onder Hans se leiding daar ingevaar het om die nodige mure en afskortings op te rig. Vir kantore, gange, klaskamers, ablusie, afgesien van ameublement en toerusting. Dit moes ’n fortuin gekos het. Brenda wonder waar hy die geld kry. Yslike lening, dalk?
Babs was gou om by te voeg dat dit wat binne die mure aangaan, vir Hans Pressly belangriker is as ’n groot terrein met ’n sportgrond en allerlei fasiliteite. “Hoewel daar darem ’n tennisbaan is,” het Babs beduie. ’n Ou woonhuis op die groot erf langsaan is gesloop, en Hans het met die nodige munisipale rompslomp die tennisbaan te koop gekry en kundig laat omhein om by die Sentrum se terrein aan te sluit.
Babs het weer sy doelstellings uitgelê. Eintlik het sy maar net die inhoud van haar omslagtige brief beaam. Hy wil dikwels uitgesakte leerders en studente op praktiese wyse vir die toekoms toerus. En Babs swymel daaroor dat hy die vergesig aan die dag gelê het om selfs ’n klein kleuter-cum-nasorgskool vir die kinders van werknemers te voorsien. Waarop Brenda gesê het: “So jammer jy het dit nie nodig nie”.
Sy lê nou op haar sy, weg van Babs af. Eers toe dié se liggie ook dood is, draai sy op haar rug en staar na die donker plafon. Hoe het sy presies in hierdie situasie beland, met ’n ouer suster wat haar koms wantrou, temperamenteel optree, soos ’n papegaai babbel om die groter stilte te verbloem, en haar bowendien onverwags en ongevraag in ’n werksituasie gedompel het?
Die dubbelpad wat vroeër vanmiddag (was dit werklik vandag?) probleme met draaiplek opgelewer het, blyk ’n bron van onafgebroke verkeer te wees. Durf sy hoop dat dit na middernag afneem? En hoekom is Babs so stil? Die hele dag nog het sy baie gepraat. Huil sy saggies onder haar beddegoed, slaap sy, pruil sy? Waar is die suster van weleer? Hoe vind sy haar? Sy het eenkeer gehoor: “Sisters got that way of talking without talking.” Nou weet sy wat haar pla: Babs het net te veel gepraat, tot sy nou skielik verstil het.
Eers heelwat later, toe Brenda al lomerig word, sê Babs onverwags vanuit haar enkelbed by die venster: “Daar is niks tussen my en Hans Pressly nie, hoor.”
“So het jy al oor en oor te kenne gegee. Ek het nie gesê daar is nie.”
“Maar jy het so gedink.”
“Ek weet nie wat ek gedink het nie. Dit maak ook nie saak nie, dis jou lewe. Jy het gou genoeg gesê, dalk te gou, maar toe maar, dat hy ’n getroude man is. Al wat ek weet, is dat hy baie lank en rustig gekuier het vir ’n man wat so min tyd en so baie probleme het as wat hy wou voorgee. Op ’n weeksmiddag. En ’n vrou en kinders tuis.”
“Ek het gesê hy is getroud, ek het nie gesê hy het ’n vrou tuis nie.” Dan, na oomblikke van oorweging: “Tom het hom van vroeër geken. En hom na die egskeiding seker gevra of hy nie vir my werk kan gee nie.”
“Hoekom sou Tom dit doen? Skei is skei. Hy is nie meer vir jou verantwoordelik nie.”
“Die heer Kilian het dalk sleg gevoel om my in die woestyn uit te stuur. Wat julle nie weet nie, is dat ek juis toe my werk moes verloor. Afskaling van personeel. So, hy wou seker verlaas vir my ’n gunsie probeer doen. Dalk sodat ek hom nie oor geld moet pla nie. Of om sy gewete te salf. Dalk is die pos nog spesiaal vir my geskep. Tevrede?”
Weer eens te veel verduidelik. “Sy vrou?” skiet Brenda ’n skoot in die donker.
“Sy het haarself afgeskryf.”
“Hoe afgeskryf?”
“Uit die samelewing, uit haar huwelik, alles.”
“Moenie in raaisels praat nie.”
“Askies, ek vergeet jy is die een wat met feite werk. Ek mos net met emosies, daarom dat ek nooit ernstig opgeneem word nie.”
Brenda lag in die donker. “Ek wil jou juis ernstig opneem, maar jy tart my moedswillig.”
“Ek weet self die minimum. Wat Tom my in koerante gewys het. In die begin, amper drie jaar terug. Breinskade. Skynbaar permanent. Geheue en begrip weg.” Pouse. “Kon ook nie weer leer lees en skryf nie, al het haar ma haar gedril.”
“Dit het tog nie in die koerante gestaan nie?” Dit kan wees dat Babs byborduur.
“Nee, Hans het dit laat glip toe ek onlangs, uit die goedheid van my vergewende hart, saam met Hans vir haar ’n tydskrif wou stuur. Oor buitelugsport, dié soort ding.”
“Genade, Babs, hoe onsensitief kan ’n vergewende hart wees?”
“Jy vra nie wat dit is wat ek moet vergewe nie?”
“Dalk wil ek nie weet nie, so los dit eers. Is die inrigting nou haar permanente tuiste?”
“Kan nie sien hoe anders nie. En nee, Hans het haar nie daar ingestop net omdat sy hom kwaad gemaak het nie.”
“Moenie belaglik wees nie. Dan kan ek net sowel dink …” Maar sy hap die woorde af, skaam haar vir wat sy wou sê: dat sy net sowel kon dink Neels het iemand gestuur om sy vrou voor die gebou raak te ry net toe sy uit haar motor klim. Dit sou klop met die ligte geskinder dat hy sy vrou om haar geld getrou het. Iets wat niemand sou kon bewys nie, want Neels en Lina was volgens alle aanduidinge ’n ideale paar.
“Hoe het dit gekom?” keer sy terug na die onderwerp van Pressly se vrou.
“Ongeluk met grotduik. Ook nie ’n ongeluk nie, haar eie skuld. Of so het die ondersoek gewys.”
“Hoe kry ’n mens so iets reg, kan ek amper vra. Daar is tog seker die strengste maatreëls.”
“Wat sy nie nagekom het nie, vermoedelik. Net sy weet, en sy kan nie sê nie. Hans nog minder, want hy was nie eers daar nie. Te diep afgegaan en te vinnig opgekom, toe kry sy wat hulle dekompressiesiekte noem. Sommer ‘The Bends’. So het ’n LO-onnie dit vir my uitgelê. Persoonlikheid kan verander. Tree bisar op. Konvulsies. So het ’n suster in neurologie my vertel.”
“Heiden, hoeveel soorte ampte ken jy dan?”
“Jy gebruik jou brein, ek my sosiale vaardighede. Ek en Tom was by dinge. Hy is mos ’n allemansvriend. Funksies. Dinees. Ek is nie so gevrek soos jy nie. Of liewer, ek was nie.”
“Dankie vir die paar vriendelike woorde.”
“Toe maar, deesdae sit ek ook soos ’n muis in ’n gat.”
Brenda voel hoe sy onder die beddegoed liggies bewe oor die lot van Hans Pressly. “Waar hoor jy die persoonlike deel? Oor mevrou Pressly? As ek dan alles moet hoor.”
“Hans het my nie veel vertel nie, as dit is wat jy probeer uitvis. Soos ek sê, het Tom my koerantberiggies gewys. En verder hoorsê.”
“So, Tom het nie net vir Pressly geken nie, maar sy vrou ook?”
“O, verseker. Maar dit moet jy hom eintlik self vra.” Galbitter.
“Hoe? Jy het hom netjies uit ons geselskap verwyder.”
“Hmf. Oor die netjies kan ons verskil. Maar ja, hy sou ewe onskuldig so bo-oor die koerant sê: ‘Jy onthou mos die Presslys, ons het een keer saam tennis en een keer koffie …’ Met botter wat nie in sy mond kan smelt nie.”
“Dalk wás daar nie botter om te smelt nie, Babs. Hoe het sy by grotduik uitgekom?”
“Sy was ’n adrenalien-junkie. Witwarm moes dit deur haar are jaag. Alles wat roekeloos is. Hoogste hoogtes en diepste dieptes. So, snorkelduik was nie meer vir haar genoeg nie. Kry toe haar sertifikaat vir grotduik. En maak ’n flop daarvan.”
“Hoe goed het Tom hulle geken?” herhaal Brenda vraend. Met Babs werk dit soms, soos met ’n hofgetuie, as jy dieselfde vraag net anders bewoord.
Babs antwoord nie direk nie. “Dit moet haar joie de vivre wees wat hom aangetrek het. Dalk was sy die soort wat hy heeltyd verkies het.”
“Jy spreek dit verkeerd uit, maar toe maar.”
“Hoewel Frans ken jy altemit? Kom ons nie al twee van Dennedal af nie?”
“Ek hou net my ore oop. Maar kom nou, Babs,