doen hy ook. Hy kies nie ’n besondere koers nie, slenter maar sommerso deur die stowwerige strate en teug die aandlug in. Dis nog nie naastenby donker nie en die lenterigheid in die lug laat hom onwillekeurig opgewek voel. Heimlik glimlag hy oor die ontsaglike kontras wat dit met die stad vorm. In sy geheue probeer hy bepaal wanneer hy laas werklik uit die stad was; dit moes in sy kinderjare gewees het. Vandat sy studies begin het, het hy nooit weggebreek nie; met latere konsertreise het hy hom by groot plekke bepaal. Toe is hy oorsee vir twee jaar. Daar was dit eweneens maar stad op stad. Veral Amsterdam het sy hart gesteel; twee maal het hy selfs saam met die Concertgebouw-orkes opgetree, met Van Beinum en Kubelik as dirigente.
En nou? Hy glimlag. Nou dwaal hy deur die strate van ’n klein Bosvelddorpie waarvan hy nog nie eens die naam uitgevind het nie.
Hy is op die punt om terug te draai toe hy iemand in ’n huis digby hoor sing. Bloot uit gewoonte bly hy ’n oomblik staan, sy kop effens skuins om te luister. Dan stap hy versigtig maar baie beslis nader in die rigting van die huis. Dis ’n sopraanstem, suiwer soos glas en met ’n ryk, gedempte kwaliteit soos hy nog selde gehoor het.
Toe hy hom kom kry, staan hy in die tuin voor die huis tussen die struike, reg onder die venster. Dit stroom soos water oor hom, spoel die stof van die strate van hom af. Die tegniek is nie goed nie, maar die kwaliteit …! Dit laat hom voel soos ’n kind wat ’n skoenlapper tussen sy vingers hou, suiwer vir die skoonheid daarvan.
’n Halfuur later raak die klank stil. Hy bly nog ’n minuut staan en wag, luister soos ’n opgewonde skoolseun, maar dis verby.
’n Oomblik oorweeg hy dit om sommer in te stap en die sangeres te soek: die venster was te hoog bo die grond om deur te kyk. Maar hy skud die gedagte af: hierdie Bosveldmense sal so iets nie begryp nie.
Vaagweg herinner hy hom tant Soes se woorde: “Ons het mos ook so ’n musiekmensie hier …”
Sou dit hierdie sopraan wees? Haastig, amper gretig, sluip hy by die tuin uit en stap die straat af terug na oom Theuns-hulle se huis.
“Wat jaag jou?” kyk die oubaas verbaas op toe hy inkom.
Anton glimlag bietjie verleë. “Ek het maar sommer ’n ent gestap.” Hy weeg sy woorde. “Wie bly dáár … anderkant die tweede hoek?” Hy beduie naastenby.
“Bart Steyn-hulle. Hoekom?”
“Is dit hulle dogter …” Hy trap ineens rond. “Het hulle ’n dogter wat sing?”
“Og, maar het ek jou nie vaneffe, voor ete, nog van haar vertel nie?” vra die tante.
“Het sy enige opleiding gehad?” vra hy.
“Sy’t les geneem by die orreliste,” lig die tante in. “Ek het vergange gehoor sy wou graag verder gaan, maar Bart-hulle was bietjie teë daarop en sy self wou ook maar nie te graag hier weg nie. Mens groei maar vas aan die ou plekkie.”
“Dis ’n sonde om haar hier te hou!” sê hy met vuur.
Die tante haal haar skouers op. “Wie weet? Is dit nie maar die belangrikste dat sy gelukkig is hier nie?”
Hy kan stik van opgewondenheid, maar hy weet baie goed dat dit niks sal baat om met hierdie mense verder te gesels nie. Ongewoon vroeg gaan hy kamer toe, maar dis baie laat voor hy aan die slaap raak. Die klank van daardie verrassende stem nog in sy ore.
Daar is nie eens meer ’n gedagte aan verder ry die volgende oggend nie: hy moet eers nader kennis maak met die eienares van daardie stem wat hy gisteraand gehoor het.
“Ek hou van julle dorpie,” vertel hy terloops aan ontbyttafel. “Ek dink ek sal so ’n rukkie hier oorbly. Ek sal sommer netnou die losieshuis gaan soek.”
“En hoekom kan jy nie hier by ons bly nie?” vra tant Soes aweregs.
Hy wou teenstribbel: hoe kon hy nou so van hulle gasvryheid misbruik maak? Maar op die duur is hy oorreed en met ’n besonder opgewekte binneste kry hy kort ná ontbyt koers buitentoe. Eers gooi hy ’n draai verby die huis waar die vreemdeling die vorige aand gesing het, half in die hoop dat hy haar daar sal raakloop. Twee maal slenter hy voor die deur verby, maar hy gewaar niks. Miskien is dit ook beter, besluit hy. Hy moet eers ’n ent gaan stap en die saak van ’n kant af deurdink: dis moontlik dat hy gisteraand nie suiwer kon oordeel nie. Hy kan die meisiemens mos nie sommerso trompop gaan nader nie!
Peinsend stryk hy verby die laaste huise na die rivier, soos oom Theuns hom beduie het. Hy is juis besig om deur die struike te dring na die waterkant, toe hy weer die stem hoor. Daar is geen twyfel aan nie: dis dieselfde stem as gisteraand. Versigtig koers hy deur die boskasie.
Agter ’n boom gaan hy skielik staan: sy sit daar op ’n groot klip op die wal, haar voete in die water. Sy het lang, ligte hare, ’n skraal liggaam; meer kan hy nie uit hierdie hoek sien nie. Al wat tewens saak maak, is haar stem. Eintlik sit sy maar daar en neurie – bekende liedjies, ’n paar arias.
Hy klou aan die boomstam, voel soos ’n wetenskaplike wat ná jare en jare van navorsing ’n lewensbelangrike serum ontdek het. Hoe op aarde kom hierdie verlate dorpie aan so ’n talent?
Hy moes in sy opgewondenheid daar agter die boom beweeg het, want sy hou ineens op met sing en draai vinnig, half verskrik na hom om.
“Wat maak jy hier?”
“Ek het jou hoor sing,” verduidelik hy rustig. “Gee jy om dat ek kom luister het?”
Sy skud haar ligte hare agteroor. “Wie is jy?”
“Anton Viviers,” sê hy en wag vir ’n blik van herkenning op haar gesig, maar sy bly hom vreemd aankyk.
“Ek is ’n pianis,” verduidelik hy en probeer so natuurlik as moontlik naderkom. “Gee jy om as ek hier kom sit?”
Daar is iets nuuskierigs in haar wye blou oë. “’n Pianis?”
Hy knik. “Dis dié dat jou stem my getref het. Ek het dit gisteraand al gehoor …” Sy kyk hom sonder ’n woord aan. Hy glimlag bietjie verskonend. “Ek het daar in die tuin staan en luister.”
“Hoekom het jy nie ingekom nie?”
Anton is ’n oomblik uit die veld geslaan. “Julle is tog vreemd.” Hy gaan op die klip sit, kyk haar ineens ernstig aan. “Weet jy dat jy ’n besondere stem het?”
Sy haal haar skouers argeloos op, speel met ’n rietjie in die water. “Ek hou daarvan – dis al.”
“Waarom het jy jou nie verder laat oplei nie?”
“Dan moes ek hier weg.” Sy sê dit eenvoudig, natuurlik, soos mens sou sê: “Dis ’n mooi dag.” Maar in haar stem hoor hy die vraag: “Kan jy ’n vis uit die water wegneem?”
“Jy is tog seker meer verskuldig aan jouself as dit?” dring hy aan.
“Ek is gelukkig,” sê sy. “Ek hou skool vir die kleintjies en ek help in die huis. Ek het nog nooit na iets anders verlang nie. Buitendien, daar is niks buitengewoons aan my stem nie.”
Hy voel magteloos. “Ek het tog darem seker ’n bietjie vermoë om te oordeel. Ek weet dat mens nie elke dag ’n stem soos joune hoor nie. As jy die regte opleiding het …”
“Ag!” Sy lag, onbesorg soos ’n kind. Inderdaad lyk sy soos ’n kind daar op die rots, met haar voete in die water: ’n klein, pragtige dogtertjie.
Hy raak ineens verleë en weet nie hoe om die saak verder aan te pak nie.
Sy bly met die rietjie speel, neurie baie liggies, ongeërg tussen haar tande.
“Weet jy,” kyk hy onverwags op, “ek weet nog nie eens wat jou naam is nie.”
“Marieke,” sê sy gewoonweg, sonder skroom. “Marieke du Preez.”
Hy frons en dink ’n oomblik. “Ek verbeel my tant Soes het gesê jou van is Steyn?”
Sy skud haar kop, kyk hom ’n oomblik met