neem oorkant Ursula op die uitnodigende bank plaas, haar bene opgetrek voor haar en haar arms rustend op haar knieë. “Ek en Danika het afgespreek om vanmiddag bietjie te slaap, maar ek is veels te opgewonde om aan slaap te dink. Dis waarom ek na die ou album begin soek het.”
Sy draai haar kop effens skeef, verwondering in haar blik toe sy haar ma oomblikke lank stilswyend aanstaar: “Hoekom praat Mamma nooit oor my pa nie? Ek weet hy was ’n ginekoloog en het Mamma op Silwersee ontmoet. O, en dat hy baie lief was vir my.” Sy frons verward. “Dis vreemd, maar dis net asof dit nie genoeg is nie. Ek wens ek het my pa geken.”
“Dis wat ons almal wens wanneer ons iemand te vroeg aan die dood moet afstaan, Lani,” antwoord Ursula, leun nader en pluk Lani aan haar groottoon. “My kaalvoetkind. Dis wat jy van kleins af altyd eerste uittrek: jou skoene of sandale. In daardie opsig aard jy na jou pa. Jou blonde hare en diepblou oë is sy nalatenskap aan jou, maar gelukkig het jy nie sy breë skouers nie.”
“Was Mamma baie, baie lief vir hom?”
“Lief genoeg om met hom te trou,” antwoord Ursula glimlaggend.
“So lief dat Mamma na een-en-twintig jaar nog nie weer ’n man kon liefkry nie?”
“Het jy nie gister uitdruklik gesê jy wil nie ’n stiefpa hê nie?”
Lani plooi haar neusie. “Nie terwyl ek nog in die huis is nie, maar as ek nie weer terugkom nie, gaan Mamma verskriklik alleen wees. Ek sal glad nie omgee as Mamma nou besluit om weer te trou nie.”
“Jou groothartigheid maak my bewoë, my kind,” spot Ursula en lag die blosende Lani goedig uit. “My sosiale lewe verhoed dat ek ooit eensaam is en raak ek verveeld, loop rits ek oorsee rond en kuier hier en daar.”
“Mamma noem dit sakereise.”
“Dit is. Die koop en verkoop van eiendomme is in my bloed. Jou oupagrootjie het die maatskappy trouens net voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog begin.”
“Ek gaan nie met ’n eiendomsagent trou nie, Mamma! Moenie my vra nie; moenie eens so ’n waarskynlikheid oorweeg nie. Ek gaan ’n misdaadjoernalis word en rillers skryf. Toe, Mamma, ek dink ek sal regtig kan. Glo my.”
“Jy het net jou eie geloof in jou drome nodig, my dogter. Vanselfsprekend droom ek oor my kleinseun of -dogter wat in die voortsetting van ons eiendomsmaatskappy sal belang stel, maar ek sal seker nog ’n rukkie moet wag. Kom ons gaan drink ’n koppie tee. Van môre af sal ek my agterstallige werk inhaal, maar vandat ek gehoor het jy gaan weg, het ek in ’n kloekende moederhen verander.”
“Mamma gaan my mis,” sê Lani ingenome, staan op en haak by Ursula in. “Is dit nou die geskikte oomblik om na my maandelikse toelae te verwys, net ingeval ek en Danika honger ly?”
“Afperser!” sê Ursula berispend, maar die warmte in haar oë en glimlag verraai haar onvoorwaardelike liefde vir haar enigste dogter.
Danika drink gulsig aan ’n glas water, en probeer terselfdertyd om ’n mak duif wat op haar bord vis en skyfies sit met ’n armswaai te verwilder, maar stik amper toe die duif hom fladderend op haar kop tuismaak.
“Voert-voertsek, duif!” skel sy uitasem. “Ek wed die simpel duif se naam is Ursula, en jou alsiende ma het die ding gestuur om my skyfies te probeer vertrap omdat sy weet lekker slap skyfies maak vet.”
Die voorbarige duif op haar kop ignoreer haar swaaiende hande. “Vervlaks, Lani, doen iets! Die duiwe omsingel my. Hoekom het jy nie vir ons ’n tafeltjie binne-in die restaurant gekry nie? Gee jy nie om dat die duiwe in jou duur bord kos wei nie?”
“Wei duiwe dan soos koeie, of …?”
Lani sien hom anderkant die tafeltjies staan, lank en lenig, breed geskouer met smal heupe, die spiere sigbaar op songebruinde arms. Vlinders fladder in haar maag. Haar hart ruk in haar bors. Haar asem stol op haar lippe. Wat ’n man! Onopsigtelik probeer sy om haar asemhaling te reguleer.
Hy is definitief nie net ’n mooi man nie; hy is waarskynlik die aantreklikste man wat sy al ooit gesien het. Onweerstaanbaar aantreklik, besluit sy. Sy digte, swart hare is effens te lank en windverwaaid, en vee oor die kraag van sy ligblou gholfhemp; sy sonbrons gesig vorm ’n skerp kontras met die silwergrys oë, omraam deur lang, swart wimpers. Sy neus is smal en reguit en sy hoë wangbene en sterk kakebeen skep die indruk van innerlike krag.
Sy lippe het die gebeitelde lyne van ’n kunswerk, dink sy, lus om hom liggies op die mond te soen.
So oorweldig is sy deur sy manlike voorkoms en die onbetwisbare selfversekerheid wat hy uitstraal dat dit enkele sekondes duur voordat sy besef hy hou haar dop.
“Lani …! Verdeksels, help my! Kan jy nie sien die duiwe vergryp hulle hier aan my kos nie?”
Lani kyk na die ontstoke Danika sonder om haar raak te sien en sê werktuiglik: “Oom Awie kon ons nie ontmoet nie, maar hy het die man gestuur wat nou tussen die tafeltjies deur na ons toe aangestap kom. Ek dink dit is hy dié, die regte man.”
Die donker man bly vlak langs Lani staan, steek sy hand uit en stel homself voor: “Ek is Jan-Erik van Eeden. Oom Awie Badenhorst het my gevra om die mooiste meisie in die stad saam met my huis toe te bring. Hallo, Lani Taljaard. Ek wonder net: Hoe kon jy so gou al besluit het ek is die regte man vir jou?”
2
Dank die hemel sy het tydens haar studentejare oorgenoeg selfversekerde mans ontmoet wat haar met vleitaal en slimpraatjies probeer oorrompel het. Lani betrag Jan-Erik en vra koel: “Skort iets met jou gehoor, Jan-Erik? Ek het gesê jy is die regte man – jy is die man wat deur oom Awie gestuur is, want jy lyk soos ’n gebore dorpenaar.”
“As ek soos ’n plaasjapie lyk …” Jan-Erik stoot sy vingers deur sy windverwaaide kuif en voel-voel aan die donker baardstoppels aan sy kake en ken. “Ek vra om verskoning, maar oom Awie se versoek was so onverwags dat daar nie tyd was om te skeer of ’n snyerspak aan te trek nie. En die suidooster was natuurlik in my hare.” ’n Glimlag plooi om sy lippe en versprei na sy staalgrys oë. “Gaan jy my nou met die hand groet of is dit iets wat net ons plaasjapies doen?”
“Ag, jammer, Jan-Erik. Ek dag jy hou jou hand uit met die hoop Danika deel haar skyfies met jou.” Sy steek haar hand uit en snak amper hardop na haar asem. Die aanraking stuur stuwende opwinding deur haar, warm en aangenaam en terselfdertyd verwarrend. Iets vreemds gebeur, besef sy, bewus van haar versnelde hartklop, die onbekende flikkering in haar maag, die wyse waarop haar hand tintel toe sy groot hand om hare sluit.
Sy, Lani Taljaard, wens haarself jare lank al geluk omdat geen man nog daarin kon slaag om haar gedissiplineerde emosies te versteur nie, maar Jan-Erik van Eeden is die bron van onbekend erotiese sensasies in haar, erken sy onthuts aan haarself.
Daar moet ’n wet wees teen mans wat so onweerstaanbaar sexy lyk.
Sy kyk op en verdrink dadelik in sy oë. ’n Sweem van ’n glimlag pluk aan sy mondhoeke. Wat ’n pragtige mond! Sy het nooit besef mans kan ook mooi lippe hê nie. Om net na hom te kyk, is pure sensuele genot, soos om ’n sappige, soet vrug te eet.
Die begeerte oorweldig haar byna om met haar vingers oor sy onderlip te streel en die tekstuur van sy vel te ontdek. Sy wil sy speelse glimlag deel maak van haar. Terselfdertyd vou ongelooflike warmte haar soos ’n kombers toe.
“Hoekom soen julle nie net en kry klaar nie?” vra Danika wrewelrig, die joos in vir die astrante duiwe wat haar vis en skyfies verslind het, en steeds te na aan haar kom vir haar gemoedsrus.
Selfbeheersing is haar enigste wapen, herinner die innerlike stemmetjie van Lani se trots haar. Sy laat Jan-Erik se hand tydsaam gaan en sê vertroulik aan hom: “Die magtige dreuning wat jy so pas gehoor het, voorspel nie ’n donderstorm nie – dis Danika se hongerpyne wat haar so laat lawaai. Danika, raak ontslae van die duiwe en groet die plaasjapie.”
“Die duiwe vertrap my al ’n halfuur lank, maar jy maak asof ek onsigbaar is. Hoekom jaag jy hulle nie weg nie? Hulle wil nie na my luister nie,” kla Danika terwyl