skaars opgekyk.
Met die forensiese span nog besig met vingerafdrukke, is daar nie tyd om personeelkamer toe te gaan vir lang pouse nie. Eintlik sien Brenda daarteen op. Nuwe, vreemde gesigte. Sy het nooit besef hoe beskut sy eintlik lewe nie. Die vreemdheid en ontwrigting oorval haar nou eers ten volle, en die tikstoel is die enigste plekkie wat reeds deur haar makgemaak is. Op hierdie oomblik is dit haar wegkruipplek. Selfs die foonoproepe is in orde, want sy hoef nie te glimlag nie, net professioneel vriendelik klink. Niemand hoef te weet dat sy haar pad deur ’n admin-oerwoud aan ’t oopbeur is nie.
Dis nogal Pressly self wat vir haar ’n koppie tee bring. “Jou suster wou, maar ek was reeds op pad hierheen. Het net gaan kyk of alles in die personeelkamer reg loop.”
“Mevrou Heunis het gebel om te sê sy sal môre weer op haar pos wees,” kan Brenda darem berig. Niemand kon oor die nuus blyer wees as sy self nie. “Sy het gehoor van mevrou Clutie se seun en kwel haar oor hoe julle hier regkom. Sy was geskok om nog van die inbraak ook te hoor.”
“Laat ek raai: Sy was veel meer geskok om van jou teenwoordigheid in haar plek te hoor. Wat mevrou Clutie se seun betref, dis glo ontsteking van die klein bloedvate, vaskulitis. Nie akute pankreatitis, wat ook ’n moontlikheid was nie.”
“Dit klink na vordering.” Wat kan beteken dat ek gouer hier kan padgee, dink sy.
“Verwys al die navrae intussen maar hospitaal toe; ons is nie ’n navraagsentrum nie.”
Sy toon is volgens haar ietwat kras vir die situasie, maar sy gaan hom nie verder omkrap nie. “Wel, mevrou Heunis is môre terug,” is al wat sy kan herhaal.
“Jammer om te sê, maar mevrou Heunis kom buitendien nie die mas op nie. As die werk haar baasraak, word sy siek.”
Brenda vererg haar en probeer dit wegsteek agter die te groot slukke tee wat sy neem. Tog voel sy dat sy hom nie daarmee kan laat wegkom nie. “Dit klink na ’n drastiese stelling. Mevrou Heunis klink vir my werklik swak.”
“Ek weet presies hoe haar siekstemmetjie klink,” lig hy haar saaklik in. “En van mense wat jou op ’n kritieke oomblik in die steek laat, kan jy my niks vertel nie, juffrou Rabie.” As nagedagte voeg hy by: “Dankie darem vir ander mense wat bereid is om te help. Bekendes en vreemdelinge. Ten koste van hulleself.”
Sy weet instinktief dat hy met “in die steek laat” nie van mevrou Heunis of selfs mevrou Clutie gepraat het nie. Daar moes iets anders, iets veel bitterder in sy lewe gebeur het, iets waarmee hierdie bottelnekdrukte van vanmôre nie eens vergelyk kan word nie. Dat dit met sy vrou se terugslag te doen het, kan sy net vermoed.
Sy weet verder dat sy pluimpie op die end ook bedoel was vir haar, wat soos ’n veldperd voorgekeer en in die tuig gedruk is.
Asof hy besef dat hy te veel gesê het, raak Pressly uiters formeel. “Ons grootste probleem is nie die inbraak en die versekerings-rompslomp nie, maar die spul uitstaande fondse.”
“Seker beter as dat fondse in ons besit gesteel sou word,” merk sy op. Sy besef dat sy die “ons” liewer moes weggelaat het. Sy is glad nie deel van sy gereelde span nie.
“Mevrou Clutie was besig met aanmanings uitstuur toe die teenspoed tref. Voorlopig moet ons nou maar kwitansies uitreik vir alles wat wel ingekom het. Gelukkig is die brandkluis nie oopgebreek nie, hoewel daar tekens van pogings is. As u so tussenin kan loskom van al die oproepe en die ander dringende werk.”
Nou weer “u”, merk Brenda op. “Ek sal dit doen,” antwoord sy bloot. Dis kwitansies vir alles onder die son: studiegeld, ekstra klasse, materiaal. Kan gelukkig met die hand gedoen word. Die elektriese tikmasjien het ’n toets of twee wat vassteek, sy het albei met ’n messie uitgelig en skoongemaak. Nou werk hulle darem weer.
Pressly se baadjie hang lankal oor sy lessenaarstoel se rugkant. Das is losgewoel. Hy dra vandag ’n pak en sy lyf sit goed daarin.
Vroegmiddag besef Brenda dat sy oortyd sal moet werk. Dis waar, hope werk pas in haar kraam, maar sy ken ’n vaste uitvalroetine.
Babs is ongeduldig toe sy na die laaste klok met haar tas in die deur kom staan. “Kom jy nou, of kom jy nie?”
“Kom haal my tog ’n bietjie later, asseblief, Babs.”
Babs uiter ’n gemaakte sug. “Waarin het ek ons laat beland deur Hans van jou te vertel? Ek het skoon vergeet jy is ’n werkesel.”
“Jy laat dit soos ’n diskwalifikasie klink.”
“Wel, kom jy nou? Ek het tog gedink jy help vanaand kos maak.”
“O ja, natuurlik. By jou en Tom het ’n mens later net wegneemkos gekry.”
“Jy weet ek sal liewer iets moois maak as iets lekkers. Ek is nie soos jy nie.”
“Net so asof ek ooit in die kombuis boer. Ma het my net makliker geroep omdat ek makliker gekom het.”
Dis Hans Pressly wat die ligte geskoor onderbreek toe hy in die deur verskyn. “Wel, susters, die moeilike dag se rug is gebreek. Een van my moeilikste by die Sentrum tot dusver.”
“Een van ons susters hier, mejuffrou Rabie, wil bly om nog te werk,” verklik Babs in haar dogtertjiestem wat sy nog maklik te voorskyn kan haal. Dieselfde stem waarmee sy selfs as jong getroude vrou nog by haar ouers kon kla: “Tom wil nou hê ons moet vanaand al ry, en Mamma wou my nog winkel toe gevat het vir ’n rok.” Dalk sou sy byvoeg, net om haar klag te anker: “Hy weet ek het niks om aan te trek nie.”
“Ek kan haar huis toe bring,” bied Pressly aan asof Brenda nie self ore het nie. “Ek sal ook nog ’n tydjie moet inbly. Ek sal vir Vicky en Pippa sommer hiernatoe laat oorbring.”
“Nee,” sê Brenda vinnig. Te vinnig. “Baie dankie, maar ek sal werk saamvat.” Sy voel eintlik dat sy genoeg van Hans Pressly gehad het vir een dag. En as die dogtertjies ook nog hier inkom, kan dit net die kroon op die oordosis plaas. Nou ja, die arme man kon seker ook nie die ekstra druk van die inbraak voorsien nie, dan kon hy meer voorsorg getref het. Sy hoop maar dat die assessor die alarmstelsel in orde bevind. Weer eens, gelukkig, nie haar probleem nie. “Ek het nog nie eers klaar uitgepak nie,” probeer sy versag.
Want sy kry die gevoel dat hy haar dophou met fyn ontleding, en dat hy elke stukkie van haar gedagtes blootlê. Belaglik, natuurlik. Hy kan nie weet wat sy dink nie. Gelukkig nie, want haar hoofgedagte is dat, as dit Neels moes wees, sy graag met hom oortyd sou werk.
“Nee, jy vat niks saam nie,” belet hy ferm. “Net die vorms vir jou tydelike aanstelling. Jammer dat ons so agterstevoor te werk moet gaan.”
“Met plesier, ek is so bang ek kry nie die joppie nie,” spot sy.
“Jy het dit reeds. Net ek besluit daaroor.” Dit lyk of hy wik en weeg en hom dan die welverdiende lof veroorloof: “Jy was ’n uitredding met die tikmasjien. Goeie ou Olivetti, en baie meer atmosfeer. Môreoggend kom die rekenaarman. En ons kry die geheuestokkie by mevrou Clutie.” Hy draai weg, praat dan oor sy skouer: “Wie se seun, terloops, buite gevaar is. Ek wil nie weet waardeur sy en haar man is nie.”
Hy kon nie betyds keer dat sy oë gevoelig word nie. En dis dieselfde man, dink Brenda, wat so ongenadig oor mevrou Heunis se ipekonders oordeel. ’n Komplekse man.
“Môre ry ons met twee karre,” mor Brenda in Babs se motor op pad huis toe.
“Nou vir wat was jy so ’n krater om nie saam met Hans te wil ry nie?”
“Omdat ek nie almal hulle sin kan gee nie, Barbára. Pa wil hê ek moet jou oppas, jy wil hê ek moet vir jou kos maak, jou danige Hans wil hê ek moet op ’n gekrokte tikmasjien twee mense se werk doen.” Sy trap denkbeeldig rem toe Babs alte naby ’n motorfietsryer verbyskuur. Dis asof Babs selfs meer verstrooid as vanoggend bestuur.
“Ek is nie jou Barbára nie,” waarsku Babs uit gewoonte. Na ’n rukkie vervolg sy: “Dis nie soseer die kosmakery nie,” en haar mond pluk vanweë die erkenning, “as, hoe sal ek sê, om die kaal voordeur oop te sluit en dis net koue