Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 12


Скачать книгу

dis waar. Sy gaan nie eers vas met iemand uit nie, wat nog te sê met etlikes. Sy beweeg in ’n hegte vriendskapsgroepie en vermy alleenafsprake. Net teenoor haarself sal sy die rede erken: dat Neels Mostert nooit die idee moet kry dat sy verbind is nie. Raai haar pa dit dalk tog?

      “Ek weet wat ek weet. Jy is ryp, meer as ryp, vir ’n keuse. Jy weet hoe ek die woord ‘liefde’ haat. Omdat mense dit met emosie verwar; en met seks, laat ek dit maar reguit sê. En ons weet hoe dikwels dit op hofsake uitloop.”

      “Ek is nog nie daar nie,” kon sy hom gerusstel. Tog het sy innerlik koud geword. Skimp hy op Neels Mostert? Sien hy dalk iets raak waarvoor sy blind is? Kan dit wees dat hy vir Neels met begeerte na haar sien kyk het? Tog sekerlik nie. Behalwe dat Neels hom op baie ordentlike wyse geheel apart hou, weet sy dat haar pa die hoogste beroepsagting het vir hierdie man wat as kandidaatprokureur hier ingeval en hom tot bekwame vennoot opgewerk het. Hy het wel onlangs iets gesê oor Neels wat op een van sy “naweekuitstappies” is, maar sy het dit nie toe ernstig opgeneem nie. Sy het letterlik, en dalk naïef, gedink aan visvang of gholf, albei stokperdjies van hom. Maar dalk het haar pa niks meer as dit bedoel nie.

      Al hierdie jare was sy nie onbewus van Neels Mostert nie. Maar hy was ’n getroude man. Totdat sy swanger vrou in ’n motorongeluk dood is, ironies genoeg reg voor die prokureurskantoor waar sy stilgehou het om haar man te gaan verras.

      Brenda se hart was gebreek, omdat sy nie wou hê hy moet hierdie lyding ondergaan nie. Tog is sy net mens, en na die ergste skok het sy in die verste verte van haar agterkop gedink: Nou is hy vir die eerste keer beskikbaar. In teorie. Nou durf sy oor hom dink, droom. Sy het egter ’n sluitbalk voor die hek van haar verwagtinge geplaas. Hy treur swaar, hy sal lank treur, en hy sal hom bes moontlik nooit weer verbind nie. Maar ten minste sal sy minder skuldig voel as sy hom suksesvol uit haar kop kan sit.

      Sy het gister nie ’n woord verder gepraat nie. Om min te weet is om alles te hoop. Sy wil liewer nie weet of haar pa van Neels gepraat het nie. Sy sou vroeg huis toe gaan om haar tas klaar te pak.

      “Jy? Nou al?” roep Babs oorbluf uit toe sy die deur oopswaai. Die verrassing sluit egter nie haar kenmerkende glimlag in nie. Sy is nie stroef nie, maar beslis nie verheug nie.

      “Maak toe jou mond, Barbára,” lag Brenda. “Dit lyk of daar ’n skarnier uitgeval het.”

      Die moedswillig foutiewe uitspraak van haar naam kon Babs nog altyd vertoorn. Wrewel flikker ook nou in haar oë. “Maar jy sou mos eers môre kom,” kry sy eindelik uit.

      “Jy is verkeerd, maar dankie nogtans vir die warm verwelkoming,” sê Brenda met swak verbloemde teregwysing. Sy was by, in haar pa se studeerkamer tuis, Sondagaand, toe hy gebel en met Babs gepraat, uitdruklik gesê het Dinsdag, en hoe laat. Of het hy gesê Woensdag? Dalk net “oormôre”, wat sommer gou vir Babs kon laat kleitrap. “Het jy mense? Ek dog ek hoor stemme.”

      “Ja en nee. Sommer werksake. Kom in.”

      Hulle gee mekaar ’n wangsoen en drukkie. “My goed is in die kar.”

      “Los eers.”

      “Solank dit nie staan en warm word nie. Ek het darem die orige padkos afgebring. Ma het gesê ek moet van die eiertoebroodjies vir jou oorlos.”

      “H’m, lekker. Gee.”

      Daar is nie ’n portaal om van te praat nie, slegs sowat een meter spasie verby twee gefatsoeneerde pilaartjies wat seker Toskaans of Grieks of Romeins moes lyk. Dan is jy in die woonkamer; seker eetkamer ook, te oordeel aan die bekende ronde tafel en stoele in die hoek. Oor die verdeling van besittings tussen Babs en Tom was daar bes moontlik ook relletjies. Dis te veel gevra dat hulle selfs oor ’n langsteelpan sou saamstem.

      Brenda het nie kans om die gedagte of die swiepende oogopslag te voltooi voordat sy hom sien sit nie, die vreemde man wat beleef uit sy stoel oprys toe hy sien dat sy hom opgemerk het. Die versoeking is groot om tussen skerts en erns vir Babs te sê: “So jammer jy’t al weer jou feite verkeerd, want toe betrap ek jou skelmpie hier.”

      Maar die tweede gedagte is vinnig op die hakke van die eerste. Babs is nou geskei, en mag seker ’n vriend ontvang as sy wil. Maar hoe lank geskei? Slegs enkele weke sedert dit wetlik voltrek is. Kon sy reeds nuwe vriendskappe opbou, of is hierdie ’n oorstaan-een, wat dalk selfs die moeilikheid tussen haar en Tom veroorsaak of verhaas het? En waar kom sy aan sulke veroordelende gedagtes? Die twee is duidelik nie op ’n voet van intimiteit nie.

      Babs het haar verbasing oorkom. Sy staan langs Brenda, haar hande liggies in haar sye geplant, die “suikerpotposisie” soos hulle ma dit noem. “Brenda, ontmoet vir Hans Pressly, hy’s my regmatige baas by die Sentrum.”

      “Hoeveel soorte base het jy dan?” vra Brenda.

      Die vreemdeling steek sy hand uit.

      Dis net goeie maniere om dit te erken, daarom groet sy hom met ’n “Aangename kennis.” Hy het ’n ferm handdruk, maar ongehaas.

      “Pressly met twee s’e en een e,” verklaar hy. Dis duidelik dat hy hierdie uitleg al dikwels in sy lewe moes gee.

      “Dankie,” sê sy. “Ons ma is versot op Elvis se ‘Wooden Heart’, so ek sou dit heel moontlik verkeerd gespel het.”

      “Hoe laat jy my nou na Ma verlang,” sê Babs, dalk omdat sy reeds diskreet die eierbroodjie aan ’t kou is. “Ek sien daardie ou plaat se omslag in my kop.”

      “Ons het Paasnaweek vir jou gewag. Ma het nogal laventelblomme op jou kussing gesit. Kalmerend, glo sy mos.”

      “Ek het vasgedraai.”

      “Nè, reken,” antwoord Brenda. Het Pressly iets daarmee te doen? Hy is aantreklik, goed gebou en donkerig van hare en gelaatskleur. Ongewone oë wat of rokerig bruin is, of die donkerblou wat haar kleurkundige ma as “midnight blue” of dalk “Prussian blue” sou beskryf. Oë wat vermoedelik geoefen is om diep te kyk sonder om te wil ontmasker. Sy is bly oor die positiewe gedagte, want andersins hou sy nie veel van die bekwame fermheid wat hom as effens ongenaakbaar laat oorkom nie.

      Hy dra deeglik gebruikte jeans by ’n geruite oorhang-kraaghemp. Etiketklere, dis duidelik. Sowat ’n halwe kop langer as sy, wat ’n halwe kop langer as Babs is. Dus sou Babs hom “tall, dark and handsome” kon vind.

      Haar effense koelheid skrik hom skynbaar nie af nie. “Jy kan raai wat my bynaam nog altyd was,” beaam hy die Elvis-verwysing.

      Hy het ’n geringe Engelse aksent. Vanweë sy voornaam en van kan sy die opset redelik maklik aflei: Engelse pa en Afrikaanse ma.

      Brenda sou kon sê dat sy nie van plan was om te raai nie. Wat kan sy bynaam haar aangaan? Sy is rou en vreemd en moeg. Sy wou arriveer en nesskrop en op haar eentjie wrok oor hierdie ongewenste wending in haar bestaan.

      Sy bly dit steurend vind om ’n man hier in haar suster se huis te vind, hoe onskuldig dit ook lyk. Babs dink nie verder as wat haar neus lank is nie. ’n Alleenvrou moet let op hoe en wie sy ontvang. Of geld sulke reëls net op Dennedal, wat sy eie klein heelal vorm?

      “Mens sou nie sê julle is susters nie. Die een so blond, die ander een donker.”

      “Sy lyk na ons ma, ek na ons pa,” probeer Brenda die skyn van beleefdheid volhou. Blond en donker is immers nie die enigste onderskeid tussen hulle nie. Babs is korter en beter bedeeld met kurwes, terwyl Brenda haar pa se lenige gestalte het, en die sterk vel wat ’n sontint lank behou.

      Durf sy hoop dat Pressly reeds op pad was om te loop? Sy ondervind die vreemde drang om ineen te sink en te begin huil. Dis asof die spanning van die afskeid tuis, die alleenrit en die verwarrende aankoms saamgespan het om haar ’n uitklophou toe te dien. Haar pa weet tog sy wou nie regtig kom nie. Hy het haar in ’n moeilike posisie geplaas. Sy wou tuis wees, op kantoor, om onopgemerk Neels se bewegings dop te hou, sy stem te hoor.

      Die atmosfeer bly stram. “Die pad was lank. Is hier dalk ’n teetjie, Babs?” por sy aan. Tog nie weer Barbára nie. Dalk moet sy nou oefen om gewoonweg Barbara te sê.

      “Ja, natuurlik,”