Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 12


Скачать книгу

rand van die grasperk ingeplant is. Dan onthou sy dat dit ter sprake gekom het hoe hy ’n plek nader aan die Sentrum wil koop, en kleiner, meer beheerbaar. Want dis selfs in die aand duidelik dat hy beheer oor huis en tuin verloor het. Asook oor wat binne die mure gebeur, dink sy meewarig.

      Babs hou stil sonder om haar motorligte af te skakel, rol die ruit aan haar kant af, beduie met uitgestrekte arm na die huis, en maak haar draai met soveel intensie dat sy net sowel reënmodder in die beproefde mevrou Pressly se gesig sou kon spat. Brenda wil liggies toeter of ligte flikker om te beduie dat sy vir ’n paar woorde moet wag, maar dis te laat.

      Dan bevind sy haar alleen op die betonpaadjie voordeur toe.

      Sy wil nie die klokkie druk nie, klop daarom net liggies. Sy wag nie op ’n uitnodiging voor sy die knop draai nie. Dis oop, en sy stap in.

      Waar sy chaos verwag het, stuit sy voor die teerste toneeltjie denkbaar. In die lig van ’n staanlamp sit Hans Pressly op die bank, een arm om sy vrou geslaan, die ander arm om die twee kinders op sy skoot.

      Hy roer net sy skouers vir Brenda om te verduidelik dat hy nie kan opstaan nie. Daar flits egter ’n trek van onnoemlike verligting oor sy gesig.

      Sy knik, wag dat hy een of ander koers moet aandui.

      Hy neem versigtig sy arm van sy vrou af weg. Nou het hy vir elke kind ’n arm, en hy staan op en skik hulle reg sodat hulle met die kop teen sy skouer lê. “Hulle het nog nie gebad en geëet nie. Ek moes eers kalmeer,” en hy neig sy kop.

      Vir die eerste keer kyk Brenda voluit na Erika Pressly, en sy staan verstom oor soveel skoonheid en trefkrag in so ’n klein verpakking. Hawermoutkleur hare in rafelstyl op haar skouers, die lyf petite dog volmaak gebou. Styf passende denimbroek en poeierblou oortrektrui. Is haar ma, die vervolgsugtige skoonma van Pressly, die rede agter die goed versorgde uiterlike? Dis net die oë wat leeg op die besoekster gerig is, wat verklap dat alles nie pluis is nie.

      Nie werklik blond nie, dink Brenda vinnig. Maar wat maak dit nou saak? Pressly laat die kinders grond toe gly en verduidelik, waarskynlik omdat hy dink Brenda verdien dit, maar nie so hard dat moeder en kinders kan hoor nie: “Was iets van ’n uitbarsting, kinders se geraas het vir haar te veel geword. Ek het die kliniek gebel en die suster het opdrag gegee ek moet solank een van haar kalmeerpille gee.”

      “Jy kan later verduidelik,” sê Brenda kort. “Ek sal regkom hier.” Sy is dankbaar dat hy nie in verskonings, danksegging en uitleg verval nie.

      “Vicky weet waar alles is. En hulle is nie moeilik met vreemdes nie. Is gewoond om van die een stel hande na die ander aangegee te word.”

      “Is daar van haar goedjies wat moet saam?” Die naam Erika kry sy nie oor haar lippe nie.

      “Niks wat nie maar kan bly nie. Ek gaan haar in die kar bondel voor die kalmering uitgewerk raak. Sluit julle toe. Ek het ’n sleutel, trek net die binnesleutel uit.”

      “Hoe help ek jou met haar?”

      “Sy is nou sonder fut, ek dra haar sommer.”

      “Jy weet dit reën buite?” maak Brenda seker.

      “Die kar staan al voor die agterdeur.”

      Hy kom twee uur later terug, byna geruisloos, met sy eie sleutel weer vanaf die kombuis se kant. “Slaap hulle?” vra hy heel eerste toe hy Brenda met ’n tydskrif by die staanlamp aantref. Hy gooi sy karsleutels op ’n sytafeltjie neer en stryk die hare wat oor sy voorkop gesak het, terug.

      “Ja, hulle is sonder om te kla bed toe. Ek het hulle nie gebad nie, net punte afgevee. Hulle sê hulle is nog skoon.”

      “O, ja? Watter kind is ooit vuil?” Hy sê dit met ’n laggie, vir hom nogal seldsaam. “Maar dis waar, hulle was heeldag net in die huis.”

      “Ek is bevrees hulle is nie met voedsame kos bed toe nie.”

      “Moenie sê nie: kitsnoedels. Hoekom dink jy is daar so baie pakkies in die kas?”

      “En hoe het dit met jou gegaan?” Sy wou dit nie werklik vra, betrokke raak nie. Sy moet haar denke eers herrangskik: dat hy nog sy vrou liefhet, tensy liefde en deernis baie op mekaar lyk. Wat nie onmoontlik is nie. Sy dink aan die deernis van haar ouers vir mekaar.

      Neels se vrou was nie siek nie, sodat sy kon beoordeel hoe en of hy verander, hoe en of hy haar enduit bystaan. En waarom sou hy nie? Hy het met Lina getrou omdat sy een uit duisend was. Sy het sy kind gedra, wat saam met haar dood is. ’n Nekslag vir enige jong man.

      Wou sy haar tog maar graag verbeel dat sy baas se dogter vir hom onweerstaanbaar was? Dat sy vrou, puik maar geen skoonheid nie, se houvas op hom nie sterk genoeg sou wees nie? Dat hy selfs ’n bietjie verlig was? ’n Verwerplike gedagte, bevind sy self. Laakbaar, om te dink dat sy voorkoms die norm wil maak.

      Sy is ’n sot. Hoewel sy haar gisteraand (dit was waarlik net gisteraand) wou verbeel dat hy een of ander boodskap na haar uitsein, het hy niks gedoen om dit te bevestig of op te volg nie. Was Onyra Doorn ’n te sterk teenwoordigheid?

      “Dit bly maar vir my moeilik om haar so te sien,” antwoord Pressly. Daar is nou niks van sy formele werkstem nie. Hy klink vermoeid. “Ek sal nooit daaraan gewoond raak nie. En sy weet nie eers wie ek is nie.”

      Hy voel skynbaar genoop om nog feite deur te gee: “Die neuroloog het vroeg al gewaarsku teen hierdie soort woedebuie. Dis neurologies van aard, nie emosioneel nie. Sy was eintlik ’n baie geduldige ma.”

      “Ek begryp. Het die kliniek waar sy is ’n eie siekeboeg?”

      “Ja, maar die ambulans het haar van daar af hospitaal toe gevat. Ek het agterna gery. Met die opname gehelp en gebly tot haar ma opdaag.”

      “Woon sy nooit by haar ma nie?”

      “Nee, maar tye lank, naweke veral. Haar ma dring dan aan dat die kinders ook kom. Sy glo dis vir albei kante goed om mekaar te sien. Dat die kinders met die herstel kan help.”

      “Dis tot nadeel van hulle. Jy kan tog seker jou stem laat hoor.”

      “Sy is aangewys as curator personae vir Erika. Kan namens haar besluit, aangesien Erika nie kan nie.”

      “Hoekom laat sy toe dat Erika na jou toe kom? Wat wil sy bereik?” Brenda het die tydskrif neergesit, opgestaan, haar trui vaster om haar getrek en haar handsak gevat. Maar sy móét verstaan hoe hierdie dinamika werk; sy is daarop geregtig, aangesien sy die daaruit vloeiende krisis moes help hanteer. Na ’n paar uur in hierdie weemoedshuis en met twee fraai dog getroumatiseerde kinders, moet sy weet. Vicky het net laat glip dat Mamma so geskree het dat Pippa onder die stoel weggekruip het.

      “Sy wil bewys dat ek nie die mas sal opkom nie. Dat ek nie ma en kinders saam by my kan vat nie.” Hy huiwer, voeg dan byna kortaf by: “Sy wil my dwing om te skei.”

      “En gaan jy?”

      “Ek is reeds deur haar gedagvaar.”

      “Dit klink vreemd. Jou skoonma dagvaar jou vir egskeiding.”

      “Inderdaad. Maar die proses is aan die gang en sleep reeds lank voort.”

      “Klink na ’n gelukkige prokureur wat sy het. Vra my, ek weet alles van vertragingstaktiek. My pa is gewild omdat hy nie voete sleep nie.”

      “Dalk moet ek sy hulp inroep.” ’n Skewe glimlag, maar nie van vreugde nie. “My eie prokureur kom soms soos ’n marionet voor.”

      “Dis nie die soort egskeiding wat aldag opduik nie. Baie kompleks, glo ek.”

      “Dit klink of jy weet. Dankie vir so ’n klein genade. Dat ek nie hoef te verdedig of verduidelik nie.”

      “Jy sal maar daarby moet inval. Jou lewe moet aangaan, ter wille van die kinders.”

      “Ek weet. Maar die proses is by tye kwetsend. Die intiem private vrae waarop ek al moes antwoord.”

      “Ek aanvaar dat jy nog alles sal moet betaal? Haar versorging, medies?”

      “Ja,