Niemand sal ooit kan nie. Jy en jou ma was baie lief vir mekaar en daardie band sal vir ewig hou.”
Sy pa verstaan duidelik nie. Hy sal iets anders moet probeer as hy sy pa wil oortuig om hom nie na die simpel kamp toe te stuur nie. Maar wat?
“Pa,” sê hy versigtig, “kan ons nie ’n ander reëling maak nie? Wat daarvan as Pa my eerder vir die hele drie weke hok en ek kry bedags ’n vakansiewerk en dan betaal ek die skade aan tannie Themba se motor só af?”
Sy pa skud sy kop beslis. “Clayton, ek het reeds betaal om die krapmerk wat jy opsetlik met die skroewedraaier aan tannie Themba se Range Rover gemaak het te laat herstel. En glo my, drie weke se vakansiewerk sou nie daarvoor kon betaal nie.”
Dis so onregverdig! Clayton slaan met sy vuis op die lessenaar. “Pa wíl my net nie ’n kans gee nie!”
“Nee, ek wil nie!” skree sy pa terug. Hy gluur na Clayton met onheilspellende swart oë. Verbeel hy hom, of kan hy bloupers are in sy pa se nek sien bult? “Jy’t al heeltemal te veel kanse gehad! Eers was dit al die foto’s waarvan jy tannie Themba se kop afgeknip het, toe haar duur skoene wat spoorloos verdwyn het en later verbrand agter die motorhuis gevind is. Toe haar motor met die krap. Genoeg is genoeg, Clayton! Jy gaan op hierdie kamp en klaar.”
Vir die eerste keer in sy lewe is Clayton bang vir sy pa. Iets ís fout.
Jy het verloor … en ék het gewen. Dis wat tannie Themba gesê het. Hy kan nie help om die woorde oor en oor in sy kop te hoor nie.
Hy lig die pamflet traag van die tafel op sonder om sy oë van sy pa af te haal. Sy pa sit baie regop in sy stoel met albei sy hande plat op die lessenaar voor hom. Sy spiere lyk gespanne, asof hy enige oomblik kan opspring.
Toe sy pa weer praat, is sy stem baie sag. “En Clayton, volgens die bestuur van die program sal jou deelname en houding jou ervaring bepaal. As jy saamwerk en altyd jou beste gee, sal dit soos ’n vakansie voel, maar as jy vasskop en probleme veroorsaak, sal dit ’n nagmerrie wees.”
Clayton spring op en loop vinnig by die studeerkamer uit, maar voor hy die deur agter hom kan toeklap, hoor hy sy pa skree: “As ek jou nie nou op dertien na hierdie kamp stuur nie, gaan jy nog eendag in ’n monster verander!”
3
Clayton laat sy kop moedeloos agter teen die sitplek rus, terwyl die swart Jeep se enjin eentonig in sy ore dreun. Die bestuurder voor hom ignoreer hom al vir ure lank. Hy sug en kyk deur die donker ruit na tekens van die landskap wat verbygly. Die son is al onder en dit is donker buite, maar dis duidelik hulle is lankal nie meer in die stad nie. Hy kan die vorms van digte bome en bosse uitmaak.
Hy probeer die benoudheid wat in sy bors opstoot onder beheer kry. As hulle verhouding op die oomblik nie so sleg was nie, sou hy dalk die vrymoedigheid gehad het om met sy pa te praat oor die werklike rede waarom hy nie die kamp wil bywoon nie.
Volgens Google en Wikipedia is hy ’n hilofoob – iemand met ’n oordrewe vrees vir bome en veral digte woude. Dit verklaar dalk hoekom hy die monsterboom-visioen so gereeld buite sy kamervenster sien.
Maar die probleem is dat hy nog nooit met iemand oor sy vrees kon praat nie. Hy weet mense sal dink hy’s ’n freak.
Sy vrees vir bome bestaan al so lank as wat hy kan onthou. Hy vermoed dit het iets te doen met rillerflieks wat meestal in woude en beboste landskappe afspeel, maar hy kan nie onthou waar of wanneer dit hom die eerste keer bang gemaak het nie. Die gedagte aan ’n mistige woud is vir hom die mees vreesaanjaende ding ooit. Genadiglik was sy ouers nooit mense vir kamp of bergklim nie, so daardie trauma is hom nog altyd gespaar.
“Hoe ver is ons van die kamp af?” vra hy vir die bestuurder.
“Ons is amper daar.” Die ou se stem is emosieloos en koud.
Hy besluit om eerder nie verder uit te vra nie. Hy sit alleen agter in die deftige vierwielaangedrewe voertuig wat gestuur is om hom op te laai. Dis glo sodat die ouers nie moet weet waar om hulle kinders te bereik nie, want die kamp se program moet sonder enige inmenging voltooi word. Hy kan nie glo sy pa het tot so iets ingestem nie. Dis duidelik hy is nou keelvol vir Clayton se streke. Dinge het seker te ver gegaan. Hy sal móét probeer om die beste van hierdie kamp te maak en weer sy pa se vertroue te wen.
Clayton probeer deur die donker ruite van die Jeep kyk om te sien waar hulle is, maar dis stikdonker buite. Voor hulle maak die voertuig se hoofligte net twee flou ligstrepe op die pad.
Skielik begin die Jeep swaarder trek en Clayton vermoed hulle ry teen ’n steil bergpas op. Hy leun vorentoe en maak keel skoon. “Hoe lyk die kamp? Is dit in ’n woud … of in ’n oop vlakte?” vra hy versigtig.
“Ons is amper daar,” is al wat die man weer grom.
Clayton sit terug. Hy moet maar liewer sy mond hou. Hy gaan tog geen antwoorde uit hierdie ou brompot kry nie. Die gesprek tussen hom en sy pa, toe hy die dag gehoor het hy moet die kamp bywoon, speel weer deur sy kop. Sy pa het gesê dis ’n duur, eksklusiewe kamp wat glo deur ’n sakeman genaamd Jean-Luc Naudé gefinansier word. Sover lyk dit oukei. Die Jeep waarin hy sit is splinternuut en waarskynlik peperduur. En die paar foto’s op die pamflet wys die kamp is supermodern en baie deftig. Dis beslis net ’n multibiljoenêr wat ’n kamp soos hierdie op die been kon bring.
Die volgende oomblik kom die Jeep tot stilstand.
Hulle is by die sperboom van ’n hek met ’n waghuisie. Aan weerskante van die hek is elektriese heinings wat so ver strek as wat die oog kan sien. Die wag wat uit die huisie kom knik sy kop vir die bestuurder en loer belangstellend in Clayton se rigting. Dan gee hy ’n knyperbord en ’n pen vir die bestuurder aan, en nadat hulle ingeteken is, lig die sperboom op en ry hulle deur die hek.
Toe Clayton sien hulle is besig om by ’n digte woud in te ry, begin sy hande dadelik kriewel met die bekende naalde-en-spelde-gevoel. Hy vee sy klam palms teen sy broekspype af en probeer dieper asemhaal in ’n poging om sy hartklop te reguleer. Hy móét kalm bly.
Die teerpad voor hulle kronkel deur rye en rye bome. Die plantegroei word al hoe hoër en die woud al hoe digter en donkerder.
Dan stop hulle weer by ’n sekuriteitspunt wat byna soos die ingang van ’n weermagbasis lyk, kompleet met kakietente en opslaangeboue. Maar hier is die heining dubbeld so hoog en in plaas van sekuriteitswagte is daar soldate met masjiengewere. Clayton kan nie glo wat hy sien nie. Gepantserde voertuie staan netjies geparkeer aan weerskante van die pad. Wat gaan hier aan?
Drie soldate in kamoefleerdrag kom na die Jeep aangestap. Twee van hulle hou masjiengewere vas en die een wat voor hulle uitstap, het weer ’n knyperbord in sy hand. Toe hulle die Jeep bereik, kyk al drie stip na Clayton wat stomgeskrik agter in die voertuig sit.
Waarheen het sy pa hom gestuur? Het ’n kamp vir tieners regtig sulke streng sekuriteit nodig?
Die voorste soldaat knik en ’n elektroniese hek skuif voor hulle oop.
Die Jeep ry hoër op teen die kronkelpad wat soos ’n reuseslang teen die digbeboste berg opseil.
Vir ’n breukdeel van ’n sekonde voel dit vir Clayton of hy iets uit die hoek van sy oog gesien het. Hy draai sy kop en kyk weer. Was daar so pas iets wat langs die Jeep deur die bome gehardloop en hulle dopgehou het? Hy knip sy oë. Nee, dit moes sy verbeelding gewees het. Daar is niks, net die donkerte tussen die stil bome.
Toe die Jeep weer met ’n rukbeweging tot stilstand kom, skrik Clayton uit sy nagmerrie van ’n dagdroom wakker. Voor hulle is ’n hemelhoë metaalmuur wat aan weerskante van hulle deur die woud strek. ’n Derde sekuriteitspunt! Wat?
Brompot ry in by ’n metaalkamertjie reg in die middel van die dik, blink muur. Elektroniese deure skuif geruisloos agter hulle toe.
In die yskoue, donker metaalhok klop Clayton se hart verwoed in sy keel.