Dis natuurlik veral mooi in Toskane en Umbrië, waar ons vandaan kom. Ek glo nie ek sal ooit daar weggaan nie. Dis so tragies dat my oupa, ’n chirurg, in die oorlog betrokke moes raak en hier moes eindig. Hy het medegevangenes behandel, en toe is hy self dood in dié verre, vreemde land. Hy het net een seun gehad – my vader – wat maar nege jaar oud was toe sy pa verplig is om in Afrika te gaan weermagdiens doen.”
“Dis tragies, maar baie van die Italianers het tog verkies om ná die oorlog hier te bly.” Rafaella voel sy moet darem haar land verdedig. “My oupa het op my oupagrootjie Saayman se plaas gaan help om ’n nuwe opstal te bou. Hy het daar op my ouma Lettie verlief geraak, sy was sewentien, en met haar getrou. My pa is hul seun. Miskien wou my oupa ook maar hier, naby sy oorlede broer, bly. Hulle was baie geheg aan mekaar …”
Giulio se ma onderbreek hul gesprek. “Dit klink asof julle twee familie uitlê. Maar verskoon ons, dokter Continari, ons moet die konsul-generaal gaan groet.”
“Verskoon my, dokter. Dit was aangenaam om met jou te gesels,” sê Giulio ook.
Rafaella is afgehaal. Sy kyk hoe die twee tussen die mense deurbeur en voel asof sy verlies ly. Sy het sopas die merkwaardigste man ooit ontmoet, en nou gaan hy uit haar lewe verdwyn!
Sê nou hy’s getroud? Daar was nie ’n ring aan sy vinger nie, maar dis nie te sê hy is nie getroud nie. Sommige mans dra nie trouringe nie.
Indien wel, waarom het sy vrou dan nie saamgekom nie? Dalk het sy ander verpligtinge. Kinders?
“Moenie so ongelukkig lyk nie,” hoor sy haar pa agter haar terg, en sy draai om. “Ons het hulle vir ete genooi môreaand. Hulle bly in die Lombardy Boutique Hotel in Pretoria-Oos. Ek sal hulle gaan haal sodat hulle nie sukkel om in Lynnwood uit te kom nie.”
Rafaella is so bly dat sy bloos en haar pa lag. “Dis goeie mense om te leer ken, nè? Ons het baie om oor te gesels.”
“O ja.” Baie!
Jacopo en Rachel Continari doen moeite vir die belangrike gaste. Rachel het haar huishulp, Jwana, ook ingespan om met die bereiding van lekker Italiaanse kos te help. Rafaella is dié aand vroeg tuis.
“Ek en Jwana kook al heelmiddag,” sê Rachel. Rafaella sien die etenstafel is pragtig gedek met die beste linne, silwerkershouers, kristalglase en rose uit die tuin.
“Julle wil die mense beïndruk, nè?” lag sy.
“Wel, hulle is familie van beroemde operasangers,” sê haar pa, wat hom met die voorbereiding van die drankies besig hou. “Ek het die Italiaanse konsul-generaal genooi, maar dit was te kort kennisgewing en hy kan nie kom nie. Dis net ons en hulle twee.”
“Ek is bly. Dan kan ons lekkerder gesels sonder ander gaste wat moet aandag kry.”
Sy gaan stort en trek ’n wit linnebroek aan, met ’n sagte wit bloes daarby. Haar blonde hare is gewas, haar blou oë liggies gegrimeer, en sy spuit parfuum aan. Sy lyk nie Italiaans nie, dink sy. Dis haar ma se familie, die Vosloos, se ligte kleur wat sy gekry het. Anders as haar ouer broer, Aldo. Hy het die donker voorkoms van haar pa se mense. Sy wil graag ’n indruk maak op die aantreklike Giulio, al vermoed sy dat daar minstens een vrou in Italië wag wat aan hom verbind is of op hom verlief is. Dalk is hy selfs al verloof.
Nadat sy in die spieël seker gemaak het dat sy aanvaarbaar lyk, gaan maak sy die voorgereg van prosciutto en bruschetta-broodjies met tamatie, basiliekruid, knoffel en kaas. Sy hou van kook, maar kry deesdae min tyd daarvoor. Die lang ure wat sy werk laat dit nie toe nie.
Toe haar pa teen sononder met die mense aankom, is Rafaella se senuwees al dun geskaaf. Sy berispe haar dat sy nie so verspot moet wees omdat die Italiaanse dokter kom kuier nie – maar sy kan haarself nie help nie.
Hy slaan weer eens haar asem weg toe hy inkom in ’n spierwit hemp en donkerblou broek wat sy soel aantreklikheid beklemtoon. Rafaella groet en verwelkom die gaste net half bewus van wat om haar aangaan, probeer om haar oë van Giulio af te hou en wonder of sy daarin slaag. Hy lyk selfversekerd, enigmaties, ernstig.
“Ons kan eers op die stoep gaan skemerdrankies drink,” stel Jacopo voor. “Dis ’n heerlike aand.”
Hy neem die mense na buite en almal gaan sit op die stoele van gegote yster wat Jacopo onlangs gekoop het.
“So ’n pragtige tuin,” sê Louisa. “Soveel blomme! Daardie bome met die pers is veral pragtig.”
“Jakarandas,” vertel Rachel. “Dis Suid-Amerikaanse bome wat nou hier volop is. Ek is bly dis vir jou mooi. Ek is die een wat die tuin beplan. My man is te besig met sy akademiese werk. Hy is mos professor in geskiedenis en hy skryf tans ’n boek oor sy familiegeskiedenis en die Italiaanse krygsgevangenes in Suid-Afrika.”
“Dit behoort baie interessant te wees,” sê Giulio. “As daar enige inligting is wat ons kan bydra, help ons graag.”
“Dankie,” sê Jacopo, “ek beplan juis om Italië weer te besoek en van die families van die krygsgevangenes op te spoor.”
“Dan moet u ons gerus kontak.” Giulio haal ’n visitekaartjie uit sy beursie en gee dit vir Jacopo.
“Ek sal beslis, dankie,” sê Jacopo, heel in sy skik.
“Vertel eers, het julle nog kinders, en wat doen hulle?” vra Louisa.
“Ons seun, Aldo, wat vyf en dertig jaar oud is en nog ongetroud, is ’n onkoloog in Kaapstad, verbonde aan die universiteit daar,” vertel Jacopo. “Hy het vir Rafaella beïnvloed om ook medies te gaan studeer.”
“A, ’n kankerspesialis,” sê Giulio. “My pa is dood aan keelkanker. Sy keel moes baie druk verduur met die singery. Ek het in ’n stadium gewonder of ek in daardie rigting moet studeer, maar uiteindelik het ek besluit dat chirurgie en die algemene praktyk my beter pas.”
Terwyl haar pa hul eerste drankies skink, gaan haal Rafaella die voorgereg, bordjies en servette. Sy bied dit vir die mense aan, wag eers dat Giulio een broodjie eet en sy mond en vingers netjies met die servetjie afvee voordat sy begin gesels.
“Sing jy ook?”
Hy glimlag. “Ek is darem nootvas, maar ek sou myself geensins in dieselfde klas as my pa en broer plaas nie.”
“Eintlik sing Giulio ook baie mooi, maar hy het verkies om dokter te word,” sê Louisa. “My seuns is albei musikaal en speel verskeie instrumente. Ek self speel die harp.”
“Ag, Mamma, ek het nou nie soveel talent soos Luigi gekry nie. Ek aard beter in wat ek nou doen.”
Louisa is duidelik trots. “Hierdie kind van my het van kleins af siek diere versorg en gesê hy wil mense gesondmaak. Op ons dorp, Cortona, het hulle groot respek vir hom.”
Giulio kyk na Rafaella. “My droom is om op ons landgoed buite Cortona ’n rusoord te begin. Nie juis vir teringlyers of siekes nie, maar vir allerlei mense wat van siekte moet herstel, of wat sommer net uitgebrand is van oorwerk en wat wil rus. Ons gaan ’n nuwe gebou agter ons villa oprig vir die rusoord. Die landgoed is groot en die landelike omgewing sal sulke mense goed doen.”
Rafaella voel onder sy donker oë asof sy onder ’n kollig is, maar sy reageer bedaard. “Dit klink na ’n uitstekende idee.”
“Ek sal natuurlik personeel moet aanstel en fasiliteite inrig.”
“Gaan jy mediese personeel aanstel?” vra sy.
“Nee, nie by die oord nie. Ons gesondheidswette bepaal dat mense wat mediese sorg nodig het, dit by staatshospitale moet kry. By ons sal mense net kom rus en ontspan. Ek sal hulle verwys, indien nodig.”
Later luister Rafaella hoe Giulio en haar pa Suid-Afrikaanse en Italiaanse wyne vergelyk, en sy kan die dokter lekker dophou. Hy straal iets uit, iets wat sy nog nie by enigiemand anders ervaar het nie. Is dit liefde wat begin ontwaak? Sy sal ’n gek wees as sy val vir dié aantreklike, selfversekerde man wat na sy eie wêreld gaan terugkeer en nie eens aan haar sal terugdink nie. Vir wéér seerkry ná haar onlangse liefdesteleurstelling