Schalkie van Wyk

Waar liefde begin


Скачать книгу

ection>

      

      Waar liefde begin

      Schalkie van Wyk

      Melodie

      1

      Ursula Taljaard lig haar linkerwenkbrou toe die twee meisies in die deur van die ruim eetkamer vassteek. Hulle is opsigtelik verbaas oor haar teenwoordigheid aan die ronde geelhouttafel. ’n Skinkbord met porselein- en silwerteegoed voor haar. Hul aanvanklike opwinding verander na onsekerheid, hul oë sku op haar terwyl hulle die vertrek binneskuifel.

      “N-naand, doktor Taljaard,” groet Danika Retief wat senuweeagtig aan haar horlosie vroetel. Sy trek haar maag in en hoop die gesondheidsbewuste Ursula kan sien sy het die afgelope maand twee kilo’s verloor.

      “Op my hoë ouderdom van ses-en-veertig het ek nog my eie tande, maar ek byt nie, Danika. Het jy op jou jeugdige twee-en-twintig jaar vergeet jy noem my sedert jou kleuterdae ‘tannie’?” verneem Ursula droogweg, ’n vonkeling in haar groen oë. “Hou op fladder soos twee skuldige tieners wat met my duur grimeermiddels geëksperimenteer het. Kom sit en drink ’n koppie tee saam met my. En, Danika, dis net na vieruur, ingeval jou horlosie gebreek het.”

      Lani Taljaard plof op ’n stoel langs Ursula neer en sê aantygend: “Mamma kan darem sarkasties wees! Arme Danika is ’n senuwrak na vanmiddag se onderhoud met die bombastiese redakteur van ’n piepklein, plaaslike koerantjie. Hy het ons so ewe aangeraai om liewer te trou en kinders groot te maak as om sonder die nodige ervaring as joernaliste werk te soek. Die onbeskofte ou man! Hy’t ’n bleskop en ’n boepmaag en …”

      “Ek glo dit nie!” val Ursala haar ferm in die rede.

      Lani hoor die afkeer in haar ma se stem en ontwyk haar beskuldigende blik. Sy bloos en sê moedeloos: “Ek weet! Ek weet! In ’n argument raak ’n mens nooit persoonlik nie, maar ek het nie met die ongeskikte redakteur geargumenteer nie, Mamma. Ek en Danika het nou wel reeds in ons studentejare nou en dan beriggies en artikels in koerante en tydskrifte gepubliseer, maar hoe kan ons die vereiste ervaring opdoen as niemand ons in diens wil neem nie? Lýk ons dom?”

      “Jý, my dogtertjie, is te selfversekerd,” terg Ursula haar.

      “En ek is mollig en minderwaardig,” sê Danika selfbejammerend. Sy sug diep en staar stip na die koppie tee wat Ursula voor haar neergesit het.

      “Die kind soek weer komplimente,” kom dit ongeduldig van Ursula, maar sy sit haar hand op Danika se pols en sê: “Jy het ’n oulike wipneusie met ’n paar verdwaalde sproetjies, vol lippe wat enige man sal betower, pragtige ligbruin hare en groenbruin oë. Help my bemoedigende woorde jou, kind?”

      Danika en Lani kyk glimlaggend na mekaar en giggel dan saam totdat hulle oë traan.

      “Was ek werklik so amusant?” vra Ursula belangstellend.

      “Skreeusnaaks, want Mamma beskryf Danika altyd in dieselfde woorde,” antwoord Lani laggend.

      “Sowaar?” Ursula frons bekommerd. “Ek is te jonk om aan dementia te ly, daarom moet Danika die skuldige wees. Danika, vandat jy jouself in ’n spieël kon herken het, kla jy oor jou uiterlike. Wanneer gaan jy besef jy is ’n mooi meisie?”

      Danika blik onwillekeurig na die spieël in die vergulde raam wat bokant die buffet hang, betrag haar en Lani se beelde en antwoord gelate: “Dis die spieël, tannie. Ek sit altyd langs Lani en vandat ek kan onthou, begeer ek ook blou-blou oë en lang, blonde hare wat net so effentjies krul. Lani het tannie se fyn gelaatstrekke en sy was nog nooit in haar lewe vet nie – nie eens ‘mollig’ nie, soos tannie altyd sê om my te troos. Dis verskriklik om so alledaags te wees.”

      “Ek dink dis wonderlik om jonk en mooi te wees, Danika. Lani het my vertel Wim Lategan het sy verhouding met jou verbreek, maar dit is immers ’n geluk, nie ’n ramp nie. Het jy nou uiteindelik besef dat Wim ’n werklose jong prokureur is wat gehoop het om by jou pa se prokureursfirma werk te kry?”

      Danika voel ’n warm blos van verleentheid oor haar gesig kruip. “Ja, tannie, maar … maar dit laat my net nog minderwaardiger voel: Wim het in my pa se firma belang gestel, nie in my nie. My hare is maar valerig, nie blond en krullerig, of koperbruin soos tannie s’n nie. Of dalk wip my neus te veel, of miskien is my lippe te dik – daar moet ’n rede wees waarom ’n man my nie ter wille van myself kan liefkry nie.”

      “Ek wil nooit verlief raak of trou of kinders grootmaak wat ek nie eens ken nie,” verklaar Lani en glimlag onderlangs. “Ek wil minstens twintig jaar lank ’n misdaadverslaggewer wees, net oor grusame moorde en misdade verslag doen, en dan aftree en speurverhale skryf. As ek te oud is om speurverhale te skryf, sal ek op ’n straathoek staan en my handtekening aan my bewonderaars verkoop. Wat dink Mamma van my toekomsplanne?”

      “Net ingeval ek jou beledig, sal ek jou ’n antwoord skuldig bly, my nederige dogter,” spot Ursula en vervolg belangstellend: “Het julle onderhoude vir die res van die week gereël?”

      Lani en Danika kreun gevoelvol en staar net na Ursula.

      “Nie eens één onderhoud nie?” verneem sy simpatiek.

      “Nie eens ’n halwe hoop op nog ’n onderhoud nie, Mamma,” antwoord Lani onvergenoeg. “Ons sukkel nou al drie maande lank om werk te kry, maar jong, gegradueerde, voornemende joernaliste met honneursgrade in tale is so volop soos kakiebos. Die moontlike kollegas is katterig omdat ons jonk en mooi is, en die redakteurs verkyk hulle aan ons … e … bene en stel voor ons moet TV-aanbieding oorweeg. Verbeel jou, na vier jaar van studie, moet ons vyf dae per week probeer om onnodige artikels aan ongeïnteresseerde mense te verkoop! Gaan Mamma nou eindelik die regte toutjies trek sodat ons werk kan kry?”

      “Asseblief, tannie Ursula. Tannie is vreeslik ryk en bekend en mooi en … en alles. My pa sê tannie is ’n gewilde sakevrou en mans val oor hulle voete om tannie uit te neem en … e … Nee, dis nie wat ek wou gesê het nie. My ma sê geen man kan weier om ’n guns aan ’n mooi vrou soos tannie te bewys nie. Sy dink tannie ken al die redakteurs in die stad, want daar is altyd foto’s van tannie op die sosiale blaaie. My ma is seker tannie sal ons help as ons regtig desperaat is. Ons is nou definitief desperaat, tannie.” Danika swyg effens kortasem en kyk Ursula pleitend aan.

      “Desperaat en keelvol,” kom dit gegrief van Lani. “Ek is hardwerkend en intelligent, maar my naam is Lani. Geen regdenkende redakteur sal ’n joernalis met ’n simpel naam soos Lani in diens wil neem nie. Hoekom kon Mamma my nie ’n oorspronklike naam soos ‘Danika’ gegee het nie?”

      Omdat ek my lewe lank onder die gewigtige ‘Ursula’ gebuk gaan. Ek dink steeds ‘Lani’ is ’n interessante afkorting vir jou ouma se ellelange ‘Alexandra’, my ondankbare kind.”

      Sy wend haar tot Danika wat haar nog afwagtend aankyk en gaan berouvol voort: “Ek is werklik jammer om jou goeie ma se vertroue in my te skok, Danika, maar ek het Lani nie grootgemaak om ’n bedorwe rykmanskind te wees nie. Orion Internasionale Eiendomme is uiters suksesvol, maar tensy julle skielik besluit om eiendomsagente te word, sal ek geen toutjies trek om julle in jul loopbane te help nie.”

      “Haat Mamma my dan?” vra Lani verontreg. “Hoekom moet ek gestraf word omdat ek ’n ryk ma het?”

      “Dit is wat ek ook wonder. Dalk is jy ’n aangenome kind, Lani,” sê Danika simpatiek en vat Lani se linkerhand vertroostend in albei hare.

      “Of dalk is doktor Ursula Taljaard my stiefma,” oorweeg Lani, haar oë agterdogtig op haar ma gevestig.

      “Danika, wees konsekwent. ’n Kort rukkie gelede het jy my verseker Lani lyk na my, gevolglik kan ek net haar eie ma wees. Sy het toevallig ook my smal hande met die lang vingers en my lang bene geërf, ingeval julle nog aan ons bloedverwantskap twyfel,” redeneer Ursula saaklik. “Nog tee vir julle?”

      “Tee sonder koek is soos pannekoek sonder kaneel en suiker,” mor Danika en proe aan haar koppie koue tee.

      “Ons praat nou oor my bloedeie ma en haar verwaarloosde, bloedeie dogter, Mamma,” sê Lani nadruklik. “Mamma se dierbare suster en haar groothartige man, tant Amora en oom Werner, het derduisende rande gespandeer om hul kinders ’n hele jaar lank deur Europa en Engeland te laat reis. Twéé kinders, Mamma. Ninon en Bernard sê dit was ’n