vir hulle krag en stamina – hierdie een is ’n klassieke standbeeld in glansende ebbehout.
“Nkosi!” Die masjienbediener grinnik instemmend, en saam met sy helper sleep en beur hulle die klipboor in posisie. Die boor lyk soos ’n reusagtige weergawe van ’n swaarkaliber-masjiengeweer.
Toe die groot man die boor aan die gang sit, is die geraas oorverdowend in die nou werkgang. Die saamgeperste lug knetter uit die boor uit en hamer teen ’n mens se oortromme. Johnny wys met sy gebalde vuis dat hulle reg doen, en vir ’n sekonde glimlag hulle vir mekaar – die kameraderie van manne wat saam werk. Dan kruip Johnny met die werkgang langs om die volgende skietgat uit te merk.
Johnny de Lange is 27 jaar oud, en hy is Sonderkloof se beste rotsbreker. Sy span van 48 man is ’n hegte span spesialiste. Mynwerkers wedywer om deel van seksie 27 te word, want dis waar die groot geld is. Johnny kan kies en keur, en elke maand as die opmeters kom, is hy ver voor in vaammaat.
Hier is ’n sonderlinge geval waar die man onderaan die rangleer meer verdien as die een aan die bopunt – Johnny de Lange verdien meer as Sonderkloof se hoofbestuurder. Verlede jaar het by bobelasting betaal op ’n inkomste van R22 000. Selfs ’n mynwerker soos Kowalski, wat sy span hardhandig behandel en boelie sodat net die mees hopelose manne in sy span oorbly, verdien agt- of negeduisend rand per maand, byna soveel as ’n amptenaar op Jak Stapelberg se vlak.
Johnny bereik die einde van sy langfront en merk sy laaste twee gate uit. Onder teen die skuins werkgang agter hom brul al sy bore, met sy masjienbedieners wat agter hulle lê of hurk. Hy gaan lê daar op een elmboog, haal sy helm af en vee sy gesig af terwyl hy ’n blaaskans vat.
Johnny het ’n buitengewone voorkoms. Sy raafswart hare is reguit agteroor gekam en op sy agterkop met ’n riempie in ’n gekrulde bokstert vasgemaak. Sy voorkoms herinner aan ’n Amerikaanse Indiaan, benerig met hol wange. Hy het sy oorpak se moue afgeknip en sy arms steek uit – gespierd, met senings soos luislange, sy voorarms vol tatoeëermerke, geweldig sterk en soepel. Sy lyf lyk ook so, lank en seningrig en sterk.
Aan sy regterhand dra hy vier ringe, twee op elke vinger, en hulle ontwerpe maak dit duidelik dat hulle nie vir die mooiheid daar is nie. Daar is swaar goue ringe met ’n seerower se kopbeenteken, wolwekoppe en ander ontwerpe op hulle aangebring, ’n bol metaal wat ’n permanente vuisyster vorm.
Op ’n keer het Jak Stapelberg hom gevra oor die groot oë in een van die kopbene: “Is dit robyne daai, Johnny?”
Hy het ewe ernstig geantwoord: “As hulle nie is nie, het iemand my uit drie rand vyftig uit bedonner, meneer Stapelberg.”
Johnny de Lange was ’n wilde jong klong, tot agt maande gelede. Dis toe hy vir Hettie ontmoet en met haar getrou het. Die hofmakery en troue het net ’n week gevat. Nou begin hy eintlik heel rustig raak. Dis minstens tien dae vandat hy laas iemand gefoeter het.
Terwyl hy daar in die werkgang lê, gun hy homself tien minute om aan Hettie te dink. Sy is byna so lank soos hy, met ’n wonderlike vol lyf en rooibruin hare. Johnny is mal oor haar. Hy is nou nie juis ’n man vir veel woorde nie, en hy verkies om sy liefde uit te druk deur vir haar goed te koop. Hy koop vir haar rokke en juwele, hy koop vir haar ’n vrieskas en ’n Frigidaire van oor die vierhonderd liter, hy koop vir haar ’n Chrysler Monaco met luiperdvel-bekleedsel en ’n Kenwood Chef. Dit het eintlik al moeilik geraak om in die De Langes se huis in te loop sonder om oor minstens een van Johnny se geskenke aan Hettie te struikel. Die oorvol drukte word nog erger gemaak deur die feit dat sy broer, Dawie, by hulle in die huis bly.
“So waar as wragtig!” Johnny skud sy kop tevrede. “Sy’s darem ’n lekker stukkie!”
Hy het die vorige Saterdag ’n ooghoogte-oond in een van Kitchenerville se meubelwinkels gesien.
“Sy sal mal wees daaroor,” prewel hy, “en dis net vierhonderd rand. Ek sal dit betaaldag vir haar koop.”
Met die besluit geneem, sit hy sy helm terug op sy kop en begin uit die werkgang kruip. Dis tyd om na die stasie toe te gaan en die plofstof vir die dag se afskieting te gaan haal.
Sy spanleier was veronderstel om in die strekgang vir hom te wag, en Johnny is vies dat daar geen teken van hom of sy jong helper is nie.
“Bliksem!” brom hy, en skyn sy flits op en af in die strekgang. “Hy’s deesdae vol draadwerk.”
Die spanleier is ’n Swazi met ’n gesig vol pokmerke, nie ’n groot man nie, maar sterk vir sy grootte en hoogs intelligent. Hy is ook ’n beneukte vent; Johnny het hom nog nooit sien glimlag nie, en vir ’n ekstrovert soos hyself is dit pynlik om saam met iemand te werk wat so stug en stil is. Hy verdra die Swazi oor sy dryfkrag en betroubaarheid, maar hy is die enigste man in die span van wie Johnny nie hou nie.
“Bliksem!” Die strekgang is verlate, en die rotsbore se gedreun is dof.
“Waar de donner is hy?” Johnny gluur ongeduldig op en af. “As ek hom kry, trek ek sy velle af.”
Dan onthou hy die latrine.
“Dis natuurlik waar hy is!” Johnny sit die stuk in met die strekgang langs. Die latrine is ’n rotskamer wat in die kant van die tonnel gesny is. ’n Stuk seil maak die deur uit, en daaragter is ’n bank met vier gate oor rioolemmers.
Johnny stoot die seilgordyn