Wilbur Smith

Goudmyn


Скачать книгу

hy met Frank Lemmer: “Unie Staal het vanaand op 98 sent gesluit. Ek het gesê jy moet koop.”

      “Te duur, oorgekapitaliseer,” snork die ouer man.

      Daniël gaan lê op sy sy en pak sy instrumente uit, terwyl hulle oor aandele kibbel. Toe hy die spuit vol Pentanol getrek het en die seningrige arm ontsmet, draai Lemmer weer sy kop na Jak se kant toe.

      “Ons het goed gemyn hier, Jakobus, ek en jy. Ek wens hulle wil dit nou vir jou gee, maar hulle sal nie, jy’s nog te jonk. Maar wie hulle ook al in my plek sit, sorg dat jy ’n ogie op hom hou. Jy ken die grond hier, moenie dat hy dit opfoeter nie.”

      En die naald gaan in.

      Daniël sny binne vier-en-’n-half minute deur die arm. Sewe-en-twintig minute later sterf Frank Lemmer weens skok en ontbering in die dienshyshok, op pad oppervlak toe.

      7

      As hy eers Patti se onderhoud betaal het, is daar nie meer veel van Jak se salaris oor vir luukses nie, maar een van sy pronkstukke is die groot, roomkleurige Maserati. Hoewel die kar al twee jaar oud is, ’n 1966-model met reeds byna vyftigduisend kilometer op toe hy hom gekoop het, vat die paaiemente ’n groot hap uit sy maandelikse salaristjek.

      Op oggende soos hierdie dink hy die uitgawe is die moeite werd. Hy kom met die kronkelpad van Kraalkoprif af, en sodra die nasionale pad plat en gelyk voor hom lê vir die laaste stuk Johannesburg toe, gee hy vet. Dis asof die kar hom plattrek teen die grond soos ’n leeu wat storm en die enjin se geluid verander, word dieper, dringender.

      Gewoonlik is dit ’n uur se ry van die Sonderkloof-myn af tot in die Johannesburgse middestad, maar Jak kan twintig minute van daardie tyd afkerf.

      Dis Saterdagoggend en hy is opgeruimd, vol afwagting.

      Sedert die egskeiding lewe Jak soos Jekyll en Hyde. Vyf dae ’n week is hy ’n maatskappyman in die topbestuur, maar op die laaste twee dae gaan hy Johannesburg toe met sy gholfstokke agter in die Maserati, die sleutels van sy luukse woonstel in Hillbrow in sy agtersak, en ’n glimlag op sy lippe.

      Vandag is die afwagting groter as gewoonlik, want bo en behalwe die 22-jarige blonde model wat regstaan om haar aand aan Jakobus Stapelberg se vermaak te wy, is daar die geheimsinnige afspraak met doktor Manfred Steyner om na te kom.

      Die uitnodiging het gekom via ’n naamlose vrou wat gebel het en haar as “doktor Steyner se sekretaresse” bekend gestel het. Dit was die dag ná Frank Lemmer se begrafnis. Jak moet hom Saterdag om elf voormiddag aanmeld.

      Hy het nog nooit vir Manfred Steyner ontmoet nie, maar het natuurlik al van hom gehoor. Enigiemand wat in een van die 56 maatskappye werk waaruit die Gekonsolideerde Sentraalrand-groep bestaan, moes al van Steyner gehoor het, en die Sonderkloof-mynmaatskappy is deel van die groep.

      Manfred Steyner het ’n baccalaureusgraad in ekonomie van die Berlynse universiteit, en ’n doktorsgraad in sake-administrasie van Cornell. Hy het skaars twaalf jaar tevore op dertigjarige ouderdom by GSR aangesluit, en nou is hy die gunsteling om die groep oor te neem. Hurry Hirschfeld sal nie vir ewig lewe nie, al gee hy alle aanduidings dat presies dit sy bedoeling is. As hy die dag heengaan om ’n oorname van die hel te probeer bewimpel, is die verwagting allerweë dat Manfred Steyner hom as GSR se voorsitter gaan opvolg.

      Dit is ’n gesogte posisie, want dit beteken outomaties jy is een van die vyf magtigste mans in Afrika, en dit sluit staatshoofde in.

      Die verwagtinge rondom doktor Steyner is gegrond op ’n aantal goeie redes. Hy het ’n brein wat hom die bynaam Die Rekenaar besorg het; niemand kon nog daarin slaag om die geringste teken van menslike swakheid in hom raak te sien nie, en bowendien het hy tien jaar gelede die moeite gedoen om Hurry Hirschfeld se enigste kleindogter aan te keer net toe sy haar studies aan die Universiteit van Kaapstad voltooi, en met haar te trou.

      Doktor Steyner is in ’n sterk posisie, en Jak is opgewonde oor die vooruitsig om hom te ontmoet.

      Die Maserati loop teen tweehonderd kilometer per uur toe Jak onder die Kloof-goudmynmaatskappy se brug deur beweeg.

      “Johannesburg, hier kom ek!” lag hy hardop.

      Dis tien voor elf toe Jak in ’n stil laning in die lowerryke voorstad Sandown die bronsplaat met die naam Dr. M.K. Steyner daarop kry. Die huis is nie van die straat af sigbaar nie, en hy laat die Maserati stadig deur die hoë, wit hek met sy nagebootste Kaaps-Hollandse gewels rol.

      Die hek, besluit hy, is ’n voorbeeld van skokkende slegte smaak, maar die tuine daaragter is pure paradys. Jak ken klip, maar van blomme weet hy min. Hy herken die groot vlakke rooi en geel teen die groen grasperke as kannas, maar verder het hy nie name vir die vlammende skoonheid wat om hom strek nie.

      “Allawêreld!” mompel hy oorstelp. “Iemand het hier ’n helse klomp werk gedoen.”

      Die geteerde oprit maak ’n draai en daar lê die huis. Dis ook Kaaps-Hollands, en hy vergewe doktor Steyner oor die hek.

      “Allawêreld!” sê hy weer en trap rem om stadiger te ry.

      Kaaps-Hollands is een van die moeilikste style om doeltreffend na te boots – as net een van honderd lyne uit plek is, bederf dit die effek. Hierdie spesifieke voorbeeld werk perfek. Dit skep die gevoel van tydloosheid, van soliditeit subtiel gekombineer met grasie en elegante lyne. Hy raai dat die luike en balke van egte geelhout is, en die loodglasvensters handgemaak.

      Jak kyk daarna en voel ’n tikkie afguns in hom opwel. Hy hou van die mooi dinge in die lewe, soos sy Maserati, maar dis ’n ander vlak van materiële besittings hierdie. Hy is jaloers op die man wat dit besit, en besef sy hele jaar se inkomste sal nie genoeg wees om eens net ’n deposito vir die grond te betaal nie.

      Wel, ek hét darem my woonstel, dink hy wrang, en laat die kar stil afloop na die ry garages toe, waar hy parkeer.

      Dis nie vir hom duidelik watter tuinpaadjie om te gebruik nie, en hy kies lukraak een van ’n klompie wat na die huis se kant toe lei.

      Om ’n hoek van die paadjie kom hy op nog ’n skouspel af. Hoewel kleiner, het dit selfs ’n groter uitwerking op Jak as wat die huis gehad het: Dis ’n vroulike agterstewe met netsoveel grasie en elegante lyne, geklee in ’n nousluitende skibroek, wat by ’n groot struik uitsteek.

      Jak is vasgenael. Hy staan en kyk hoe die bos skud en ritsel, en die agterent wikkel.

      Meteens, in ’n vrouestem, kom daar die mees onvroulike geswets uit die bos uit. Die agterent peil agtertoe en die eienaar kom orent met haar voorvinger in haar mond en sy suig smakkend daaraan. “Hy’t my gebyt!” prewel sy met haar lippe om die vinger. “Verdomde stinkgogga het my gebyt!”

      “Jy moet hulle nie terg nie,” sê Jak.

      En sy swaai om na hom toe. Die eerste ding wat hy opmerk, is haar oë – hulle is groot, heel uit verhouding met die res van haar gesig.

      “Ek het nie …” begin sy, en steek dan vas. Haar vinger kom uit haar mond uit. Instinktief gaan een hand na haar hare toe en die ander begin haar bloes regtrek en die stukkies takkies en blare afskud wat daaraan vassit.

      “Wie’s jy?” vra sy, en daardie groot oë gly oor hom.

      Dis ’n redelik algemene reaksie vir enige vrou tussen sestien en sestig wat vir die eerste keer na Jakobus Stapelberg kyk, en hy aanvaar dit met grasie. “My naam is Jakobus Stapelberg. Ek het ’n afspraak met doktor Steyner.”

      “O.” Sy steek haastig haar hemp in. “My man sal in sy studeerkamer wees.”

      Hy weet wie sy is. Hy het haar foto al seker vyftig keer in GSR se nuusblad gesien, maar daar dra sy gewoonlik ’n vollengte aandrok met diamante, nie ’n bloes met ’n skeur op een arm of haar hare in boksterte nie. Op die foto’s is haar grimering foutloos, nou dra sy niks en haar gesig is bloesend en vol fyn sweetdruppeltjies.

      “Ek lyk seker verskriklik, ek het in die tuin gewerk,” sê Theresa Steyner onnodiglik.

      “Behartig jy self hierdie tuin?”