Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 12


Скачать книгу

dan, maar ek slaap venster se kant.” Want sy wil uitstaar na die nag, wil die silhoeëtte van die denne sien, dalk die ruising van die naalde opvang. Sy wil haar troos aan die ewige konstante van nag en wind.

      Haar hart is swaar. Was sy vanaand dan blind omdat sy blind wou wees? Of saai Babs net gif om Onyra by te kom? ’n Belaglike gedagte tref haar: Het haar pa spesifiek vir Neels en Onyra saamgegooi om iets onder sy jongste dogter se aandag te probeer bring?

      Natuurlik nie. Dis nie soos hy is nie. ’n Mens moet nooit verborge motiewe by Tiny Rabie soek nie. Wat hy doen, doen hy uit oortuiging en met die minste skade moontlik.

      Môre se reis lê steeds voor haar soos ’n groot onwerklikheid en ewe groot onwenslikheid. En tog ervaar sy ’n sekere gedrongenheid om terug te gaan, soos die wete van ’n onvoltooide, ongeliasseerde saak.

      Hierdie gevoel bly haar heelpad by. Hulle ry Sondagmiddag nie te laat nie, omdat Tiny en Magreeth nie wil hê hulle moet na donker op die pad wees nie. Brenda bestuur, terwyl Babs feitlik die hele tyd langs haar sit en dut.

      Die lug raak dig betrokke en grys vroegwinterse reën begin neerstuif toe hulle die buitewyke van die stad binnery. Babs is nog steeds slaperig toe hulle by Edelhof aankom. Dit wil voorkom asof die wete van ’n verlangaand en ’n wagtende Maandagmôre ook op haar gemoed druk.

      Dalk is hulle pa reg. Dalk moet hulle net oppak en padgee, terug Dennedal toe. Nie by wyse van vlug nie, maar om lewensgehalte terug te wen. Onyra sal met haar lokkende heupies by die kantoordeur uit waai, en Babs sal met haar besondere talente wel gou werk kry, nie in ’n vaal kantoor soos voor haar troue nie. Dalk ’n eie ateljee.

      “Dis tyd dat ek erken, hierdie plek gee my die bloue ritteltit. Dit voel altyd of iemand my dophou,” sê Babs toe Brenda versigtig agter haar kar onder die toegesegde afdak stilhou. Dit mag eintlik nie, maar haar motor versper niemand anders se pad nie en verseker ’n smeerseltjie beskerming.

      Jy ook! wil Brenda impulsief uitroep, maar slaag gelukkig daarin om dit, soos gister in haar pa se geselskap, te weerhou. “Dalk maar ’n nuuskierige buurvrou wat die gordyn wegtrek,” stel sy gerus.

      “Of om die twee mooi susters dop te hou, haha,” skik Babs.

      Brenda kyk ongemerk rond. Het sy daardie mosgroen karretjie met die verbleikte voorkoms skuins oorkant die dubbelstraat voorheen gesien? Dit tog liewer nie noem nie. Dis waarskynlik ook maar iemand wat naby woon of werk en nie ander parkeerplek het nie. Dis moeilik om te sien of daar iemand agter die stuurwiel sit.

      Hulle is nog nie behoorlik binne nie, toe die huisfoon begin lui. Eienaardig tog, dat lang en noue omgang met ’n kantoortelefoon jou in aanvoeling skool. So weet Brenda onvermydelik dat hierdie telefoon die afgelope uur of wat meermale gelui het. En sy weet ook dat dit ’n dringende soort lui is, alhoewel mens tegnies geen aksentverskil sou kon uitwys nie.

      “Dis te vroeg dat dit Pa-hulle kan wees om te hoor of ons hier is,” reken Babs. “Ons is eintlik twintig minute vroeg. Jy is ’n veilige en knap bestuurder, Bren.”

      “Dankie, maar jy gaan nie altyd so gelukkig wees nie. Jou beurt volgende keer.”

      Dis Hans Pressly. Tog nie die Sentrum wat afgebrand het nie, dink Brenda, nie sonder wrange humor nie. Want laas het die rampspoed van inbraak haar aankoms vergesel.

      “Ek is ontydig,” bied hy dadelik verskoning aan. “Julle het pas tuisgekom.”

      Dus het hy wel voorheen gebel. “Is daar fout by die Sentrum?” vra sy die voor die hand liggende. Die sekuriteitsmaatskappy kan immers daar ingryp, Sondag of te nie.

      “Nee, huis. Ek het dringend hulp nodig. Ek sou julle nie gevra het as daar enigiemand anders op my noodlysie was nie. Ek het net ’n uur of twee iemand by die kinders nodig.”

      “Jy kan hulle bring,” bied Brenda huiwerig aan. Dit was nie op die agenda nie. Moeg gekuier en gereis, wou sy geniet van die oorskietkos wat Magreeth saamgegee het, en dan effens uitpak en bad en bed met boek. Sy is rou van die weemoed van skeiding en wou haar inskulp.

      “Kan nie. My vrou is die naweek hier en daar het ’n krisis opgeduik. Ek moet haar dringend terugvat om gestabiliseer te word. Die kinders is ietwat ontsteld.”

      “Bly aan.” Sy druk haar los hand styf oor die gehoorbuis en kyk na Babs. “Dis Pressly, hy is in groot nood met die kinders. Net ’n uur of twee. Kan ons gaan?”

      Babs frons met haar hele wese. Sy wuif haar hande oorkruis soos ’n hek wat sluit.

      “Ek weet nie waar hy woon nie. Het jy ’n idee?”

      “Vaagweg. Naby my en Tom se … Naby Magnolia Cottage. Paar blokke.”

      “As jy my net kan help om daar uit te kom. Seblief, Babs. Ons moet help.”

      “Ek sal voor jou uit ry. Net tot daar.”

      Brenda neem haar hand van die gehoorbuis af weg. “My suster sal voor my uit tot daar ry.”

      “Kan julle gou maak?” Hy pleit nou skaamteloos.

      “So gou ons kan,” belowe sy voordat sy neersit. Te hel, as Babs te lank draai, ry sy alleen. Sy het ’n kaart van die stad en met die dubbelpad langs is dit inderdaad nie te moeilik nie, net betyds die regte afdraaibane volg.

      Maar Babs voel skynbaar die erns van die situasie aan, want sy het reeds haar motorsleutels in die hand.

      5

      Benoud hou Brenda elke robot dop sodat ’n geel lig haar en Babs nie dalk moet skei nie. Gelukkig ry Babs so bedagsaam moontlik, sit ook betyds flikkers aan. Dit moet wees dat sy die erns van die situasie aanvoel. Haar agterliggies vorm deel van die vele ander wat soos komeetsterte oor die nat teer trek.

      Want, om alles te kroon, het die grysheid tot reën verdig en dit sif nou teen die ruite. Die Sondagaanddrukte van naweekgangers wat terugkeer, is ongenadig. Wat help dit hulle het juis om hierdie rede en op haar pa se aandrang, vroeg genoeg teruggery?

      Dit laat haar met ’n skok onthou: Hulle het nie huis toe gebel om te sê hulle het veilig aangekom nie. Sal Babs lank genoeg voor Hans se huis stilhou dat sy haar kan vra om dit dadelik te gaan doen, en sal sy onthou? Gelukkig sal hulle ouers darem aanhou bel tot hulle antwoord kry. Waarskynlik doen hulle dit, mal van kommer, reeds elke vyf minute.

      ’n Tweede ontstellende gedagte tref haar: Hoe kan sy Babs belet om argeloos te noem dat “Sussa” na meneer Pressly se huis toe is? Berge, val op my, kreun sy half hardop. Maar hier is daar net lorries en lamppale wat op haar kan val.

      Sy bid om krag terwyl die reënveërs halfmane teen die voorruit oopswiep. Daarmee ook, weet sy, word die laaste genadestoffies van Dennedal weggewas. Hoekom moes dit nou vanaand gebeur? Net gisteraand het sy ontspanne met haar ouers, die Doorns en veral Neels verkeer.

      ’n Groter gevoel van verlatenheid as hier in die skemerende nagstrate, kan sy haar nie voorstel nie. Selfs haar moeitevolle aankoms die eerste keer lyk nou na kinderspeletjies. Ten minste kon sy haar nog van die vreemde man Hans Pressly se probleme distansieer.

      Waar is sy halfsuster? Wat soek sy vrou by hom, en wat wou hy môreoggend met haar doen as hy Sentrum toe gaan? Of sou hy die kinders saam skooltjie toe vat as hy Erika normaalweg terug kliniek toe neem? Wat moet sy, die onwaarskynlike hulpverlener, verwag om daar aan te tref? Wat beteken ’n “terugslag” en “stabiliseer” en “ontstelde” kinders?

      Vrae, vrae. En Pressly was tot dusver nie juis ’n man van antwoorde wat sy persoonlike lewe betref nie.

      Babs wil net voor die huis stilhou en weer padgee. Hoe kan sy so ongevoelig wees? Het Pressly nie genoeg vir haar gedoen deur die pos te skep nie? Selfs al was Tom by mevrou Pressly betrokke, Hans self is nie aandadig nie. En weer eens, soos sy vir haar pa gesê het, is Babs bes moontlik totaal van spoor af. Is Babs net totaal teensinnig om dalk vir Erika Pressly te moet sien?

      Wat in stil verkeer ’n kwartier sou kon wees, neem sowat ’n halfuur tot by die dubbelverdieping. Nie nuut of aanskoulik nie, sover Brenda met behulp