sy stoel en staar deur die venster na die nommer 1-skagtoring, tien verdiepings hoog.
“Komaan, Pieter, komaan,” por hy. “Ek het twaalfduisend man daar onder.”
Met die telefoon nog steeds teen sy oor gedruk, kyk hy op sy horlosie.
“Halfdrie,” brom hy. “Die slegste tyd denkbaar. Hulle sal nog in die werkgang wees.”
Hy hoor hoedat die gehoorbuis aan die ander kant opgetel word, en Pieter Wessels se stem is amper verskonend. “Jak?”
“Ja.”
“Ek’s jammer, Jak, jy het ’n drukbars van mag-sewe op drieduisend meter gehad, in sektor Sierra sewe Charlie twee.”
“Verdomp!” roep Jak uit en plak die gehoorstuk neer. Hy spring op, sy gesig verbete.
“Dimitri,” blaf hy vir sy assistent wat nog by die deur rondhang, “ons gaan nie wag dat hulle ons bel nie, dis ’n noodgeval. Daar was ’n mag-sewe-skudding, met sy middelpunt reg in die middel van die oostelike langfront op vlak 95.”
“Moeder Maria,” hyg Dimitri en koes in sy kantoor in. Hy buk met sy glansende swart krulkop oor die telefoon en Jak hoor hoedat hy die eerste van die nodige reeks oproepe begin maak: na die mynhospitaal, noodspan, hoof-ventilasiebeampte en hoofbestuurder se kantoor.
Jak draai en sien sy buitedeur oopgaan.
Jimmy Paterson, sy elektriese ingenieur, kom in. “Ek het hom gevoel, Jak. Hoe lyk dit?”
“Sleg,” antwoord hy, en dan bondel die ander lynbestuurders ook in sy kantoor in. Hulle praat onderlangs, steek sigarette aan, kug en skuif hulle voete rond, maar almal hou die wit telefoon op sy lessenaar dop. Die minute kruip verby soos afbeen-insekte.
“Dimitri!” roep Jak om die spanning te verbreek. “Het jy ’n hyser by die skagopening?”
“Hulle hou die dienshyser vir ons.”
“Ek het vyf man wat die hoëspanningskabel op vlak 95 vir ons dophou,” sê Jimmy Paterson.
Hulle ignoreer hom. Almal se aandag bly op die wit telefoon.
“Het jy al die baas opgespoor, Dimitri?” Jak tree op en af voor sy lessenaar. Dis net wanneer hy naby ander mans staan dat ’n mens sien hoe lank hy is.
“Hy’s ondergronds, hy’t om halfeen afgegaan.”
“Sit ’n alle-stasies-berig in dat hy my hier moet kontak.”
“Ek het dit klaar gedoen.”
Die wit telefoon lui. Net een keer, ’n skril noot wat op Jak se senupunte skraap. Dan het hy die gehoorbuis teen sy oor. “Ondergrondbestuurder,” sê hy. Daar is ’n lang stilte en hy kan die man aan die ander kant hoor asemhaal. “Praat, man, wat is dit?”
“Die hele duiwelse ding het ingestort,” sê die stem. Dis hees, grof van vrees en stof.
“Waarvandaan bel jy?” vra Jak.
“Hulle is nog daar binne,” sê die stem. “Hulle gil daar binne. Onder die klip. Hulle skree.”
“Wat’s jou stasie?” Jak maak sy stem kil en hard, hy probeer deur die man se skok dring.
“Die hele werkgang het op hulle ingeval. Die hele duiwelse ding.”
“Verdomp! Jou bliksemse idioot!” bulder Jak. “Sê my wat’s jou stasie!”
Daar heers ’n oomblik van geskokte stilte. Dan kom die man se stem weer, nou meer beheers, vies oor die belediging. “Vlak 95, hoofvervoerweg. Seksie 43. Oostelike langfront.”
“Ons kom.” Jak sit die foon neer en tel sy geel glasveselhelm en lamp van die lessenaar af op.
“Seksie 43. Die rotsdak het ingestort,” sê hy vir Dimitri.
“Enigiemand dood?” vra die klein Griek.
“Vir seker. Ons het kermgatte onder die klippe.”
Jak plak sy hoed op sy kop.
“Vat oor hier bo, Dimitri.”
3
Jak maak nog sy wit oorpak se knope vas toe hy by die skagopening kom. Onwillekeurig lees hy die teken bokant die ingang: Bly waaksaam. Bly lewe. Met jou samewerking het hierdie myn 16 dae sonder ongeval gewerk.
Ons sal daardie getal weer moet verander, dink Jak wrang.
Die dienshyser is gereed vir hulle. Die noodhulpspan en noodspan drom saam in die hyshok met sy maasdraadkante. Die dienshyser is die een waarmee personeel op en af in die mynskag vervoer word. Daar is twee groter hyshokke wat elk 120 man kan vat, terwyl die dienshyser maar veertig hou. Maar dis genoeg vir nou.
“Laat ons weg wees,” sê Jak terwyl hy in die hyshok klim, en die skagwagter klap die staaldeure toe. Die klok lui een, twee keer, dan begin die hyshok vinnig afsak. Jak se maag druk teen sy ribbes. Hulle daal met een lang, aanhoudende geruis in die duisternis af. Die hyshok stamp en raas, die lug se reuk en smaak verander, dit raak chemies en geprosesseer, en die temperatuur styg vinnig.
Jak staan kromgetrek teen die metaalrooster en leun. Die hok is net ses voet drie hoog, en met sy helm is hy langer as dit. Vandag kry ons dus nóg ’n slagtersrekening, dink hy gebelg.
Hy is altyd kwaad as die aarde sy loon in verminkte vlees en geknakte beendere eis. Al die mens se vindingrykheid en die ondervinding van sestig jaar van diep delf aan die Witwatersrand, word ingespan om die bloedprys so laag moontlik te hou. Maar as jy in die geweldige dieptes onder 2 500 meter afsak, en uit daardie dieptes haal jy elke maand ’n kwartmiljoen ton se rots, as jy teen ’n steil rifvlak delf en ’n enorme, lae kamer oopmaak wat etlike honderde meter wyd strek, dan moet jy betaal, want druk bou in die klip op totdat dit breekpunt bereik en meegee. Dit is wanneer mense doodgaan.
Jak se knieë knak onder hom toe die hyshok rem en dan bokspringend tot stilstand kom by die helderverligte stasie op vlak 66.
Hier moet hulle oorskuif na die subhoofskag toe. Die deur klater oop en Jak klim uit, stap met ferm tred in die hoofvervoerweg af. Dis so groot soos ’n treintonnel, met beton uitgevoer en witgeverf, verlig met gloeilampe wat gaandeweg teen die rotsdak wegsterwe.
Die noodspan volg hom. Hulle hardloop nie, hulle loop met die onderdrukte, gespanne energie van manne wat gevaar tegemoet gaan. Jak lei hulle na die subhoofskag toe.
Daar’s ’n perk aan hoe ver jy ’n skag in die aarde kan maak en dit dan kan toerus om manne in ’n hyshok aan ’n staalkabel te dra – omtrent tweeduisend meter. Op daardie diepte moet jy weer begin, ’n kamer vir ’n ander skagtoring uit die klip oopskiet en daar ’n nuwe skag maak – die subhoofskag.
Daardie skag se dienshyshok wag vir hulle, en Jak lei die manne daarin. Hulle staan skouer aan skouer, die deur klater toe en weer kom die val in die donker in wat jou maag laat omdop.
Af, af, af.
Jak skakel sy koplamp aan. Nou is daar fyn stoffies in die lug, nadat dit tot dusver suiwer en steriel was.
Stof! Een van ’n mynwerker se grootste vyande. Stof van die barsslag af. Die ventilasiestelsel kon dit nog nie opklaar nie.
Eindeloos val hulle in die donker in, en dis nou baie warm, die humiditeit bou op, sodat die gesigte langs hom, wit en swart, in die lig van die koplamp blink van die sweet.
Die stof raak nou digter, en iemand hoes. Die helderverligte stasies flits by hulle verby – 76, 77, 78 – af, af. Die stof is nou ’n fyn mis. 85, 86, 87. Niemand het nog ’n woord gesê vandat hulle in die hyshok geklim het nie. 93, 94, 95. Die hyser begin rem, en stop.
Die deur klater oop. Hulle is 2 900 meter onder die aardoppervlak.
“Komaan,” sê Jak.
4
Manne drom in die voorste deel van stasie 95 saam,