blik vlugtig na Danika wat verveeld met haar koeldrankstrooitjie speel. “En hoekom sleep jy Danika saam met jou as jy so gretig is om van jou ma af weg te kom? Sy is haar ouers se enigste dogter, en haar ma sê Danika dans van kleins af na jou pype.”
Danika vergeet van die koeldrankstrooitjie in haar hand en kyk op. “Ek wed my drie broers het jou omgekoop om met Lani rusie te maak, nè, Rikus? Hulle kan nooit vergeet hulle is ouer as ek nie en boonop is hulle al drie in mindere of meerdere mate verlief op Lani. Hulle slaan al jare lank vuis oor haar, maar as ons eers op Silwersee werk, is dit neusie verby vir almal.”
“Hoekom?” vra hy, sy oë gleufies van agterdog. “Lani, het jy ’n kêrel op Silwersee?”
“Het ek?” Lani draai na Rikus en antwoord liefies: “Dis ’n simpel vraag, my vriend, want jy weet ek en my ma kuier nooit op Silwersee nie. Jou probleem, Rikus, is dat ons saam skoolgegaan het, daarna saam op varsity geswot, saam tennis gespeel en danse bygewoon het, en nou verbeel jy jou ons is familie. Ons is nie. Nie ek of Danika hoef jou toestemming te vra om oor ons toekoms te besluit nie. Hou nou op om ons te beledig. Sy is nie ’n marionet wat ek met toutjies beheer nie; sy kom saam met my Silwersee toe omdat sy net so desperaat soos ek is om werk te kry en haar eie geld te verdien.”
“Presies! As jy vir ons werk het, bly ons net hier,” sê Danika toegeeflik.
“As ek al ’n prokureur was, sou ek julle as my assistente aangestel het,” stotter hy blosend en stoot sy vingers deur sy kort kuif wat reeds regop staan. “Dalk kan ek vir julle vertaalwerk kry. Ek ken ’n ou wat …”
“Ons is joernaliste, nie vertalers nie,” val Lani hom beslis in die rede en kyk met ’n speelse glimlag na Rikus wat haar met moord in sy oë aankyk.
Rikus is ’n paar maande ouer as sy en Danika, ’n ou speelmaat, daarom vergeet sy maklik dat hy ’n aantreklike jong man geword het, besef sy krities. Sy donkerbruin oë vorm ’n skerp kontras met sy witblonde hare, sy gelaatstrekke is egalig, iets seunsagtig aan sy kort en vol lippe wat permanent effens opkrul asof hy wil glimlag. Hy is redelik kort, maar sy skraal liggaamsbou skep die indruk dat hy veel langer is. Sy is ook bewus van die rede vir sy vyandige houding teenoor haar die afgelope twee jaar: Rikus is verlief op Danika, of dalk het hy haar selfs lief.
“Hoekom laat jy Danika nie toe om my te antwoord nie, Lani?” vra hy nou stuurs.
“Knorpot!” skel Danika hom goedig uit. “Ek háát vertaalwerk. Ek is desperaat genoeg om boksies en borsspelde van skulpies te maak, soos tannie Ursula sê, maar ek weier om vertaalwerk te doen.”
“Ook maar kieskeurig,” grom hy en luister vies na die luide gorrelgeluide wat Danika met haar koeldrankstrooitjie in haar byna leë glas maak. “As jou serenade in ’n glas ’n skimp is vir nog ’n koeldrank, onthou, ek kan dit nie bekostig nie. Kom ons loop. Oorweeg my voorstel vir vertaling, Danika. Lani sal nie sonder jou na daardie simpel stranddorpie toe gaan nie.”
“Dis reg, sonnige Rikus. Ek en Danika is soos ’n Siamese tweeling, soos jou astrante broer Gustav graag sê. Loop gerus as jy so arm en haastig is. Ek en Danika gaan iets te ete bestel en die rekening self betaal. Geluk met jou werk by oom Werner se prokureursfirma. Jy moes hom met jou goeie slaagsyfer beïndruk het, want meer as een man het vergeefs probeer om by sy firma werk te kry.”
Rikus bloos, trots flikkerend in sy oë, sy glimlag sku. Hy kyk vinnig na Danika. “Ek weet. Wim Lategan het my verseker die werk is syne, maar jou pa … e … meneer Retief het my in diens geneem.”
“Ek en Wim het lankal ons verhouding verbreek,” sê Danika styf en vermy opsetlik Rikus se simpatieke oë.
Hy kug selfbewus agter sy hand. “Ek het so iets gehoor, ja. Dan vertrek ons môreaand om seweuur, net ná die spitsverkeer?”
“Ja,” sê Lani. “En pak padkos in. Jy weet hoe duur koeldranke en peuselkos by die motorhawes is. As jou ma vir ons pampoenkoekies bak, stuur ek vir haar ’n kaartjie vir Moedersdag.”
“My ma waarsku my gereeld teen beeldskone, bedorwe rykmansdogtertjies,” spot hy, sit ’n vyftigrandnoot op die tafeltjie neer, en verkas ná ’n haastige groet.
“Foei tog, kry jy hom nie eens ’n kleine bietjie jammer nie, Danika?” vra Lani gedemp.
Danika se mond val oop van verbasing. “Wie moet ek jammer kry?”
“Rikus, natuurlik!”
“Hoekom? Hy was ’n briljante student en my pa glo hy sal eendag ’n suksesvolle advokaat word. Dalk moet ek hom haat, want as Wim Lategan die werk by my pa gekry het, het hy my miskien regtig liefgekry,” sê Danika bedruk.
“Wim was ’n misoes met sy valse glimlaggies en vleiwoorde aan al die ryk meisies op die kampus. Hoekom hou jy jou so blind, Danika? Rikus is al die afgelope twee jaar dolverflief op jou, maar jy ignoreer hom meestal, of vergeet om dankie te sê wanneer hy jou komplimenteer.”
Danika se mond val vir ’n tweede maal oop, haar oë koeëlrond van verontwaardiging. “Wie is nou simpel?” wil sy weet.
“Wat bedoel jy?”
“Dis jý wat blindemol speel, Lani! Rikus was altyd jou vertroueling, jou beste seunsmaat toe ons kinders en later studente was. Tot sowat twee jaar gelede, toe hy …”
“Op jou verlief geraak het. Hy kan sy oë nie van jou afhou nie, maar ek irriteer hom grensloos, want hy soek altyd skoor met my. Kan jy dit ontken, slim Danika?” treiter Lani.
Danika kreun asof sy dodelik gewond is en staar nikssiende na haar leë glas voordat sy haar kop sugtend optel. “My broers haat mekaar omdat hulle almal verlief op jou is, maar hulle haat Rikus nog meer, want hulle dink hy is hul sterkste kompetisie om jou voor die kansel te kry. Jy hou tog van hom?”
“Nie meer nie. Het hy jou nuuskierige broers vertel van sy onsterflike liefde vir my?”
“Jy’s katterig omdat jy my nie glo nie. Rikus is te kort en te maer om sy liefde vir jou teenoor my drie gespierde, rugbyspelende broers uit te lap. Maar ek is sy vertroueling wat gereeld na die gesanik oor sy wanhopige liefde moet luister. Dit kan uitputtend word wanneer hy jou skoonheid ure lank besing.”
“Jy oordryf, mens. Rikus is hopeloos vals vandat sy stem gebreek het, daarom sal hy niemand besing nie. Wees jy maar sy vertroueling.”
“Jy bedoel hy sal my moederlike hart en troue liefde agter my vetrolletjies raaksien?” vra Danika skepties.
“Goeie genade, Danika. Jy is darem sinies op twee-en-twintig. Ek gaan vir ons water en hoenderslaai bestel, want as jy nie blitsvinnig van jou vetrolletjies ontslae raak nie, raak ek ontslae van jou!”
Ursula sien Lani op die Persiese mat voor die musieksentrum in die televisiekamer sit, ’n ou foto-album oop op haar skoot.
“Het jy die ou album in die bruin trommel op die solder gekry, Lani?” vra sy beheers en sak af op haar knieë langs Lani.
“Hallo, Mamma,” groet Lani sonder om op te kyk. “Ek het gisteraand onthou oom Awie het jare gelede dié ou foto-album vir my gewys, toe ek wou weet hoe Silwersee se strand lyk. Ek het vanoggend oral gesoek en die album in die trommel opgespoor. Hoekom lê dit al die jare op die solder?”
Ursula moet haar ontsteltenis verberg en antwoord kamma ligtelik: “As ek die plooitjies om my oë sien, verkies ek om nie na foto’s van die jong Ursula in haar bikini te kyk nie.”
“Mamma soek nou komplimente. Al my vriende dink ek het die mooiste ma, met ’n figuur wat die meeste van my vriendinne beny. Maar hierdie foto’s van Mamma en my pa … Is die foto’s op Mamma-hulle se wittebrood geneem?”
“Nee, jy was toe reeds ’n jaar oud en ons kosbaarste geskenk. Ons het jou in tant Marcia se sorg gelaat en die dag op die strand deurgebring.”
“Wie is die oom en tannie saam met Mamma-hulle? Ken Mamma hulle nog?”
“Nee, dit was net ’n kortstondige vakansievriendskap.” Ursula kom orent