Malene Breytenbach

Vlug na Santorini


Скачать книгу

sy by die gastehuis aankom, sit haar tannie onder die prieel op die stoep met ’n bottel witwyn en twee glase voor haar op die tafel. Sy glimlag verwelkomend. “Ha, jy’s terug. Ek het vir jou gewag. Maria maak kos. Sy wil jou verras met iets lekkers. Ons moet na die sonsondergang kyk. Yannis en Sophia kom môreaand, dan maak ék weer spesiale kos vir ons. Hulle sien baie daarna uit om jou weer te sien. Gaan sit jou sakkie neer, dan kom drink jy ’n lekker glas wyn saam met my.”

      Erika maak soos sy sê en kom sluit weer by haar aan. Helena skink vir haar, hulle klink glase en Erika teug aan die wyn. “Heerlik. Anders as ons Suid-Afrikaanse wyn.”

      “Ja, dis ons eilandwyn, gemaak van druiwe wat in vulkaniese grond groei. Ons het nogal ’n florerende wynbedryf. Ons bekendste druiwe is die assyrtiko-kultivar. Hierdie witwyn is ’n Athiri-versnit.” Erika luister met een oor, maar haar gedagtes dwaal kort-kort na die man in die linnepak. Sy wil nie ongeskik wees nie en probeer konsentreer.

      “Ons mense van Oia word Apanomerites genoem omdat Oia eers Apano Meria genoem is. Dit het ’n ruk geneem voordat ek as ’n ware inwoner geklassifiseer is.”

      “Ekskuus? O, ja. Nou is tannie al so ingeburger.” Konsentreer, Erika. “Ek moet sê, tannie praat darem nog verbasend goed Afrikaans.”

      “Ja, darem, maar my kinders praat net Engels en Grieks. Kan jy nog Grieks praat?”

      “So ’n bietjie, maar vandat Mamma dood is, het ek baie vergeet. Tannie moet my asseblief weer leer hoe om die belangrikste soort goed vlot te sê. Die politesse, soos die Franse dit noem.”

      Haar tannie lag. “Ek sal jou met plesier leer.” Sy teug aan haar wyn en kyk dromerig na die lug wat karmosyn begin verkleur. “Hier wil ek bly tot in lengte van dae. Ek is so lief vir Santorini.”

      Erika dink skielik dat dit dalk lekker kan wees om ’n jaar of wat hier te kom woon. Sy sal nog met die gedagte speel.

      Ander gaste van die gastehuis kom verby en groet vriendelik, maar gaan na hul eie eenhede. Tannie Helena het gesê sy maak nie vir hulle aandetes nie; sy bedien slegs ontbyt. Dit klink nie vir Erika na ’n stresvolle lewe nie. Haar tannie sien daar goed uit en lyk rustig en gelukkig. Tog wonder Erika of sy nie eensaam is sedert haar man se dood nie. Sy wil nie vis nie, maar dalk het haar mooi tannie ’n spesiale vriend?

      ’n Spesiale vriend. Sy sug. ’n Man wat jy kan liefkry en bewonder. Iemand met dryfkrag, innerlike sterkte, ’n aantreklike uiterlike en ’n goeie humorsin, wat jou met hartstog én teerheid kan liefhê. Wat romanties is en jou kan wegvoer na die hoogtes van ekstase waarvan jy in liefdesverhale lees.

      Sy hoop sý kry een of ander tyd so iemand.

      Iemand heel anders as Cas.

      * * *

      Paul staan langs die swembad op die terras voor sy huis in Fira, met ’n glas ouzo in die hand. Hy kyk peinsend uit oor die caldera in die rigting van die sonsondergang. Vanaand het hy nie lus vir mense nie, maar Manos gaan oorkom vir ’n drankie en ’n ligte ete.

      Hoeveel keer het hy nie al dié sonsondergang bewonder nie? Hy sal nooit daarvoor moeg word nie.

      Sý kyk seker ook nou met daardie hemelse oë na dieselfde sonsondergang. Dis mos wat almal hier doen. Dalk drink sy ook ’n lekker drankie. Wie sou by haar wees? Haar ma? En wie anders? Hy hoop nie daar is ’n man nie. Hy raak sommer omgekrap as hy dink dat daar ’n man in die prentjie kan wees. Een wat haar soen. Wat aan haar raak.

      Liewe hemel, Paul Michelakis, jy raak jaloers oor ’n vrou wat jy nie eens ken nie. Ruk jou reg!

      “Hallo,” hoor hy. “Ek het goeie nuus.”

      Hy draai om. Manos kom met ’n breë grinnik op sy groot gesig aangestap.

      “So? Watse nuus? Wat het jy uitgevind?” Hy probeer lakoniek klink, maar dink sy opgewondenheid slaan deur.

      “Daar is ’n vrou wat ’n gastehuis in Oia het. Sy is al lank hier, maar kom oorspronklik van Suid-Afrika af. Haar naam is Eléni Antoniou.”

      “Ja? Is sy nie dalk familie van doktor Yannis Antoniou, die argeoloog, nie?”

      Manos haal sy skouers op. “Weet nie. Ek kan uitvind. In elk geval dink ek die mooi meisie is daar. Sal ek gaan kyk?”

      Paul vat ’n groot sluk van sy ouzo. “Ja, gaan kyk sommer môre. Moenie eers kantoor toe kom nie.”

      Manos kyk geamuseerd na Paul. “Haastig, nè?”

      Paul grinnik terug. “Waarom sal ek gras onder my voete laat groei? Dis nie hoe ons Michelakisse grootgemaak is nie. My pa sê altyd: As jy ’n geleentheid sien, gryp dit aan – anders spring iemand anders jou dalk voor.”

      * * *

      Erika volg vir Spiro by die trappies af. Sy het pas die grootste ontbyt geniet wat sy in jare geëet het en sy dink sy moet dit afstap. Hy lyk skamerig in sy noppies dat sy saam met hom loop. Sy hoop nie hy raak verlief op haar nie, want al hou sy van hom en is hy nie lelik nie, laat hy beslis nie haar hart vinniger klop nie. Hy is buitendien te jonk vir haar.

      Daar is wel ’n man wat ’n vuur in haar sal kan aansteek … Nee, sy moenie eens aan hom dink nie. Sy sal hom seker nooit weer sien nie. Tog, hy is hier iewers. Onder dieselfde hemel, maan, son en sterre as sy.

      Die nou gangetjies en trappe is vol mense. Sy en Spiro moet behoorlik by hulle verbyskuur. Erika kyk om en sien ’n groot, bonkige man wat bo die ander uittroon. Is dit nie die man wat haar paspoort by die lughawe opgetel het nie? Dit lyk asof hy reguit na haar kyk, maar toe verdwyn hy by ’n winkeltjie in. ’n Rillinkie trek by haar ruggraat af. Waarom is hy hier?

      Moenie laf wees nie, betig sy haarself. Hy mag mos enige plek op die eiland wees.

      Tog is sy ongemaklik. Sy vergeet egter skoon daarvan toe Spiro voor ’n witgekalkte trap gaan staan en sy afkyk na ’n ingang met die naam Heavenly Book Den in donkerblou letters op ’n klipboog bokant die deur geverf. Dit lyk soos die ingang na een van die huise, maar toe hulle deur die boog loop, trek Erika haar asem in.

      “Dis soos ’n hobbit-huisie,” sê sy. Spiro kyk haar onbegrypend aan.

      “Die klein mensies in Tolkien se Lord of the Rings,” verduidelik sy. “Wonderlike boeke en wonderlike flieks.”

      “O, ja,” sê hy, maar dis duidelik dat hy nie die boeke gelees of die flieks gesien het nie.

      Binne is dit soos ’n groot grot met rakke en rakke vol boeke. Hier is dit stil in vergelyking met die rumoer van die toeristewinkels buite. ’n Lang, maer man met skouerlengte bruin hare staan agter ’n toonbank.

      “Haai, Spiro,” groet hy met ’n vraende blik na Erika.

      “Haai, Jim. Ek het vir Erika gebring om na jou winkel te kyk. Sy bly by ons … by Eléni Antoniou se gastehuis, eintlik. Erika, dit is Jim Murray, die eienaar van die winkel.”

      “Aangename kennis,” glimlag Erika. “Jou boekwinkel is iets besonders.”

      Hy kom agter die toonbank uit en skud haar hand. Hy staar so verwonderd na haar dat sy verleë raak. “Ja, ek het dit tien jaar gelede begin. Ongelukkig moet ek nou terugkeer na die VSA. Daar is te veel verpligtinge, familiesake en ander goed, wat my dwing om terug te gaan na Chicago. Ek sal nog vanjaar die winkel moet verkoop. Dis ook my huis. Ek is behoorlik ingegrawe in die vulkaniese rots, in die bodem van Santorini.”

      Hy praat met ’n swaar Amerikaanse aksent.

      “Dis jammer. Watter verskeidenheid boeke.” Sy kyk belangstellend na die rakke, die hoek waar vier gemakstoele om ’n tafel staan, die toonbank met ’n koffiemasjien en yskas. Alles is kleurvol: die bloue en rooie, witte en groene van die kussings, die mat onder die stoele en tafel, die gordyne voor twee vensters. Juweelkleure, dink sy. Niks is vaal nie.

      “Het julle lus vir cappuccino?” vra hy.

      “Dit sal lekker wees, dankie,” sê Erika. “Ek gaan na jou boeke kyk. Ek is ’n boekwurm.”

      Jim