“Dankie.” Nee, nie verrinneweer nie, verander sy haar opinie, eerder gehard. Borshare krul uit die V voor by sy oopnekhemp.
“Dis ’n protea, nie waar nie?” Hy wys na die bos waaruit sy pas verskyn het. Hy raai.
“Nutans,” sê sy. Hy moet in sy laat dertigs wees, effe grys by die slape.
“O, ek het gedog dis ’n protea.”
“Dit is, nutans is sy regte naam. Daar is meer as tweehonderd soorte protea,” antwoord sy ernstig. Sy stem pas nie by sy voorkoms nie, besluit sy. Hy lyk soos ’n bokser, maar praat soos ’n prokureur, en is waarskynlik een. Dis gewoonlik prokureurs en sakekonsultante wat vir Manfred kom kuier.
“Sowaar? Dis baie mooi.” Jak raak aan een van die blomme.
“Is dit nie? Ek het meer as vyftig variëteite wat hier groei.”
En meteens glimlag hulle vir mekaar. “Kom, ek vat jou op huis toe,” sê Theresa Steyner.
8
“Meneer Stapelberg is hier, Manfred.”
“Dankie.” Manfred sit agter die stinkhoutlessenaar in ’n vertrek wat na meubelpolitoer ruik. Hy wend geen poging aan om op te staan nie.
“Wil jy ’n koppie koffie hê?” vra Theresa van die deur af. “Of tee?”
“Nee, dankie,” antwoord Manfred sonder om vir Jak te vra wat langs haar staan.
“Dan laat ek julle nou alleen,” sê sy.
“Dankie, Theresa.”
Sy loop. Jak bly op die plek staan, en bestudeer die man van wie hy al so baie gehoor het.
Manfred Steyner lyk jonger as sy 42 jaar. Sy hare is ligbruin, byna blond, en reguit agtertoe gekam. Hy dra ’n bril met ’n swaar, swart raam, en sy gesig is glad en syagtig – sag soos ’n meisie s’n sonder enige baardskaduwee op sy kaak. Die hande op die gepoleerde lessenaar is haarloos en glad, en Jak wonder of hy ’n haarverwyderaar op hulle gebruik.
“Kom in,” nooi hy, en Jak staan nader. Steyner dra ’n wit syhemp met gestrykte plooie, die materiaal is sneeuwit, met daarby die Royal Johannesburg Golf Club se das en mansjetknope van onikssteen. Jak besef dat die hemp en das nog nooit vantevore gedra is nie – daardie deel van wat hy gehoor het, is dus waar. Steyner bestel sy hemde handgemaak by die honderde, en dra elkeen net een keer.
“Sit, Stapelberg.” Steyner sleep sy klinkers effens, met net ’n sweempie van ’n Duitse aksent.
“Doktor Steyner,” sê Jak sag, “jy het ’n keuse. Jy kan my Jakobus noem, of meneer Stapelberg.”
Steyner se stem en uitdrukking verander glad nie.
“Ek wil graag jou agtergrond nagaan, meneer Stapelberg, as voorbereiding vir ons gesprek. Het jy enige besware?”
“Nee, doktor Steyner.”
“Jy is op 16 Oktober 1931 in Butterworth in die Transkei gebore. Jou pa was ’n handelaar, jou ma is in Januarie 1939 dood. Jou pa was ’n kaptein in die Durban Light Infantry en het in die winter van 1944 by die Po-rivier in Italië aan sy wonde beswyk. Jou ma se broer in Oos-Londen het jou grootgemaak. Jy het in 1947 in Grahamstad gematrikuleer. Jy het nie daarin geslaag om ’n beurs by die Kamer van Mynwese te kry om ’n ingenieursgraad in mynwese by die Universiteit van die Witwatersrand te volg nie. Jy het ingeskryf by die Staatsopleidingskollege vir Mynwerkers en jou skietsertifikaat in 1949 behaal. Daarna het jy as leerling-mynwerker by die Blyvooruitzicht-goudmynmaatskappy gaan werk.”
Doktor Steyner staan op en loop na die muur toe waar hy ’n geheime knoppie in die houtpaneel druk. ’n Deel van die paneel skuif weg en onthul ’n wasbak en handdoekreling. Terwyl hy praat, begin hy sy hande baie sorgvuldig inseep en was.
“In dieselfde jaar is jy bevorder tot mynwerker, in 1952 tot skofbaas, en in 1954 tot mynkaptein. Jy het in 1959 die eksamen vir jou mynbestuurdersertifikaat suksesvol voltooi, en in 1962 het jy by ons kom werk as assistent-ondergrondbestuurder. In 1967 het jy jou huidige posisie as ondergrondbestuurder bereik.”
Doktor Steyner begin sy hande met ’n spierwit handdoek afdroog.
“Jy ken my personeellegger goed,” gee Jak toe.
Doktor Steyner frommel die handdoek en gooi dit in ’n blik onder die wasbak. Hy druk die knoppie en die paneel gly toe. Dan loop hy met afgemete treë terug oor die blinkgepoleerde vloer, en Jak besef hy is ’n klein mannetjie, skaars vyf voet ses, omtrent so lank soos sy vrou.
“Dis nogal ’n prestasie,” gaan Steyner voort. “Die tweede jongste ondergrondbestuurder in die ganse groep is 46, en jy is nog nie eens 39 nie.”
Jak knik sy kop erkentlik.
“Nou,” sê doktor Steyner toe hy weer gaan sit en sy skoongewaste hande op die lessenaar se blad neerlê. “Ek wil ook net vlugtig na jou persoonlike omstandighede kyk, as jy nie beswaar het nie.”
Weer knik Jak.
“Die rede dat die Kamer van Mynwese jou beursaansoek afgekeur het, ondanks al jou A’s in matriek, was jou skoolhoof se aanbeveling aan die keurkomitee. Volgens hom is jy onstabiel en geneig tot geweld.”
“Hoe de hel weet jy dit?” protesteer Jak.
“Ek het toegang tot die raad se rekords. Dit lyk my so gou as wat jy matriek gemaak het, het jy jou eertydse skoolhoof aangerand.”
“Ek het die hel uit hom uit gefoeter,” stem Jak ingenome toe.
“ ’n Duur hebbelikheid, meneer Stapelberg. Dit het jou ’n universiteitsgraad gekos.”
En Jak is stil.
“Om voort te gaan: In 1959 trou jy met Patricia Anne Harvey. Uit hierdie huwelik is daar in dieselfde jaar ’n dogtertjie gebore, om presies te wees, sewe-en-’n-half maande ná die troue.”
Jak skuifel effens in sy stoel.
Doktor Steyner hervat sag: “Die huwelik eindig met ’n egskeiding in 1964. Jou vrou voer aan dis oor jou egbreuk, en sy kry toesig oor die kind, sowel as onderhoud en ’n toelaag ten bedrae van R450 per maand.”
“Waaroor gaan dit als?” wil Jak weet.
“Ek probeer ’n akkurate beeld van jou huidige omstandighede opbou. Dis nodig, daarvan kan ek jou verseker.” Doktor Steyner haal sy bril af en begin die lens met ’n skoon wit sakdoek opvryf. Die raam het merke op sy neusbrug gelaat.
“Gaan voort.” Jak is gefassineer om uit te vind wat die man alles van hom weet.
“Vroeër vanjaar het ene Diane Johnson jou weens vaderskap gedagvaar vir R150 per maand.”
Jak kyk deur nougetrekte oë en bly stil.
“Daar was nog twee hofsake teen jou, vir aanranding, albei onsuksesvol op grond van selfverdediging.”
“Is dit al?” vra Jak sarkasties.
“Amper. Dis net nog nodig om verdere gereelde uitgawes te noem, in die vorm van ’n maandelikse paaiement van R150 op ’n Europese sportmotor, en ’n verdere R100 per maand vir die huur van Glen Alpine-woonstel nommer 596, Hoeklaan, Hillbrow.”
Jak is woedend, hy was onder die indruk dat niemand in GSR van die woonstel weet nie.
“Verdomp! Jy het op my gespioeneer!”
“Ja,” erken doktor Steyner onverstoord. “Ek is skuldig, maar met goeie rede. As jy net ’n bietjie geduld aan die dag lê, sal jy die rede sien.”
Dan staan hy op, loop na die versteekte wasbak toe en begin weer sy hande was. Terwyl hy hulle afdroog, hervat hy.
“Jou vaste uitgawes beloop R850 per maand. Jou salaris, ná belasting, is minder as eenduisend rand. Jy het nie ’n graad in mynwese nie, en die kans is maar gering dat