…”
“Amsterdam?” Kasper se wenkbrou lig. “Amsterdam, Nederland? Wat soek jy dan in die Kaap?”
“Die Kaap? Watse Kaap?”
“Kaapstad? Die Kaap van Storms? Kaap die Goeie Hoop?” Kasper gooi die leidrade een vir een uit, maar elke keer skud Gabriel sy kop. “Jy weet, die ou halfwegstasie van die VOC?” probeer die akteur weer. “Hollandse verversingspos aan die suidpunt van Afrika? Nou onder Britse beheer?”
Gabriel vryf oor sy voorkop. Iewers het hy al hiervan gehoor, maar nee, hy ken die plek nie.
“Kom.” Elian help hom op sy voete en wys na die kleedkamer se halfoop deur. “Kom ons gaan sit.”
Binne is drie houtkratte, omgedop en in ’n kring om die brandende lantern gerangskik. Vies vir homself sak Gabriel op die naaste een neer. Vir wat het hy hom so oor ’n mik geskrik? Hy is in ’n teater; hy moes dadelik geweet het die drie vreeslike gesigte is net akteurs in kostuum.
Elian gee sy skouer ’n simpatieke drukkie. “Jammer, jongman, maar jy het ons ook verras. Jy sien, vandat Di Schouwburg ’n jaar gelede toegemaak is, kom ons elke maand rondom volmaan hierheen om terug te dink aan die wonderlike rolle wat ons op hierdie einste verhoog vertolk het. Vannag is egter die eerste keer dat iemand op ons afkom.”
Hy sug en sy stem word dromerig. “Aan die begin was dit so anders. Toe was hierdie teater dié plek aan die Kaap. Ek onthou nog die eerste opvoering, meer as dertig jaar gelede. 17 November 1800 om presies te wees. Shakespeare se Henry IV. Selfs Lady Anne Barnard was in die gehoor en al het sy gedink die opvoering was ietwat vervelig …”
Bartel maak sy keel skoon. “Jy dwaal af, Elian.”
“Ja, ja, dit word laat.” Kasper vroetel in sy jas se sak en diep ’n verslete leersakkie op. Hy knoop dit oop en haal ’n rol tabak uit. Met ’n knipmes wat hy ook uit sy sak haal, sny hy ’n repie af en prop dit in sy kies. “As jy my vra, is die seun disnis geslaan en beroof. Enigeen kan tog sien hy kom uit ’n rykmanshuis.”
“My lyf is nogal seer,” erken Gabriel terwyl hy oor sy agterkop vryf, “maar ek voel nêrens bloed of knoppe nie.”
“Mmm.” Elian krap sy bokbaardjie en frons. “Enigiets in jou sakke?”
Gabriel dop sy mantel se sakke om. “Niks,” rapporteer hy.
“Dit help nie ons sit langer hier rond nie.” Kasper klap die knipmes toe en steek dit in sy sak. “Ek stel voor ons gee Gabriel kans om te slaap. Wie weet, wanneer hy môre wakker word, onthou hy dalk alles.”
“Goeie plan,” beaam Elian.
Gabriel spring op. “Ek bly net nie alleen nie!” keer hy terwyl hy oor sy skouer na die donker deuropening loer.
Elian glimlag gerusstellend. “Toemaar, ons sal ons jasse vir jou leen. Dit sal jou warm hou en solank jy uit Jan Fluit se pad bly, sal niemand jou pla nie.”
“Jan Fluit?” wurg Gabriel dit uit. “Wie is dit?”
Elian haal sy skouers op. “Aag, sommer die dwaalgees van een van die ou orkeslede. Ons het hom al om middernag gehoor wanneer hy kom dwarsfluit oefen. Heeltemal onskadelik,” voeg hy by toe Gabriel sy asem skerp intrek. “Intussen sal ons rondvra. In die wintermaande is die baai stil, maar gister het die kanon een maal gevuur. Ons sal bietjie hoor watter skip anker gegooi het en of jou naam op die passasierslys was.”
“Kan ek nie maar saam met julle gaan nie?” probeer Gabriel weer. “Ek wil graag by wees as julle met die skeepskaptein gaan praat.”
“Onmoontlik!” knip Kasper hom kort. “Jy bly net hier en sit nie jou voet in die strate nie. ’n Mens weet nooit wat agter jou groot vergeet skuil nie.” Hy waai ’n dik vinger voor Gabriel se neus. “Byt vas tot môrenag, ons sal kyk wat ons kan uitvind.”
“Goed, maar bring net kos ook saam,” gee Gabriel in.
Toe sy drie nuwe vriende een vir een opstaan, hulle jasse afstroop en langs hom neersit, trek sy maag op ’n knop. Alleen? Saam met ’n fluitende spook? Beslis nie iets waarna hy uitsien nie.
Hy wag tot hulle by die deur uit is voor hy die drie jasse in die hoek van die vertrek oopgooi. Ga, wie dra sulke goed, grof en swaar soos soldatejasse? wonder hy vies terwyl hy daarop gaan sit. Akteurs wat ook lede is van die garnisoen? Daarvan het hy nog nooit gehoor nie.
Hy vou sy hande om sy opgetrekte knieë en leun met sy kop teen die koue muur. Slaap sal hy tog nie, nie met al die vrae wat in sy kop stoei nie. Buitendien vertrou hy nie die vrede nie. Wie weet watter nare verrassings wag nog op hom?
Sy oog val op ’n stukkie houtskool by sy voete. Verveeld tel hy dit op en rol dit om tussen sy vingers. Asof dit iets is wat hy gewoond is om te doen, lig hy sy hand en begin teen die afgeskilferde muur teken. Eers is daar net ’n klomp strepe, maar later, in die gloed van die lantern, neem ’n skets vorm aan.
Toe hy klaar is, staan Gabriel terug om sy tekening beter te bekyk. Wat? Hy deins terug toe hy in twee geelbruin oë vaskyk. Die oë knip stadig. ’n Stowwerige hand skiet uit die skets en benerige vingers gryp sy boarm vas.
◊ 3 ◊
Die seun wat uit die tekening na Gabriel kyk, is seker omtrent so oud soos hyself. Geelbuin vel. Kort, wollerige hare. Oor sy voorkop diep merke wat soos ’n ou litteken lyk. Sy vingers klem onnatuurlik koud om Gabriel se boarm. “Ek’t geweet jy sal kom, Gabriel,” sê hy heel verstaanbaar, al klink dit anders as die Hollands wat Gabriel praat.
Help! weergalm dit in Gabriel se kop, maar hy kry nie ’n geluid uit nie. Tot sy verbasing lyk dit of die seun hom hoor en skrik. Die houtskoolmerke word tranerig. Dit spat op die vloer en die gesig verdwyn tussen die houtplanke, tot die muur weer leeg is soos vantevore.
Gabriel sukkel nog om tot verhaal te kom toe ’n geluid deur elke vesel van sy lyf sny. Fluitmusiek! En as hy dit nie mis het nie, is wie ook al besig is om te speel ongemaklik naby, op die verhoog net buite die kleedkamer. Dis seker niemand anders as Jan Fluit nie, die dwaalgees waarteen Elian hom gewaarsku het. Die hele mislike ou teater is natuurlik vol spoke.
Paniek stoot in sy keel op. Hy moet wegkom, maar hoe? Die enigste pad uit is verby die musikant, maar ’n mal dwaalgees is die laaste ding waarvoor hy nou lus is. Miskien moet hy net onder die drie akteurs se jasse inkruip, sy oë toeknyp en laat spaander wanneer die dag breek. So lank kan dit tog nie meer wees nie.
Nee, al onthou hy byna niks van homself nie, weet hy dat hy nie ’n bangbroek is nie. Bewerig stoot hy die jasse opsy. Sy nekvel prik terwyl hy tot by die deur van die kleedkamer sluip. Aarde, hy het nooit geweet spoke ruik na roosmaryn nie. Hy maak sy rug reguit en loer om die kosyn.
Hy glo dit nie! Op die rand van die verhoog, met haar lang geblomde sisromp wat soos ’n waterval oor die kant hang, sit ’n meisie. In die lig van ’n kort vetkers wat in ’n blaker langs haar brand, gloei haar donker vel soos fyn sy. Sy hou ’n rietfluit teen haar lippe en toor ’n vreemde, hartseer deuntjie daaruit op.
Betowerd staar hy.
Die meisie het seker agtergekom sy is nie alleen nie, want sy hou op met speel en kyk om. ’n Gilletjie glip uit haar mond. Met een hand raap sy haar romp bymekaar, vlieg op en wip van die verhoog af. Iets wat soos klompe klink, klap op die vloer terwyl sy met die paadjie afhardloop.
“Wag!” skree Gabriel, maar sy hou haar doof en hardloop vinniger. Hy sit haar agterna. Plof! land hy onder die verhoog. Die meisie kyk verskrik om. Met dié pootjie haar lang romp haar en terwyl sy rondtrap om haar balans te kry, gly haar linkervoet uit haar sandaal. Gabriel duik vorentoe en raap dit op.
“Gee hier!” Sy gryp daarna.
“Hokaai!” Hy hou die sandaal in die lug. “Belowe eers jy sal nie weghardloop nie.”
’n Swart haarsliert het van onder haar kopdoek ontsnap en sy druk dit terug terwyl sy hom bekommerd bekyk. “Is jy Jan Fluit?” Sy het ’n vreemde aksent.