Wilbur Smith

Goudmyn


Скачать книгу

vir haar.

      “Jak soos in kerjakker?” giggel sy. “Wat ’n manier om dood te gaan! Is jy seker jy’t nie ’n stoomenjin nie?”

      “Hoe oud is jy?” vra hy.

      “Neëntien. En jy?”

      “Agt-en-dertig.”

      “Maar jy’s bejaard, oom!” laat hoor sy oordrewe.

      “Ja, soms voel ek so.” Hy staan op. “Kom, laat ons aan die gang kom.”

      “Gaan jy maar. Ek sal sluit as ek loop.”

      “Nooit as te nimmer,” sê hy. Die vorige meisie wat hy in die woonstel gelos het, het die plek leeggestroop – kos, drank, glase, handdoeke, selfs die asbakke. “Jy’t vyf minute om aan te trek.”

      Gelukkig woon Lucille op sy pad. Sy beduie hoe hy moet ry tot by ’n oeserige woonstelgebou aan die voet van die mynhope in Booysens.

      “Ek het drie blinde sussies wat ek deur skool moet sit. Kan jy help?” vra sy toe hy die Maserati tot stilstand bring.

      “Sekerlik.” Hy haal ’n vyfrandnoot uit sy beursie en hou dit na haar toe uit.

      “Dankie.” En sy glip van die rooi leersitplek af, maak die deur toe en loop weg. Sy kyk nie eens een keer om nie.

      Voordat sy om die hoek verdwyn, voel Jak ’n onverklaarbare vlaag eensaamheid oor hom spoel. Dis so intens dat hy seker ’n minuut lank verstar sit voordat hy dit kan afskud, dan kap hy die kar in rat en trek met skreeuende bande weg. “My vyfrandmeisie,” brom hy. “Sy gee regtig om.”

      Hy jaag omtrent, en toe hy oor Kraalkoprif ry, lê die skaduwees nog lankuit en is die dou nog silwer op die gras. Hy trek die Maserati van die pad af en klim uit. Hy leun teen die enjinkap en steek ’n sigaret aan, trek ’n gesig oor die smaak, en kyk in die vallei af.

      Die oppervlak toon geen teken van die geweldige skatkis wat daaronder verborge lê nie. Dit lyk net soos enige van die tallose Transvaalse grasvlaktes. In die middel is die dorpie Kitchenerville, wat al ’n halfeeu lank daarop roem dat Lord Kitchener een nag hier oorgeslaap het op jag na die ontwykende Boeremagte. Die destydse nedersetting van so drie dosyn geboue het op wonderbaarlike wyse tot drieduisend aangegroei, rondom ’n manjifieke stadsaal en sakesentrum. Daar is openbare grasperke en tuine, wye strate en mooi nuwe huise, alles befonds deur die mynmaatskappye wie se huurgebiede die dorp omring.

      Op die vaal veld rondom die dorp troon die skagtorings soos yslike monumente aan die mens se goudgierigheid. Rondom die skagtorings koek die fabrieke en werkswinkels saam. Daar is veertien skagtorings in die vallei. Die area is in vyf huurgebiede verdeel, volgens die oorspronklike plase, en vyf verskillende maatskappye delf daar: Doornfontein, Blaauwberg, Wes-Tweefontein, Diepskag en die Sonderkloof Goudmynmaatskappy.

      Jak vestig sy aandag op laasgenoemde. “Jou pragstuk,” prewel hy, want vir hom is die berge blou klip langs die skagtorings werklik mooi. Die komplekse, maar fyn uitgewerkte patroon van die werksgeboue, selfs die slikdamme se swawelgeel reghoeke, het ’n funksionele skoonheid.

      “Kry dit vir my, Manfred,” sê hy hardop. “Ek wil dit hê. Ek wil dit so graag hê.”

      Op die sewentig vierkante kilometer in Sonderkloof se besit woon veertienduisend mense, twaalfduisend van hulle swart mense wat van regoor Suider-Afrika gewerf is. Hulle woon in verdiepinggeboue naby die skagtorings, en elke dag gaan hulle deur twee klein openinge af in die aarde in, tot op haas ongelooflike dieptes, en kom deur daardie selfde twee gate terug boontoe. Twaalfduisend man af, twaalfduisend man op. Dis nie al nie: deur daardie selfde twee gate kom elke dag tienduisend ton klip, en houtpale en gereedskap en pype en plofstof gaan af – tonne materiaal en toerusting. Dis ’n onderneming waarop die manne wat dit bedryf met reg trots is.

      Jak kyk op sy horlosie – net na halfagt. Hulle is al af ondertoe, al twaalfduisend van hulle. Die eerstes het om drie-uur ingegaan, en nou is almal daar. Die skof is in. Sonderkloof breek klip en bring dit boontoe.

      Hy glimlag tevrede. Die eensaamheid en neerslagtigheid van ’n uur tevore het gewyk, uit die pad gevee deur sy algehele toewyding aan sy werk. Hy kyk hoe die skagtorings se reusewiele draai, vassteek, en dan weer draai.

      Elkeen van daardie skagte het vyftigmiljoen rand gekos, die fabriek en werkwinkels op die oppervlak nog vyftigmiljoen. Sonderkloof verteenwoordig ’n belegging van 150 miljoen rand, 220 miljoen dollar. Dis groot, en dit sal syne wees.

      Jak skiet sy sigaretstompie weg. Terwyl hy langs die rand afry, dwaal sy oë ooswaarts met die vallei langs. Alle mynbedrywigheid hou eensklaps op teen ’n onsigbare lyn van noord na suid wat skynbaar willekeurig oor die oop grasvlakte getrek is.

      Die oppervlak verraai geen teken waarom dit so is nie, want die rede lê diep onder die grond. Met daardie lyn langs loop ’n geologiese frats, ’n dyk, ’n muur van harde serpentyngesteente wat bekend staan as die Groot Kaplyn. Dit loop deur die veld soos ’n bylhou, en anderkant is gevaarlike grond. Die goudrif gaan daar voort, weet hulle, maar nie een van die vyf mynmaatskappye het dit nog probeer ontgin nie. Hulle het tentatief daar probeer prospekteer en dan weggeskram daarvan, want die boorgate wat hulle gesink het, het skrikwekkend wisselvallige uitslae opgelewer.

      ’n Groot deel van Sonderkloof se huurgebied lê anderkant die skeidslyn, en ’n prospekteerspan werk tans daar. Hulle het al vyf gate geboor.

      Jak kan hulle bevindinge presies onthou:

      SK nr. 1. Laat vaar in water op 1 200 meter.

      SK nr. 2. Laat vaar in droë gat op 1 600 meter.

      SK nr. 3. Slaan koolstof-gidsrif op 2 000 meter.

      Essaiklep – 16 722 gram per sentimeter.

      Eerste defleksie – 3 802 gram per sentimeter.

      Tweede defleksie –1 294 gram per sentimeter.

      SK nr. 4. Laat vaar in grondwater op 1 060 meter.

      SK nr. 5. Tref koolstof-gidsrif op 2 473 meter.

      Essaiklep – 344 gram per sentimeter.

      Hulle boor nou defleksies van daardie laaste gat af.

      Die probleem is om ’n prentjie uit sulke resultate op te bou. Dit lyk soos ’n deurmekaarspul van verskuifde en modderige grond met oneweredige goudrif-fragmente wat hier en daar ongelooflike hoë waardes het, net om binne dertig meter te verslaan tot niks.

      Hulle sal dalk eendag daar delf, dink Jak, maar hy hoop hy het teen daardie tyd al afgetree.

      In die verte anderkant die slikdam kan hy die boor se fyn spinnerakdriehoek teen die bruin gras uitmaak.

      “Werk maar lekker, ouens,” mompel hy. “Wat julle ook al daar vind, kan my nie skeel nie.”

      Hy ry deur die indrukwekkende hek by die myn se ingang, hou versigtig stil waar die spoorlyn oor die pad gaan en wys ’n tweevingerteken vir die verkeersman wat agter die hek wegkruip.

      Die verkeersman lag en waai – hy het Jak verlede week gevang en is dus nog een voor.

      Jak ry na sy kantoor toe.

      13

      Op hierdie Maandagoggend berei Allen “Popeye” Worth hom voor om sy eerste defleksie uit die SK nommer 5-boorgat te boor. Allen is van Texas, maar nie tipies van sy staat se mense nie. Hy is maar net vyf voet vier duim lank, hoewel so gehard soos die staalboor waarmee hy werk. Hy het sy ambag dertig jaar gelede in Odessa se olievelde geleer, en hy was ’n goeie leerling.

      Nou kan hy op die oppervlak begin en ’n gat van tien sentimeter in deursnee vierduisend meter diep in die aardkors boor, loodreg van bo tot onder, ’n byna onmoontlike taak as jy die elastisiteit en wringkrag in ag neem wat op ’n gelaste staalpen van daardie lengte inwerk.

      En, as dit gebeur dat die staal etlike honderde meter onder die grond knak en breek, kan Allen ’n haakpunt onderaan sy kontrepsie aansit en geduldig na die oorgeblewe stompie soek, dit vind,